Ekseem: Jou noodsaaklike gids. Regina Malan
n>
Ekseem
Jou noodsaaklike gids
Regina Malan
Human & Rousseau
Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Ekseem: Jou noodsaaklike gids mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.
Afdeling 1
VERSTAAN EKSEEM
As jy ekseem verstaan, is dit baie makliker om dit te beheer en te bestuur.
1
Wat is ekseem?
EKSEEM laat jou jeuk. En krap. En dryf jou byna tot raserny. Dis onooglik. Dit skrik mense af. Dit maak jou moedeloos en depressief. As jy ’n ekseemlyer is, weet jy dié dinge, want jy ervaar alles aan jou eie lyf. Maar daar is goeie nuus en dus hoop: ekseem kán suksesvol behandel en bestuur word, al kan dit nie genees word nie.
Die heel eerste stap om die toestand te verbeter is om dit te verstaan. Daar is soveel ouvroustories verbonde aan ekseem. Dis aansteeklik, sê sommiges. Dis ’n allergie. Jy kry dit omdat jy of jou omgewing nie skoon genoeg is nie.
Die woord “ekseem” is afkomstig van ’n Griekse woord wat beteken “om oor te kook” of “om te borrel”. Vir gesondheidspesialiste in die Antieke tyd het dit waarskynlik gelyk of die vel kook – vandaar die beskrywing.
Dié teorieë is doodgewoon nie waar nie. Die jongste mediese navorsing wys dat die oorsaak in jou genetiese samestelling lê. In sy boek Eczema-free for Life sê dr. Adnan Nasir dat ekseem veroorsaak word deur die abnormale ontwikkeling van sowat twintig gene wat bepaal hoe jou vel op die omgewing reageer.1 Ekseem is nie ’n siekte of ’n allergie nie, sê hy, dis ’n kwesbaarheid van jou liggaam.
VERSTAAN HIERDIE TERME:
Ekseem: ’n Versamelterm vir verskillende vorme van dermatitis, soos byvoorbeeld atopiese dermatitis (waaroor hierdie boek handel), kontak-dermatitis (bv. ’n kolletjie onder jou horlosie of oorbel) en seborree-dermatitis (wat by babas die vorm van sogenaamde “cradle cap” aanneem).
Dermatitis: Ontsteking van die vel wat gepaardgaan met ’n uitslag, rooiheid en ’n gejeuk. Die vel vorm soms blasies wat kan stukkend gaan en begin etter.
Atopiese dermatitis: Die algemeenste tipe ekseem. “Atopies” (letterlik beteken dit “vreemde siekte”) wys op ’n oorgeërfde geneigdheid om hipersensitiewe reaksies soos dermatitis, hooikoors en asma te ontwikkel. Dit word ook “aangebore ekseem” genoem. Hierdie vorm van ekseem is so algemeen dat die woord “ekseem” eintlik as sinoniem vir “atopiese dermatitis” gebruik word. Hierdie boek handel ook net oor atopiese ekseem.
BESKRYWING VAN EKSEEM
Ekseem is ’n chroniese velprobleem wat gekenmerk word deur ’n uitermatig droë, jeukerige en geïrriteerde vel. Die woord “chronies” dui nie op die intensiteit van die toestand nie, maar op die langdurigheid daarvan. Hoewel kinders dit soms teen die ouderdom van ses tot tien jaar ontgroei, is dit dikwels ’n lewenslange probleemtoestand wat jy nie kan genees nie, maar wel kan behandel en bestuur.
Dié chroniese toestand het ’n sikliese verloop. Soms kom daar ’n akute opvlamming wat gekenmerk word deur talle klein blaartjies of speldekopblasies wat met vog gevul is en op rooi, opgehewe vel voorkom. As die blasies stukkend gaan, byvoorbeeld as jy dit baie krap, lek die vloeistof uit en sien jy die kenmerkende sugdreinering wat met ontsteking gepaardgaan. Wanneer die vloeistof uitdroog, vorm ’n aaneenlopende dun kors en selfs ’n skubberigheid op die vel.2
Na ’n akute opvlamming kan daar ’n periode wees waar die toestand onder beheer is en dit selfs lyk of die vel genees het. Dié fase kan ’n paar dae, weke, maande of selfs jare duur. Daar word dan gesê die ekseem is “in remissie”. Op ’n dag vind daar skielik ’n verslegting plaas en die hele proses begin weer van voor af. Soms kan jy ’n prikkel identifiseer wat die nuwe opvlamming aangebring het, maar soms lyk dit of dit spontaan ontstaan. Dit is eenvoudig die siklus waarvolgens ekseem verloop.
DIE JEUK-KRAP-SIKLUS
’n Ander siklus is die sogenaamde jeuk-krap-siklus (sien Figuur 1.1). Die jeuk van ekseem is veel meer as net ’n irritasie. Dit is konstant daar, kan selfs pynlik wees en is feitlik onuithoubaar.
As jy reageer op die jeuk en jou vel krap, word chemikalieë in jou vel vrygestel wat dit nog erger laat jeuk. Hoe groter die jeuk, hoe meer krap jy, maar hoe meer jy krap, hoe erger word die jeuk en hoe harder wil jy krap. Dit is ’n bose kringloop wat die toestand net vererger.
Deur die gekrap beskadig jy die vel wat reeds verswak is. Daar tree dus baie maklik infeksie in wat veroorsaak word deur bakterieë, virusse en fungi. ’n Algemene infeksie is dié van die bakterie Staphylococcus aureus (ook bekend as staf-infeksies) wat lei tot klein stukkende plekkies, krake in die vel, geel of rooi korsagtigheid en rowe.3
As daar ’n goggatjie op jou vel loop, sal dit jeuk. Jeuk is ’n boodskap aan jou brein dat daar iets op jou vel is wat potensieel gevaarlik kan wees. Die natuurlike reaksie op ’n gejeuk is om te krap of die vermeende goggatjie van jou vel af te vee. Sodoende word jy teen insekbyte, parasiete wat jou vel probeer binnedring of plantmateriaal wat gevaarlike chemiese stowwe afskei, beskerm.4 By ’n ekseemlyer waarsku die gejeuk nie soseer teen ’n potensiële gevaar nie, maar teen ’n mikroskopies klein irriterende stof wat deur die buitenste skanslaag van die vel gedring het.
Al ontgroei baie kinders ekseem teen die tyd dat hulle nege of tien jaar oud is, beteken dit nie hulle is daarvan genees nie. Die geneigdheid tot hierdie veltoestand is altyd in jou liggaam. Ouderdom as sodanig het nie ’n direkte verband met ekseem nie. As dit verdwyn namate jy ouer word, beteken dit bloot jou liggaam se natuurlike genesingsmeganisme werk beter.
As die gejeuk, en dus ook die gekrap, stopgesit kan word, word die komplikasie van infeksie ingeperk en kan die droogheid van die vel en die uitslag self makliker behandel word.
Die probleem met die gekrap is dat dit naderhand gewoontevormend word. Die ekseemlyer is soms nie eens daarvan bewus dat hy/sy al weer krap nie. Om bedag te wees op die kraphandeling is ’n baie belangrike aspek in die bestuur en opklaring van die ekseemtoestand. Dit kry in Hoofstuk 10 meer aandag (sien Leer die krapgewoonte af).
Dit is nie maklik om die gekrap af te leer nie. Die genot wat die gekrap meebring, word selfs in jou brein weerspieël. By die Wake Forest Universiteit se Baptistiese Mediese Sentrum is ’n studie onder leiding van die dermatoloog dr. Gil Yosipovitch gedoen waarvan die resultate in die Journal of Investigative Dermatology uiteengesit is. Beeldtegnologie is gebruik om waar te neem wat in ’n mens se brein aangaan as jy krap. Dit was opmerklik dat dele van die brein wat normaalweg aktief is wanneer ’n mens negatiewe emosies en herinneringe ervaar, beduidend minder aktief geword het tydens ’n gekrap. Dit baan die weg vir nuwe medikasie wat dieselfde strelende effek kan hê op die spesifieke breinarea wat die verligting ervaar.5
HOE ALGEMEEN KOM DIE TOESTAND VOOR?
Atopiese dermatitis kom wêreldwyd voor en dit is kommerwekkend dat die voorkoms daarvan algaande toeneem. Dit kom min of meer ewe veel by mans en vroue voor. Om redes wat nog nie bekend is nie, is kinders van ma’s wat ouer was by hul geboorte meer geneig om ekseem te ontwikkel as dié van jonger ma’s.
Tussen 10% en 20% van alle mense ontwikkel een of ander tyd gedurende hul lewe ekseem. Die syfers wissel van land tot land en hang ook af van die vlak van nywerheidsontwikkeling van die bevolking. Die toestand is minder algemeen onder landbou-gebaseerde bevolkings, terwyl die voorkoms daarvan in geïndustrialiseerde lande volgens die Franse Stigting vir Atopiese Dermatitis oor die afgelope drie dekades verdriedubbel het.6 Die redes daarvoor is nie heeltemal duidelik nie, maar dit kan verband hou met lewenstylfaktore en dieet.