Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie
Sarie lag vrolik. “Ek sal eendag my kitaar by die woonstel gaan haal, dan kan ons lekker sing.”
“Ja, tannie Sarie!” Karltjie spring van opgewondenheid. “Dan dans ons ook só.” Hy swaai sy lyfie soos hy die popsangers op televisie gesien doen het en Sarie skater dit uit van die lag.
Karltjie, wat nou die woorde van die liedjie ken, is glad nie van plan om nou al op te hou nie. Sarie moet dus van die trein op die ysterspoor sing saam met die aartappels, die groenboontjies en die patats, en saam met die sous wat oor die gebraaide skaapboud kom, loop hy sakke-pakke op die ysterspoor.
“Kom ons sing ’n slag iets anders.” Sarie kyk moedeloos na Karl, wat die rympie die soveelste keer weer van voor af begin. “Wat van … e … Eendjies, eendjies stap in ’n ry?”
Die kinders is dadelik gewillig.
Sarie stoot vir Karl agter haar rug in en sit sy handjies op haar heupe.
“Vat jy nou vir boeta ook so, Annemie. Reg? Nou trap julle so!” Sy gee kort treetjies met dwarsvoete en swaaiheupe en uit volle bors sing die drie van die eendjies wat in ’n ry stap.
“Een, twee, drie, vier stap hul verby …”
Sarie se stem tril op die “vier” toe hulle ’n draai bo in die kombuis maak. “Links, regs …” Haar stem raak skielik sagter en eindig in ’n hees gefluister toe sy stadig tot stilstand kom.
Paul, Hugo en Anton staan in die kombuisdeur met stomme ongeloof op hul gesigte en Sarie sou wat wou gee om te weet wat daardie afkeurende optrek van Hugo se wenkbroue beteken.
Karltjie se handjies is nog steeds op Sarie se heupe en hy loer soos ’n koekoek uit ’n horlosie om haar.
“Pappa!” Die kinders storm by haar verby.
Paul tel vir Karl op en Hugo gryp vir Annemie, wat op haar kort beentjies nader kom, en tel haar hoog bokant sy kop op.
“Pappa, tannie Sarie is so slim, sy kan enigiets sing. Sy sing van die trein wat op ’n ysterspoor loop en … en sy sê sy sal haar kitaar gaan haal, dan kan ons nog al die ander versies in die hele wêreld sing!” Karl is so opgewonde dat hy aanmekaar praat, sonder om eens een keer asem te skep.
Sarie staan verleë met die vadoek in haar hande. Sy weet nie waar om te kyk nie – sy het die mans nooit gehoor inkom nie.
“Ek … e … ek is jammer. Ons het julle nie gehoor nie.”
“Julle sou ons ook nie kon hoor nie. Julle lawaai te veel. ’n Mens kon julle al in die rylaan hoor.”
Hugo klink so vererg dat Sarie haar trane met moeite wegsluk. Dit sal nou weer haar geluk wees dat hy juis op hulle moet afkom terwyl hulle “Eendjies, eendjies stap in ’n ry” speel.
Anton lag egter vriendelik. “Dit was baie mooi, Sarie. Ek wil ook kom saamsing wanneer jy jou kitaar gaan haal het.”
“Ken jy dan vir juffrou Wessels?” Hugo kyk hom verbaas aan, die een wenkbrou sarkasties gelig.
“Ons het mekaar vanoggend ontmoet. Sarie was so vriendelik om my vir ete te nooi.”
Hugo bekyk haar opsommend terwyl die hoeke van sy mond sarkasties aftrek.
Sarie vererg haar onmiddellik. As hy nie daarvan hou dat sy mense vir ete nooi nie, moet hy so sê. Anton is sý broer se familie en sy sou van haar huishoudster verwag het om gasvry te wees. Sy draai vinnig om en stap na die wasbak, waar sy haar besig hou. Toe dit stil raak agter haar, draai sy stadig om. Die mans is terug sitkamer toe en het die kinders saamgeneem.
Dit is nou eers sesuur. Sy wonder of hulle koffie wil hê en of hulle hierdie tyd van die dag ’n drankie sal drink.
Sarie staan besluiteloos in die middel van die groot kombuis. Sy het nie die moed om nou na die sitkamer te gaan en vir hulle te gaan vra of hulle wil koffie hê nie.
“Juffrou Wessels?”
Sarie wip soos sy skrik en spring verskrik om. “Ja, meneer?”
Hugo kyk haar verbaas aan. Sou sy nou werklik so diep ingedagte gewees het dat sy hom nie gehoor aankom het nie? “Meneer Kruger eet ook vanaand hier. Sal dit in orde wees?”
“Ja … ja, seker. Hier is genoeg kos.”
“Kan ons so agtuur … nee, liewer halfagt, eet, sodat die kinders saam met ons kan eet?”
“Ja, seker.”
“Dankie.” Hy draai om, maar sy roep hom vinnig terug.
“Meneer Kritzinger!” Hy draai stadig om en beskou haar afwagtend sonder om te antwoord. “Wil julle nou koffie drink of …?”
“Nie vanaand nie, dankie. Hulle is besig met ’n drankie daar binne, maar ’n ander aand miskien.” ’n Fyn glimlaggie haak om sy mond.
Sarie sluk swaar en die besef dring stadig tot haar deur dat sy hom ongelowig aanstaar. Eers toe hy sy kop skeef draai en haar met ’n ondeunde vonkeling in sy oë aankyk, kyk sy vinnig weg en vroetel senuweeagtig met die vadoek.
Hugo stap diep ingedagte terug na die ander. Sou hy dan werklik so onvriendelik en gemeen wees dat ’n eenvoudige woordjie van dank haar so verbaas na hom laat kyk? Meteens is sy hele siening van die lewe vir hom verkeerd. Skielik maak dit nie meer saak hoeveel geld iemand het nie. As hy na Paul kyk wat so gelukkig getroud is, wat nie geld ontsien om vir Cynthia weer gesond te kry nie … En hierdie meisiekind wat ’n mens so opreg kan aankyk, wat bereid is om te kom kos kook en kinders oppas … Iewers langs die pad het hy sy sin vir waardes verloor en dit is tyd dat hy daarna begin soek.
Paul kyk verbaas op toe Hugo alleen by die sitkamer inkom.
“Ek het gedink jy het vir Sarie gaan haal om ’n drankie saam met ons te kom drink.”
Skaam laat Hugo sy kop sak en hou hom baie besig met die kole in die kaggel. Dit is wat hy nou net aan homself probeer verduidelik het: dat so iets nie eens by hom opgekom het nie. Vir hom is sy nog altyd ’n werknemer, die huishoudster, al bewys sy hom ook ’n guns. Skielik verafsku hy homself. Watse soort mens is hy dan? Sinies? Snobisties?
“Karltjie, draf gou en gaan sê vir tannie Sarie sy moet hiernatoe kom.” Paul tel vir Karl van sy skoot af en met ’n liefdevolle tikkie op die sitvlak stuur hy hom by die deur uit.
Sarie kom vinnig met Karltjie aan die hand by die deur in. “Ja, meneer?” Sy kyk direk na Hugo, maar dit is Paul wat opstaan en haar aan haar arm tot by die stoel neem en liggies daarin druk.
“Kom drink iets saam met ons. Die kos kan seker ’n rukkie sonder jou klaarkom.”
Sarie kyk verskrik na Hugo. Hy sal nou natuurlik weer afkeurend frons en dit maak haar seer. Sy wil nie hê hy moet haar so uit die hoogte aankyk nie.
Dit is egter Hugo wat na die drankkabinet stap en oor sy skouer vra: “Wat sal jy drink, juffrou Wessels?”
Sarie sluk en sak stadig in die groot gemakstoel neer. “Ek weet nie … ek is maar ’n swak drinker …”
“ ’n Bietjie sjerrie?”
“Ek sal liewer ’n koeldrankie drink, dankie.” Sarie voel verleë en weet sommer dat dit onvanpas is, maar sy sal stik as sy nou enige soort alkohol moet drink.
Hugo gooi vir haar koeldrank in ’n glas en oorhandig dit aan haar. Haar vingers raak ’n oomblik baie liggies aan syne. Die bloed stoot vinnig in haar wange op en sy laat amper die glas val toe sy sy donkerbruin blik op haar voel brand.
Anton kom sit in die stoel langs haar en gesels vrolik en opgewek, en verbreek sodoende die spanning wat stewig om haar maag kom vasknoop het.
Uit die gesprek kan sy aflei dat Anton nog ongetroud is en as skakelbeampte by ’n groot fabriek in Johannesburg werk. Dit lyk nie juis of Hugo oorloop van liefde vir Anton nie, maar hy loop in elk geval nie juis oor van liefde vir enigiemand nie.
Sarie