Dierbare drosters. Sarah du Pisanie
Ria se oë is groot en starend van skok en Betsie weet dat wanneer sý ook terugval op die naam wat hulle vir haar in hul kleintyd gehad het, dan is haar probleem nou baie groot.
“Wat is dit?” Betsie laat vir Martie stadig van haar skoot afgly terwyl sy opstaan, en druk dan net die koppie met die blink donker haartjies styf teen haar heup vas.
Lettie druk die deur toe en leun met haar rug daarteen terwyl hulle verskrik na Betsie staar.
Die opgewekte Lettie, wat nooit iets vir haarself kan hou nie, is dus ook die een wat eerste soos ’n melkpot oorkook. “Hulle … hulle gaan ons weeshuis toe stuur!” Haar stemmetjie is hoog en histeries.
“Weeshuis! Maar dit is onmoontlik. Ek is al te oud vir ’n weeshuis en Pappa het gesê ons moet niemand toelaat om ons te skei nie.”
Ria gee ’n treetjie nader en haar stemmetjie is hees. “Sy het ook so gesê, en …”
Betsie druk die verslae Ria op ’n stoel neer en stap kombuis toe, om met ’n glas water terug te kom. “Drink eers hiervan en dan vertel jy my alles.”
Ria drink die water en gee dan die glas vir Lettie aan.
“Ria, wie het gesê ons moet weeshuis toe gaan? Is meneer Von Throtha hier?”
“Nannie, daar is ’n man. Hy sê –”
“Lettie, bly jy nou eers stil. Ria …?”
“Sus, daar is ’n magistraat by mevrou Visagie. Ons sien die perdekar en wil toe net bly word. Ons dink toe dit is meneer Von Throtha se kar.”
Ria sluk swaar en voordat sy woorde kan vind, borrel Lettie al weer oor.
“Toe ons op die stoep kom, toe hoor ons hulle gesels. Ek … hoor toe hulle praat van ons en ek hou toe vir Ria terug toe sy wil aanklop. Die man sê toe hy sal ons wegneem en sorg dat ons in ’n weeshuis kom. Toe … toe sê mevrou Visagie maar die oudste een is al ’n groot meisie, sy sal nie meer opgeneem word in ’n weeshuis nie. En toe sê –”
Ria het nou haar emosies onder beheer en op haar besadigde manier vat sy haar storie terug. Sy val ’n verergde Lettie summier in die rede.
“Sy sê toe vir die man dat ons nog vir meneer Von Throtha wag. Hy … e … hy sê volgens wet is die staat nou vir ons verantwoordelik. Buitendien was dit ’n baie vrypostige versoek van Pappa om so iets van meneer Von Throtha te verwag. Dit is nie ’n grap om iemand se vyf dogters te versorg nie. Hy sal vir meneer Von Throtha laat weet dat hy die saak sal hanteer en oplos en dat hy hom nie daarmee hoef te vermoei nie.”
“Ja, Nannie … en ek weet dat hy hom maklik laat omkoop. Koos het vir ons by die skool vertel dat sy pa hom ’n paar pond in die hand gestop het toe hulle hom met diamante gevang het. Hy het niks oorgekom nie. Hy slyp natuurlik nou sy tande vir ’n lekker fooitjie van meneer Von Throtha af.” Lettie is behoorlik kortasem van verontwaardiging.
Dit is doodstil en Betsie voel hoe die spanning in haar saamtrek. Hulle sal nou baie vinnig ’n besluit moet neem.
Die haat wat nog altyd sluimerend in haar was teenoor ou Von Throtha is nou skielik gloeiend. Hy het hulle op ’n slinkse manier destyds van die plaas af gekry. Nou daag hy nie eens op nie. As hy net ’n slag van sy troontjie wil afklim en sy hand na ’n medemens wil uitsteek! Deur sy laksheid en gebrek aan belangstelling skep hy geleenthede vir ander skelm mense om munt uit hul nood te slaan.
“Nannie!” Pollie gaan staan aan haar ander kant en slaan haar armpies styf om Betsie. Lettie en Ria kom ook nader sodat hulle ’n klein, geslote kringetjie vorm.
“Jy moenie van ons af weggaan nie, Nannie. Jy … jy is dan nou al wat ons het.” Lettie se lip bewe en Ria se oë is ook vol trane. Betsie is nou hul enigste anker in ’n deurmekaar en verwarrende wêreld.
Martie begin droewig huil en vir die eerste keer besef hulle dat hulle die hele drama voor die kleinding laat afspeel het. Hulle kon háár dit maar gespaar het.
“Nee! Nee, ek sal julle nooit afstaan nie. Aan niemand nie!”
“Maar hy sal ons dwing, Sus. Jy is nog nie een en twintig nie.
Hulle … hulle sal jou nie toelaat om na ons te kyk nie.” Ria is die briljante een wat haar dae met allerhande boeke deurbring. Sy weet gewoonlik al hierdie dinge.
Die ander luister met ontsag en Betsie sak stadig op die stoel agter haar neer.
Geluidloos sak die ander op die vloer neer en agt blou oë kyk bekommerd na twee ander wat net soos hulle s’n lyk. Die oë wat na hulle terugstaar, is egter baie ongelukkig en geweldig ontsteld.
“Nannie?” Pollie met haar ronde gesiggie kan die verslaentheid en kommer op hierdie geliefde suster se gesig nie langer verduur nie. “Ons kan mos maar net vir die mense sê ons wil by jou bly.” Sy loer bekommerd na die ander om te sien of die voorstel enigsins indruk maak.
’n Glimlag trek stadig om Lettie se mond. “Ja … jy sorg tog nog altyd vir ons, Nannie. Hoekom kan ons nie net aangaan soos nou nie? In die trommel is nog geld.” Lettie sien ’n skrale moontlikheid vir Pollie se plan. Elkeen gryp nou wild na ’n strooihalmpie.
“As die geld op is, kan jy mos gaan werk, Sus. Ek sal dan na die kinders en die huis kyk. Ons … ons twee sal hulle mos kan versorg, nè, Nannie?” Ria se stemmetjie is dun van angstigheid en sy vergeet skoon dat sy vaneffe die een was wat die probleem uitgelig het.
Betsie kyk liefdevol na die gesiggies om haar. Dit gaan darem meer as ’n magistraat verg om hulle van haar af weg te vat!
“Natuurlik sal ons twee na hulle kan kyk, Ria. Ons probleem is nou net om die ander mense te oortuig dat ons dit wel kan doen.”
Betsie se woorde sak weer versmorend soos ’n nat kombers oor die toehoorders neer. Sy probeer haar stem lighartig hou, maar dit is ’n powere poging.
“Ons sal vinnig moet dink aan ’n plan. Kom julle … nou moet ons dink.”
“Waar bly die ou meneer Von Throtha tog? As hy net wil kom; dalk sal ons hom kan oortuig …” Ria sluk die res van haar sin toe sy na Betsie se geslote gesig kyk.
“Ek weet nie, Ria. Ek wil nie hê julle moet valse hoop koester nie. Ek vertrou hom glad nie. Ek het nog nooit vir julle vertel nie: Pappa het hom destyds gesoebat om net die mineraalregte van ons plaas te koop. Hy wou nie! Hy het sy kans gesien en dit deeglik benut. Hy het gesorg dat sy brood aan albei kante gebotter is. Hy het ons plaas vir ’n appel en ’n ei gekoop en toe nog vir Pappa op die koop toe as boekhouer gekry hier by sy myn.”
“So ’n gemene ou … ou …” Lettie soek wild in haar gedagtes na nog woorde. Betsie druk saggies haar vinger op Lettie se mond.
“Dit is genoeg dat ek sulke nare gedagtes omtrent hom koester. Dit is nie nodig dat julle ook vergiftig raak nie.”
Vyf paar blou oë rek groot en staar dan verskrik na die deur, waar nou ’n dringende klop opklink.
Ria kry eerste lewe in haar lam ledemate en spring op. Sy beweeg tot by die venster en loer versigtig uit. Met groot oë draai sy om en beduie wild vir Betsie.
“Dit is hy! Die magistraat! O, Nannie …”
Dit is eers toe die tweede klop deur die huis weergalm dat Betsie opstaan en nog sonder plan of woorde vorentoe beweeg.
Die magistraat is ’n lang, skraal man en ’n breë, aangeplakte glimlag haak om sy mondhoeke toe hy sy hand na Betsie uitsteek.
“Klopper is die van, juffrou. U is seker een van die Viljoendogters.”
“Ja, ek is Betsie Viljoen. Kan … kan ek u met iets help, meneer Klopper?”
“Ek is magistraat Klopper van Swakopmund, juffrou. Sal u omgee as ek inkom?”
Betsie hou die deur traag wyer oop en die man glimlag breed asof hy verstaan hoekom sy so versigtig is.
“Dit is heeltemal reg om so versigtig