Dierbare drosters. Sarah du Pisanie
styf teen hom vasdruk en vertroos. Hulle wag so ernstig op ’n antwoord.
“Praat, sal ek nie praat nie. As ou Selons sy lippe toegemaak het, dan kry ’n bottel brandewyn dit nie eens oop nie.”
“Ai, oom, baie dankie. Kan ons dus maar aanbly?” Betsie se stem is nou net so opgewonde soos die kinders s’n.
“Bly, kan julle bly! Julle was mos eerste hier.”
“Oom! Oom moet tog nie iets voor meneer Von Throtha sê nie. Onthou, hy is die een wat na ons soek.”
“Ek prospekteer! Gesels, gesels ek nie!”
Ria stoot die beker koffie oor na oom Selons toe en Betsie haal suinig van hul laaste beskuit uit. Ná die derde beker koffie ken hy hul hele geskiedenis. Hy weet ook dat dit Martie se blomtuin is hier voor die hut en dat hulle ’n groentetuin by die fontein het.
“Ons moet dan seker vir oom ’n kampplek gaan soek, oom Selons.” Betsie loer bekommerd na die arme ou donkie met sy dun beentjies wat so geduldig met sy vrag op sy rug staan.
“Ja! Afpak, sal ons seker vir ou Samuel moet afpak. Maar ek weet net waar om te gaan kampeer. Bekommerd, hoef julle nie oor my bekommerd te wees nie.”
Hulle tros al agter ou Selons, oftewel oom Slons, aan.
Betsie besef met ’n teer glimlag dat hy dié naam gekry het om te hou. In haar gedagtes kan sy ook sê soos wat hy sou gedoen het: Slons, sal ek Slons wees.
Hulle help hom afpak en maak onder ’n oorhangende rots skoon sodat hy daar kan slaap. Hy beskou die meisiekinders se bedrywigheid en lag lekker met sy tandelose mond.
“Bederf, gaan ek bederf hierdie keer. Dit is darem nie aldag dat ’n man so ’n geluk teëkom nie.”
“Oom Slonsie, het oom regtig gedink ons is spoke?” Lettie gaan staan met die tak waarmee sy onder die rots vee en leun geamuseer daarop.
Ria kom ook regop en lag skaterend. “Oom het darem groot geskrik, nè?”
“Geskrik, het ek geskrik, ja! Hoe moes ek nou weet julle is nie geeste nie? Eers sien ek net een so ’n groot witte met hare waar daar gesig moet wees.”
“Is dit toe vir my wat oom gesien het?” Betsie rol die klip met haar voet weg terwyl sy laggend deelneem aan die gesprek.
“Ja! Spook, spook dit toe! Ek dog my laaste dag het gekom.Die ou vader van die sendingkerk sê reeds altoos vir my: ‘Slons, jou siel sal nog reguit hel toe gaan. Gaan, sal hy gaan en jy sal hom nie gekeer kry nie!’”
“Ons het oom nooit gehoor aankom nie.” Ria kyk laggend na ou Selons wat hierdie gesprek met die klomp meisiekinders nou terdeë begin geniet. In sy dag des lewens het hy nog nie soveel aandag van ’n vroumens gehad nie en vandag is hier vyf van hulle!
“Nee, toe die gesing! Sing, sing dit toe vir my nes engele. Mense! Toe ek so om die rots kom …” Hy skud sy kop ongelowig asof hy weer die skrik ervaar.
“Ek dog eers: Selons, droom, droom jy nou. Ek druk my oë toe en soebat en toe ek hulle weer oopmaak, toe staan daar ’n hele skaar van die goed. Dit is grotes en kleintjies en party het hare voor en ander het hare agter en party loer tussen die hare deur …”
Die geskater van die meisiekinders weergalm tussen die klowe deur en ou Selons voel dan nou glad manlik en sterk en sien kans om ’n leeu aan sy stert te gryp. Vyf sulke pragtige meisiekinders, en hier staan en drink hulle elke woord in wat hy sê en lag asof hy die beste grappe in die wêreld maak.
So vreemd en spook-spook het oom Slonsie in hul lewe gekom om te bly.
Agterna het Betsie baie dae gewonder of hulle ooit sonder hom die mas sou opgekom het. Sy glo nie! Sommer net die volgende aand het hy met ’n springbokkie oor die skouer daar aangekom.
“Wonder, het ek nou gewonder wanneer laas het julle ’n stukkie vleis geëet.”
“Oom Slonsie! Baie, baie dankie. Ons het hierdie afgelope tien dae, vandat ons hier is, nog nooit vleis gehad nie.”
Betsie maak genoeg kos sodat oom Slonsie saam kan eet. So begin ’n hele nuwe gewoonte.
Toe oom Slonsie ná ’n week nog nie aanstaltes maak om te bad of skoon klere aan te trek nie, kon Betsie dit darem nie meer uithou nie. Vroeg die volgende oggend is hulle na sy kampplek toe.
“Wat gaan ons vandag doen, Sus?” Ria kan nie verstaan waarom hulle nou alles by die hut moes los en hiernatoe kom nie.
“Ons gaan oom Slonsie se goed vir hom was. Geen mens kan in soveel onsindelikheid lewe nie.”
Alles loop deur. Sy komberse en klere en tot sy grondseil. Dié skrop hulle met ’n borsel. Aan sy kussing is nie meer salf te smeer nie en Betsie dop die vere in ’n emmer uit sodat sy die sloop kan was. Toe dit droog is, sit sy die vere terug en trek een van hul skoon slope bo-oor. Daarna skuur hulle sy potte en panne totdat dit blink en heeltemal vreemd lyk.
“Vanaand is die aand dat ons hom bad ook.” Lettie sien vir alles kans, maar Betsie weet dat dit nie so eenvoudig gaan wees nie.
Oom Slonsie is goedig geamuseer toe hy sy kamp sien. Dit dring egter nie tot hom deur dat sy persoon dalk kan aanstoot gee nie.
Betsie maak heerlike kos sodat sy hom darem weer daarmee kan paai. Sy het so ’n vermoede dat die stryd glad nie so maklik gaan wees nie.
“Het oom al oom se kamp gesien?” Pollie wag al heelmiddag dat hy moet kom. Sy wil graag die verrassing op sy gesig sien.
“Netjies, is dit netjies. Ou Selons voel skoon ontuis tussen sy eie goed.”
“Oom moet nou net gou gaan bad by die fontein voordat oom skoon klere aantrek. Oom kan sommer daardie vuil klere net daar los. Ons sal dit môre was.” Betsie probeer dit so ongeerg en natuurlik moontlik sê. Sy hou haar besig by die stoof en kyk nie om terwyl sy praat nie.
“Bad! Gmf! Bad, bad ou Selons nie.”
“Oom? Bad oom nie?” Lettie en Pollie sê dit amper gelyktydig en kyk hom geskok aan.
“Vir wat? Ek en ou Samuel bad g’n stuk nie. Verkoue, sal ons verkoue kry.”
“Ag nee, oom. ’n Mens kry nie verkoue van bad nie. ’n Mens voel net heerlik skoon. Toe, gaan bad gou vir oom. Hier is vir oom ’n handdoek.” Ria hou ’n groot handdoek en ’n koekie seep na hom toe uit.
“Oom moet sommer oom se hare ook was.” Lettie is bang hy dink nie daaraan nie. Hy lyk nie juis vertroud met hierdie soort dinge nie.
“Julle moet dink ou Selons is simpel!” Hy staan vererg op en met ’n sinkende gevoel sien Betsie hoe hy met sy krom beentjies vinnig deur toe beweeg.
Klein Martie kom egter tot hul redding. Sy spring op en vat sy hand. “Ek thal oom the handdoek vathhou dat dit nie vuil word nie.”
“Nee, Martie, kom. Oom Slonsie wil nie gaan bad nie. Kom ons eet maar.” Betsie klink so teleurgesteld dat ou Slonsie in sy spore vassteek en verbaas omkyk.
“Maar oom Thlonthie moet bad! Kyk! Thy klere en thy hande ith vuil.”
Die ander vier kyk geskok na Martie en dan versigtig na oom Slonsie. Hulle wil hom darem nie aanstoot gee nie.
Martie kyk met groot, onskuldige oë na oom Slonsie. Sy glimlag stadig met haar haasbekkie vir ou Slonsie wat sy hande oplig en na die vuil, gebarste hande kyk asof hy dit vir die heel eerste keer raaksien.
“Thien! Dit ith vuil!”
Vererg gryp ou Selons die handdoek en seep en met ’n grom storm hy by die hut uit.
Betsie druk vinnig haar hand voor haar mond om nie te lag nie.
Hulle wag en wag, maar al wat uitkom, is ou Selons. Betsie gaan loer later bekommerd by die hut se deur uit.
“Hy is seker nou kwaad. Dalk kom eet hy nie eens vanaand nie.”
“Ja.”