Duet. Johan Ferreira
na ons met sy aanbod van hoop. Sy belofte hier is so mooi kalm en sag, geen verwyt of aanklag, bloot die eenvoudige uitnodiging tot verbintenis met God oor jou toekoms. Nou is daar nie plek vir angs en stres nie, want Hy weet mos waaroor ek droom en waarop ek hoop. Emosioneel kan ek nou die onsekerheid by Hom laat, en myself bevry van vrees oor mislukking en teleurstelling.
Met die moeg moet ons egter werk. Dit het skynbaar minder met ouderdom te doen as wat ons vermoed. Die antwoorde op ons knelvrae wat ons soek op ander plekke lê opgesluit in ons verhouding met Hom.
Waar soek ek die antwoorde vir die vraagstukke van my lewe?
Soewereine God, laat my u teenwoordigheid in my lewe wyd en diep soek, en U vind, elke dag. Amen
14 Maart
Kommer is ’n doodloopstraat
Deuteronomium 31:6 – Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie. (NLV)
Die slagtande van bekommernis het eers werklik aan my begin knaag toe ek in ernstige verhoudings betrokke geraak het. So met die huwelik, ouer- en grootouerskap oortrek ’n kommervlaag soms my gees.
Dis ’n groot uitdaging om met ouers te werk wie se kinders geen goeie prognose op herstel het nie. Dis asof ek hul skaduwee deel en dit dan oorskuif na my eie bekommernisse oor my kinders se toekoms. ’n Ouerhart skakel mos nie af nie. Daar kom ’n tyd waarin die lewe hulle sal moet leer, so beraad iemand my vanuit die bank in my spreekkamer.
Ek bedink hierdie insig en besluit dit is aanneembaar. Want of jy nou oor jou kinders, ouers of honde sit en tob, geen vooruitgang sal gebeur deur negatiewe afwagting nie. ’n Wyse vriendin reken bekommernis is soos om vir die slegste gebeure te bid. Sy is inderdaad reg. Ouers behoort saam te bid vir positiewe uitkoms in hul kinders se lewe, eerder as om in vrees te sit en bewe. Ons kan natuurlik nie ander se keuses vir hulle maak nie. Die liefde sal hier maar moet oorwin, soms selfs reghelp en rig.
Verhoudings bly die grootste groeigeleenthede in mense se lewe. Dit is die kosbaarste hoeke van God se hart omdat Hy so graag ’n verhouding met ons soek. Hy is ons voorbeeld van hoe om verhoudings te bestuur, geduldig en in liefde, vas in die wete dat Hy in beheer is en bly.
Hoe kan ek my verhoudings bestuur sodat God verheerlik word?
Jesus Christus, wees en bly my rolmodel vir verhoudings in my lewe. Amen
15 Maart
Klein tye van groot geluk
Matteus 6:27 – Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek? (NLV)
Uitdagings is deel van die lewe. So glo ek as sielkundige ná baie jare in my stoel. Ek sien daagliks die skaduwee van planne wat nie uitwerk nie, gebeure wat die rigting van mense se lewe verander.
Ons jongste kuier uit Stellenbosch vir tien dae. Ek geniet die bederf van al die kuikens op hok. Aan die einde van die lekkerte is Christine weg Namibië toe, Ouboet lei kinderkerk by sy eie plek van aanbidding en ek en kleintjie wil die diens in ons eie hawe bywoon. Maar vanoggend haak die motor van die voorhek vas.
Ons kom darem daar uit, skuifel halfpad vorentoe in en bedaar soos die prediker uit Kaapstad sy keel skoonmaak. Hy lees van die dissipels op die skuit. Hy vertel van Jesus op die klipperige strand van die see van Galilea en die uitnodiging om anders te vis. Geen nodigheid vir ’n ander boot of see nie, net ’n perspektiefskuif na die ander kant.
Ná die diens drink ons koffie. Al die tannies druk my mooi kind. Hy verduur dit en glimlag oor die liefde vir iemand wat hulle lanklaas gesien het. Ons ontmoet sy broer vir manne-middagete. In die motor gesels ons altyd maklik, min oogkontak en verpligte betrokkenheid, soos toe hulle as klein seuntjies vuil en moeg saamgery het huis toe ná sport.
“Dink jy dis hoe dit is?” vra hy op ons min-woorde-manier. “Ja,” sê ek, “ek dink so.” “Is jou lewe ook so?” vra hy. “Dit is, Seun, meestal is die lewe moeilik, maar daar kom beslis tye van groot geluk.” “Soos nou,” sê hy. Ek antwoord nie, want my keel is dik.
Hoeveel tyd staan ek af aan bekommernis?
Vader, laat ek my bekommernisse by U laat sodat ek voluit kan leef. Amen
16 Maart
God ontrafel die kommerknopies
Psalm 121:3 – Hy wat jou beskerm slaap nooit nie.
Ons mooie land leef in ’n tyd van geweld. Elke week hoor ek die persoonlike belewenisse van mense wat deur die vloedgolf van skok moet werk nadat hul persoonlike, emosionele en gesinsgrense oortree is deur geweldenaars.
As gelowiges is ons natuurlik nie uitgesluit van hierdie blootstelling nie. Ons woon tog in hierdie wêreld. Natuurlik moet ons ook verantwoordelik wees oor ons veiligheid en dié wat ons liefhet verantwoordbaar beskerm.
In tye waarin ons nie meer soveel beheer oor dinge het nie, is ons natuurlikste toevlug ’n plek van veiligheid. Nie net fisiek nie, maar ook ’n emosionele en geestelike hawe. Hierdie geestelike toevouproses gebeur net in die teenwoordigheid van God.
Ek kan nie help om te dink aan die geloofshelde in Egipte wat ’n ruk gelede, internasionaal gebeeldsend, onthoof is vir hul geloof in die Lewende God nie. Terwyl ek daarna gesit en kyk het, kon ek myself nie keer om te wonder waaraan hulle in daardie oomblikke gedink het nie. Waaraan sou ek en my gesin gedink het as dit ons was? Sou ons so vas kon staan en so hoog kon leef dat ons God in daardie grusame oomblikke kon vertrou, en loof en eer?
Des te meer moet ons dan streef om in die alledaagse lewe van woel en werskaf, van kinders en huweliksmaats ons bekommernisse aan die voet van ons Heer te plaas – te oefen om die klein knopies in ons kop te ontrafel met die hand van God. Dan sal ons weet dat die grotes op dieselfde manier sal gebeur.
Vertrou ek werklik God vir die toekoms van my lewe?
Vader God, help my om my vertroue dieper aan U te oorhandig. Amen
17 Maart
Leef soos die veldblom
Matteus 6:30 – As God dan die veldplante wat vandag daar is en môre verbrand word, so mooi aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Is julle geloof dan so klein? (NLV)
Die wêreldekonomie spoel in ’n wye sirkel. Ons almal voel die impak van hoër oliepryse en swak wisselkoerse. Skielik is ons geld minder werd. Dis nie lekker as die gordel van verminderde geldwaarde om jou middellyf knyp nie.
Matteus vergelyk ons met veldplante. Dink aan daardie delikate veldblomme wat so vol selfvertroue op die vlaktes van die Karoo kan blom. Ek staan jaar ná jaar verslae oor die bolle wat in my stadstuin opkom, so asof hul wekker net nooit gaan staan of agter raak nie. As dit tyd is, dan stoot daai affodille groen puntjies boontoe; wanneer die tyd kom, dan blom die woestyn.
God gee ook die opdrag dat ons moet werk en ons brood in die aangesig van ons sweet moet verdien. So, natuurlik kan ons nie sit en niks doen nie. Van niks doen, kom niks, só sê juffrou Bergh uit my kinderdae.
Maar van bekommernis kom siek word. Só sê al die groot sielkundiges en mediese skrywers en navorsers. Die verwagting van dit wat sleg is, laat die brein daardie gedagte ontsyfer as die werklikheid. Dit waaroor jy so sit en tob, beleef jou brein as waar. Jou emosies reageer dan op jou nuwe waarheid en die stresvlakke van jou lyf en jou kop raak onuithoudbaar.
Gaan weer na sy Woord, gaan dink en lees en maak dit jou eie. So word ons soos die veldblomme, pragtig en volledig lewend op die tyd wat God beskik.
Wat in my gedagtes moet ek laat gaan en oorgee aan God?
Vader, help my om U te vertrou vir die volle spektrum van my behoeftes. Amen
18 Maart
Gedeelde vreugde, dubbele plesier
Handelinge 24:24 – Na ’n paar dae het Feliks, met sy Joodse