Ekseem: Jou noodsaaklike gids. Regina Malan

Ekseem: Jou noodsaaklike gids - Regina Malan


Скачать книгу
buite jou liggaam lê. Interne snellers kan byvoorbeeld hormoonskommelings en stres-opbouing wees. Buitesnellers is omgewings- en lewenstylfaktore soos chemikalieë in seep en ander wasmiddels, huisstofmyte, sekere kossoorte, die klimaat, ’n verandering van omgewing soos wanneer jy dalk na ’n droër omgewing toe trek, en so meer.

      FUNDAMENTELE OORSAKE

      ’n Genetiese defek

      Jou liggaam bevat oorgeërfde gene wat die potensiaal skep om ekseem te ontwikkel. Hierdie gene kom op sekere chromosome in jou liggaam voor.

      Wat is gene? En wat is chromosome? Die storie begin by jou DNS.

      DNS word in chromosome georganiseer

      ’n Mens se DNS is ’n komplekse molekule wat al die genetiese inligting bevat wat jou uniek maak. Dit vorm ’n lang, gedraaide string wat soos ’n leer met sporte lyk (sien Figuur 4.1). Elke lewende organisme bevat sy unieke DNS in sy selle en elke enkele sel in jou liggaam bevat omtrent twee meter van die DNS-string!

      Die lang string DNS is georganiseer in klein deeltjies wat chromosome genoem word. Elke chromosoom is ’n enkelstringetjie bestaande uit DNS en proteïene wat gedraai en weer gedraai is om digte strukture te vorm wat soos dun draadjies lyk. Al jou genetiese inligting is hierin vervat.

      Die getal chromosome wissel van spesie tot spesie. Mense het 23 paar, terwyl sjimpansees 24 paar besit. Piesangs het 11 paar. Die getal chromosome bepaal nie hoe ingewikkeld ’n organisme is nie.

      (Bron: https://www.23andme.com/gen101/genes)

      Chromosome word van ouers na kinders oorgedra. Elke mens het 23 paar chromosome, dus 46 in totaal. Die helfte hiervan erf jy van jou pa en die ander helfte van jou ma. Jou pa se helfte lê in die sperm en dié van jou ma in die eiersel wat bymekaar kom om jou te vorm.

      Chromosome word in gene georganiseer

      Jou chromosome word ook weer opgebreek in klein deeltjies DNS wat gene genoem word. Stel jou voor jou DNS is ’n resepteboek. Jou gene sal dan die resepte in die boek wees. Die resepte vertel die selle hoe om te funksioneer en watter eienskappe hulle moet aanneem (sien Figuur 4.2). As jy byvoorbeeld krulhare het, is dit omdat die samestelling van jou oorgeërfde gene jou haarfollikels vertel om krullerige stringetjies te maak.16 Dieselfde geld die kleur van jou oë, die vorm van jou tone, bepaalde persoonlikheidstrekke, ’n besondere talent wat jy het, of enige ander eienskap.

      Selle in ons liggame word gedurig gedupliseer en wanneer die selle vermeerder, word al ons genetiese inligting na die nuwe selle oorgedra.

      Soos gesê, erf ’n mens ewe veel chromosome van jou twee ouers. Dit beteken dus jou gene is ook oorerflik, sowel dié wat reg funksioneer as dié wat weens mutasies wanfunksioneer. Jy erf dus die gene wat ekseem in jou liggaam moontlik maak. As ’n ouer van ’n kind ekseem het, is dit hoogs waarskynlik dat die kind dit ook sal hê. As albei ouers aan die toestand ly, is daar selfs ’n 80%-kans dat die kind dit sal hê.

      Wanneer daar ’n defek in een of meer van jou gene is, word jou liggaamsfunksies daardeur beïnvloed. In die geval van ekseem is daar ’n veelvoud van gene wat ’n defek het. Dit sit om in subtiele verskille in die tipe ekseem en die graad van ernstigheid daarvan by verskillende mense.

      Geen twee mense het ’n identiese stel defekte gene nie, identiese tweelinge uitgesluit. Omdat dit moeilik is om elke geen wat ’n impak op ekseem het te identifiseer, is die genetiese analisering en meting moeiliker as wanneer net een enkele geen betrokke is.17

      Party van jou eienskappe is van ’n enkele geen afkomstig, terwyl ander deur geen-kombinasies gevorm word. Jy het omtrent 24 000 gene – stel jou dus voor wat ’n groot aantal verskillende geen-kombinasies moontlik is.

      Die belangrike saak om van kennis te neem, is dat die grondoorsaak van jou ekseem in defekte gene lê wat jy oorerf. Hierdie geen-mutasies het bepaalde gevolge vir jou vel en ook vir jou immuunstelsel wat die ekseem teweegbring en aanhelp.

      Probleme met die skansfunksie van die vel

      Soos in Hoofstuk 3 uiteengesit, is die belangrikste funksie van ’n mens se vel om as ’n skans of beskermer tussen jou en die omgewing te dien. Hou ’n mens se gene enigsins met die skansfunksie verband?

      Ons kyk net eers weer kortliks na wat die skansfunksie behels:

      •Van binne na buite – Die meeste van ons liggaamselle bestaan uit omtrent 80% water. Hoe word daar verseker dat die water in die selle bly en nie in die droë lug verdamp nie? Die horinglaag, die heel buitenste deel van die epidermis, het die taak om te keer dat te veel vog uit ons liggame ontsnap.

      •Van buite na binne – Die horinglaag is jou beskermende pantser teen stampe en stote en teen chemikalieë, kieme en ander mikrobes wat jou vel van buite af probeer binnedring. Dit aktiveer jou immuunstelsel wat teenliggame vervaardig om moontlike infeksie teen te werk. Dit is ook die horinglaag wat jou teen die ultravioletstrale van die son beskerm.

      Die selle van die horinglaag is droë, dooie selle wat vanaf die dieper lae van die vel deur nuwe selle uitgewerk is na die oppervlak toe. Hierdie dooie selle vorm ’n struktuur soos ’n muur met bakstene en met sement (lipiede) tussen die bakstene.

      Ekseem vertoon drie stadia: akuut, subakuut en chronies. ’n Spesifieke persoon kan sy lewe lank net een van die stadia ondervind of sy ekseem kan van een stadium na ’n volgende ontwikkel.

      Die geen-defek wat tot ekseem kan aanleiding gee, het ’n invloed op die volwassewording en uitdroging van die selle en op die “sement” wat die selle dig bymekaar moet hou. Die gevolg van hierdie defek is ’n gebrek aan ’n proteïen met die naam filaggrien in die vel.

      Die filaggrien-effek

      Filaggrien is ’n reuse-proteïen wat in die epidermis voorkom. Dit is onontbeerlik vir die volwassewording van die velselle en die verdroging en verplatting van die baksteenagtige selle in die horinglaag. Die filaggrien verbind met die keratien in die horinglaag en bring sodoende die verplatting mee.

      Terselfdertyd speel filaggrien ’n rol in die normale bevogtiging van die vel deurdat dit help om die noodsaaklike lipiedlaag met sy was en vet in stand te hou. (Sien Die epidermis in Hoofstuk 3 vir ‘n omskrywing van keratien en lipiede.)

      Prof. Irwin McLean, ’n professor in menslike genetika aan die Universiteit van Dundee in Skotland, het in 2006 saam met twee kollegas baanbrekernavorsing oor ’n filaggrien-mutasie en die verband daarvan met ekseem gepubliseer.18 Mutasies in die gene wat die vervaardiging van filaggrien beheer, veroorsaak by sommige mense ’n aansienlike afname in die hoeveelheid filaggrien-proteïene in die vel. Dit kan selfs lei tot ’n algehele afwesigheid daarvan. Kinders erf die foutiewe filaggrien-geen van hul ouers.

      In ’n artikel in die wetenskaplike tydskrif The Scientist beskryf prof. McLean die uitwerking van die tekort of algehele gebrek aan filaggrien. Die horinglaag kan nie behoorlik vorm nie omdat die selle nie na behore afplat nie. Daar vorm ook nie genoeg lipiede wat die sement tussen die baksteenselle uitmaak nie en gevolglik is die sellae onreëlmatig. Gapings in die horinglaag se struktuur en krake in die vel kom dan voor, dus is die skansfunksie ontoereikend. Te veel vog ontsnap en allergene en ander buitefaktore dring die vel makliker binne. Die feit dat die dieper vellae aan die omgewing blootgestel word, veroorsaak die ekseem.19

      Die kliniese simptome van die gebrek aan filaggrien kan wissel. Party mense met die geen-mutasie sal vind dat hul velle net effens droog is, terwyl ander se velle uitermatig droog en skubberig en vol krake is – ’n toestand bekend as ichthyosis vulgaris of visvelsiekte. Die risiko by dié mense om atopiese ekseem en ook asma te ontwikkel is baie hoog.20

      Navorsing wys ook meer en meer uit dat daar ’n verband kan wees tussen ’n filaggrien-tekort en die ontwikkeling van allergieë vir kos en vir kat-hare, maar interessant genoeg lyk dit asof die blootstelling aan honde op ’n vroeë leeftyd ’n mens dalk kan beskerm teen die ontwikkeling van ekseem. Dié navorsing is egter nog nie voldoende bewys nie. Oor die algemeen kom kos-allergieë wat ’n


Скачать книгу