Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies. Dr Arien van der Merwe

Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies - Dr Arien van der Merwe


Скачать книгу
aan die selreseptore van insulienafhanklike selle, en laat sodoende die glukosekanale oopgaan sodat die glukose deur die selmembrane kan beweeg tot binne in die selle soos vet- en spierselle, om sodoende energie te verskaf aan die selle vir al hulle biochemiese behoeftes.

      Insulien stimuleer ook die sintese van vet indien daar meer glukose is as wat die sel nodig het. Indien die pankreas te min insulien vervaardig, raak die glukosevlak in die bloed te hoog, want die glukose kan nie die selle binnegaan nie. Daardie selle wat van insulien afhanklik is vir die verskaffing van glukose (vet- en spierselle) ly honger. Ander selle wat nie insulien nodig het om glukose te absorbeer nie (bv. breinselle), kry te veel suiker. Die suiker begin dan gis, wat skade aan selle en organe aanrig. Dink aan iemand sonder vars water in ’n reddingsbootjie wat op die see ronddobber, maar nie sy dors met die seewater kan les nie.

      Breinselle is nie van insulien afhanklik vir die absorpsie van glukose nie. Die breinselle absorbeer die glukose direk uit die bloed. Indien die bloedsuikervlak te hoog styg, kry die brein te veel glukose en dit kan tot ’n koma lei. Die hoë bloedsuikervlak beskadig ook die delikate filtreermeganisme in die niere sodat meer urine uitgeskei word. Die niere skei ook meer glukose af.

      VROEË DIAGNOSE IS NOODSAAKLIK

      Heelwat mense met tipe 2-diabetes se bloedsuiker sal nie noodwendig hoog genoeg wees om herkenbare simptome te veroorsaak nie – die rede waarom so baie diabete nie gediagnoseer word nie.

      Diagnose is relatief eenvoudig – ’n vastende vingerprik-bloedtoets wat by jou primêre gesondheidsorgpraktisyn, algemene praktisyn, apteek of gemeenskapskliniek gedoen kan word. As jy ouer as 40, oorgewig en onaktief is, veral as jy ’n familiegeskiedenis van diabetes het, behoort jy jou bloedsuiker een keer per jaar te laat nagaan. Trouens, ek stel voor dat almal ten minste een keer per jaar ’n vastende vingerpriktoets vir bloedsuiker behoort te laat doen.

      Indien die uitslag van die vingerpriktoets hoog is, behoort ’n volledige glukosetoleransietoets (GTT) deur ’n laboratorium gedoen te word. Waardes hoër as 5,5 mmol/liter word as hoog beskou. Ek beveel aan dat waardes hoër as 5,0 as hoog-normaal beskou behoort te word en ook as voorkombare hoë bloedsuiker wat leefstylveranderinge vereis, aangespreek behoort te word. Dit sal keer dat vlakke selfs meer styg – ware voorkomende gesondheidsorg. Indien jou vlakke binne normale perke is, maar elke jaar styg al bly dit steeds binne normale perke, is voorkomende maatreëls noodsaaklik om te keer dat jy binne ’n paar jaar diabetes ontwikkel.

      ’n Vastende insulientoets word ook aangedui as deel van die gereelde ondersoek, veral by mense ouer as 50 jaar, indien die vermoede bestaan dat metaboliese sindroom (hoë/hoog-normale glukose; hoë bloeddruk en cholesterol, veral hoë trigliseriede en LDL-cholesterol, met lae HDL-cholesterol; en hoë of hoog-normale insulien) of insulienweerstandigheid teenwoordig is.

      SIMPTOME VAN DIABETES

      Diabetes kan vir tot sewe jaar teenwoordig wees sonder enige simptome.

      Vroeë simptome kan die volgende insluit:

      •Oormatige dors en gereelde urinering, ook snags

      (Indien jy enigiets soets eet, en daarna oormatig dors voel, is dit belangrik om jou vastende bloedsuiker te laat toets.)

      •Gereelde candida (sproei) of ander infeksies, of sere op die vel wat nie genees nie

      •Moegheid

      •Wasige/dowwe sig.

      OORSAKE VAN DIABETES

      •Genetiese vatbaarheid

      •Omgewingsnellers:

      –Dieet hoog in verfynde koolhidrate met min vesel, en te veel suiker

      –Dieet met hoë versadigde vette (diervette)

      –Vetsug weens koolhidraatintoleransie, hoë insulienvlakke, onsensitiwiteit vir insulien of insulienweerstandigheid van reseptore op vet- en spierselmembrane

      –Chroomtekort

      –Dieet wat bestaan uit te veel gerookte vleis

      –Virusinfeksie van beta-selle in die pankreas, wat tot ’n aanval deur teenliggaampies lei

      –Die voedingstatus van die ma tydens swangerskap speel ’n rol om te bepaal of ’n kind diabetes sal ontwikkel

      –Min of geen oefening.

      HBA1C (OFTEWEL HEMOGLOBIEN A1C OF BLOOT A1C)

      Die term HbA1c verwys na versuikerde (A1c) hemoglobien (Hb – die molekule wat yster en suurstof bind en dit na jou selle vervoer). Dit ontwikkel wanneer hemoglobien, ’n proteïen in rooibloedselle wat suurstof deur jou liggaam vervoer, met glukose in die bloed verbind en versuiker.

      Dit is ’n nuttige bloedtoets om te doen as jou bloedglukose al vir ’n langer tydperk verhoog is, want dit bepaal gemiddelde bloedglukosekonsentrasie oor tyd heen. HbA1c verskaf dus ’n langtermyntendens, soos ’n gemiddelde, van hoe hoog jou bloedsuikervlakke oor ’n tydperk (’n paar weke of maande) was. Die HbA1c-lesing kan gedoen word met ’n vingerpriktoets, of met ’n bloedmonster wat uit die binnekant van jou elmboog geneem word. Vir mense met diabetes is dit belangrik, want hoe hoër die HbA1c, hoe groter die risiko om diabetes-verwante komplikasies te ontwikkel.

      Aan die ander kant is bloedglukosevlakke op sigself die konsentrasie van glukose in jou bloed op ’n spesifieke tydstip toe die bloedtoets gedoen is. Dit word die beste gemeet met ’n vastende bloedglukosemonster, waar bloed van ’n vingerpriktoets of ’n monster uit die binnekant van jou elmboog getoets word.

      In ’n neutedop

      •Leefstylveranderinge vir tipe 1- en tipe 2-diabete:

      –Gesonde eetgewoontes met onverfynde koolhidrate met ’n lae glisemiese indeks (GI) (bv. volgraan, hawermout, rog, bruin- en wilderys, muesli, peulgroente, koue aartappels), hoë veselinname, vars groente en beperkte vrugte (drie per dag), genoeg proteïen van hoë gehalte (bv. maer vleis, vis, eiers) en beperkte hoeveelheid versadigde vette

      –Geen alkohol (dit laat bloedsuikervlakke maklik styg)

      –Geskikte voedselaanvullings

      –Baie oefening

      –Stresbestuur. Stres bevorder hipoglisemiese (oftewel lae bloedsuiker) aanvalle en maak dit ook uiters moeilik vir diabete om hulle bloedsuikervlakke te beheer.

      •Tipe 2- of volwasse-aanvangs-diabetes ontstaan gewoonlik in die middeljare of tydens swangerskap. Dit is die meer algemene vorm van diabetes (meer as 85 persent van diabete het tipe 2-diabetes). Met tipe 2-diabetes vervaardig die liggaam insulien, maar kan dit nie doeltreffend gebruik nie, want die insulienafhanklike selle verloor óf hulle sensitiwiteit vir insulien (insulienweerstandigheid) óf het te min insulienreseptore.

      •Belangrike omgewingsfaktore wat tipe 2-diabetes bespoedig, is vetsug en ’n gebrek aan oefening. Deur slegs ’n paar kilogram te verloor en matig te oefen, soos vier keer per week vir ’n halfuur te stap, sal die toestand verbeter.

      •Tipe 2-diabetes is geneig om in families voor te kom. Genetiese faktore is belangrik in vatbaarheid vir diabetes, maar omgewingsfaktore (vetsug, ongesonde eetgewoontes, stres) is nodig om dit aan die gang te sit.

      •Diabetes en die komplikasies daarvan is die derde algemeenste oorsaak van dood.

      •Diabetes kan ook kardiovaskulêre siekte (die hoofoorsaak van dood) veroorsaak of vererger.

      •Diabetes, soos hoë bloeddruk, is dikwels ’n rustende (slapende) siekte wat gevorderde skade kan aanrig voordat dit gediagnoseer word.

      Die meeste mense met volwasse-aanvangs- of tipe 2-diabetes kan hulle bloedsuikervlakke beheer deur vetgewig te verloor, ’n dieet te volg wat bestaan uit sorgvuldig uitgesoekte en beheerde hoeveelhede onverfynde (komplekse) lae


Скачать книгу