Swemlesse vir ’n meermin. Marita van der Vyver

Swemlesse vir ’n meermin - Marita van der Vyver


Скачать книгу
niks sê om my te verdedig nie. En as jy eendag jou stormjare bereik, sal ek niks kan sê om jou te verdedig nie, want ek sal lankal nie meer in hierdie huis woon nie.

      Ek kan nie wag om weg te kom nie!

      Dis waarom ek vir jou hierdie “wyse” woorde van ’n ousus wil los vir wanneer hierdie “adolessensie”-ding jou begin onderkry.

      Soos jy kan sien, sukkel ek om adolessensie sonder aanhalingstekens te skryf, want dit klink soos ’n onaangename siekte waarvan ek niks verstaan nie behalwe dat dit iets met dol te doen het. Soos hondsdolheid. Ek verkies om van tienerjare te praat, want dit klink minder mal.

      Van dertien tot negentien gaan jy ’n tiener wees, of jy nou wil of nie, en om in hierdie stormsee van hormone en onsekerheid en ander aaklighede te oorleef moet jy ’n sterk swemmer wees. Weet jy hoeveel keer het ek al gewens ek het ’n ousus gehad wat vir my ’n paar swemlesse kon gee? Ek praat nou van die soort raad wat selfs die gaafste grootmense my nie kan gee nie omdat hulle vergeet het hoe erg dit is om so te spartel en te dobber.

      Dis seker nie hulle skuld nie. Mana sê as ’n vrou ’n baba kry, word een of ander hormoon afgeskei wat haar al die seerkry van die geboorte laat vergeet, anders sou g’n vrou ooit weer nog ’n kind wou hê nie. My teorie is dat dieselfde soort vergeet-hormoon afgeskei word sodra mense hulle tienerjare agterlaat, anders sou almal vir die res van hulle lewe gesukkel het om die vernederings van hierdie jare te verwerk.

      Dís hoekom ek hierdie – kom ons noem dit maar ’n “gids” – nóú vir jou wil skryf, voordat ek ook eendag ’n vergeetagtige grootmens word. Sodat dit asseblief tog net nie klink soos een van daardie outydse boekies wat deur dokters of dominees geskryf word nie. Jy weet, die soort wat jou nooit enige raad kan gee behalwe dat jy jou hande moet was voor jy aan ’n “privaat”-deel van jou lyf vat (die dokter) of dat jy moet bid as jy voor enige ander versoeking wil swig (die dominee).

      Lewensbelangrike raad

      Ek belowe ek gaan nie vir jou preek nie. Jy ken die basiese biologiese feite en jy kan elke dag sien en voel wat besig is om met jou lyf te gebeur. Party dinge is lekker en ander taamlik verwarrend en ander doodgewoon grillerig, maar jy’s seker nie lus om nog daaroor ook te lees nie!

      Nee, daar’s belangriker dinge wat jy moet weet om jou tienerjare te oorleef.

      Soos, wat maak jy as jy groen is van jaloesie elke keer as jy na die gewildste, mooiste, coolste meisie in die klas kyk? (In my geval is haar naam Petroné, ook bekend as Haar Skynheilige Hoogheid. In jou geval? Daar sal wel so ’n meisie wees. Trust me on this one.)

      En waarom kan jy nie aan jou beste vriendin erken jy is actually jaloers op hierdie meisie oor wie al die meisies – en ouens! – mal is nie?

      Of hoe gemaak as jy verlief is op ’n ouer seun wat nie eens weet wat jou naam is nie en waarskynlik nooit sal weet nie, want hy is óók verlief op die gewildste, mooiste, coolste meisie in jou klas? En waarom kan niemand behalwe jy agterkom hierdie meisie is eintlik ’n total fake nie? Is daar iets verkeerd met jou?

      Dis sulke soort lewensbelangrike raad wat jy hier gaan kry. Asook raad oor familie, ouers, broers en susters. Oor skool en geld en geluk en klere en allerhande dinge waaraan ek nog langs die pad sal dink. Lees dit in Julie 2015 – 2015? Dít klink mos nou soos Sci-Fi! – wanneer jy dertien is en ek al ’n amperse ouvrou wat hopelik al my eerste boek uitgegee het.

      Of dalk het ek teen daardie tyd besluit ek wil nie meer ’n skrywer wees nie, want niemand lees tog meer boeke nie.

      Maar as jy aanhou lees, sal ek aanhou skryf, al is jy eendag my enigste leser. So kom ons noem hierdie eerste ding wat ek net vir jou skryf Swemlesse vir ’n meermin. Jy’s die naaste aan ’n meermin wat ek ooit in my lewe sal hê, Ariel.

      2. Oor stieffamilie en halwe familie en hele families

      Beyers vertel daar was ’n meisie in sy skool wie se ma en pa geskei het.

      Die enigste kind met geskeide ouers in die hele skool, stel jou voor, en almal het dit as ’n Griekse tragedie hanteer.

      Die onderwysers het in fluisterstemme oor die arme meisie gepraat en party kinders het haar begin vermy asof sy ’n aansteeklike siekte het en ander het haar jammer gekry asof haar hele gesin in ’n motorongeluk uitgewipe is.

      Beyers se reaksie? Hy het dolverlief geraak op die meisie.

      “Haar naam was Antjie,” sug hy. “Ek sal haar nooit vergeet nie, want sy was my eerste groot liefde. Ek was twaalf jaar oud.”

      Hy kan nie onthou of sy mooi of slim of snaaks was nie, maar vir hom was sy onweerstaanbaar omdat haar “gebroke ouerhuis” haar anders as al die ander meisies gemaak het.

      I rest my case.

      As Beyers op die ouderdom van twaalf verlief geraak het op Antjie net omdat sy anders was, kan jy verstaan waarom hy nou op sy oudag so verlief is op Mana.

      Mana is mooi (as sy net ’n slag haar hare wil sny eerder as om dit met verfkwasse op haar kop vas te steek). En sy is slim (sy dink sy weet beter as die res van ons, wat erg irriterend kan wees, aangesien sy baie keer rêrig beter as die res van ons weet). En sy is snaaks (dalk nie altyd doelbewus nie, maar jy kan nie anders as om te lag as jy sien hoe sy soms aantrek nie), maar Mana is ook, meer as enigiets, wel, anders.

      Ek sal jou later probeer raad gee oor hoe om jou weird ma te hanteer.

      Iets oor gebroke gesinne

      Nou wil ek net eers praat oor families en gesinne en meer spesifiek “gebroke gesinne”. Almal in hierdie huis, behalwe jy, kom uit “gebroke gesinne”. Ons is soos ’n klomp borde wat in skerwe gespat het en bymekaar gelas is om nuwe borde vol krake te vorm. Maar dis nie só erg om ’n gekraakte bord te wees nie, weet jy?

      Dis waar dat mens jou gesin verloor as jou ouers skei, soos die arme Antjie vir wie almal so jammer was. Maar jy verloor nie jou gesin soos jy ’n arm of ’n been verloor nie. Dis meer soos ’n boom wat sy blare in die winter verloor, net om in die lente nuwe takke vol groen blare te begin uitstoot. Die boom hou nie noodwendig van die nuwe blare nie, die boom wil dalk nog kaal staan en treur, maar die natuur steur hom nie aan bome of mense se treurigheid nie.

      Die natuur foeter voort.

      En dankie tog mens word deesdae nie meer soos iemand met ’n aansteeklike siekte behandel as jy uit ’n “gebroke ouerhuis” kom nie! Amper die helfte van die kinders in my skool se ouers is óf geskei óf hulle gaan binne die volgende paar jaar skei. Ek hoef net een keer in ’n klasmaat se huis te wees en te hoor hoe die ouers met mekaar praat (of te sien hoe hard hulle probeer om nie met mekaar te praat nie), dan weet ek of daai ouerhuis heel gaan bly of nie.

      Ek’s natuurlik nie altyd reg nie.

      Soms lyk ’n maat se ma en pa vir my nogal gelukkig tot die nuus van ’n egskeiding almal soos ’n donderslag tref. Soos in die geval van Karin se ouers wat laas jaar heeltemal onverwags en besonder morsig uitmekaar gespat het. Ander kere lyk die ma en pa al twee sielsongelukkig, soos Peter se pa wat nooit ’n woord sê nie en sy ma wat nooit ophou kla nie, maar hulle kom ook nie tot skei nie. Hulle sal liewer vir die res van hulle lewe aanhou om mekaar ongelukkig te maak.

      Moenie my vra hoekom nie.

      Ek wil vreeslik graag jou slim ousus wees, maar selfs iemand met ’n bynaam soos Hanna Hoekom weet nie altyd hoekom nie.

      Maar goed, dinge het verander van Beyers jonk was. Baie kinders het deesdae geskeide ouers en enkelouers en ouers wat weer met ander mense trou en dan kom daar nuwe boeties en sussies by soos nuwe takke aan ’n ou boom.

      Sharon bieg sowaar nou die dag by my sy begin bietjie “uit” voel omdat sy in so ’n boring “kerngesin” leef. ’n Ma en pa wat nog nooit met iemand anders getroud was nie en twee kinders met dieselfde ma en pa.

      Ek het haar amper geklap, dis so ’n simpel ding om te sê. Almal van ons wie se gesinne soos gekraakte borde lyk, sou tog eerder ongekraakte borde wou hê!

      Want die ideaal


Скачать книгу