Debora en seuns. Helene de Kock
soos feitlik elke middag vandat hulle mekaar ken, saam by Debora se eetkamertafel sit en huiswerk doen, sê hy reguit: “Jy beter sorg dat jy beter slaap. Daar’s kringe onder jou oë.”
Sy knik net. Hy sal sekerlik nie begryp waarom sy twee broers, veral, haar gedagtes so monopoliseer nie. Sy verstaan dit dan self nie.
Hulle doen matesisoefeninge, skryf ’n opstel en werk lang vrae oor Macbeth uit. Later strek Erik sy arms bokant sy kop. “Kom ons gaan bedel koffie en sulke goed.”
Margot glimlag. Die “sulke goed” sal vir seker in sy geval ’n paar hompe beskuit, twee snye laagkoek en ’n hand vol soetkoekies wees. Maar sy is self nogal honger. Anna loop sit dadelik die ketel op die Aga toe sy hulle opmerk.
Op die diep, skaduryke agterstoep gesels Susan en Debora reeds, teekoppies in die hand, glimlag net in hul rigting.
“Haai, Debora,” sê Susan, “weet jy, ek verlang soms terug na die tyd toe ek in Engeland was. Dis of ek soms hunker na … na iets, jy weet.”
“Ja,” sug Debora, “dis soos dit gaan. Jy gaan weg na ’n vreemde plek toe. Maar jy vat jouself saam. En meer nog …”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Ag, daar is dinge wat in jou bly woon, of jy nou weggaan of nie.”
“Jy bedoel jy verlang na Nêrens?”
“Himmel, nein. Ek verlang nie na Nêrens nie. Dis net dat ek nie altyd daarvan ontslae kan raak nie. Maar … Jy sal nie begryp nie, Susan.”
“Maar ek sal! Ek het ook swaargekry, Debora.”
“Genug, kom ons praat oor lekker dinge. Kom saam kombuis toe. Anna het ’n nuwe kleinkoekieresep uitgewerk. Sy sit fyn stukkies gedroogde appelkose by. Ai, sy’s darem wonderlik met daardie twee hande van haar.” En met ’n ligte sug: “Ek moet nou die brooddeeg in die oond gaan steek.”
Margot staan en kyk hoedat sy oudergewoonte die Aga se oonddeur oopmaak, eers met oopgespreide vingers vlugtig voel of die temperatuur reg is. Dan die panne met die uitgeswelde bolletjies deeg vat en in die oond steek. “Nou toe, dit is immers gedoen.” Toe bring sy die beloofde kleinkoekies uit die spens want Erik het al daar begin rondsoek.
“Debora,” begin Susan ietwat lugtig en gaan sit by die tafel, “mevrou Forster het gesê ek moet jou pols. Is jy nie lus om by die leeskring aan te sluit nie? Ons lees juis nou weer C. Louis Leipoldt se “Die rooi rotte”. Dis ’n klompie stories oor die bonatuurlike …”
Debora gee ’n minagtende blaaslaggie.
“Nou toe nou! Sê jy dan maar vir haar ek het dit al gelees … enne … ek lees nou Langenhoven se Brolloks en Bittergal. Dis ook bonatuurlik.”
“Ag, Debora. Mevrou Forster is baie gaaf, al lyk sy so ’n bietjie uit die hoogte.”
Debora sug kliphard.
“Susan, ek het ’n ander opvatting oor mense soos sý wat aljimmers ander mense probeer leer.” Sy sug weer. “Margot, loop haal asseblief vir jou ma Die Huisgenoot. Dit lê bo-op die stapel ander Huisgenote langs my bed. Ek wil vir haar ’n brief gee oor waar die woord ‘vlermuis’ vandaan kom. Sy kan dit dan sommer vir die boekvereniging ook wys. Die ‘vler’ kom van die Hollandse ‘vleer’ wat kom van die werkwoord ‘fladderen’ of dan die Engelse ‘flitter’. Dus, volgens die brief beteken vlermuis eintlik fladdermuis. ’n Muis wat op sy vlerke rondfladder …”
“Ag, Debora,” probeer Susan paai maar kry dit toe sommer reg van voor.
“Genug!” En toe ergerlik: “Susan, sê jy maar vir mevrou Forster sy laat my aan ’n fladdermuis dink. ’n Ding wat doelloos fladder.”
“Luister, Debora,” keer Susan, “ons wil jou maar net betrek en …”
“Bitte, Susan. Ek wil nie betrek word nie, danke schön.” Haar skraal hande begin rukkerig saam beduie, die sterk, lae stem klim. “Die lewe betrek my elke goddelike oomblik van elke dag op ’n manier wat ek … wat ek … Margot, gaan haal daardie Huisgenoot.”
Susan bly swyend sit en Margot en Erik maak hulle met hande vol koekies uit die voete. Want Margot ken daardie stemtoon. Debora is nou erg ontsteld. Sy het toentertyd toe hulle hier gekom het so geklink net voordat sy met die nat vadoek oor die jong Erik se kaal kuite begin raps het. En Margot weet klinkklaar: Debora hoef by g’n niks aan te sluit om iets te wees of te weet nie. Sy lees elke dag Die Volksblad van voor tot agter deur en kry ook Die Huisgenoot en Die Brandwag wat sy gereeld vir Susan en Margot leen. Sy het al dikwels tevore in Debora se slaapkamer gaan tydskrifte of boeke haal.
Bo in die groot slaapkamer waar die vrou alleen op die dubbelbed met die kopstuk met sy uitgekerfde krulpatrone slaap, is twee lang boekrakke, en torings boeke staan langs haar bed. En onder teen die voetenent is die stapel Huisgenote waarvan Debora gepraat het. Voor die noordelike venster bly Margot langs die diep leunstoel talm om haar kop ’n bietjie agtermekaar te kry en die twee vroue onder in die huis kans te gee om te bedaar. Erik sit sweerlik al vir haar in die eetkamer en wag.
Soos altyd wanneer sy hierheen kom, raak sy bewus van die vae damp van 4711-Keulse water wat in die vertrek hang. ’n Groenerige soet geur, fris en energiek soos Debora self. Haar blik skuif na die bedkassie waar die bekende turkoois-en-goud botteltjie langs die bedlampie staan. Dit is al halfpad opgebruik. Sy wonder skielik effens benoud of Debora nou in die oorlog weer van haar gunstelinggeur sal kan bekom. Die gedagte laat ’n hele boel ander kwelgedagtes soos ’n swerm voëls los.
Wanneer die oorlog kom, soos wat dit begin lyk, gaan dinge verander. Haar kop sê dit vir haar, al wil haar hart nie daarna luister nie.
Wanneer sy en Erik binnekort klaar is met matriek, gaan alles buitendien verander.
Sy wonder wat Marnitz nou in die oorlog gaan doen. Hy is ’n dokter. Gaan hy in Pretoria aanbly? Sover praat niemand nog daaroor nie.
En Heinrich is amper klaar met sy regstudie. Maar waarheen sal die twee manne gaan wanneer hulle eers op eie bene staan? Debora se huis sal mos soos ’n kasarm voel wanneer die twee oudste Schlagerfeldt-seuns permanent hul koers gekry het.
Margot skud haar kop heftig sodat haar lang hare oor haar skouers waaier. Dis beter om glad nie daaroor te dink nie. Sy kyk sugtend rond, en onthou dat sy in hierdie interessante vertrek op ’n missie is. Sy staan nader aan die klomp boeke om ’n paar titels uit te maak: Macbeth, De onveranderlikheid van onze God, Don Carlos, Robert Browning’s Works, Uncle Tom’s Cabin, Schiller se Die Jungfrau von Orleans en nog meer. Haar oë vee verwonderd daaroor. Dit is of die vele uiteenlopende titels Margot telkens as sy in dié vertrek kom, wil oorweldig met ’n nuwe kennis van Debora. Die prentjie van ’n Debora wat salig versonke in ’n boek in die verweerde leunstoel langs die bed sit, wil nou eenmaal nie strook met die Debora wat met taai hande perskes skil of al roerende saam met Anna voor die stoof staan nie.
Margot kan dit nie help nie, sy tel een van die boonste boeke op. ’n Stokou Nederlandse edisie met die titel Stille dingen. Sy maak dit lukraak oop en haar blik val op ’n paar sinne op bladsy 4: “Ik wil bidden, maar mijn hoofd is zoo moe, en ik kan geen woorden vinden …”
Sy sit die ou boekie versigtig op die stapel terug.
Sy kan dit helder sien: ’n Debora wat vermoeid, met palms radeloos na bo, vergeefs soek na woorde. Nou dít is nogal openbarend. Die rankerige vrou met haar streng dog weemoedige mond wat biddend in haar kamer na woorde soek.
Margot soek gou Die Huisgenoot van 8 September en sluip uit die vertrek, intuïtief huiwerig om nog iets te ontdek wat Debora verder sal ontbloot. Miskien het sy tog haar ma se ragfyn aanvoeling vir onderstrome. Van een ding is sy opnuut doodseker: Debora wéét dinge.
Toe Margot weer die kombuis binnegaan, is albei vroue meer bedaard. Die onderwerp is klaar verander, lyk dit.
Debora staan op om ’n baksel uit die oond te haal. “Kom, proe eers hierdie koekies.”
“Lekker,” glimlag Susan.
Debora