Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies. Dr Arien van der Merwe
toeneem. Daar is ’n geraamde 3,5 miljoen mense in Suid-Afrika met diabetes, van wie ongeveer 50 persent nog nie gediagnoseer is nie. Die meerderheid mense met diabetes is tussen 40 en 59 jaar oud. Diabetes wat swak bestuur word, kan tot ernstige komplikasies en selfs voortydige dood lei. Nagenoeg 85–95 persent van mense met diabetes het tipe 2-diabetes, wat gewoonlik in volwassenheid ontstaan.
Daar word dikwels na tipe 2-diabetes as ’n leefstylsiekte verwys, want risikofaktore sluit vetsug, swak dieet, hoë vlakke van ongesonde of negatiewe stres en fisieke onaktiwiteit in. Mense met ’n familiegeskiedenis van tipe 2-diabetes loop veral ’n groot risiko weens ’n genetiese vatbaarheid wat dui op swak skakels in die ensiemkettings wat verantwoordelik is vir die metabolisme van glukose en vervaardiging, afskeiding en werking van insulien. Mense wat ouer as 40 is, veral diegene wat oorgewig en onaktief is met ’n familiegeskiedenis van diabetes, behoort hulle vastende bloedsuikervlakke minstens een keer per jaar te laat nagaan. Dit kan met ’n eenvoudige vingerpriktoets in enige dokter se spreekkamer gedoen word.
KOMPLIKASIES
Komplikasies van diabetes sluit infeksies, kardiovaskulêre siekte (hartaanvalle, beroertes en perifere-slagaarsiekte), chroniese niersiektes, oogsiektes wat tot blindheid kan lei, en senuweeskade in. Senuweeskade wat deur diabetes veroorsaak word, kan ’n bron van pyn, prikkelende sensasie en verlies aan gevoel wees. Beserings word dikwels nie gevoel nie, en lei tot ernstige infeksies en vorming van sere, diabetiese voetsiekte (gangreen) en grootskaalse amputasies. Ander gevolge van senuweeskade sluit probleme met spysvertering, urinering en erektiele disfunksie (onvermoë om ’n ereksie te behou) in.
In byna alle hoë-inkomste-lande is diabetes die hoofoorsaak van kardiovaskulêre siekte, blindheid, nierversaking en amputasie van onderste ledemate. Namate die aantal mense met diabetes toeneem, neem die gevolge van hierdie ekonomiese las en vernietigende gesondheidsprobleme ook toe.
Mense met tipe 2-diabetes kan jare lank ongediagnoseer bly, heeltemal onbewus van die langtermynskade aan hulle liggaam weens die siekte.
Nou vir die goeie nuus!
Mense met diabetes se bloedsuikervlakke kan doeltreffend bestuur word wat ’n normale, aktiewe lewe met min, indien enige, beperkings moontlik maak. Daar is baie behandelings- en leefstylopsies om gesondheid te bevorder. Die handhawing van bloedglukosevlakke, bloeddruk en cholesterol of eerder lipiede (totale, HDL- en LDL-cholesterol, trigliseriede en homosisteïen) so na as moontlik aan normaal, kan help om komplikasies weens diabetes te vertraag en selfs te voorkom.
GLUKOSE IS DIE BRANDSTOF VIR SELFUNKSIE
Elke sel in die liggaam het brandstof nodig vir die optimale fisiologiese werking van alle biochemiese reaksies binne-in elkeen van ons 50 triljoen selle. Hierdie primêre brandstof is glukose. Vir brein- en liggaamsgesondheid moet bloedglukosevlakke binne ’n smal reikwydte in balans wees. (Dit beteken die speling tussen die maksimum en minimum waardes is baie klein.) Dit word deur die hormoon insulien bestuur, asook glukagon, leptien, grelien, adiponektien en andere. Insulien word deur die beta-selle in die pankreas vervaardig, en dan op grond van die glukosevlakke in die bloed vrygestel. Ná ’n maaltyd sal insulienvlakke styg, sodat die glukose die selle kan binnegaan om aangewend te word as brandstof vir energie om selfunksie aan te dryf.
Diabetes word gediagnoseer wanneer daar nie genoeg insulien deur die pankreas afgeskei word nie, of wanneer die selle se insulienreseptore op die selmembraan minder sensitief is vir insulien. Dit begin dan as insulienweerstandigheid, maar met die potensiaal om in volskaalse diabetes om te sit.
WAT IS DIABETES?
Diabetes is ’n geneties oorgeërfde of leefstylsiekte wat deur abnormale bloedsuiker- (glukose-) energiemetabolisme veroorsaak word weens die wanfunksionering van insulien. Diabetes kom voor wanneer die liggaam nie genoeg insulien kan vervaardig nie, of nie in staat is om insulien doeltreffend te gebruik nie. Die hooffunksie van insulien is om dit vir bloedsuiker moontlik te maak om selle binne te gaan, waar dit vir energie gebruik word. Wanneer die uitwerking van insulien dus ingeperk word of afwesig is, bly bloedglukose hoog en raak mettertyd potensieel skadelik vir liggaamsweefsel.
Belangrike faktore wat die risiko vir diabetes verhoog, sluit oorgewig of vetsug in, swak dieet, fisieke onaktiwiteit en hoë stresvlakke. Dit was voorheen ’n siekte wat byna uitsluitlik met volwassenes verbind is, maar omdat jonger mense dikwels fisies minder aktief is, terwyl hulle terselfdertyd te veel eet, neem die voorkoms van tipe 2-diabetes ook onder kinders en adolessente toe. Indien iemand anders in die familie diabetes het, is die risiko selfs hoër.
Diabetes (soos hoë bloeddruk of hipertensie) word dikwels ’n stil siekte genoem omdat mense met tipe 2-diabetes baie keer onbewus is dat hulle daaraan ly. Dit is een van die hoofredes waarom gereelde gesondheidsondersoeke so belangrik is.
SOORTE DIABETES
Daar is drie soorte diabetes: tipe 1- of jeugaanvangs-diabetes, tipe 2- of volwasse-aanvangs-diabetes en swangerskapdiabetes (dikwels onder tipe 2 geklassifiseer) wat tydens swangerskap in die ma ontwikkel en aan haar ongebore baba oorgedra kan word. Swangerskapdiabetes neem oor die wêreld heen toe. Vroue wat ’n weerstandigheid vir insulien en gevolglik hoë bloedglukose tydens swangerskap ontwikkel, word met swangerskapdiabetes gediagnoseer. Dit is geneig om tydens die 24ste week van swangerskap voor te kom. Onbeheerde swangerskapdiabetes kan ernstige gevolge vir ma én baba inhou.
Tipe 1-diabetes
Tipe 1-diabetes verskyn in die kinderjare of puberteit en soms in jong volwassenes (meestal voor die ouderdom van 30). Minder as 15 persent van diabete het tipe 1-diabetes. Dit is ’n ernstiger vorm as tipe 2-diabetes en vereis gereelde insulieninspuitings. Dit word hoofsaaklik deur ’n outo-immuunwanfunksie veroorsaak. Dit beteken dat die liggaam se immuunstelsel sy eie selle aanval en vernietig, naamlik daardie selle wat die hormoon insulien in die beta-selle van die pankreas vervaardig. Altesaam 75 persent van insulienafhanklike diabete het teenliggaampies teen hulle pankreasselle. Dit lei daartoe dat daar te min insulien is om die suiker uit die bloed na die vet- en spierselle te vervoer.
Tipe 1-diabete moet gewoonlik daagliks vir die res van hulle lewe insulieninspuitings kry. Hulle kan egter hulle insulienbehoeftes verminder deur die regte voedselaanvullings en spesifieke kruiemiddels te gebruik, onderliggende vasgekeerde en moontlik oorgeërfde emosies in ag te neem, asook ’n paar leefstylveranderinge te maak, soos gereelde oefening, ontspanningstegnieke en beter koskeuses. Die doel van tipe 1-diabete behoort te wees om insulienvereistes so laag moontlik, en veral die kardiovaskulêre stelsel so gesond moontlik, te hou.
Leefstylveranderinge sluit in gesonde eetgewoontes met onverfynde kosse wat ’n lae glisemiese indeks (GI) het, volgraanprodukte met ’n hoë voedingswaarde, koolhidrate, hoë veselinname, vars groente en beperkte vrugte (drie per dag), genoegsame inname van proteïen en gesonde olies, geen alkohol (dit verhoog die bloedsuikervlakke), dieselfde aanvullings as vir tipe 2-diabetes, baie oefening, daaglikse ontspanning en stresbestuur. Hoë stresvlakke ontlok en bespoedig of versnel hipoglukemiese aanvalle en maak dit ook uiters moeilik vir tipe 1-diabete om hulle bloedsuikervlakke te beheer.
Glisemiese indeks (GI) is ’n meting wat gedoen word op voedsel wat koolhidrate bevat, met betrekking tot die uitwerking van die voedselsoort op bloedsuiker. GI meet die invloed van voedsel op werklike bloedsuiker. Koolhidrate word geklassifiseer as baie laag, medium of hoog in GI-waarde. Voedsel met ’n hoë GI (onverfynde brood, gebak, lekkers, witsuiker) laat bloedsuiker vinnig styg, met ’n skielike styging in insulienvlakke om die glukose uit die bloed na die insulienafhanklike selle te vervoer, terwyl kos met ’n lae GI (volgraan, op ’n meulsteen gemaal, rogbrood, bruinrys, hawermout, quinoa) ’n meer geleidelike vrystelling van glukose uit die dermkanaal na die bloedstroom verseker, met ’n stadige afskeiding van insulien uit die pankreas en ’n geleidelike absorpsie van glukose uit die bloed tot binne in die selle – dus baie gesonder en meer gebalanseerd.
Tipe 2-diabetes