Debora en seuns. Helene de Kock

Debora en seuns - Helene de Kock


Скачать книгу

      Maar Engelie sit eensklaps regop onder die groot populier in die vierkant, haar gesig bot. “Ek dink nie hy hou van een van ons nie,” laat sy hoor.

      “H’m?” het Hantie gewonder. “Mens sal seker nie weet nie.” Toe wend sy haar weer tot Margot: “Maar jy weet tog meer as ons?”

      “Nee wat,” keer Margot haastig en praat oor ander goed. Hoe Debora se winkel ten spyte van die moeilike tyd tog ’n winsie maak. Hoe lekker die nuwe ingelegde vye met ’n knypie gemmer smaak.

      “Ja,” laat Hantie weer mymerend hoor, “en jy kry natuurlik baie kans om daar in die winkel net so naby aan Erik te wees soos wat ons drie nou bymekaar sit. Dit is so ’n smal ou plekkie, h’m?”

      “Natuurlik,” jok Margot gladweg. “Julle moet onthou, ons twee was nog altyd naby mekaar. Enne, buitendien help ons net uit by Debora en Seuns wanneer juffrou Henning nie kan nie en Anna of Debora te besig is.”

      En toe die klok lui om die einde van die pouse aan te kondig stik sy amper van verligting.

      Hoofstuk 3

      Desember is uiteindelik hier met gul somerdae en skielike donderstorms. Die eksamen is al amper vergete. En Margot en Erik het dit nogal reggekry. Sy Engels begin sowaar meer foolproof raak en byna die hele dorp dink hulle is gekys. Selfs Susan het al bekommerd begin skimp dat hulle darem baie tyd alleen deurbring. Tot so ’n mate dat Margot haar ma in haar vertroue moes neem oor waar Erik se hart eintlik lê.

      “O, hemeltjie tog, Margot. Wat ’n onmoontlike situasie. Totaal verbode. Buitendien, so iets werk nooit.”

      “Hoe weet Mamma? Dalk is Erik regtig lief vir haar. Ek dink enige mens kan vir Elizabeth Williams gou-gou lief word.”

      “Nou toe nou,” kon Susan net uitkry. “Dan kan ek van jou dieselfde sê, en daarby is jy nog opofferend ook.”

      “Nie regtig nie,” het Margot gelag. “Ek en Erik geniet nogal ons Engelse dae. Dis vir my heerlik om hom te terg oor hierdie liefde van hom. En dit in Engels. Hy bloos tot in sy hempskraag as ek net haar naam noem. En wat sy nou doen omdat ons nie meer in haar klas is nie, wonder ek mos want sy kon soms diep ingedagte na Erik kyk.”

      “En niemand het dit agtergekom nie?”

      “Nee, Mamma. Sy was versigtig, ignoreer hom so half. Sy was nou die dag in die winkel. Erik het haar bedien en sy het amper die brood laat val toe hy haar ewe droog ’n aangename dag toewens. Gelukkig was daar net twee klein kinders om swiets te koop. En Ma, dis nie asof Erik haar met skaapoë aanstaar nie. Hy hou hom in.”

      Ten minste deesdae. As mens nie weet dat Erik Schlagerfeldt sy hart op die jong Engelssprekende onderwyseres verloor het nie, sal jy dit nooit sê nie.

      Dit bring natuurlik mee dat daar nou ’n ekstra geheim rondom die Schlagerfeldts is. Met dié verskil dat sy immers die aard van die misterie ken.

      Margot is dankbaar dat die gesprek met haar ma redelik gou ontlont is. Want Erik se verliefdheid op Elizabeth Williams groei by die dag. Hy staar lang rukke dromerig voor hom uit as hulle smiddae saam sit en tee drink of op die agterstoep help perskes skil.

      Heinrich en Marnitz wat nou tuis is, bekyk hom wel af en toe fronsend, asof daar iets is wat hulle pla. Hulle is hul ou spottende self, klop hul kleinboet ontydig op die skouer, maak aanmerkings oor sy baard as hy die dag nie geskeer het nie, en les bes, vertoorn Margot genadeloos.

      “Die ou meisietjie wat groot geword het,” noem Heinrich haar en lag sy hartlike lag as sy kwaad word.

      En dokter Marnitz kyk Erik so en laat dan sy blou blik klinies oor Margot gaan. Sy verpes dit as hy dit doen. Kyk sommer anderpad en probeer haar hart se simpel bokspronge ignoreer.

      Dis waar wat haar ma sê, dink sy een middag voordat sy klaarmaak om te gaan help perskes skil vir inmaak.

      “Hierdie Schlagerfeldt-manne is gevaarlik. Hulle is … wel, hulle beskik oor daardie soort aantreklikheid wat ’n vrou kan laat ontspoor.”

      “Hoe?” wou Margot nuuskierig weet.

      “Beter om nie te weet nie,” het haar ma geantwoord en haar mond op ’n plooi getrek.

      Maar as haar ma reg is, dink Margot en trek die spierwit bloesie oor haar kop, gaan sy dit uitvind hoe en dan sal sy veral vir Marnitz ’n ding of twee wys. Want sy is self nie meer ’n kind nie. Sy weet nog nie presies hoe dit voel nie, maar sy kan sien dat Erik in ’n ander wêreld is. Een wat sy self ook wil ontdek.

      As Debora egter enigsins vermoed dat Erik verlief is, steek sy dit goed weg. Na alle waarskynlikheid bespiegel sy dat dit op Margot is. Daarvoor sorg Margot mos. Soms deur opsigtelik maar speels met haar hand deur Erik se weerspannige kuif te vee sodat hy terstond beetrooi word.

      “Sê dankie,” vermaan sy dan sodra hulle weer alleen is. “As jou ma darem moet weet …”

      Dan staar hy verskrik na haar en vou sy breë hande krampagtig saam. Hemel, dink sy meermale. Dit moet absoluut onhoudbaar wees. Meer ’n marteling as ’n vreugde.

      Sonder dat sy dit kan verklaar, het sy net so beskermend teenoor die Schlagerfeldts en hul verborge dinge geraak as die huismense self. Want sy gee toenemend om vir hulle. Selfs vir die man wie se stom oë soms stil op haar rus wanneer sy en een van die seuns na die syvleuel toe gaan om vir hom tee of van Debora se tuisgemaakte limonade te neem.

      Sal sy ooit die dag vergeet wat sy soos vele male tevore na die syvleuel gestuur is met ’n koppie tee wat Anna haar in die hand gestop het.

      “Ag, vat jy gou dié, Ounooitjie,” het die vrou gesug. “My bene sukkel vandag. Seker rumatiek, of iets.”

      “Graag, Anna,” het sy ingewillig.

      In die deur van herr Dieter se slaapkamer wat in die besonder vir sy behoeftes ingerig is, het sy vasgesteek. Debora was aan die gesels met haar man. In ’n sag singerige toon met kwalik hoorbare woorde. Dit terwyl sy sy groot, slap hande vinger na bleek vinger met ’n lappie was. ’n Erdeskottel met skuimende seepwater langs haar op die tafel by die bed. In die water was daar laventeltakkies en roosblare. Margot kon die salwende soetheid daarvan ruik. Die twee mense omvou deur die brons laatlig vanuit die westelike skuifraamvenster. Toe het Debora sy uitgeteerde arms begin masseer. Sagte, strelende bewegings. Herr Dieter het behaaglik gesug.

      Margot het bly staan, traag om die ooglopende innigheid tussen die Schlagerfeldts te onderbreek. Of dalk, het sy gedink, is dit ’n eensydige intimiteit. Want wat kon die man met sy niksseggende, sielsmoeë blik sy vrou bied? Sy het ’n bietjie geskrik vir haar gedagtes.

      Herr Dieter het toe al vir die nag gelê. Debora en Anna moes hom in die bed gesit het, sy kos klaar vir hom gegee het. Sy oë het Debora se bewegings met intense konsentrasie gevolg. In die koper skemering kon Margot sweer daar glim trane in sy blik. Sy het stil bly wag dat Debora moet klaarkry.

      Dis toe dat sy die regterhand sonder die middel- en ringvinger sien. Dit was asof daar ’n kloof tussen die wysvinger en die pinkie is. Amper soos die poot van ’n volstruis. Sy het skok en jammerte stekelrig voel opwel. Maar Debora het aangehou om die verminkte hand teer met die geurige waslap af te vee. Margot het gesluk aan die knop in haar keel. Dit, het sy op daardie oomblik besef, is waarom Anna of Debora altyd die man se hande, wat hy self nie kan beweeg nie, onder ’n kniekombersie toemaak.

      Hartseer wou haar oorweldig. Sy het gewens Debora wil opkyk en haar sien. Die tee kom vat. Maar die vrou se lang lyf was soos ’n vraagteken oor haar man gekrom terwyl haar hande met veerligte hale sy boarms ook was. En sy het die uitgeteerde arms masseer, op en af met sagte dog ferm hale. Toe was sy sy nek en laaste sy gesig, strelend en teer. Dit terwyl sy swyende blou blik haar gesig nooit verlaat en sy nie ’n sekonde ophou met haar lae, sangerige gesprek nie.

      Daar was iets in daardie kamer, het Margot besef. Iets donker en diep. Oneindig smartlik en tog ook fassinerend. Veral die vaardige dog liefderike manier waarop sy sy arms gemasseer het, het in Margot bly vassteek.

      Debora het uiteindelik


Скачать книгу