Christine le Roux Omnibus 7. Christine le Roux
sy bedagsaam.
Hy vat ’n hap en kyk haar moordlustig aan. “En wie is Hugo?”
Sy waai ’n hand deur die lug. “Ag, sommer. Hy was eers agter Saar aan, maar hy is nie haar soort man nie. Sy het haar oog op Frans gehad, dis dié dat ek vies is. Hoekom Linda as hy moet weet hoe Saar oor hom voel?”
“Wie is Saar?”
“My beste vriendin.”
Hy kyk na haar waar sy nou weer plat lê, haar hoed oor haar gesig gekantel. “Ek is baie bly om te hoor jy het darem vriendinne ook. Ek was onder die indruk al jou kennisse is mans.”
“Jy sal van Saar hou,” sê sy. “Sy is jou soort meisie. Veroorsaak nooit moeilikheid nie, val in by almal se planne. Inskiklik is wat sy is.”
“En hoekom is dit my soort meisie?”
Sy stoot haar hoed effens weg en loer na hom. “Jy kla dan sonder ophou oor die moeite en verdriet wat ek jou aandoen!” Sy draai op haar regtersy en stut haar kop op haar hand. “Hoekom het jy nie ’n meisie nie?” vra sy. “Iemand so oud soos jy behoort mos lankal getroud te wees.”
“Hou op impliseer dat ek oud is!”
“Jy’t nie my vraag beantwoord nie. Hoekom het jy nie ’n meisie nie? Of wag jy vir Annemie?”
“Ek wag vir niemand nie en Annemie is ’n werknemer, nie ’n persoonlike vriendin nie.” Hy kyk liewer oor die baai sodat hy die lyn van haar heup en skouers kan mis kyk. “Vanselfsprekend is ek nog ongetroud omdat ek nog nie die regte vrou ontmoet het nie. As ek haar kry, sal ek trou.”
“Ek kan jou help,” bied sy aan.
“Nee dankie.”
“Ek ken baie ongetroude meisies.”
“Ek ook.”
Sy frons. “Was jy nog nooit verlief nie? Jy weet – jy sien iemand en skielik is dit asof jy op duisende miertjies loop, jou skoensole kriewel en jy kan nie lekker asemhaal nie, dis asof jy te min of te veel suurstof kry en al wat jy kan sien, is die paar oë en sy hande en die manier waarop hy glimlag en daardie aand kan jy nie aan die slaap raak nie, want jy dink net aan hom en jy wonder hoe dit sal wees as hy jou soen of aan jou raak.” Terwyl sy praat, skets haar hand prentjies in die lug voor haar en sy gee ’n sug van welbehae. “Dis die beste gevoel in die wêreld. Ek hou daarvan.”
“Dit klink so, ja, en natuurlik was ek dikwels verlief toe ek jonk was. Veral in my tienerjare. Is dit hoe jy gevoel het toe jy vir Weyers en Frans en Hugo en die hemel weet wie almal nog die eerste keer ontmoet het?”
“Nee,” sê sy. “Miskien bietjie toe ek en Hugo ontmoet het, maar toe begin hy gedigte skryf en laai ’n koutjie met ’n wit duif voor my kamer af en sulke soort goed. Dit het die miere onder my sole vinnig laat opdroog.”
“Net sowel,” sê hy droog. “Dit kon die duif gepla het.”
Sy kyk hom betigtend aan. “Mens kan sien jy het geen, maar géén romantiese gevoelens nie.”
“Moet wees,” gee hy toe. “Ek wou definitief nog nooit gedigte skryf of wit duiwe laat aflewer nie.”
“Dit kan ek sien,” sê sy misnoeg. “Jy sou ook nie dwarsoor die land gery het om te gaan kyk wat jou meisie aanvang en by wie sy bly nie.”
“Soos Weyers?” vra hy. “Jy’s reg. Ek het nog nooit so ’n behoefte gehad nie.” Hy korrel op na die son wat nou kwaai brand. “Hoekom pak ons nie op en ry om na Hermanus nie? Ons kan ons piekniek êrens langs die pad eet en later by my ouers gaan tee drink. Op pad terug.”
“Ja,” sê sy entoesiasties. “Ek was nog nooit in Hermanus nie. Is dit nie baie ver nie?”
Dit word ’n heerlike dag al is dit so warm. Hulle ry soos die gier hulle pak, draai by elke stranddorp in sodat sy kan sien hoe dit lyk, eet hulle piekniek op die rotse en is so vieruur se kant weer terug in die Strand waar Pieter se ouers net wakker geword het ná hulle middagslapie en hulle met oop arms ontvang.
“Jy lyk of jy te veel son gekry het, hartjie,” sê mevrou Louw vir Maja.
“Ja, maar dit was so lekker,” sê Maja en vertel waar hulle oral was en wat sy gesien het en hoekom alles vir haar so mooi is.
“Speel jy nie altyd Saterdae gholf nie?” vra Pieter se pa vir hom toe hulle sit en tee drink.
“Nie vandag nie. Ek het gevoel ek moet Maja bietjie rondwys.”
“Ons wou uit die huis kom,” voeg Maja veelbetekenend by. “Nie dat dit veel gehelp het nie.”
“Hoe bedoel jy?” vra mevrou Louw.
Maja besef sy het haar mond verbygepraat en kyk skuldig na Pieter.
“Ons vlug voor ’n kêrel van Maja,” verduidelik Pieter. “Hy is nie gelukkig met die feit dat sy hier in die Kaap by ’n man bly nie. Hy’t ons tot op die strand gevolg. Vir al wat ek weet, sit hy nou hier voor in sy bakkie.”
“Genade,” sê mevrou Louw en kyk van die een na die ander. “Ek hoop nie hy raak moeilik nie.”
“Hy is nogal veglustig,” sê Maja. “Maar nie regtig nie. Hy het ’n bier saam met Pieter gedrink.”
“Dit klink vriendskaplik,” sê meneer Louw. “Die vredesbeker en so.”
“Ons is dus op die oomblik getroud,” sê Pieter vir sy ouers. “Ek kan glad nie onthou wie watse storie gehoor het nie, maar ingeval julle dit met ’n ompad hoor, dis soos sake op die oomblik staan.”
“Getroud?” vra mevrou Louw verras. “Haai, Pieter.”
“Dis net een weergawe,” verduidelik Pieter. “Ek is ook Hieronimus Blok, ’n ou kluisenaar wat teen die berg bly onder hoë bome. En dan by tye Jan Jordaan.”
“Jooste,” sê Maja. “Jan Jooste.”
“’n Besadigde man,” gaan Pieter voort. “Goeie eggenoot en vader.” Hy kyk na Maja. “Is dit reg? Is dit Jan wat getroud is met die argitek, die een met die drie kinders?”
“Nee, dis jy. Dis wat ek vir my tante-hulle vertel het. Van jou en jou vrou en die drie kinders.”
“Sy pas hulle op,” sê Pieter vir sy ouers. “Die jongste een is nog ’n baba.”
“Waarvan praat julle?” vra sy pa. “Wie is Hieronimus Blok?”
“Dis die kluisenaar by wie Maja bly. Hy is haar peetpa, maar hy wil nie iemand aan huis hê nie, dis waarom sy alternatiewe akkommodasie soek.”
“Kind,” sê mevrou Louw totaal verwilder. “Jy kan enige tyd by ons kom bly. Roelof se kamer is nou leeg van hy universiteit toe is. Jy is altyd welkom.”
“Dis nie op die oomblik nodig nie,” sê Maja. “Maar baie dankie vir die aanbod. Op die oomblik is ons getroud. Dan is dit beter as ons in dieselfde huis woon anders gaan Weyers ons nooit glo nie.”
“Soos dit is, glo hy ons nie,” voeg Pieter by.
“Maar is julle regtig getroud?” vra meneer Louw. “Dis darem baie vinnig.”
“Maar ons is in die wolke,” sê mevrou Louw. “Dis hoog tyd.”
“Nee, nee,” sê Pieter. “Ons is glad nie getroud nie. Dis net een van Maja se versinsels om Weyers, die jaloerse minnaar, van haar weg te hou.”
“Nog tee vir iemand?” vra mevrou Louw taktvol.
Toe hulle later terugry huis toe, is Maja moeg. Sy lê met haar kop teen die deur en haar oë halftoe.
Pieter kyk ’n paar keer na haar. “Lekker dag gehad?” vra hy.
“Ja, baie dankie. Jy het baie gawe ouers. Hulle is meer soos ek as soos jy. Hulle skrik nie sommer nie, mens kan dit sien.”
“Met