Christine le Roux Omnibus 7. Christine le Roux
verkreukelde hempie en kortbroek, die beseerde arm. “Maja … Mag ek jou maar Maja noem? Jy kan nie werk soek met net een werkende arm nie.”
Sy het na die tafel gewys. “Ek het vanoggend reggekom. Was daar fout met jou kos?”
“Nee,” het hy dadelik gesê. “Dit was voortreflik, maar ek weet nie of ’n restauranteienaar so sal dink nie. Ek bedoel, dat jy in die kombuis kan regstaan met net een arm nie. Ek neem aan dis die soort werk waarna jy verwys?”
“Ja, Cyril het glo ’n restaurant en dis baie hoog aangeskryf.” Sy het die naam van die plek genoem en sy oë het gerek.
“Ek ken dit, ja.” Hy het haar gesig bestudeer. “Waar het jy so in die son gesit? Weet jy dat jou gesig bloedrooi is?”
“Seker gister,” het sy gesê.
“Kyk.” Hy het op sy horlosie gekyk en vinnig sy sleutels opgetel. “Soos ek gister gesê het, voel ek verantwoordelik en skuldig. Bly nou maar hier tot jou arm gesond is. Sal ek die restaurant bel en vertel wat gebeur het en vra dat hulle net geduldig moet wees?”
Sy het die stryd gewonne gegee en nou sit sy hier en kyk na haar opgeswelde gesig en sy voel miserabel. As kind het sy nooit iets gebreek nie, miskien voel ’n mens so sleg as jy ’n ledemaat gebreek het, wie sal weet?
Sy sit nog so toe die agterdeur oopgaan en ’n netjiese vrou inkom en haar verbaas aankyk.
“Haai,” sê Maja verleë. “Ek is Maja en jy is seker Anna.”
“Is so,” sê Anna, sit haar handsak neer en haal ’n voorskoot uit wat sy om haar lyf bind. Sy kyk na die tafel en vuil borde. “Het juffrou vir meneer Pieter brekfis gemaak?”
“Ja. Ek is jammer, ek wou nou net begin opruim.”
“Nee, ek sal dit doen.” Sy kyk na die gips. “Met darie arm?”
“Ek kom reg.” Maja staan op, sit die handspieël neer wat sy in die onderste kleedkamer gekry het en maak die botteltjie pille oop. “Dis tyd vir die volgende pil.”
Anna dra vuil borde weg, maar haar wakker oë bly nuuskierig op Maja wat ’n glas water skink en die pil afsluk. “Is juffrou familie?”
“Nee.”
“Juffrou kuier net hier by meneer?”
“Nie regtig nie, nee. Jy sien, hy’t my omgery en …”
Anna laat die rasper met ’n geklater in die wasbak val en haar oë word groot. “Hygend hert,” snak sy. “Wat sê juffrou daar?”
Maja wys na die arm. “Dis hoe die arm gebreek het. Wel, die pols eintlik, en toe wil hy my nie by die jeugherberg aflaai nie en sê hy voel skuldig en bring my hiernatoe.” Maja gee ’n droë hoesie en druk haar hand teen haar bors. “Moet mens so sleg voel as jy jou arm gebreek het?”
“Is dit seer?”
“Nee, glad nie. Ek voel net sleg en kyk hoe lyk my gesig, soos ’n granaat.”
“Ek ken nie van nie,” sê Anna. “My boetie het kleintyd sy arm gebreek, maar hy was g’n siek nie. Ons ma moes hom wiks of hy was die volgende dag weer die boom in.”
Maja gaan sit weer by die tafel en rus haar kop op haar hand. “Ek voel dronk en benoud.”
Anna kyk na die botteltjie op die toonbank. “En dit so vinnig ná juffrou die pille gedrink het. Hoort eintlik andersom te wees.”
Maja kyk vinnig op, iets wat haar kop laat swem. “Gee dit vir my aan, asseblief.” Haar tong voel dik en geswel en sy sukkel om die fyn skrif te lees. “Dis penisillien,” sê sy. “Vir die inflammasie. Ek kan nie onthou of hulle my gevra het of ek allergies is nie. Dink jy ek is?”
Anna haal haar skouers op; dis nie iets waarvan sy kennis dra nie. “Mens kan tog nie dood van medisyne nie?” vra sy.
“Miskien moet ek teruggaan na daardie dokter. Hy sal weet.” Maja staan op. “Nee,” sê sy moedeloos. “Ek het nie genoeg geld vir ’n taxi nie. Jy sien, ek was op pad om geld te trek toe hy my omgery het en toe was alles so deurmekaar.”
“Hy moes juffrou nie omgery het nie,” sê Anna beslis en vee die tafel hard af om te wys wat sy dink van mense wat dit doen.
“Ek beter hom maar bel. Weet jy wat sy nommer is?”
Anna bring dit vir haar en sy skakel. Terwyl sy wag, tik haar gesonde vingers senuagtig teen die gips. “Hallo,” sê sy toe sy skeptiese sekretaresse haar deurgeskakel het. “E … luister, ek lyk soos ’n ballon en my tong is dik en ek dink ek is allergies vir die pille.”
“Wat?” vra Pieter.
Sy beskryf haar simptome. “As jy my toegelaat het om gister geld te trek, was dit nie nou nodig om jou lastig te val nie. Ek het net genoeg geld by my vir ’n bus. Loop ’n bus hier verby? Waar is jou naaste dokter?”
Pieter maan haar om net daar te bly, sit die telefoon neer en bel die hospitaal. Hy moet gedwee luister hoe die suster hom kwaai vertel hoe belangrik dit is dat pasiënte inligting en veral mediese agtergrond korrek neerskryf en sê toe hy moet Maja terugbring.
“Jy rits lekker rond,” sê sy sekretaresse toe hy weer uit sy kantoor gehardloop kom. Haar stem is vyandig, want sy het een en een bymekaar getel: dis ’n meisie wat agter sy vreemde optrede sit en sy hou nie daarvan nie. Sy het al vier jaar lank haar oog op hom en haar hand op sy sosiale afsprake. Meisies speel nie ’n rol in sy lewe nie en sy staan ’n kans solank sy dit so hou.
“Ek weet nie wanneer ek terug sal wees nie,” sê hy oor sy skouer.
By die huis wag Maja vir hom, dié keer darem in jeans en ’n bloes omdat die dag wat so sonnig begin het nou bewolk en winderig is.
“Hoekom het jy nie vir hulle gesê jy’s allergies vir penisillien nie?” vra hy toe hulle wegtrek.
“Ek het nie die vorms ingevul nie, jy het.”
“Maar ek ken jou nie! Ek het net jou ID-boekie gehad en dit staan nie daarin nie. Jy behoort een van daardie armbande te dra.”
Sy lyk gekrenk. “Ek het dit ook nie geweet nie. Ek is nooit siek nie, hoe moes ek dit weet? Ek kan nie onthou wanneer ek laas medisyne gedrink het nie en as jy my nie gister so weggeboender het nie, het ek geld getrek en self by ’n dokter gekom.”
Pieter antwoord liewers nie en by die hospitaal moet hulle weer luister na ’n lesing oor die belangrikheid van korrekte inligting voor hulle vir Maja ander pille gee en ’n inspuiting wat die allergiese reaksie sal teenwerk. Hy voel gedaan toe hulle weer in die motor sit.
“Eintlik dood ek nou vir ’n koppie tee,” sê sy vir hom. “Die dokter het my moeg gemaak.”
Hy ry na ’n klein restaurantjie op pad na sy huis en hulle gaan in en bestel tee.
“Ek weet jy’s seker haastig,” sê sy en kyk hoe hy sy verwaaide hare platstryk met sy hande. “Terug na jou groot kantoor met sy lugversorging.”
“Hoe weet jy ek het ’n groot kantoor?”
“Mens kan dit sien.”
“Hoe?”
Sy wys na sy pak en sydas. “Jy lyk só en dan is daar jou huis.”
“Ek het dit laat bou as ’n belegging.”
Sy knik. “’n Goeie een, al daardie beton. ’n Orkaan sal dit nie omwaai nie.”
“Dis nie wat ek bedoel nie.”
Sy gaap en druk haar hand teen haar mond. “Regtig, ek is nou so vol gif gespuit my kop draai. Ek weet nie hoe ek in hierdie situasies beland nie. Al wat ek uit die lewe wil hê, is ’n mooi kombuis en ’n bed en ’n kruietuin by die agterdeur. Dis mos nie moeilik nie? Ek wil nie die wêreld verower of reis of enigiets doen wat vir ander meisies so belangrik is nie. Ná my ouers se dood het ek by my tante-hulle gaan bly en