Swemlesse vir ’n meermin. Marita van der Vyver
wees wanneer jy hierdie woorde lees. Die Baba is wat jy was voor jy kon lees. Of kon praat. Of eintlik enigiets interessants kon doen.
Mana sê Amos is heeltemal te jonk en onverantwoordelik om ’n baba op te pas, en wat dit erger maak, is dat hy hom verbeel hy’s ’n towenaar. Nie soos in Harry Potter nie, meer soos in Houdini of een van daardie ouens wat konserte hou en hase uit hoede pluk en mense middeldeur saag of spoorloos laat verdwyn.
Ons is almal al bietjie moeg van Amos se konserte, want hy’s nog nie baie goed nie. As hy ’n muntstuk wil laat verdwyn, val dit gewoonlik uit sy mou en dan bars ons uit van die lag en dan storm hy woedend by die kamer uit. Maar ’n baba is mos die ideale toeskouer, lewer nooit kommentaar nie en lag hom nooit uit nie, so Mana vermoed hy wil sy babasussie eintlik net gebruik om sy toorkunsies te toets terwyl hy haar kamtig oppas.
En ék vermoed Mana is so ’n klein bietjie benoud dat een van Amos se toorkunsies dalk per ongeluk sal werk en sê nou maar net hy laat Die Baba verdwyn en hy weet nie hoe om haar weer terug te kry nie?
Tibo speel gereeld met Die Baba asof sy ’n lewende pop is, want hy’s een van daai snaakse seuns wat van popspeel hou. Nie oor hy ’n “sissie” is nie, maar oor hy ’n snaakse ma het wat hom van kleins af aangemoedig het om met meisiegoed ook te speel. Sy’t vir hom karretjies en balle gegee, natuurlik, maar sy’t ook vir hom poppe en strykplankies gegee.
“Darem iemand in die huis wat eendag sal kan stryk!” het Mana gesê elke keer as iemand hom skeef aankyk.
Want ék het nooit vir strykplankies gevra nie, ook nie vir kookstelletjies en sulke “dogtertjiedinge” nie, en ek was nooit rêrig mal oor popspeel nie. Ek wou van kleins af net boeke hê.
En as iemand waag om te vra of sy nie bang is sy maak ’n gay seun groot nie?
O, jy moet vir Mana oor dié onderwerp hoor! (Wel, teen dertien sou jy haar seker al hieroor ook hoor aangaan het.)
Oor seks (volgens jou ma)
“In die eerste plek is ek nie bang om ’n gay kind te hê nie,” sê Mana. “Al wat ek wil hê, is dat my kind gelukkig moet wees. En watter ma sou nou nie ’n gelukkige gay kind bo ’n ongelukkige straight kind verkies nie?”
Baie ma’s, het ek al vir haar probeer sê, en nog meer pa’s.
“Siestog,” sê Mana. “Dis hulle probleem, nie myne nie.”
In die tweede plek is nie een van haar gay mansvriende – en sy het baie, soos jy weet, sy het selfs met een van hulle getrou om my te maak – as kinders toegelaat om met meisiespeelgoed te speel nie. En dit het hulle nie gekeer om gay grootmense te word nie. Sê Mana.
“Mens besluit nie net op ’n dag jy gaan gay wees soos jy besluit om jou hare te laat sny of ’n stud in jou lip te dra nie! Jy’s óf gay óf jy’s nie!”
Sê Mana.
Die rede waarom ek so aanmekaar ons ma se woorde aanhaal, is omdat ek self nog nie eintlik vir jou kan raad gee oor enigiets wat met seks of seksualiteit te doen het nie.
Ek bedoel, ek het al baie daaroor gelees en ek praat soms met Sharon en Karin en ander maats daaroor. En ek het selfs al films gesien wat meeste meisies van my ouderdom nog nie gesien het nie omdat hulle ma’s bang is dit maak hulle sleg. (Ons ma gee nie om vir “gesonde” seks en kaal mense in films nie, dis eerder bloed en geweld wat haar uitfreak.) Maar boeke en praatjies en films oor seks is seker soos om ’n fantastiese sonsondergang te beskryf vir iemand wat nog altyd blind was.
Hoe kan jy jou die kleure van ’n sonsondergang voorstel as jy nog nooit enige kleure gesien het nie? As jy nog nie eens die son gesien het nie?
As dit by seks kom, moet ek dus maar my verbeelding gebruik.
Ek het nog nooit vas uitgegaan met ’n ou nie. Ek het al ’n paar ouens toegelaat om my te soen, sodat ek darem ook kan weet waaroor die bohaai gaan, maar dit het my nie juis wyser gemaak nie. Die probleem is dat die soort ouens wat my wil soen, nie die soort ouens is deur wie ek gesoen wil word nie.
Ek vermoed ek mik heeltemal te hoog. Die enigste ouens op wie ek nog ooit “verlief” was, was heeltemal buite my bereik. Filmsterre soos Leonardo DiCaprio in Titanic (hy sal darem seker nog leef as jy dertien is) of matriekseuns wat nie eens van my bestaan bewus is nie en dus eintlik net so onbereikbaar soos ’n beroemde filmster is.
Dis seker vir enige meisie van my ouderdom ’n verleentheid om te erken hoe onervare sy op hierdie baie belangrike gebied is, maar ek belowe jou dis selfs erger vir my. Oor my van, sien. Jy weet tog seker wat beteken Minnaar?
Praat van on-van-pas!
Jy hoef nie hieroor te worry nie, want jy’t Beyers se van gekry. Gelukkige jy.
Sien, ek’s nie net jaloers op jou naam nie, ek’s selfs jaloers op jou van! Pateties, nè.
Maar oukei, ás ek dit regkry om meer praktiese ervaring op te tel voor ek klaar is met hierdie “gids” – wonderwerke gebeur seker nog – sal ek jou vertel wat ek geleer het.
Intussen moet jy maar na Mana luister.
Oor familie (volgens ’n beroemde skrywer)
Net nog ’n laaste opmerking oor familie – waarvan ek wel praktiese ervaring het, baie meer as wat ek eintlik wil hê – want ek moet vir Mana gaan help om die kamtige “Kersboom” te versier wat Beyers vanoggend by die huis ingedra het.
Natuurlik nie ’n regte Kersboom nie, want dennebome is nie inheems nie (Beyers), maar nog minder ’n plastiekboom, want plastiek is nie “groen” nie (Mana). Dis groen gekleur, natuurlik, maar dis nie goed genoeg vir ons ekologies-vriendelike ma nie. So wat ons het, is ’n reusagtige kaal tak waaraan ons veronderstel is om tuisgemaakte versierings te hang.
“Om protes aan te teken teen die kommersiële vervlakking van Kersfees,” verklaar Mana.
Klink dit vir jou bekend?
Hoekom moet ons ma selfs ’n Kersboom in “protes” omskep?
Anyway, die beroemde Russiese skrywer Tolstoi het een van sy beroemde boeke met ’n beroemde sin begin. Alle gelukkige families is eenders, maar elke ongelukkige familie is op ’n unieke manier ongelukkig. So iets.
Wat my nogal laat wonder. Ons familie is miskien ingewikkeld, maar ons baklei soos enige ander familie. En ons staan saam (as dit nou rêrig móét) soos enige ander familie. Ons verdedig mekaar en verdra mekaar en verpes mekaar soos enige ander familie.
So dalk beteken dit ons is after all tog ’n gelukkige familie?
3. Jou naam is jou naam is jou naam
Jy’s nie rêrig na ’n meermin vernoem nie.
Maar dis nou eenmaal wat die meeste mense dink as hulle hoor jou naam is Ariel. Almal ken mos Walt Disney se meermin met die bos vlamrooi hare.
En nou lyk dit boonop of jou hare ook eendag die kleur van vuur gaan wees. Ek sê “eendag”, want op die oomblik het jy nog nie eintlik wat mens hare kan noem nie, net so ’n sagte kuikendons wat oranje gloei as die son daarop skyn. Dit maak jou bietjie van ’n alien tussen ons, want niemand anders in die huis het eens ’n skynsel van rooi hare nie. Veral aangesien jy in hierdie stadium meer soos iets uit die buitenste ruimte as soos ’n normale mens lyk.
Moenie vir Mana sê ek het dit gesê nie!
Nie eens as jy dertien is en lankal nie meer soos ’n Space Invader lyk nie.
Mana glo jy is beeldskoon. Met jou oranje kuikendons en al.
Volgens Mana het sy ’n besproete rooikop oupa gehad wat wêreldberoemd was (Mana oordryf mos altyd) vir sy vreesloosheid en sy vlammende humeur. Jy het blykbaar die oupa se hare en sy vreesloosheid geërf, hopelik nie die humeur ook nie. Ons het klaar heeltemal genoeg vinnige humeure en tienerhormone en ander plofstowwe in hierdie gesin, dankie.
Daar’s rêrig nie plek vir ’n beduiwelde babasussie ook nog nie.
Oor