Debora en seuns. Helene de Kock

Debora en seuns - Helene de Kock


Скачать книгу
vriendskap?”

      “Nie sommer tussen ’n man en ’n vrou nie, Margot.” Sy skerp blou blik vee oor haar. “En jy is veels te mooi om net ’n vriendin te wees.”

      Tot haar ergernis voel sy die hitte in haar nek opstoot. Maar sy lig haar kop om hom in die oë te kyk. “Heinrich, los asseblief vir Erik uit.”

      Hy knik net. “Goed, ek sal stilbly. Maar die vet weet, Mutti gaan nie daarvan hou nie.”

      “Sy hoef nie te weet nie,” sê Margot toe hulle begin terugstap. Dis of hul albei net te moeg is om weer te draf.

      Hulle loop stadig tot in die stukkie grootpad waarvandaan die eerste stofstraat die dorp indraai. Toe hulle byna by die huis is, besef sy dat hulle heel gemaklik die hele ent in stilte geloop het. Toe sy na Heinrich loer, sien sy dat hy diep frons en toe hy agterkom sy kyk vir hom, gee hy sy skewe towerglimlag. “Nou toe nou, klein Margot, ek het my misgis. Ek dag jy’s lief vir my kleinboet.”

      “Nee,” sê sy dadelik. “Ek is nog vir g’n man lief nie.”

      “Nou dít laat allerlei moontlikhede …”

      “Moenie met my flankeer nie, Heinrich,” sê sy en hoor met verbasing die volwasse toon van haar stem.

      Hy gooi sy kop agteroor en lag dawerend. Gaan staan halfpad teen die bult op in hul straat. “Himmel, Mädchen. Jy’s een om mee rekening te hou.”

      “Ek is, ja.”

      “H’m.” Hy steek ’n hand uit en lig haar ken met sy vingers nog voordat sy kan wegtree. “Jy’s ’n kampvegter vir my broer. Luister, Mädchen, het jy plek vir nog ’n vriend? Want van my het jy niks te vrees nie.”

      “Hoe bedoel jy nou?” vra sy versigtig.

      “Sal jy vir my skryf as ek oorlog toe gaan? Ek gaan briewe nodig hê.”

      Skrik spring in haar op. “G-gaan jy regtig?”

      “Ja, ek dink tog so. Maar as jy kan stilbly oor Erik, moet jy hieroor ook stilbly.”

      Sy knik onwillekeurig. “Maar waarom gaan jy?”

      “Omdat ek dink dis die regte ding. Maar intussen, Margot, moet jy sorg dat Erik nie ’n aap van homself maak nie.”

      “Hoe doen ek dit, Heinrich? Hy is al lank verlief op juffrou Williams. En ek dink sy op hom ook.”

      Hy verstil ’n oomblik, pers sy mond saam, sy arms voor sy bors gevou. Hy staan naby aan haar. Sy sien dat hul oë op gelyke vlak is. En sy vergeet dat sy eenmaal gedink het hy is so ontoeganklik soos Marnitz. Sy waag dit om haar hand liggies op sy voorarm te sit. “Heinrich, gee dit kans. Miskien waai dit oor. Maar miskien is dit wat Erik regtig wil hê.”

      Sy glimlag pluk weer skewerig aan sy mond. “Miskien. Maar eers moet hy universiteit toe gaan en iets word. Dis belangrik, jy weet, om ’n iets te wees.” En sy kan haar dit verbeel, maar dis of hy effens bitter klink.

      “Maar as dit so belangrik is, waarom gaan jy dan oorlog toe?” kan sy nie verhelp om te vra nie.

      “Omdat dit nou moontlik nog belangriker is,” antwoord hy sag en vat haar hand toe hulle aanstap.

      Tog weet Margot sonder twyfel dat Heinrich se hand in hare bloot ’n vriendskaplike, selfs beskermende gebaar is. Hy sou ’n klein dogtertjie se hand ook gevat het. Dan is dit ook goed. Dan het sy nou nog ’n vriend.

      Op die hoek van Loubserstraat steek Heinrich so skielik vas dat Margot amper struikel. Sy kyk na hom, merk selfs in die laatlig dat hy wit om sy mond geword het. Sy asem stoot rukkerig uit sy keel toe hy sê: “Goeiemiddag, Rebekka.”

      Margot se blik swiep weg van hom na ’n meisie op die sypaadjie. Kort en fyn met ’n bos kaneelbruin krulhare wat los oor haar skouers hang. Groot, donker oë stip op hulle gerig.

      “Middag, Heinrich. Middag, Margot.” ’n Sagte, lae stem.

      “Hallo,” groet Margot. Dis nie dat sy ongewoond is daaraan om Rebekka Eisenstein te groet nie. Die meisie het wel in Johannesburg skoolgegaan en werk glo op die oomblik daar maar sy het immers elke vakansie in haar pa se winkel gewerk en Margot en haar ma dikwels bedien.

      Tog. Dis vanaand asof sy haar vir die eerste maal buite die winkel sien. Werklik sien. ’n Brose soort skoonheid. Bedrieglik, omdat Margot nog altyd om die een of ander rede gedink het Rebekka kan haar man staan. En nou het hierdie meisie met die bos donkerbruin krulhare en lang swart wimpers net oë vir Heinrich.

      Sy wikkel haar hand uit Heinrich s’n los. “Het jy ook gaan stap, Rebekka?” vra sy vriendelik. “Dis so ’n mooi aand.”

      “Ja,” knik Rebekka. Bly steeds staan. Dit word so stil dat Margot die voëls in die somergroen bome op die sypaadjie kan hoor roer.

      “Jy … moenie so alleen loop nie, Rebekka,” sê Heinrich, sy stem skor.

      Die meisie se vol, pienk lippe roer in ’n skugter laggie. “Wie sal saam met my loop?” vra sy byna onhoorbaar.

      Die woorde hang tussen hulle, maar waarvan Margot akuut bewus raak, is die polsende emosie wat sy in Heinrich aanvoel. Sy kyk na hom. Sien die vingers wat klamp. Sy lippe wat effens beef. ’n Kilte trek deur haar. Skielik begryp sy die situasie. En ook die volslae onmoontlikheid daarvan. Sou ’n duif en ’n arend dan saam kan nesmaak?

      Sy draai na Heinrich. “Gesels julle nog ’n bietjie. Ek moet nou by die huis kom.”

      “Nee,” keer Rebekka ferm. “Dis ek wat moet gaan. My pa en ma wag seker al vir my. Ons gaan by mense in die ou dorp kuier. Daar oorkant die rivier.” Daarmee knik sy na Heinrich se kant toe en stap verby.

      Maar Margot en Heinrich staan nog ’n ruk woordeloos.

      Sy haal diep asem voor sy sê: “En dan praat jy van jou broer. Liewe Vader, Heinrich.”

      Hy gooi sy arms met soveel teatrale smagting in die lug dat Margot effens terugtree. “Verstáán jy nou waarom ek die wêreld in wil vlug, al bars die bomme om my?”

      Sy skud net haar kop. Sy emosie is te groot vir haar. Toe sy sien dat hy bedaar, vat sy sy hand sag vas en trek hom agter haar aan. “Kom, laat ons huis toe gaan.”

      Maar hy draai weer om om Rebekka se kleiner wordende figuur agterna te kyk.

      “Wat’s dit?” vra Margot fronsend.

      Hy gee ’n blaaslaggie deur sy neus. “Die mense in die ou dorp anderkant die rivier, ja. Die Greenbergs. Abram Greenberg het mos Green’s Algemene Handelaar in Smitstraat waar mens van ’n skoenveter tot ’n dak se geut kan koop.”

      “Tj, ek weet mos waar’s die Algemene Handelaar. Wat daarvan?”

      “Ai, Margot, jy kan soms stiksienig wees. Greenberg het ’n seun, Jakob, wat in Johannesburg is. Gee klas by Wits. Hy’s glo ’n wetenskaplike. Gmf, ek wonder wat wéét hy nou eintlik.”

      “Nou dink jy hy en Rebekka… ?”

      Heinrich lig sy hande. “Moet dit nooit sê nie! Daai slimjan wil ek nooit weer naby haar sien nie.”

      “Nou hét jy hom al by haar gesien?”

      “Ja,” kners hy dit uit, “een Sondagoggend toe ons van die kerk af kom, het hulle verby ons geloop. En ek het gesien hoedat hy probeer om Rebekka se hand vas te hou, en hoedat sy haar arms voor haar bors gevou het. Die hemel hoor my, as hy weer aan haar probeer vat …”

      “Is hy regtig so goor of hou jy maar net nie van hom nie?” hou sy nuuskierig aan.

      Hy trek skouers op. “Ag, ek ken hom nie. Ek hou maar net nie van enige man wat vir Rebekka ogies maak nie.”

      “Behalwe daai een dag, hoe weet jy hy hou van haar?”

      “Himmel, die dorp is vol fluisteraars, dit weet jy mos.”

      Toe daag dit soos ’n wit lig in haar kop: Heinrich is régtig


Скачать книгу