Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies. Dr Arien van der Merwe
tydens swangerskap (dan word dit swangerskapdiabetes genoem). Dit is die meer algemene vorm van diabetes (85–95 persent van mense wat aan diabetes ly, het tipe 2-diabetes). Met tipe 2-diabetes vervaardig die liggaam insulien, maar die selle kan dit nie doeltreffend gebruik nie, omdat die insulienafhanklike selle óf hulle sensitiwiteit vir insulien verloor (m.a.w. insulienweerstandig word), óf te min insulienreseptore het.
Insulienafhanklike selle het insulien nodig om glukose op te neem: spier-, vet- en die meeste ander weefselselle. Brein-, pankreas-, rooibloed-, ingewand-, lewer en nierselle het nie insulien nodig om glukose op te neem nie.
’n Algemene oorsaak van tipe 2-diabetes is oorgewig of vetsug en te min oefening. Deur slegs ’n paar kilogram te verloor en matige oefening te doen, soos om vier keer per week ’n halfuur lank te stap, sal die toestand verbeter. Tipe 2-diabetes is geneig om in families voor te kom.
Diabetes en die komplikasies daarvan is die derde algemeenste oorsaak van dood. Diabetes kan ook kardiovaskulêre siekte (hart en bloedvate) veroorsaak of vererger. Kardiovaskulêre siekte is die hoofoorsaak van dood. Diabetes, soos hoë bloeddruk, is dikwels ’n rustende (slapende) siekte wat gevorderde skade kan aanrig voordat dit gediagnoseer word.
Die meeste tipe 2-diabete kan hulle bloedsuikervlakke beheer deur gewig te verloor (vetgewig), ’n dieet te volg wat gebaseer is op proteïen, gesonde olies, neute, sade en sorgvuldig uitgesoekte onverfynde (komplekse) koolhidrate en vesel, asook voedselaanvullings te gebruik en gereeld te oefen. Mense met ’n familiegeskiedenis van diabetes, of wie se bloedsuikervlakke in die hoë normale band (reikwydte) val, kan die siekte op dieselfde manier voorkom.
Alzheimer-siekte as tipe 3-diabetes
Studies wat deur die Brown Medical School in die VSA se navorsingspan gedoen is, het die moontlikheid van ’n nuwe vorm van diabetes geïdentifiseer nadat hulle bevind het dat insulien deur die brein sowel as die pankreas vervaardig word. Navorsers het weerstandigheid teen insulien en insulienagtige groeifaktore geïdentifiseer as ’n sleutel tot die ontwikkeling van Alzheimer-siekte.
Terwyl verhoogde bloedsuiker (hiperglisemie) tipies is van tipe 1- en tipe 2-diabetes, het ’n ander afsonderlike studie, wat deur die Universiteit van Pennsilvanië gedoen en in 2012 gepubliseer is, waar mense met reeds bestaande diabetes uitgesluit is, bevind dat Alzheimer-siekte kan ontwikkel sonder die teenwoordigheid van beduidend hoë bloedsuikervlakke in die brein.
Sommige navorsers het begin om Alzheimer-siekte tipe 3-diabetes te noem. In tipe 1-diabetes word te min insulien deur die pankreas vervaardig. In tipe 2-diabetes reageer die liggaam se selreseptore nie doeltreffend op insulien nie. Dit tas die werking van die hele liggaam aan. Dit wil voorkom of ’n soortgelyke probleem in Alzheimer-siekte voorkom, maar in plaas daarvan dat dit probleme in die hele liggaam veroorsaak, kom die uitwerking van weerstandigheid teen insulien in die brein self voor. Navorsers het bewyse hiervoor gevind toe hulle mense se brein ná dood bestudeer het. Hulle het opgelet dat die brein van diegene met Alzheimer-siekte (en nie met tipe 1- of tipe 2-diabetes nie) baie van dieselfde abnormaliteite getoon het as in die geval van dié met diabetes, insluitend verlaagde vlakke van insulien in die brein. Navorsers het toe bevind dat Alzheimer-siekte ’n breinspesifieke soort diabetes is, en gevolglik is dit tipe 3-diabetes genoem.
Indien ’n diabeet se bloedsuiker te hoog of te laag daal, stuur die liggaam stresseine na die brein. Simptome en tekens van die probleem kan verskyn as gedragsveranderinge, verwarring, stuiptrekkings of, soos in die geval van Alzheimer-siekte, dat die brein se funksie en struktuur mettertyd geleidelik agteruitgaan. Toe ’n groep navorsers die bestaande reeks studies oor Alzheimer-siekte en breinfunksie hersien het, het hulle ’n algemene bevinding in Alzheimer-siekte opgelet, naamlik die agteruitgang van die breinselle se vermoë om glukose te gebruik en te metaboliseer. Hulle het die agteruitgang vergelyk met kognitiewe vermoë, en opgelet dat die afname in glukoseverwerking die kognitiewe agteruitgang in die verswakking van geheue, onvermoë om die regte woorde te vind, gedragsveranderinge, en ander verskynsels voorafgegaan of oorvleuel het.
Wetenskaplikes het ook bevind dat namate insulienwerking in die brein verswak, neem die brein se kognitiewe vermoë af, maar die grootte en struktuur van die brein gaan ook agteruit – alles bevindinge wat waargeneem word namate Alzheimer-siekte vorder.
Navorsing is steeds aan die gang om vas te stel of tipe 2-diabetes Alzheimer-siekte kan veroorsaak. Een studie beweer dat diabetes waarskynlik kan bydra tot die ontwikkeling van Alzheimer-siekte en dit kan vererger, maar dat dit waarskynlik nie die enigste oorsaak daarvan is nie. Studies toon dat nagenoeg 50 persent van mense met tipe 2-diabetes later Alzheimer-siekte sal ontwikkel.
LAE BLOEDSUIKER
Jong meisies en vroue met lae bloedsuiker (hipoglisemie) moet bewus wees dat hulle dalk later in hulle lewe diabetes kan ontwikkel. Die feit dat hulle bloedsuikervlakke te laag daal, is ’n aanduiding van oorafskeiding van insulien deur die pankreas en/of oorsensitiwiteit van insulienreseptore op die selmembrane. Dit veroorsaak dat die selle glukose te vinnig absorbeer. Die bloedglukosevlak daal gevolglik baie laag, wat weer tot ’n daling in glukose aan die brein en insulienafhanklike selle lei. Daar is dus reeds ’n abnormale glukosemetabolisme.
Nog ’n algemene probleem met lae bloedsuiker word ‘storting’ (dumping) van bloedsuikervlakke genoem. As jy te honger word weens ongereelde eetgewoontes en boonop die verkeerde kos eet, daal jou bloedsuikervlak baie laag en jy voel naar, het nie energie nie en is selfs hongerder. Dan eet jy ’n groot plak sjokolade en jou bloedsuikervlak skiet die hoogte in. Die pankreas gaan in hoogste versnelling en skei te veel insulien af. Jou liggaamselle raak te vinnig van die glukose ontslae, en dit laat jou bloedsuikervlak laer daal as wat dit aanvanklik was (vgl. die spitslyn in die diagram). Jy voel siek, lusteloos, geïrriteerd en depressief. As jy dit gereeld doen, sal jy voortdurend moeg en selfs depressief, naar en duiselig voel. Die wipplankryery van ongebalanseerde bloedsuikervlakke is baie ongesond. ’n Paar jaar van skommelende glukosevlakke kan ook tot tipe 2-diabetes lei, terwyl gesonde eetgewoontes met glukosevlakke wat deur die dag matig styg en daal (vgl. die golflyn in die diagram), sal keer dat dit gebeur en jou liggaamselle in staat stel om die glukose nodig vir brandstof op ’n gebalanseerde manier te gebruik.
’n Goeie voorbeeld van ’n dag met gesonde eetgewoontes en matig stygende en dalende bloedsuikervlakke wat brandstofbalans (en dus jou energie) in stand hou:
Ontbyt (nadat jy wakker geword het; andersins, as jy nie vroeg in die oggend kan eet nie of te haastig is, neem dit saam en eet by die werk): klein bakkie hawermoutpap met ’n bietjie melk en rou heuning na smaak, óf jogurt en een vrug.
Peuselhappie in die oggend: een vrug of ’n hand vol neute (hou altyd byderhand in jou laai by die werk of in jou skooltas).
Middagete: proteïenporsie (bv. een hardgekookte eier, óf koue hoenderdytjie, óf twee skyfies ham), met ’n slaai wat uit ’n verskeidenheid bestanddele bestaan, en ’n sny rogbrood of volgraanbrood.
Peuselhappie in die middag: ’n hand vol neute of droëvrugte.
Aandete: volstruisfilet, rooivleis, vis of hoender (maak genoeg vir die volgende dag se middagete) met vars, effens gekookte groente en basmati- of wilderys.
Voor slaaptyd: geniet ’n klein piesang. Piesangs is voedsaam en bevat ook triptofaan, voorloper van serotonien (‘goedvoel’-peptied), om jou te laat ontspan en ’n goeie nagrus te laat geniet. ’n Ander opsie is warm melk met ’n bietjie heuning, ’n knippie gemmer en kaneel.
INSULIEN EN BLOEDGLUKOSE
Insulien is ’n hormoon, peptied of inligtingstof wat deur die pankreas in die bloedstroom afgeskei word, net nadat jy geëet het en wanneer koolhidrate verteer en in die bloedstroom as glukose geabsorbeer word. Koolhidrate (stysels) word in die dermkanaal tot glukose afgebreek en dan na die lewer vervoer. Van die glukose word in die lewer as glikogeen gestoor om geredelik beskikbaar te wees wanneer energie benodig word. Van die glukose word in die bloedstroom