Debora en seuns. Helene de Kock
boord ingestuur om die appelkose en vye so vars moontlik af te pluk. Oor ’n paar weke sal die geelperskes in hul duisende ryp wees. Dan sal almal wat tuis is, help skil nadat dit geblansjeer is. Baie smoorwarm middae se sit en skil en nou en dan ’n stroopsoet stuk in jou mond druk. En heelwat later sal die vier knoestige ou appelbome hul groen soet-suur vrugte gee waarvan Debora so graag gebackene Apfelkücherl maak. By dié smullekker appeltertjies bedien sy altyd so ’n knertsie lemoenlikeur en ryk jerseyroom.
Margot se mond water skielik. Dis of al die jare se herinneringe binne oomblikke in hierdie huis saampak. En sy voel intuïtief aan dis omdat iets einde se kant toe staan. Miskien is dit die oujaar, troos sy haarself, maar weet vir seker dat die sorgelose samesyn wat sy nog altyd hier so intens geniet, ook aangetas gaan word.
Dis Marnitz wat haar eerste gewaar. Sy andersins strak gesig lig effens om die ferm mond. “Middag, jy.”
“Hallo, julle.”
Heinrich wink haar met ’n blinktaai voorvinger nader. “Kom sit, suster, hier’s nog baie werk.”
Erik glimlag net toe sy gedwee langs hom plaasneem. Wat is dit vandag met haar? Die woorde steek in haar keel vas. Gelukkig kom hulle niks agter nie. So gewoond is hulle aan haar, dink sy met ’n vrank bitterheid. Sy is die buurdogter. Punt.
Sy pak ’n paar vye in ’n bord om dit te begin prik.
Die drie manne is steeds met mekaar aan ’t skoorsoek terwyl hulle appelkose ontpit en met vurke gaatjies in die vye steek. Tussen hulle staan die groot skottel met kalkwater waarin die geprikte vye gedompel word om oornag te staan voor môre se kokery. Die vye ruik so melkerig soet en helaas brand die einste melk Margot se hande naderhand, maar sy lag later so vir die broers se onderlangse geskerts dat sy daarvan vergeet. Dis of hulle met opset ’n prettige dinamiek tussen hulle probeer behou.
Haar hart krimp om hulle onthalwe ineen. Hulle het seker tog, nes sy, eintlik nie ’n pa gehad nie. En die pa wat hulle het, is by verre die mees ontoeganklike van hul almal.
Maar soos wat sy nou na hierdie manne kyk, sal mens nooit sê dat die bloue weemoed, ten spyte van hul ma se vrolike rooi lippe, in hierdie huis teenwoordig is nie. Marnitz sit ’n klompie geprikte vye in die kalkwater, vee sy nat hande aan ’n vadoek af en staan op. Strek sy lang, soepel lyf. Haar oë volg die beweging en die punte van haar vingers begin prik. Dit moet die melk van die vye wees.
Hy loop leun met sy breë skouers teen ’n stoeppilaar aan, betrag sy broers fronsend terwyl hulle losweg stry oor hoe gou die oorlog nou eintlik oor gaan wees. Toe skud hy net sy kop asof die gesprek hom nie aanstaan nie.
Hy draai eensklaps dwars om na die rooipers skemering bokant die eikeboom te staar. So asof hy alleen hier is. Altyd die denker, dink Margot wyslik. In homself gekeer, selfs al neem hy deel aan ’n gesprek.
Heinrich glimlag breed. “Nou toe, mooiste Mädchen, het jy darem al ’n kêrel vir Bloukrans se Oujaarsparty?”
Sy swyg ’n oomblik. Eintlik probeer sy vergeet van die party wat elke Oujaarsaand op die Pienaars se bergagtige plaas in die holkrans gehou word. En waarheen sy en haar ma vir die eerste maal ooit genooi is.
“Moenie laf wees nie,” keer sy geïrriteerd. “En julle moet ophou om my ‘mooiste Mädchen’ te noem. Ek hou niks van byname nie.”
“Nou toe nou. Ons noem jou dan so vandat jy klein was?” Dis Heinrich en sy vrolike lag klink op.
Ook Marnitz se kwaaierige mond pluk in ’n skuins laggie.
En sy vererg haar. “Steeds. Ek is Margot. Buitendien, ek is al lankal ver van klein af.”
“Nou goed, Margot,” gee Heinrich kopknikkend toe, stut sy ken op sy vuis en betrag haar met vernoude oë. “Ek e … ek vermoed ook darem dat die wêreld op party plekke verander het, maar sal ek nou my vraag anders moet bewoord ook?”
“Hoe bedoel jy nou?” Sy is steeds nie heeltemal gereed vir sy naskoolse gevatheid nie.
“Ek bedoel,” glimlag hy fyntjies en bekyk haar op en af, “dat jy iewers jou flikkers sal moet begin gooi. Een van die dae is al die oulike kêrels klaar gevra.”
Sy kry haar asem terug. “Is daar dan oulike mans op hierdie dorp?”
“Jong, jy moet jou slim hou,” mor Erik maar hy fokus op die appelkoos wat hy uit die erdebak gaps en blitsig in sy mond steek.
Heinrich skater net, tot sy voel hoe die hitte na haar hals klim. Maar haar blik bly op Marnitz.
Dié se een wenkbrou lig net geamuseerd, sy felblou oë vee vlugtig oor haar. Toe sê hy: “Nou ja, verskoon my. Ek het ’n plig om na te kom.”
“Watse plig?” wil Erik nuuskierig weet.
“O, natuurlik om ’n verveelde vroumens se hart te gaan bly maak,” merk Marnitz spottend op en skiet Erik se oorskulp in die verbygaan met sy middelvinger sodat hy sy kop ergerlik wegruk.
Margot kan dit nie verhelp nie: “Klink eerder of jý verveeld is.”
Marnitz steek in sy spore vas. Kyk verras om. “Nè? Sy begin sowaar ’n stem kry.”
“Natuurlik het ek ’n stem, ou sinikus.” Sy noem hom aspris só in die hoop dat hy sal reageer.
Wat hy ook doen. “Nie geweet jy weet wat die betekenis van die woord is nie.”
“O ja. Ek lees nou die dag ’n sinikus is iemand wat by voorbaat in die toekoms teleurgesteld is.”
Sy fynbesnede, sterk mond gaan effens oop sodat sy tande wit glim. ’n Rosigheid stoot onder sy bruingebrande vel op. Hy swaai op sy hakke om en loop uit.
Margot kyk hom agterna. Die lang man in sy netjiese grys langbroek en wit hemp. ’n Enigma inderdaad. En haar hart trek vreemd saam in haar bors. Marnitz Schlagerfeldt. Hy wat nou ’n dokter is.
Sy skrik toe Heinrich en Erik albei so galmend begin lag dat Anna, wat terug is in die kombuis, haar kop betigtend by die deur uitsteek. Maar hulle ignoreer haar.
“Touché!” roep Heinrich net uit en staan op om sy hande, taai van die appelkose en vye onder die stoepkraan te loop was. “Sal hom goed doen om ’n slag die waarheid te hoor.”
“E … Is dit dan die waarheid?” vis Margot, ergerlik omdat sy stamel.
Maar oudergewoonte raak die manne stil sodra ’n gesprek te naby aan hul kollektiewe nerf kom. Glimlag net. En die oomblik glip weg.
“Kom,” sê Erik, “kom ons gaan draf ’n ent. Ek is skoon styf gesit van al die harde werk hier op Mutti se agterstoep. En netnou word ek oud voor ek jonk was.”
Dis deesdae sy geliefkoosde sêding. Margot dink skielik daaraan dat hy in die laaste tyd feitlik nie oor Elizabeth Williams praat nie. Sou hy van haar vergeet het? Dalk is dit beter so. Selfs al is hy nou klaar met skool, sal ’n verhouding met die fraai skooljuffrou so goed wees soos ’n skoot bokhael in ’n duiwehok. Margot skrik weer ligweg toe Heinrich begin praat.
“Ja, wraggies,” spot hy. “Ons beter oefening kry. Hierdie werkery is nou wel ter wille van eie brood en botter, ou broer, maar ’n man raak gedaan gewerk.”
“Brood en botter? Jy bedoel ter wille van julle konfyt en stroop,” terg Margot, bly dat sy ’n mate van ewewig herwin het.
“Wat ook al,” sug Heinrich maar ’n diep keep tussen die swart wenkbroue stroop die jovialiteit van sy gesig af.
Erik prop nog ’n ontpitte appelkoos in sy mond. “Kom ons gaan,” sê hy weer.
“Ek kom saam,” sê Heinrich sugtend. “Ek gaan net my kortbroek aantrek.”
“Wag vir ons,” sê Erik en tik Margot op die skouer. “Ons is nou hier.”
Gewoonlik draf sy saam wanneer die skilwerk vir die dag klaar is, en sy het haar tennisrok aan. Persoonlik dink sy ’n netjiese kortbroekie sal beter wees, maar gedagtig aan die bohaai wat sal losbars, weerhou sy haar daarvan.