Hanteer diabetes en verwante gesondheidskwessies. Dr Arien van der Merwe
Die meeste van ons het, en sal in die toekoms, las hê van ’n seer keel, verkoue en griep, veluitslag, insekbyte, sonbrand, hooikoors of beserings. Jy sal deeglik hiervan weet omdat inflammasie tipiese simptome van rooiheid, pyn, swelsel en verhoogde temperatuur (hitte) op die aangetaste gebied sal laat ontstaan, wat uiteindelik tot verlies aan funksie sal lei as dit nie ingeperk word nie. Die akute inflammatoriese reaksie is ’n normale en gepaste respons van die immuunstelsel (verdedigingstelsel) op beserings en potensiële siekte deur die liggaam ontslae te laat raak van organismes soos virusse en bakterieë, om hierdie en ander toksiene uit die liggaam te verwyder, en dit in staat te stel om van beserings en trauma te genees. Hierdie proses is die liggaam se aanvanklike reaksie op selskade, en die doel is om die immuunstelsel se verdedigingsmeganismes bymekaar te kry om teen indringers van buite te veg. Dit is ook ontwerp om genesing te bevorder deur beskadigde weefsel te herstel en enige toksiene en oorblywende afval uit die liggaam te verwyder. Sonder die proses van inflammasie sou die liggaam nie vinnig van wonde, trauma, beserings en infeksies kon herstel nie. Hierdie soort akute inflammatoriese reaksie is goed. Ons het dit nodig om te oorleef.
Die inflammatoriese proses kan ’n probleem raak wanneer die verdedigingstelsel buite beheer raak, byna soos ’n muitery, waar die manskappe hulle eie lewensbestaan vernietig, of soos ’n wegholtrein. ’n Ooraktiewe immuunstelsel, waar daar oormatige en onvanpaste inflammasie is, is tipies van allergieë soos asma, ekseem, hooikoors, outo-immuunsiektes, soos tipe 1-diabetes, rumatoïede artritis, psoriase en Chron se siekte. Onbeheerde inflammasie is ook duidelik in toestande soos artritis, brongitis, laringitis, sinusitis, gastritis, kolitis en blindedermontsteking. Die agtervoegsel ‘-itis’ beteken ‘inflammasie van …’ en die voorvoegsel dui die spesifieke orgaan of stelsel aan.
Baie studies toon dat verskuilde sistemiese (wat die hele liggaam of ’n spesifieke stelsel aantas) inflammasie die gemene deler van die meeste, indien nie alle nie, hedendaagse chroniese siektes kan wees, selfs wanneer die ooreenkoms nie voor die hand liggend is nie. Dit sluit in diabetes, hartsiekte, metaboliese sindroom, vetsug, kanker, demensie, depressie, Alzheimer-siekte, artritis en selfs outisme. Dit is die slegte inflammasie wat regtig lelik kan raak as dit nie beperk word nie. Dit is die chroniese inflammasie, wat net onder die oppervlak van ons fisieke bewustheid daarvan onophoudelik smeul en gis, en wat ’n stille moordenaar kan word terwyl dit geleidelik ons selle se funksies en uiteindelik ons organe kan vernietig. Dit is ook die inflammasie wat veroudering bespoedig.
STAPPE IN DIE GESONDE INFLAMMATORIESE REAKSIE
Inflammasie is ’n voordelige proses in ons liggaam as ’n reaksie van ons immuunstelsel op ’n prikkelmiddel, en word tipies geïdentifiseer deur simptome van swelling en verhoogde bloedvloei. Hierdie simptome help om die beseerde gebied te immobiliseer terwyl die res van die immuunstelsel bymekaarkom om dit te genees en te herstel. In ’n gesonde persoon sal die inflammasieproses ophou en die liggaam na sy normale staat van homeostase of innerlike balans terugkeer wanneer die infeksie of die weefselskade genees is.
As jy op ’n skerp spyker trap, of jy word aan ’n stortvloed virusse blootgestel, maak jou immuunstelsel ’n proteïen wat sirkulerende immuunkompleks (CIC, circulating immune complex) genoem word. Die CIC gaan na die beseerde gebied, of dit nou die slymvliese van jou neus of die besering op jou voet is, en veroorsaak pyn en swelsel. Die pyn wat jy voel is om jou bewus te maak van die besering of skade, sodat jy aandag kan gee aan jou liggaam. Die swelsel beskerm die gebied om te keer dat jy beweeg en meer irritasie veroorsaak. Bloedvloei na die gebied word verhoog om die natuurlike geneesagente in die bloed te lok en te mobiliseer, met teenliggaampies en ander genesende selle, om die genesings- en herstelproses te begin. Vandaar dan ook die verhoogde temperatuur en rooiheid. Jy is veronderstel om deur hierdie simptome aangemoedig te word om na jou liggaam te luister en te rus om die genesingsproses aan te help, eerder as om dit te probeer keer!
Hoewel die liggaam se reaksie ’n onaangename ervaring kan wees, is elke fase van inflammasie noodsaaklik vir genesing en herstel van weefsel. Sommige van die fases wat plaasvind wanneer die tipiese simptome van ’n inflammatoriese reaksie voorkom, behels:
•Chemiese seine word deur selle in die beseerde gebied vrygestel, wat meer bloed met witbloedselle en ander selle wat infeksies beveg, aantrek.
•Hitte word geproduseer deur die toename in selaktiwiteit asook oksidasie in die beseerde gebied.
•Swelsel kom voor wanneer bloedvate uitsit en meer deurlaatbaar raak, met vloeistof wat uitlek, sodat witbloedselle maklik by die beseerde gebied kan uitkom en daar kan bly. Hulle verswelg en vernietig enige bakterieë of afvalstowwe wat die inflammasie kan vererger, voortsit of verleng.
•Bykomende bloedselle (wat die kenmerkende rooiheid veroorsaak) dra teenliggaampies om toksiese stowwe en mikro-organismes te neutraliseer. Die bloed vervoer ook suurstof en voedingstowwe om die nuwe selle wat as plaasvervangers vir die dooie, beseerde selle en beskadigde weefsel dien, te voed.
•Pyn, met die doelwit om die beseerde persoon bewus te maak van die probleem en die aangetaste gebied te beskerm teen oorgebruik, is toe te skryf aan die geswelde weefsel wat druk plaas op senuwees, asook ’n gebrek aan suurstof in die beseerde weefsel.
Verder vind baie ander biochemiese reaksies plaas wat die vrystelling van verskillende chemiese stowwe wat met die immuunstelsel en die regulering van inflammasie verbind word, behels. Voorbeelde is verskillende soorte prostaglandiene (’n groep hormoonagtige stowwe wat verskeie biologiese prosesse reguleer) en sitokiene. Sommige prostaglandiene aktiveer inflammasie en ander skakel dit af sodra die funksie van die aanvanklike fases voltooi is. Daar is ’n baie doeltreffende, harmonieuse balans in hierdie pro- en anti-inflammatoriese prostaglandien-dans wat voortduur totdat die liggaam na sy pre-inflammatoriese, bestendige staat kan terugkeer.
Sodra die genesingsproses goed aan die gang is, vervaardig jou liggaam ook proteolitiese (wat beteken om proteïene af te breek) ensieme om as teenvoeter vir die inflammatoriese reaksie te dien en dit af te skakel, en na normale homeostase terug te keer. In ’n jong kind, waar hierdie proses meestal baie goed verloop, kan ’n wond binne ’n paar dae genees, maar dit kan ’n paar weke neem by ’n volwassene van 45 jaar. Namate jy ouer word, kan die doelmatigheid en produksie van die ensieme afneem, en die inflammasie stop dan nie wanneer dit behoort te stop nie. Die proteolitiese ensieme is ook verantwoordelik om die afval en toksiene uit die beseerde gebied te verwyder, en virus- en bakteriële infeksies te beveg, terwyl dit oormatige fibrien (littekenweefsel) afbreek. Fibrose is littekenweefsel wat oor tyd heen in die liggaam opbou en soveel beperkings en stremming op ons organe plaas dat hulle nie meer behoorlik kan funksioneer nie.
Gewoonlik kry ons natuurlike anti-inflammatoriese verbindings dit reg om infektiewe agente te vernietig, sellulêre afvalstowwe te verwyder en nuwe weefsel te skep. Indien hierdie reaksie egter nie heeltemal afgeskakel word nie, sal die konstante laegraadse vloei van inflammatoriese komponente in die bloed tot uit-gebreide afbreek en die vorming van littekenweefsel lei. Selle word dan voortdurend deur infeksie, stres of irritasie beskadig. Dit lei tot chroniese inflammasie.
AKUTE VERSUS AKUTE TOT CHRONIESE VERSUS CHRONIESE INFLAMMASIE
Chroniese inflammasie
Dit wat as ’n normale, gesonde immuunreaksie begin, verander in ’n uitgerekte, onbeheerde reaksie wat selle en weefsel van die liggaam vernietig, en chronies word. Dit berei die pad voor vir degeneratiewe siekte en versnelde veroudering. In die geval van outo-immuunsiekte, is die immuunstelsel so ongebalanseerd dat dit sy eie volmaak gesonde weefsel aanval en vernietig in plaas daarvan om die bron van die inflammasie aan te val.
Wanneer die liggaam hierdie verdedigende houding moet handhaaf, put die hiperbewuste immuunstelsel en brandende inflammasie die liggaam se energie- en hulpbronne uit. Die liggaam se vermoë om optimaal te funksioneer word bemoeilik wanneer organe en stelsels geleidelik afgebreek word. Hierdie verskuilde inflammasie