Swemlesse vir ’n meermin. Marita van der Vyver
Wat ek geleer het, is dat mens aan enigiets gewoond kan raak, selfs jou eie naam.
Ek begin byvoorbeeld gewoond raak aan hierdie gelapte gesin waarin ek gedruk is sonder dat iemand my mening gevra het. Ek begin selfs gewoond raak aan die skreeulelike huis waarin ons almal deesdae saam moet woon.
Sommige dinge is totaal onregverdig
Bygesê, die huis is bietjie rustiger as gewoonlik, want Yann het saam met ’n paar van sy pelle langs die see gaan toer. Hulle het iemand se pa se kar geleen en slaapsakke en swemklere en ’n kitaar en baie bier ingepak en surfboards op die dak vasgemaak. Niks kos saamgeneem sover ek kon sien nie. Hulle hoop blykbaar hulle gaan langs die pad fantastiese meisies ontmoet wat hulle gaan voer.
Ek kan ongelukkig nie saam met my maats gaan toer nie,
“Nee, jy’s te jonk,” sê Mana.
“Nee, dis te gevaarlik vir meisies,” sê Beyers.
Totaal onregverdig, natuurlik, maar nou ja. My maats hou in elk geval almal klaar saam met hulle ouers vakansie. Op allerhande fantastiese plekke langs die see. Een of twee kinders in my klas hou selfs oorkant die see vakansie. Petroné se beste maat, Marilu, het in Oostenryk gaan ski. Kan jy glo. Saam met haar skatryk pa en sy baie jonger tweede vrou.
“Dis duidelik Marilu se pa probeer haar met ski-vakansies omkoop,” sê Mana. “Om hom te vergewe dat hy haar ma vir ’n jonger vrou gelos het.”
Mana is moontlik reg, maar weet jy wat? Terwyl ek hier in my kamer lê en sweet en luister hoe Die Baba iewers in die huis huil en my twee jonger boeties mekaar met bloedstollende gille op die stoep probeer vermoor, sou ek nogal nie omgegee het om ’n skatryk pa te hê wat my ma gelos en my met ski-vakansies omgekoop het nie.
Oor jou avontuurlike ousus
Ek het gedink ek gaan my naam verander die oomblik wanneer ek agtien word. Maar noudat agtien nie meer so verskriklik ver is nie, voel my naam nie meer so verskriklik erg nie. Die laaste paar maande het baie dinge verander, en dis nie net oor jy die sewende lid van ons gelapte gesin geword het nie.
Kort na jou geboorte in daardie winterstorm op die berg het ek ’n storie geskryf, nie oor ’n fabelagtige heldin met ’n fantastiese naam soos Fabienne of Camille nie, maar oor ’n doodgewone meisie soos ek met ’n doodgewone naam wat vasgevang is in ’n alles-behalwe-doodgewone gesin.
Wel, eintlik het ek oor ons geskryf. Oor jou ma en pa, Mana en Beyers, en oor jou drie ouer broers, Yann en Amos en Tibo, en oor jou ousus Hanna.
’n “Outobiografiese geskrif” soos my Afrikaans-juffrou dit sou noem.
Nee, ek het dit nie vir juffrou Liebenberg gewys nie, dis darem net te persoonlik. En sê nou net sy was so impressed dat sy vir ander onnies of selfs vir ander kinders daarvan vertel het! Yann se reputasie as een van die coolste ouens in die skool sou mos vir ewig geknak wees as almal moes hoor hy’t ’n hele vakansie lank saam met sy gesin Krabbel gespeel en konsert gehou.
So op die oomblik bêre ek my storie maar eers in ’n laai. Alle skrywers het glo so ’n geheime laai waarin hulle stories hou wat hulle nog eendag wil publiseer.
Wie weet, miskien is my storie al gepubliseer teen die tyd dat jy hierdie woorde lees? Ek het klaar ’n titel uitgedink. Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom.
En snaaks, elke keer as ek die titel so in my verbeelding op die voorblad van ’n boek sien, dan dink ek Hanna is after all nie so ’n vervelige naam soos ek altyd gedink het nie. As Hanna iemand is wat ongelooflike avonture kan belewe, al is die avonture dan nou meer in haar kop as in die ware lewe, dan moet ek miskien tog maar Hanna bly?
En as ék dit kan regkry om vrede te maak met my naam, kan enigiemand dit doen. Dis eintlik al wat ek oor name wou sê.
4. Geluk kan nie geld koop nie
Geld kan nie geluk koop nie.
Sê wie?
Wel, Mana en Beyers om mee te begin. Elke keer as een van ons kla oor iets wat ons maats kan koop of kan doen en ons nie kan koop of doen nie, word daai stokou korsie brood vir ons gegooi. Begin solank daaraan kou, Sus, want dis kliphard en dit kan jou tande breek.
Van tande gepraat, Mana weier steeds dat ek draadjies dra om die gaping tussen my boonste voortande kleiner te maak. Sy sê ek moet trots wees op my tande wat anders is as al my maats s’n. Ek weet nie of ek moet lag of huil as ek sulke crap hoor nie.
Ek weet dis oor draadjies ’n weelde is wat ons nie kan bekostig nie, nes ’n vakansie langs die see of vleis elke dag of klere met die regte labels. Maar Mana sal nooit erken dis oor ons nie genoeg geld het nie, sy soek altyd ’n ander simpel verskoning.
“Dis darem só verbeeldingloos om ’n hele somervakansie langs die see om te lê.”
“Dis ongesond om te veel vleis te eet!”
“Dis skandalig om klere te koop wat iewers in die Ooste gemaak is deur honger kindertjies wat soos slawe moet werk …”
Jy ken seker al die rympie, nè.
Want tensy iemand in ons gesin binnekort die Lotto wen of tensy Beyers uit die bloute ’n hoofrol in ’n Hollywood movie aangebied word of tensy Mana se skilderye deur ’n beroemde internasionale kunsmuseum gekoop word – met ander woorde tensy ’n wonderwerk gebeur – sal jy gereeld na sulke verskonings moet luister.
Jy’s die jongste van vyf kinders en jou pa is ’n akteur sonder ’n vaste salaris of ’n bekostigbare mediese fonds of betaalde vakansies en jou ma is ’n skilder wat ook nie juis kan spog met haar inkomste nie. En hoewel jy darem ’n dak oor jou kop het en hopelik nooit sal honger ly of geskeurde klere hoef te dra nie (behalwe as jy wil, omdat dit mode is om gate in jou klere te hê), gaan jy nooit soveel sakgeld soos jou maats kry of in sulke lekker restaurante en kuierplekke rondhang of jou klere in sulke cool winkels koop soos hulle nie.
Deal with it.
Jammer as ek wreed klink, my liefste sus, maar dis ’n tawwe ene hierdie.
Ek wéét geld kan nie geluk koop nie. Maar as jy dan nou ongelukkig móét wees, is dis seker verkieslik om ryk en ongelukkig eerder as arm en ongelukkig te wees?
Nee, dit sal jy nooit in enige amptelike gidsboek vir tieners lees nie, want ons weet mos nou daai soort boeke word geskryf deur grootmense wat lankal vergeet het hoe belangrik geld vir ’n tiener is. Maklik vir grootmense om oor geld te preek, want hulle beheer jou beursie en daarmee beheer hulle sommer vir jou ook!
Mana! As jy hierdie bladsy lees, hoop ek jy stik nou van verontwaardiging!
Toemaar, Ariel, ek dink darem nie Mana sal lees wat ek vir jou skryf nie. Ek wou haar net bietjie skrikmaak. Net ingeval.
Dink aan almal wat minder het
Daar’s baie kinders in hierdie land wat baie minder besittings het as jy (nog een van jou ouers se rympies wat jy seker al goed ken), maar dis nie veel troos nie, nè.
Want daar’s ook baie kinders wat baie méér besittings het as jy. En jy ken nie al die arm kinders wat in shacks of waterpype woon nie, maar jy ken ’n hele spul rykes wat in jou eie buurt woon en saam met jou skoolgaan.
En soms word dit ’n helse probleem.
Mana en Beyers glo ons is bevoorreg om in hierdie buurt vol bome agter Tafelberg te woon – en natuurlik is ons! – en in ’n goeie skool te wees – ja! ja! ja! Maar hulle verstáán nie hoe moeilik dit is om altyd te voel jy hoort nie rêrig hier nie, want jy kan nie dieselfde klere en uitstappies en vakansies as jou maats bekostig nie.
Maar nou ja, dis hoe dit is. Niks wat jy kan doen behalwe om daaraan gewoond te raak nie.
So kom ons konsentreer op die voordele van hierdie situasie.
“Watse voordele?” hoor ek jou vra.
Wel.
Om mee te begin (en te eindig, want