Christine le Roux Omnibus 7. Christine le Roux
Laeveld begin werk, het ek gedink dis waar ek die res van my lewe sal bly, maar aikôna, toe ek weer sien, word die plek so groot en hulle bou chalets en dit word verander na selfversorging en die restaurant word toegemaak en ek besluit om Kaap toe te kom en kyk waar sit ek nou.”
“Hoe oud is jy?”
“Drie-en-twintig.”
“’n Kind,” sê hy en drink sy tee. “Het jy jou tante gebel om te sê waar jy is?”
“Nee, ek gebruik nie sommer ander mense se telefone vir langafstandoproepe nie.”
Hy klik sy tong. “My liewe Maja, natuurlik mag jy bel! Kwel hulle hulle nie?”
“Nee, ek dink nie so nie. Ek het gesê ek sal bel as ek hier gevestig is en ek is nog nie.” Sy knip haar groot oë en vee die dik kuif uit haar gesig. “Buitendien sal dit mos nie werk nie. Ek sal hulle moet vertel wat gebeur het en hulle sal baie kwaad wees. Veral my oom.” Sy weeg hom op. “Hy is ’n groot man. Ek dink hy slaan jou met een hou plat.”
Hy stik in sy tee. “Is hy die soort wat mense slaan?”
“Nee, glad nie, maar hy is nogal beskermend teenoor my. Hulle het nie self kinders gehad nie, sien.”
“Vader tog,” sê Pieter. “Maar ek kan verduidelik. Ek kan …”
“Ek dink dis beter om stil te bly,” stel sy voor. “Jy weet, die bose stad en alles. Hulle wou nie hê ek moet alleen hiernatoe kom nie, en daar loop bewys ek hulle reg in my eerste paar uur hier.” Sy stoot haar koppie eenkant. “Ek hou jou op. Jy moet terug na jou werk.” Sy gaap. “Ek is al weer so vaak, seker omdat ek so min geslaap het gisteraand. Nie die bed of kamer nie, dit was maar die ongemak van die arm en my rou knieë en so.”
“Nou toe, kom,” sê hy en betaal. “My ouma het altyd gesê rampe en ongelukke is drievoudig. Jy kry drie op ’n ry, maar ek hoop van ganser harte ons is nou klaar. Ek weet dis alles my skuld, maar ek hoop dis nou verby.”
“Ons kan my aankoms op die stasie as die eerste ramp beskou,” sê behulpsaam. “Dan is ons by drie en kan ons ontspan.”
“Hoekom was dit ’n ramp?”
Sy gaap dat hy haar kakebeen hoor klik. “Weet nie.” Sy draai haar skeef op die voorste sitplek en raak aan die slaap asof iemand ’n knoppie gedruk het, haar afgeskakel het.
Toe hy voor die huis stilhou, kyk hy na haar. “Ons is hier, Maja. Word wakker.”
Sy roer nie. Selfs toe hy haar aan die skouer vat, beweeg sy nie, sy slaap vas. Hy klim uit, maak die deur aan haar kant oop en stoot sy arms onder haar slap liggaam in. Gelukkig moet Anna hom deur een van die glasgleuwe gesien het, want sy maak die voordeur vir hom oop; iets wat onmoontlik sou gewees het met sy arms vol Maja.
“En nou?” vra sy.
“Sy wil nie wakker word nie,” sê hy kortaf. “Ek dink dis die goed wat hulle haar ingespuit het.”
“Haai, shame,” sê sy en draf voor hom die trappe uit sodat sy die beddegoed kan ooptrek en hy Maja kan neersit.
Pieter haal sy sakdoek uit en vee oor sy voorkop. Dis nie asof Maja swaar is nie, maar hy is tog nie gewoond daaraan om meisies met die trappe op te dra nie.
“Sy lyk darem nou witter,” merk Anna krities op. “Daai rooi vlekke wat sy uitgeslaan het, is weg, lyk dit my.”
“Ja. Ek is seker sy gaan beter voel as sy wakker word. Hou maar ’n ogie oor haar, ek moet teruggaan kantoor toe.”
Sy volg hom met die trappe af. “Meneer moes haar darem nie omgery het nie.”
“Ek het dit nie aspris gedoen nie!”
“Almiskie.”
Hy is nog knorrig toe hy terugkom in sy kantoor en Annemie, sy sekretaresse, bring koerend tee toe sy sy gesig sien.
“Is alles in orde?” vra sy.
“Ek hoop van harte so.”
“Is dit iets waarmee ek kan help?”
“Nee.”
Sy bekyk sy gesig, die bruin hare met die effense grys spikkels in, die diep frons tussen sy wenkbroue, die mond – ten beste van tye streng en die lippe nou hard opmekaar gepers. “Goed,” sê sy. “Jy sal nie vergeet van vanaand nie?”
Hy kyk op. “Wat is vanaand?”
“Die skemerkelk by die Mount Nelson. Van ses tot agt en daarna gaan jy eet saam met die mense van …”
“Kanselleer dit,” val hy haar in die rede. “Ek moet huis toe gaan ná werk, ek kan nie in die stad rondlê nie.”
Haar dun geplukte wenkbroue skiet die hoogte in. “En wat sal ek sê is die rede?”
“Onvermydelike omstandighede. Persoonlike sake.”
“Mm.” Sy tik die potlood teen haar voortande. “Is jou ouers …?”
“My ouers makeer niks nie.”
“Ek sien.” Sy draai weg toe hy sy rekenaar aanskakel.
“Wat weet jy van jeugherberge?” vra hy skielik.
Sy bly staan. “Jeugherberge? Dis tog nie die soort plek waar jy wil bly nie?”
“Natuurlik nie. Ek wil net weet. Is hulle gerieflik?”
“Ek weet regtig nie. Ek dra geen kennis daarvan nie. Dis waar hippies oorslaap, is dit nie?”
“Hippies! My liewe Annemie, hippies het uitgesterf voor jy gebore is.”
“Jy weet wat ek bedoel. Jongmense met rugsakke.”
Sy oë flits gevaarlik. “En wat is verkeerd met jongmense met rugsakke?”
“Niks nie, niks nie. Ek bedoel maar net. Dis nie vyfsterhotelle nie. Skoon en gerieflik, maar basies. Ek weet nie van hier nie, maar ’n niggie van my het oorsee in sulke plekke geslaap en dis glo maar ’n deurmekaar slapery.”
“Wat beteken dit?”
“Mans en meisies saam.”
Hy frons dieper. “Oor my dooie liggaam.”
“Ekskuus tog?” Sy leun effens vooroor en wankel onverhoeds op haar hoë hakke.
“Niks nie, ek het net hardop gedink. Dankie.”
Sy loop ingedagte terug na haar kantoor en gaan sit agter haar lessenaar. Met haar lang pienk naels skik sy die bos rose wat voor haar staan en elke tweede dag vervang word. Wat voer hy in die mou? Waarom hol hy skielik uit die kantoor en bly ure weg en vanwaar die skielike belangstelling in jeugherberge? Sy trek een verlepte blaar af, frommel dit op en gooi dit in die snippermandjie alvorens sy die telefoon optel en die aand se afsprake kanselleer. Toe sy daarmee klaar is, kyk sy na die instrument. Sy huishulp kry elke week ’n lys van sy sosiale verpligtinge sodat sy weet wanneer hy tuis sal wees vir etes, dis nie minder as reg nie en inderdaad die plig van ’n goeie sekretaresse om Anna te laat weet van die verandering in Pieter se planne. Sy tel die gehoorstuk op en skakel.
“Meneer Louw se huis,” sê Anna soos sy geleer is.
“Hallo, Anna,” sê Annemie vriendelik. “Hoe gaan dit daar?”
Anna se stem word drie grade kouer. Sy hou nie van Pieter se sekretaresse nie, die vrou matig haar aan. Sy het eenkeer werk huis toe gebring, besluit Anna lyk nie netjies genoeg nie en uniforms gaan koop in lilapers en wit. Lilapers rokke met wit voorskote vol pers valletjies. Anna hou nie van pers nie. Sy sal geel of blou of pienk dra, maar nie lilapers nie. Annemie het ook gesê om die telefoon te antwoord deur “Jip?” te sê, is nie goed genoeg nie; die korrekte manier is: “Meneer Louw se residensie.” Hier het Anna haar voet neergesit. Sy sal huis sê, maar nie residensie nie.
“Dis okay,” sê sy nou behoedsaam.
“Ek