Ekseem: Jou noodsaaklike gids. Regina Malan
gejeuk kan selfs deur jou brein as pyn geïnterpreteer word. Snags kan ekseem ’n nagmerrie wees. Jy kan ure lank uit die slaap gehou word en die onreëlmatige slaappatroon maak jou traag en uitgeput. Boonop krap ’n mens snags dikwels onbewustelik en vererger so die toestand.
•Uitslag. Die tipiese gejeuk van ekseem word opgevolg deur ’n rooi, opgehewe, korserige uitslag. By mense met ligte velle kan die uitslag aanvanklik rooi wees en dan meer bruin verkleur. By mense met donker velle word die velpigmentasie beïnvloed en die aangetaste vel kan dan ’n ligter of donkerder kleur aanneem. Afgesien van die uitslag kan daar ook krakies agter die ore en in die handpalms ontstaan.
•Areas waar die uitslag voorkom (Sien Figuur 2.1). By volwassenes kom ekseem veral voor in die velvoue, op die nek, die hande, die binnekante van die arms (veral waar die arm by die elmboog buig), aan die agterkant van die bene waar die knie buig (die waai van die been) en by die enkels. In akute gevalle kan die hele liggaam geaffekteer word. Sue Armstrong-Brown beskryf in haar boek The Eczema Solution ’n akute episode waar haar ganse liggaam oortrek was met ekseem tot by haar voetsole.
Babas kry ekseem veral op die gesiggie, soos op die wange en om die mond, en op die bolyf. Die uitslag om die mond is dikwels te wyte aan die baba se gekwyl. As die kind begin kruip, kan die uitslag vanweë die wrywing na die knieë en elmboë uitbrei. Normaalweg kom ekseem glad nie in die baba se doek-area voor nie.
•Blasies. Tydens ’n akute fase kan klein speldekopblasies, gevul met ’n helder vloeistof, en ook rooi “hobbels” en swelling op die vel voorkom. Dit word veroorsaak deurdat histamien deur die ekseem in die weefsel vrygestel word. Om dié rede bied antihistamien dikwels verligting.
•Die struktuur van die vel word deur die ekseem verswak. As die blasies gekrap word, word die vloeistof vrygestel en die ekseem het dan ’n nat voorkoms. Waar die vloeistof opgedroog het, vorm ’n dun kors en ’n skubberigheid. Gewoonlik gaan dié fase met infeksie gepaard en antibiotiese middels is dan noodsaaklik.
•Pynlike krake in die vel kan met verloop van tyd ontwikkel, hoofsaaklik weens die droogheid daarvan (sien Figuur 2.2).
Gewoonlik krap ’n mens die jeukende vel met jou vingernaels, wat die vel beskadig en sodoende infeksie meebring. Onthou egter dat om jou vel te vryf, bv. met jou hande of met klere, ook skade aanrig. Ekseemlyers dink allerhande maniere uit om die vel te krap, bv. met ’n haarborsel, met ’n handdoek of met knopies op klere. Almal is nadelig vir jou vel.
•Velverdikking kom by volwassenes voor weens die voortdurende gekrap en beskadiging van die vel. Die vel verkry ’n leeragtige voorkoms en daar kan littekens wees. Die rooiheid en skilferigheid van ’n ekseemvel is waarskynlik die gevolg van ’n ooraktiewe immuunstelsel, terwyl die verdikking en leeragtigheid deur die konstante gevryf en gekrap veroorsaak word.
•’n Atopiese plooi (bekend as ’n Dennie-Morgan-plooi of -vou) is ’n ekstra velvou wat soms onder die oë van ’n ekseempasiënt ontwikkel. Wanneer ekseem opvlam, swel die ooglede ook. Hulle keer dan na normaal terug wanneer die akute toestand opklaar. Dit lei tot los, sakkerige vel en vandaar die ekstra velplooi onder die oog. Dit kan selfs by babas voorkom en aan hulle ’n ou, wyse voorkoms gee.
•Ekseem is ’n chroniese toestand met akute uitbarstings. ’n Ekseemlyer het vir altyd die geneigdheid tot dié veltoestand, al “ontgroei” sommige kinders dit teen hul tienerjare. Ekseem is dus chronies van aard. Die simptome is baie opsigteliker tydens die uitbarstings, wat vir ’n paar uur, ’n paar dae of selfs langer kan duur. Nadat die akute opvlamming bedaar het, is die deel van die toestand wat agterbly die chroniese deel. Daar kan in mindere of meerdere mate steeds ’n uitslag, met die gepaardgaande ongemak, wees. By party mense is die vel chronies so erg aangetas dat die verskil tussen die chroniese en akute fase eintlik net ’n kwessie van intensiteit is (sien Figuur 2.3).
DIE ATOPIESE DRIETAL: EKSEEM, ASMA EN HOOIKOORS
Alhoewel ekseem nie ’n allergie-siekte is nie, is ’n kenmerk daarvan dat dit dikwels gepaardgaan met die allergiese asemhalingstoestande asma en hooikoors (allergiese rinitis). Al drie toestande kom in families voor en is dus oorerflik. Hulle staan saam bekend as die atopiese drietal (in Engels word dit die “atopic triad” genoem; sien Figuur 2.4). Jou dokter sal dus, wanneer hy/sy jou veltoestand moet diagnoseer, navraag doen na ’n familiegeskiedenis van asma en hooikoors.
’n Skoon, stralende vel is altyd ’n goeie aanduiding dat die liggaam intern gesond is. Velprobleme kan dus aandui dat daar ’n wanbalans in een of meer liggaamstelsels is.
Die ekseemlyer self ly nie noodwendig ook aan asma of hooikoors nie, maar dié toestande kan iewers in sy/haar familiegeskiedenis opduik. Die presiese aard van die verhouding tussen die drie toestande is nog nie vasgestel nie, maar hulle het waarskynlik sekere defekte in die gene met mekaar gemeen.
By ekseemlyers is daar dikwels die risiko van die sogenaamde atopiese mars of atopiese verloop (Engels: “atopic march”). Dit hou in dat die patroon van die atopiese drietal oor die jare kan verander. As kinders onder die ouderdom van drie jaar wat ekseem en allergieë het, hul allergieë ontgroei, kan hulle byvoorbeeld ernstige asma-simptome ontwikkel. Tydens adolessensie, wanneer die asma-simptome afneem, kan hooikoors posvat, en later in die lewe, so teen 40 jaar oud, kan die hooikoors weer bedaar, maar ekseem en asma weer begin.11
As ’n persoon aan sowel ekseem as byvoorbeeld asma ly, tree die twee toestande onafhanklik van mekaar op. ’n Akute opvlamming van ekseem het nie ’n invloed op die persoon se asma nie en ’n asma-aanval het nie ’n invloed op die ekseem nie. Die derde lid van die drietal, hooikoors, tree ook onafhanklik van die ander twee op.
DIE DIAGNOSE
Daar is nie ’n klinkklare toets wat dokters kan doen om te bepaal of ’n pasiënt ekseem het nie. Die diagnose sal gedoen word op grond van:
•’n Volledige ondersoek. Al besoek jy die dokter met ’n uitslag op byvoorbeeld net jou hande, kan hy/sy jou hele liggaam ondersoek met die oog op tekens van ekseem. Jou oë en limfnodes kan byvoorbeeld ook aanduidings gee van die toestand.
•Die inagneming van al die simptome hierbo genoem, veral die uitslag en die gejeuk daarvan. Jeuk is ’n baie sterk aanduider van ekseem.
•’n Volledige familiegeskiedenis om die geneigdheid tot ekseem, asma en hooikoors te bepaal.
Die selfbestuur van die ekseemtoestand deur ’n pasiënt berus op pasiënt-onderrig deur die dokter. Volgehoue samewerking tussen medikus en pasiënt is onontbeerlik.
•Die verhoogde aanwesigheid van IgE-vlakke in die bloed. IgE (immuno-globulien E) is ’n soort proteïen wat deur die immuunstelsel vervaardig word. Dit is ’n teenliggaam wat net by soogdiere voorkom en dit beskerm die liggaam deur die proteïenkomponent van vreemde stowwe in die liggaam aan te val. Alle mense het IgE in hul bloed, maar sommige ekseemlyers se bloed wys verhoogde vlakke daarvan. Tydens ’n allergiese reaksie stel die IgE-teenliggaampies chemikalieë vry wat die omliggende weefsel beskadig.’n Bloedtoets sal nodig wees om jou IgE-vlakke te bepaal.
•Aangesien baie mense wat met ekseem worstel, ook allergieë toon, kan die dokter dalk allergie-toetse doen om moontlike irritante en prikkels/snellers vas te stel. Veral kinders met ekseem sal waarskynlik vir allergieë getoets word.
•Kos-allergieë kan bepaal word deur velpriktoetse en deur velplakkertoetse. Die reaksie wat op velpriktoetsing volg, kan negatief wees, maar daar kan steeds allergieë teenwoordig wees en dit kan oor die algemeen deur velplakkertoetse bepaal word.
•Bloedtoetse kan ook diagnosties baie nuttig wees, hoofsaaklik om ander toestande uit te skakel en om IgE-vlakke, soos hierbo beskryf, te toets. IgE-teenliggaampies is onder meer betrokke by allergiese reaksies teen kos. Bloedtoetse kan ook verder gebruik word om eosinofielvlakke te toets. Eosinofiele is ook ’n tipe teenliggaampie wat ’n rol speel by allergiese reaksies, onder meer ’n allergie vir sekere medisynes. Verhoogde eosinofiel in die bloed of in weefsel waar die medisyne gekonsentreerd is, kan potensieel ’n reaksie veroorsaak.
In