Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies. Dr Arien van der Merwe

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe


Скачать книгу
wesenlike oorsaak van die chroniese inflammasie wat alle chroniese degeneratiewe siektes kenmerk.

      Metabolisme is die biochemie wat kos in energie verander as brandstof vir lewe, en daarom is insulien en leptien albei kritiek vir gesondheid. Insulien en leptien werk saam om jou metabolisme se gehalte te beheer, en saam met die skildklierhormone, om jou metabolisme se tempo te onderhou.

      Volgens navorsers sal insig in hoe leptien en sy reseptor met mekaar in wisselwerking is, dit moontlik maak om nuwe behandelings vir vetsug en ander metaboliese versteurings soos tipe 2-diabetes, asook vir inflammatoriese siektes soos rumatoïede artritis en psoriase, te vind.

      Die leptienreseptore op selmembrane het twee skarnierbene wat op ’n spil draai totdat dit in aanraking met leptien kom. Sodra leptien aan die reseptor bind, word die bene styf, en stuur ’n sein na ’n ensiem wat ’n kinase genoem word, en die vermoë het om inflammatoriese chemikalieë wat sitokiene genoem word, te bind. Die inhibering (remming of onderdrukking) van hierdie kinase-ensieme kan help om inflammatoriese en metaboliese versteurings (vlg. die afdeling oor inflammasie later in hierdie hoofstuk) te verbeter. Sodra hormone egter in ’n wanbalans verkeer (disregulering) is meer medisyne glad nie wat nodig is nie! Leefstylveranderinge, met die regte eetplan, die regte soorte kos, voedselaanvullings en kruiemiddels, saam met intervaloefening met afwisselende intensiteit en spiertonusoefening, gekombineer met stresbestuur, gereelde meditasie en ontspanning, is wat nodig is om insulien, leptien, glukagon en energievlakke te balanseer!

      Membraanreseptore is die epigenetiese raakvlak tussen die ekstrasellulêre (buite-) en intrasellulêre (binne-) omgewing en is noodsaaklik vir selkommunikasie. Hulle reageer op ’n wye verskeidenheid ekstrasellulêre stimuli uit die epigenetiese omgewing. Hierdie reseptore is die teikens van die meeste middels wat vir menslike siektes voorgeskryf word. Hormonale aktivering van hierdie reseptore lei daartoe dat intrasellulêre proteïene ingespan word, met gevolglike aktivering van intrasellulêre seingebeure (vgl hoofstuk 3). Ons doelwit in hierdie boek is om die wanfunksionering van membraanreseptore in chroniese leefstylsiektes soos vetsug, diabetes, hartsiekte en depressie te verstaan en om dan holistiese, integrerende strategieë voor te stel om hierdie siektes te bestuur.

      Navorsing op die voorpunt ondersoek tans die integrerende en nimmereindigende spiraalaksie van ons hormoonorkes, byvoorbeeld die fyn balans tussen melatonien, insulien, glukagon, leptien en grelien, en die harmonieuse musiek wat hulle in ’n gesonde liggaam maak. Die hoofrede agter hierdie navorsing is egter om te soek na middels wat die natuurlike hormonale boodskappe in die liggaam kan stimuleer of selfs vervang. Dit is ’n soektog in die verkeerde rigting! Deur holistiese maatreëls in te stel, kan die liggaam se natuurlike staat van geluk en gesondheid herstel word. Die liggaam sal dan sy eie balansmeganismes herontdek.

      Sielsversteurings (bv. depressie), kardiovaskulêre en metaboliese siektes (bv. vetsug en tipe 2-diabetes) is groot gesondheidsuitdagings wat gebreke in membraanreseptorfunksie en die inflammatoriese reaksie behels. Die fokus van navorsing identifiseer stadigaan die verhouding tussen die melatonienreseptorfamlie, metaboliese versteurings (diabetes en insulienweerstandigheid) en sielsversteurings, asook die wisselwerking met leptien, die vervoer daarvan na die brein, die gastro-intestinale hormone en die beheer van voedselinname. Dit is fassinerende navorsing, gegrond op vordering in Era II-medisyne wat in hoofstuk 3 bespreek word. Dit word al duideliker dat ons innerlike harmonieuse orkes met al sy hormonale instrumente baie nou met mekaar verbind is en mekaar wedersyds beïnvloed in die musiek van ons lewe, waarvan ons natuurlike ingesteldheid een van homeostase is.

      Leptien is ’n uiters kragtige en invloedryke hormoon wat deur vetselle geproduseer word. Vetselle, deur leptien, sê vir die brein of jy honger behoort te wees, te eet en meer vet te maak of besig moet wees met onderhoud en herstel. Leptien is daarom die manier waarop die vetvoorraad met die brein kommunikeer om jou brein te laat weet hoeveel energie of brandstof beskikbaar is, en wat om daarmee te doen.

      Indien jou leptienboodskappe behoorlik werk, sal die ekstra vet ’n skielike styging in jou leptienvlak veroorsaak wanneer jou vetvoorraad aangevul is. Dit sal die teken vir jou brein wees om nie meer honger te voel nie, op te hou eet of op te hou vet stoor en ekstra vet te begin verbrand.

      Die beheer van honger is een manier waarop leptien die energiestoring beheer. Honger is ’n baie magtige, diepgewortelde instinktiewe oorlewingsdrang. Indien hierdie drang lank genoeg gestimuleer word, sal dit jou laat eet en meer energie stoor. Wilskrag is nie opgewasse hierteen nie! Al manier om op die lang duur minder te eet, is om seker te maak dat jy nie te honger word nie, en dan die regte kos te eet. Al manier om dit te doen, is weer om daardie honger-beheer-hormone te bestuur, waarvan die primêre een leptien is.

      Leptienweerstandigheid

      Leptienweerstandigheid vind deur dieselfde meganisme as insulienweerstandigheid plaas, dus voortdurende oormatige blootstelling aan hoë vlakke van hierdie hormone. As jy ’n dieet volg wat hoog is in suiker, verfynde koolhidrate, verfynde grane en verwerkte kosse (dit veroorsaak ook chroniese inflammasie), stel die suiker wat in jou vetselle gemetaboliseer word hoë vlakke van leptien vry, wat uiteindelik tot leptienweerstandigheid sal lei.

      Die sleutel is om normale leptien- (en insulien-) boodskappe na vetselle en die brein se versadigingsentrum te herstel om hierdie stuwings te voorkom deur regte eetgewoontes en nuwe denk-emosies. Korrekte eetgewoontes en die hantering van onderdrukte emosies kan dus ’n diepgaande uitwerking op jou gesondheid hê, selfs meer as enige mediese behandeling.

      BLOEDGLUKOSE (SUIKER), INSULIEN, STRES EN KORTISOL

      Met die epidemie van diabetes en metaboliese sindroom wat die Westerse wêreld teister, het bloedsuiker en insulien hulle regmatige hoeveelheid aandag in die media gekry. Bloedsuikerbalans is ’n sleutelbeginsel in bykans elke dieetboek, van die sogenaamde Zone, lae-GI- en Banting- tot by die Atkins-dieet. En met goeie rede: ongebalanseerde bloedsuiker- (glukose-) vlakke is die oorsaak van baie gesondheidsprobleme, insluitend oorgewig, vetsug, diabetes, voortydige of versnelde veroudering en chroniese inflammasie.

      In my praktyk sien ek elke dag mense met bloedsuikerwanbalanse. Nie almal van hulle is vetsugtig of eens oorgewig nie. Sommige is gesondheidsbewus. Hulle eet nie wegneemkos, lekkers, aartappelskyfies en oliebolle nie, en lê nie voor die TV nie. Sommige eet gesond, oefen gereeld, het ’n normale liggaamsamestelling en neem aanvullings, maar hulle voel steeds nie goed nie en sukkel met min energie, moegheid en selfs depressie. Dit is kernsimptome van insulienweerstandigheid en later diabetes.

      Daar is twee hoofmoontlikhede wat ’n rol speel in bloedsuikerwanbalanse:

      1.Insulienweerstandigheid: Dit word deur twee dinge gekenmerk, naamlik chronies verhoogde bloedsuikervlakke, en gevolglike verhoogde insulienvlakke om die bloedsuiker te help hanteer. Spier- en vetselreseptore raak weerstandig teen insulien, en daarom kan minder glukose die selle binnegaan vir optimale gebruik as brandstof vir selfunksie.

      2.Hipoglisemie of lae bloedsuiker: Dit word beter beskryf as skommelings in bloedsuiker – soms hoog en soms laag.

      Albei moontlikhede behels insulienstuwings. Terwyl elk sy afsonderlike metaboliese uitwerking het, sal albei probleme veroorsaak in die funksionering van die mitochondria, of kragopwekkers van die sel, want daar is nie ’n konstante, gebalanseerde voorraad bloedsuiker beskikbaar vir standhoudende adenosientrifosfaat- (ATP-) produksie nie. (Die afkorting ATP hou verband met die Engelse term, adenosine triphosphate.)

      Insulienweerstandigheid

      Kom ons kyk na wat normaalweg met glukose gebeur sodra dit verteer en uit sy oorspronklike vorm afgebreek is en dan in die bloedstroom geabsorbeer word.

      Diagram 1: Glukose beland in die bloedstroom: Dit is ’n sneller vir die afskeiding van insulien


Скачать книгу