Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies. Dr Arien van der Merwe

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe


Скачать книгу
oefening en daaglikse ontspanningstegnieke. Mense met ’n familiegeskiedenis van diabetes, of wie se vastende insulien- en bloedsuikervlakke hoog is of in die hoog-normale reikwydte val, kan die siekte op dieselfde manier voorkom.

      Soos met ander chroniese leefstylsiektes (gesondheidsuitdagings), kan die aanvanklike diagnose van diabetes mense dikwels laat stil word, mymer en hulle leefstyl in oënskou neem. Baie mense beskou hulle siekte as die enkele belangrikste faktor wat tot ’n kentering of ommeswaai in hulle gesondheid en welwees gelei het. Stres is ook ’n belangrike sneller in die aanvang van diabetes (en alle ander chroniese leefstylsiektes of gesondheidsuitdagings). Stresbestuur en daaglikse ontspanningsoefeninge is daarom noodsaaklike werktuie om die siekte te hanteer.

      HOOFSTUK 2

      Die basiese feite onder die vergrootglas

      ’n Oorsigtelike blik op die anatomie en fisiologie van normale bloedglukosemetabolisme

      Die spysverteringstelsel is die manier waarop ons al die brandstof en voedingstowwe kry wat ons nodig het vir elke sel om optimaal te funksioneer in gebalanseerde homeostase. Homeostase is die sorgvuldig gehandhaafde, fyn ingestelde innerlike milieu van suur- en alkali-balans, liggaamstemperatuur, katabolisme (afbreek van voedingstowwe vir die vrystelling van energie) en anabolisme (opbou of sintese van voedingstowwe vir die stoor van energie), funksie en instandhouding van al 50 triljoen selle in ons wonderlike liggaam – ’n ware biologiese simfonie van harmonieuse fisiologie of homeostase, die fyn georkestreerde innerlike milieu om funksionele balans te handhaaf.

      Mond, tande en tong

      •Breek kos in kleiner stukkies op

      •Ensieme (bv. amilase) in mond begin reeds koolhidrate verteer

      Maag

      •Maagsuur aktiveer ensieme, maak sommige bakterieë dood, help met spysvertering

      Lewer

      •Absorbeer verteerde voedingstowwe uit bloed en assimileer dit in boustowwe vir alle selfunksies om doeltreffend plaas te vind

      •Stoor ’n geredelik beskikbare vorm van brandstof (energie) op as glikogeen uit bloedsuiker (glukose)

      •Ontgif en verwyder toksiene uit bloed

      •Vervaardig gal om te help om vet af te breek en skei toksiene en metaboliete in die afbreek van rooibloedselle af, deur dikderm in stoelgang en uit liggaam

      Pankreas

      •Eksokriene: skei spysverteringsensieme in die dunderm uit om kos te verteer

      •Endokriene: skei insulien en glukagon in die bloedstroom uit in respons op glukosevvlakke wat verhoog ná vertering en absorpsie van koolhidrate

      Dunderm

      •Ensieme breek kos in klein deeltjies sodat dit uit die derm verteer kan word

      •Belangrike funksie van immuunstelsel: eerste lyn van verdediging

      Dikderm

      •Vorm stoelgang om liggaam te help om ontslae te raak van afval en toksiene

      •Normale ingewandsbakterieë (flora) noodsaaklik vir gesondheid

      SPYSVERTERING VAN HOOFVOEDSELGROEPE: KOOLHIDRATE, PROTEÏEN EN VETTE

      Ensieme bestaan uit aminosuurkettings in stringe peptiede en tree op as katalisators om alle biochemiese aksies in elke sel (die liggaam het omtrent 50 triljoen selle) van die liggaam te ondersteun, te bevorder en optimaal te laat plaasvind. In die spysverteringskanaal breek ensieme die kos in kleiner stukkies af voordat dit deur die dundermvoering tot in die bloedstroom geabsorbeer kan word.

      Peptiede is stringe aminosure, soortgelyk aan krale in ’n halssnoer. Proteïene word na aminosure afgebreek. Dit word in die liggaam geabsorbeer en dan weer in verskeie peptiedkonfigurasies aanmekaargesit volgens die funksionele behoeftes van die liggaam. Tussen twee en 99 aminosure wat aaneengeryg is, word peptiede genoem; 100–199 word polipeptiede genoem, en meer as 200 sal weer proteïene wees – met verskillende strukture, frekwensies en funksies as die oorspronklike proteïene wat verteer is. Peptiede vorm ook die basis van al ons inligtingstowwe (soos hormone, neuropeptiede, neuro-oordragstowwe, ens.), soos die krale gedraai word – elke kinkel beteken ’n ander inligtingstof – maar meer daaroor later.

      KOM ONS FOKUS EERS OP DIE PANKREAS

      Die pankreas is die hoofkarakter in die diabetesdrama. Dit lê agter die maag in die abdomen en het twee hooffunksies:

      1.Eksokriene funksie – waar dit pankreas-ensieme vir spysvertering deur die pankreasbuis, direk in die duodenum (eerste gedeelte van die dunderm) afskei waar die ensieme saamsmelt met die gedeeltelik verteerde kos wat uit die maag kom, dan deur die res van die dunderm afbeweeg vir verdere spysvertering en absorpsie deur die dermvoering tot in die bloedstroom.

      2.Endokriene funksie – waar dit insulien en glukagon van die Langerhans-eilandjies direk in die bloedstroom afskei, in reaksie op die styging en daling van bloedglukosevlakke. Hierdie funksie is die kernkomponent in ons diabetesverhaal.

      ONS FOKUS NOU IN OP ’N TIPIESE SEL EN SY FUNKSIES

      Verbeel jou ’n tipiese sel is ’n lemoen. As jy deur hierdie ‘lemoen’ sou sny, sal jy dié dwarssnit van die sel kry.

      Selmembraan

      •Dien as halfdeurlaatbare versperring

      •Bevat derduisende reseptorbindingsplekke vir spesifieke boodskappermolekules om te bind; dan word die boodskap in die sel in gestuur om verskeie selfunksies te bestuur

      •Beskerm binnekant van sel

      Mitochondria

      •Kragopwekkers vir selenergie

      Sitoplasma

      •Oplossing met water- en soutbasis waarin alle selprosesse plaasvind

      Endoplasmiese retikulum

      •Stoor kalsium

      •Verpak proteïene

      •Vervaardig vet

      Golgi-liggaam

      •Sorteer proteïene en skei dit in die vorm van vesikels uit

      Lisosoom

      •Sel se skoonmaak- en detoksstasie – breek afval, bakterieë, uitgediende selstukkies en -brokkies af

      Ribosoom

      •Proteïenfabriek en DNS-bloudruk

      Nukleus (kern)

      •Bevat chromosome met DNS waar alle selfunksies en bloudrukke gereguleer word

      Die selmembraan bestaan uit drie lae: die wateroplosbare binneste en buitenste laag met die vetoplosbare binneste lipiedlaag wat ook cholesterol bevat as deel van sy integrale struktuur. Proteïen- en komplekse suiker- (glikoproteïen-) molekules lê binne poorte en kanale binne-in hierdie gelaagde membraan. Reseptore is aan die buitekant van die selmembraan geleë. Voedingstowwe, suurstof, kalsium, natrium,


Скачать книгу