Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies. Dr Arien van der Merwe
’n baie spesifieke stukkie van die legkaart inpas. Dit stel die glukosekanaal in staat om oop te maak, weens die translokering (verplasing) van die glukosevervoermeganisme (Glut-4) in die selmembraan. Glukose kan dan die sel binnegaan vir energie- (brandstof-) sintese.
Diagram 2: Die uitwerking van insulien op glukose-opname en metabolisme: Insulien bind aan sy reseptor (1), wat baie proteïenaktiveringkaskade bewerkstellig (2). Dit sluit in translokering (verplasing) van die Glut-4-vervoermeganisme na die selmembraan en invloei van glukose (3). Verskillende bane word binne die verskillende selle aangeskakel. In lewer- en spierselle sal die glukose wat nie vir energie gebruik word nie, in glikogeen omgeskakel en opgeberg word (4). Glukose sal eerstens gebruik word om voldoende ATP (adenosientrifosfaat of die energiebergingsmolekule) te sintetiseer deur die sitroensuur- of pirovaatsiklus (5). Oormatige suiker sal as vet opgeberg word – veral vetsure, ’n ryk bron van hoë energiestoring (6).
Die diagram hieronder toon die finale baan van kos as energie.
Kom ons keer terug na insulienweerstandigheid
Die insulienreseptore raak weerstandig (oftewel met verlaagde sensitiwiteit), teen insulien. Die glukosekanale maak nie voldoende oop om glukose toe te laat om die selle binne te gaan nie. Omdat bloedsuiker die selle nie voldoende binnedring nie, bly dit in algemene sirkulasie, eerder as om vir energie binne die sel gebruik te word. Gevolglik moet die liggaam hoër vlakke van insulien vervaardig om glukose uit die bloedstroom te probeer verwyder, wat selfs groter metaboliese wanfunksie tot gevolg het. Die verhoogde bloedsuiker lei ook tot insulien se tweede funksie, naamlik vetsintese. Dit behels dat die waargeneemde oormatige glukose in die bloed as vet vir latere gebruik gestoor word.
Kenmerkende simptome van insulienweerstandigheid sluit in: moegheid ná maaltye, drange na soetgoed wat nie verdwyn nadat soetgoed geëet is nie, erge dors en gereelde urinering.
Verhoogde insulien is ook ’n groot oorsaak van veroudering en chroniese inflammasie! Uiteindelik sal insulienweerstandigheid tot tipe 2-diabetes lei.
Hipoglisemie
Klinies kan hipoglisemie beskou word as skommelings in bloedsuiker. Mense met hipoglisemie kan simptome soos lighoofdigheid, geïrriteerdheid, bewerigheid, swak konsentrasie en moegheid tussen maaltye, wat dikwels verlig word wanneer iets geëet word, ervaar. Hierdie simptome is stressimptome wat deur die liggaam opgewek word as ’n roepe na brandstof, oftewel glukose. Die stressimptome lei ook tot ’n styging in kortisolvlakke – die langtermyn-streshormoon.
Mense met hierdie patroon en tydperke van lae bloedsuiker sal stuwings van insulien hê, eerder as chronies verhoogde vlakke. Gewoonlik sal die liggaam op lae bloedsuiker reageer deur kortisol en glukagon te vervaardig om bloedsuikervlakke te laat styg. Dié met hipoglisemie kan egter verminderde bynierfunksie hê, en maak dan staat op adrenalien om bloedsuiker tussen maaltye te laat styg deur glikogeen af te breek. Dit lei tot die bewerigheid en lighoofdigheid tussen maaltye. Simptome word gewoonlik verlig nadat geëet is, te danke aan die glukose wat maaltye verskaf.
Mense met lae bloedsuiker sal dikwels ook te veel grelien en glukagon afskei, te veel koolhidrate met ’n hoë GI oftewel glisemiese indeks (sjokolade, suikerryke kosse, koekies) of selfs te veel gesonde kosse, weens uiterste honger, inneem. Gevolglik skiet hulle bloedglukosevlakke die hoogte in en veroorsaak dat te veel insulien deur die pankreas vrygestel word. Die glukose word dan te doeltreffend verwyder en dit lei tot erger simptome as voordat hulle geëet het. Die beste is om klein, gesonde peuselhappies tussen gesonde maaltye te eet: ’n hand vol neute, ’n sny lae GI-volgraan- of rogbrood, jogurt, droëvrugte, twee Provitas of ander volgraanbeskuitjies.
Hipoglisemiese simptome | Insulienweerstandige simptome |
Voel beter ná maaltye | Voel moeg ná maaltye |
Suikerdrange voor maaltye | Suikerdrange ná maaltye |
Mag sukkel om deurnag te slaap | Mag sukkel om snags aan die slaap te raak |
Hierdie siklus kom algemeen voor in mense met, of sonder, vetsug of oorgewig mense: lae bloedsuiker lei tot simptome van swakheid of onwel-wees, dan eet hulle te veel (selfs van gesonde kos; dikwels met ’n obsessie oor peuselhappies), met stuwings in bloedsuikervlakke wat lei tot verhoogde insulienvlakke, wat lei tot verhoogde kortisolvlakke, wat lei tot hoër bloedsuikervlakke, en dan voel hulle slegter – nog ’n bose kringloop! Die hipoglisemiese tuimeltrein lei dikwels tot tipe 2-diabetes later in die lewe.
Nog ’n manier waarop hierdie siklus geaktiveer kan word, is via kortisol, die langtermyn-streshormoon. Enigiets wat kortisol laat styg (hoë stresvlakke, stresvolle emosies, te veel werk, infeksie, voedselallergieë, inflammasie, ens.) sal ook bloedsuiker laat styg om brandstof te verskaf vir die klassieke stresreaksie: veg óf vlug (omgeskakel in gevoelens van woede, vrees, kommer) en daarom insulienvlakke. Met ander woorde, jy kan ’n perfekte dieet en oefenprogram volg, maar as jy verhoogde kortisolvlakke het, kan jy ook jou bloedsuiker van binne af laat styg. Kortisol is verantwoordelik daarvoor om die spens vol te maak om tydens die maer jare te oorleef – en die spens is jou maag!
Simptome van hoë kortisolvlakke, meestal weens ’n innerlike staat van chroniese erge stres, gegrond op hoe jy ‘voel’, sluit die volgende in:
•Kosdrange
•Vermeerderde abdominale vet (boepens)
•Insulienweerstandigheid
•Hoë bloedsuiker
•Gemoedskommelings
•Hoë angsvlakke
•Benewelde (wollerige) brein
•Geïrriteerdheid
•Maagseer
•Lae immuunfunksie (gepaard met gereelde verkoues en infeksies)
•Hoë bloeddruk
•Versteurde slaap
•Depressie
•Voortydige veroudering
•Verlies aan spier- en beenmassa
•Haarverlies
•Velprobleme, soos ekseem en aknee
Insulien en kortisol is noodsaaklik vir lewe. Daarsonder kan ons nie leef nie. Maar, soos met die meeste hormone, moet hulle altyd in balans wees.
Om op te som wat in diabetes gebeur:
Inflammasie: boesemvriend én aartsvyand
Geen boek oor diabetes is volledig sonder dat ons na inflammasie as vriend én vyand kyk nie. As vyand is inflammasie die gemene deler wat in alle chroniese degeneratiewe siektes aanwesig is, waarvan diabetes ’n hoofvoorbeeld is.
Die woord inflammasie kom van die Latynse woord inflamatio, wat beteken om te ontsteek, aan die brand te steek. Chroniese inflammasie is die brandstof wat die vuur van hedendaagse chroniese degeneratiewe siektes hoog laat brand – in die terminologie van welwees word dit eerder gesondheidsuitdagings genoem, en hiervan is diabetes en spanmaats hoë bloeddruk, hartsiekte, metaboliese sindroom, oorgewig en vetsug, en ook depressie die belangrikstes.
Die liggaam het ’n ingebore intelligensie, ’n inherente vermoë en geneigdheid tot genesing, deur die inflammatoriese reaksie as deel van die natuurlike oorlewingsgenesingsmeganisme te gebruik. Wanneer ons op ’n fisieke, siels-, emosionele en gedragsvlak met hierdie proses inmeng, onder meer deur ons leefstylkeuse, ongesonde eetgewoontes, stresvolle manier van leef, en veral deur die konstante stressnellers van onderliggende en diep onderbewuste, vasgekeerde geheue-emosionele snellers, saboteer en kaap ons hierdie natuurlike reaksie. Dan laat ons sluimerende inflammasie toe om ’n bedreiging,