Ekseem: Jou noodsaaklike gids. Regina Malan
en huisstofmyte) meer algemeen by ouer kinders en volwassenes voorkom.21
Die belangrikheid van die ontdekking van die verband tussen ’n filaggrien-tekort en ekseem lê daarin dat dit navorsers help om die toestand beter te verstaan en om nuwe, meer toepaslike behandelings te ontwikkel.
Die geen-mutasie wat filaggrien-produksie inkort, is oorerflik en aangebore. Dit kan nie later in jou lewe eers ontwikkel nie en kan ook nie uit jou liggaam verwyder word nie.
’n Filaggrien-tekort kan nie “genees” word nie en jy kan nie filaggrien-aanvullings neem nie. Mense met dié tekort sal hul lewe lank ’n brose, kwesbare vel hê. Die navorsing oor filaggrien is belangrik om ekseem beter te verstaan en om meer doeltreffende behandelingsmetodes te ontwikkel.
’n Wanfunksionerende immuunstelsel
Jou immuunstelsel is jou liggaam se verdedigingsmeganisme teen skadelike organismes en ander invallers soos bakterieë, virusse en parasiete wat siektes kan veroorsaak. Deur verskillende prosesse, wat die immuunrespons genoem word, word jou liggaam teen hierdie aanvallers en dus teen moontlike siektes beskerm.
Ons word daagliks deur miljoene virusse, bakterieë en kieme omring wat groot skade sou veroorsaak as hulle die liggaam sou binnedring. Sodra jou witbloedselle bewus word van sulke vreemde invallers, begin hulle teenliggaampies of immuunselle produseer wat die taak het om die invallers aan te val en te vernietig. Die immuunselle bind aan die indringer-patogeen en skei chemikalieë af wat nog verdere selle oproep om die vyand te kom help afweer.
Die immuniseringsproses van ekseemlyers word so deur dr. Adnan Nasir beskryf: “Bloedvate rek om voorsiening te maak dat meer immuunselle die area kan bereik. Dit is die rooiheid wat jy op jou vel sien. Die bykomende selle wat opruk om die invaller te vang, laat jou vel opswel. Serum lek deur die ruimtes in die mure van die bloedvate wat deur die immuunselle veroorsaak word en verpoel saam in blasies.”22 Weens die verswakte struktuur van ’n ekseemlyer se vel oorreageer die immuunselle. Baie meer beskermers as wat nodig is, ruk op om die oortreder aan te val. Boonop vernietig die immuunselle nie net die vyand nie, maar ook goeie selle. Sodra jy jou vel begin krap omdat dit jeuk, gaan nog meer alarms af en word nog meer immuunselle geaktiveer en die reaksie vererger tot dit voel of dit buite beheer is.
Veral die IgE-teenliggaampies in die bloed (sien Hoofstuk 2, Die diagnose) vermeerder uitermatig en veroorsaak dat die immuunselle histamien afskei, wat op sy beurt swelling, jeuk en, in die geval van hooikoors, ’n niesery afgee. Wanneer jou immuunstelsel oorgeaktiveer is, reageer jou hele liggaam daarop en voel jy siek, seer, geïrriteerd en selfs bedruk.
Teenliggaampies word geproduseer om spesifieke invallers te vernietig. So sal tuberkulose-teenliggaampies byvoorbeeld net aan tuberkulose-bakterieë bind.
IgE-teenliggaampies is ’n spesifieke soort teenliggaam wat die funksie het om stowwe soos stuifmeel en dierehare teen te werk.
Immuunonderdrukkers is kragtige middels wat net in gevalle van baie ernstige ekseem wat op geen ander behandeling wil reageer nie, gebruik word.
Ten einde die oorreaksie te neutraliseer, is sommige ekseembehandelings daarop gemik om jou liggaam se hele immuunstelsel te onderdruk, byvoorbeeld deur immuunonderdrukkers soos mondelikse kortisone. Ander behandelings moet weer die effek van die oormatige histamiene wat afgeskei word blokkeer, byvoorbeeld deur die gebruik van antihistamien.
SNELLERS WAT ’N EKSEEMOPVLAMMING TEWEEGBRING
Nou beweeg ons op onsekere terrein. Daar is ’n geweldig groot aantal faktore binne en buite jou liggaam wat die vonk vir ’n ekseemopvlamming kan verskaf. Dit wissel van mens tot mens. Nie alle faktore sal ewe veel gewig dra vir elke individu nie, maar dit is goed om kennis te neem van al die moontlikhede omdat ekseem nie op ’n lukrake manier behandel moet word nie. Hoe beter jy verstaan wat jou ekseem teweegbring, hoe effektiewer kan jy ’n opvlamming voorkom.
Ons almal kom daagliks in aanraking met elemente en stowwe wat ons liggame kan irriteer en selfs infeksies kan veroorsaak. Dit sluit byvoorbeeld in chemikalieë in waspoeier en seep, huismyte, stof en die materiaal waarvan kledingstukke gemaak is. Normaalweg verleen ons vel beskerming teen sulke elemente en ons immuunstelsel weer ’n slegte reaksie af. In die geval van ’n ekseemlyer is die skansfunksie van die vel egter onvoldoende en die immuunstelsel oorreageer op die irritasies. Dit loop uit op ’n onuitstaanbare gejeuk, gevolg deur ’n rooi veluitslag wanneer jy begin krap. Hoe meer jy krap om die jeuk te verlig, hoe erger word die jeuk én die uitslag. Uiteindelik sit jy met ’n rooi, opgehewe kors-uitslag wat versprei, ontsteek en sug afskei.
Hieronder volg ’n bespreking van ’n verskeidenheid faktore wat snellers vir ’n ekseemopvlamming kan wees. Nie alle snellers is op een spesifieke persoon van toepassing nie. Probeer vasstel wat dit is wat jou ekseem laat opvlam of die toestand laat vererger en doen stappe om daardie sneller te elimineer. In Hoofstuk 6 kyk ons hoe jy jou lewe kan inrig en bestuur om die effek van hierdie snellers sover moontlik te verminder.
Dit is ook belangrik om te weet dat daar nie altyd ’n sneller is wat die ekseemopvlamming veroorsaak nie. Mense kan soms hul koppe breek om te probeer uitvind wat presies die opvlamming aan die gang gesit het, maar dit kan ’n spontane opvlamming wees. Dis in die aard van ekseem om siklies te beweeg. Daar kan lang tye van kalmte en ’n skoon vel wees en dan kom die uitbarsting. Dit is hoe ekseem werk.23
Intern
Stres en emosies soos woede, vrees en bitterheid
’n Ekseemlyer kan agterkom dat sy/haar ekseem opvlam net voor ’n eksamen, ’n belangrike aanbieding by die werk, net voor jy trou, en so meer. Dit is almal situasies wat ekstra stres meebring. Ander hoogs stresvolle omstandighede is byvoorbeeld dié wat saamgaan met ’n egskeiding en die dood van ’n geliefde.
Daar is ook ’n sikliese element wat hier intree. Stres vererger ekseem, maar die verhoogde ekseemsimptome veroorsaak op hul beurt ook weer stres vir die lyer, wat die ekseem dan verder laat toeneem.
Dit is vandag geen geheim meer nie dat daar ’n groot verband tussen ons denke en emosies en ons fisieke toestand bestaan. Aanhoudende bekommernis en angstigheid sit om in chroniese stres wat baie liggaamsprosesse aftakel. ’n Spesifieke vrees of angstigheid word oor en oor in die gedagtes rondgeskommel en is eintlik teenproduktief. Veral onderdrukte emosies van vrees, woede en frustrasie verhoog ’n persoon se stresvlakke. Daarom word ekseemlyers aangemoedig om te huil as hulle daarna voel en te praat oor wat hulle ervaar. Sodoende word uiting aan die emosies gegee. In Hoofstuk 10 word die verband tussen liggaam en gees in meer besonderhede bespreek.
Om hierdie sneller vir ekseem te neutraliseer, moet negatiewe gedagtes en gevoelens omgekeer en stres sover moontlik verminder word. Vrees en bekommernis los geen probleem op nie. Beplanning is ’n beter strategie.
Dit is algemene kennis dat ’n mens se fisieke toestand jou gees en gedagtes beïnvloed. As jy byvoorbeeld siek is, word jou gemoed daardeur aangetas. Die teenoorgestelde is egter ook waar. Wat in jou gemoed en gedagtewêreld aangaan, kan erge fisieke siektesimptome tot gevolg hê. Daarom is volgehoue stres, met sy psigiese implikasies, ’n belangrike faktor om dop te hou.
Dit is moontlik om met ’n geheelplan jou ekseem onder beheer te kry. Namate jou vel verbeter, kan dit dan vir jou makliker word om die stres in jou lewe te hanteer.
Stres kan ’n baie groot invloed op jou immuunstelsel hê. Langdurige stres verswak die immuunstelsel heeltemal en ons het reeds in hierdie hoofstuk gesien hoe ’n belangrike rol jou immuunstelsel by die voorkoms van ekseem speel.
Hormoonskommelings
Hormone is chemiese stowwe wat deur ons kliere geproduseer en direk in die bloedstroom afgeskei word. Die hormone tree dan soos chemiese boodskappers op. Hulle word deur die bloed na organe en weefsel vervoer en gee instruksies aan die selle oor hoe om sekere liggaamsfunksies en -prosesse uit te voer. Op dié manier sorg hormone vir balans in ons liggame. Te veel of te min hormone kan ekseem beïnvloed.
Swak funksionering van die