Ekseem: Jou noodsaaklike gids. Regina Malan
met atopiese dermatitis beduidend hoër is en dat hierdie verhoogde vlakke ’n sterk invloed op die erns van die toestand uitoefen.12
’n Velbiopsie is ’n prosedure waarvolgens ’n klein monstertjie van die vel geneem word wat dan na ’n laboratorium toe gestuur word om onder ’n mikroskoop getoets te word.
•Dr. Johan van Wyk, ’n dermatoloog van Johannesburg, sê hy maak dikwels gebruik van velbiopsies vir ’n akkurate diagnose. Volgens hom kan ’n kolletjie ekseem soms ooreenkom met velkanker. Jy moet dus sekerheid kry. Sommige kankers kan ook baie jeuk en as jy ’n steroïed sou gee, stimuleer jy die kanker. ’n Velbiopsie kan hierdie onsekerhede oplos.
•’n Depmonster van die uitslag kan met ’n wattestokkie geneem en laboratorium toe gestuur word. Depmonsters speel nie juis ’n rol by die diagnose van ekseem nie, maar word gebruik om te bepaal watter soort infeksie ’n pasiënt het, want dit sal die aard van die mediese behandeling bepaal.
VRAE WAT JY AAN JOU DOKTER KAN STEL
Net ’n ekseemlyer self weet regtig hoe dit voel om hierdie ontwrigtende toestand te ervaar. Jy weet hoe dit jeuk, hoe seer dit is, hoe onooglik. Jy weet hoe moeilik dit is om jou daaglikse lewensroetine daarby aan te pas. Jy weet hoe dit voel as ander mense jou vermy en soms met afsku na jou kyk. Dit is jou liggaam en jou gesondheid waaroor dit gaan. Daarom het jy die reg om soveel inligting moontlik by jou dokter te kry om die toestand te verbeter. Hoe meer jy weet en hoe beter jy die toestand verstaan, hoe effektiewer kan jy dit bestuur en toekomstige akute uitbarstings voorkom.
Die vrae wat jy vra, kan sake aanroer soos die diagnose self, medikasie, alternatiewe hulpmiddels, mediese koste van die behandeling, emosionele kwessies, en so meer.
Hier is voorbeelde van vrae wat jy dalk sal wil vra:
•Wat is ekseem? Vertel my meer van die toestand.
•Wat is die verskil tussen ekseem en psoriase? Kan ek al twee hê?
•Wat is die beste mediese behandeling vir ekseem?
•Vir hoe lank kan ek die medikasie gebruik en wat is die newe-effekte daarvan?
•Hoe gou kan ek resultate verwag?
•Is daar alternatiewe hulpmiddele?
•Wat moet ek doen as my simptome vererger?
•Wat kan ek doen om in die toekoms ’n akute opvlamming te voorkom?
Jy het die reg om baie vrae aan jou dokter te stel. Kennis en inligting is die sleutels tot die suksesvolle beheer van ekseem.
•Het die son ’n effek op my ekseem?
•Moet ek my dieet aanpas?
•Moet ek my velsorgroetine in die somer en winter afwissel?
•Moet ek ’n spesialis raadpleeg?
Ekseem is in jou gene en is dus onlosmaaklik deel van wie jy is. Om dit op die beste moontlike manier te behandel, moet ’n korrekte diagnose gemaak word en moet jy alle nodige inligting onder die knie hê. Die doelwit is om die toestand sodanig onder beheer te kry dat jy omtrent nooit simptome daarvan ervaar nie.
Die meeste dokters is simpatiek en verstaan die groot impak wat ekseem op jou en op jou lewe kan hê. As jy egter nie tevrede is met die sorg wat ’n bepaalde dokter vir jou gee nie, gaan na ’n ander een toe. Dit is baie belangrik om ’n goeie verhouding met jou geneesheer te hê, aangesien ekseem ’n langtermyntoestand is en jy dikwels vir opvolgbesoeke sal moet gaan om seker te maak die toestand word goed bestuur.
Afdeling 2
OORSAKE VAN EKSEEM
Om die toestand van ekseem te diagnoseer is makliker as om die spesifieke snellers te bepaal wat daartoe aanleiding gee.
3
Hoe werk jou vel?
Jou vel is die grootste orgaan in jou liggaam. ’n Gemiddelde volwassene se vel beslaan ’n oppervlakte van een tot twee vierkante meter en weeg drie tot vier kilogram.
Die belangrikste funksie van jou vel is om as ’n skans of beskermer tussen jou liggaam en die omgewing te funksioneer.
EKSEEM is ’n toestand wat spesifiek die vel aantas. ’n Mens se vel is ’n lewende en lewensbelangrike orgaan. Dis nie net iets uiterliks wat jy vinnig met ’n paar wasmiddels en velrome opkikker nie. Dis geweldig kompleks en word deur verskeie ander liggaamstelsels, soos die immuun-, hormoon- en spysverteringstelsel, beïnvloed. Probleme op die veloppervlak kan dus ’n aanduiding wees van wanbalanse en wanfunksionering in een of meer van die liggaamstelsels.
DIE SKANSFUNKSIE VAN DIE VEL
Ons vel vorm ’n waterdigte bedekking vir ons liggame. Daaronder lê bene, spiere, ligamente, senuwees en interne organe wat almal hoogs vatbaar is vir infeksie deur vreemde mikrobes. Jou vel staan dus as ’n beskermer of ’n skans tussen al hierdie inwendige boustene van jou liggaam en die uitwendige omgewing. Die sleutelrol van die vel is om ons liggame te beskerm.
Daar is natuurlik ook ander velfunksies, waaronder:
•Dit dien as sintuig. ’n Netwerk van senuweeselle in die vel maak ons gevoelig vir koue, hitte, aanraking en pyn. As hierdie senuweeselle beskadig word, ontstaan neuropatie, wat beteken ons verloor ons sintuiglike vermoë, byvoorbeeld om pyn te ervaar, in die beskadigde gedeelte.
•Die vel beheer ons liggaamstemperatuur.
•Dit speel ’n onontbeerlike rol in die opname van vitamien D uit sonlig. Terselfdertyd verhoed dit dat die skadelike ultravioletstrale van die son ons liggame binnedring.
Die belangrikste funksie van die vel is egter as beskermer. Regdeur die dag en nag werk jou vel om jou liggaam te beskerm. Hoe word dit gedoen?
Die vel hou vloeistof binne-in die liggaam en keer dat te veel daarvan ontsnap. As liggaamsvloeistof sonder perke sou ontsnap, sou alles in die liggaam, vanaf ons waterryke interne organe tot die kleinste selletjies, uitdroog en dan sou ons sterf.
’n Patogeen is enige mikro-organisme wat siektes veroorsaak, soos bakterieë en virusse.
Verder beskerm ons vel ons teen aanslae van buite, soos stampe, temperatuurwisseling, die strale van die son, gifstowwe, chemikalieë en patogene wat die liggaam kan binnedring en siektes en infeksie kan veroorsaak.
As die vel beskadig word, soos deur die aanhoudende gekrap van ekseemjeuk, word al sy funksies geaffekteer. Dan verloor die vel ook sy vermoë om water binne-in die liggaam te hou, dit droog uit, en boet elastisiteit of soepelheid in. ’n Uitermatig droë vel is besonder kwesbaar vir ekseem.
Hoekom lyk ’n ekseemvel soos hy lyk?
Sue Armstrong-Brown verduidelik die werking van ’n ekseemvel op ’n eenvoudige manier:
‘Die voggevulde blasies wat op ’n ekseemvel ontwikkel, verswak die velstruktuur, en bloedvate in die dermis of dieper lae van die vel swel op.
‘Bloedselle wat infeksie teenwerk, ruk op na die vel en veroorsaak die rooiheid en gejeuk.
Normale selvermeerdering in die epidermis of boonste vellaag versnel dan. Gevolglik hoop die selle op en dit lei tot velverdikking. Dié selle is kleiner en swakker as gesonde selle, en die vloeistof tussen die selle, wat die vel elasties hou, funksioneer nie goed nie. Daarom word die vel styf, hard en krakerig.
Boonop bou die ouer selle op op die veloppervlak. Die biologiese “gom” wat hulle bymekaar hou, funksioneer nie reg nie en die dooie selle kan nie op ’n normale manier afgeskud word nie. Dit bring ’n dik laag dooie, droë vel aan die buitekant van die epidermis mee.’
(Bron: The Eczema Solution, bl. 13–14)
Hoekom lê ons soveel klem op die skans- of beskermingsfunksie