Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
gewees, Philip.”
Hy antwoord nie en eers toe hy terugkom met hulle bekers, herhaal sy dit.
“Jy het hom presies reg hanteer.”
“Vir hom was dit ook ’n lang dag,” sê hy redelik. “En hy het te veel gedrink. Môre sal hy kalmer wees.”
Sy drink ’n sluk en kyk na hom met groot oë. “Jy het gesê as ons môre uitgerus is, kan Jack my weer kry. Wat ek bedoel is, kan ek verder saam met hulle jolyt hou. Maar ek wil nie.”
“Dan hoef jy nie.”
“Al is hulle uitgerus en alles. Al skyn die son. Ek wil nie weer daar onder die afdak sit nie.”
“Dis in orde.”
Sy kyk hom dwingend aan. “Al vra Jack om verskoning? Al erken hy hy was verkeerd? Jy sal nie toelaat dat hy my terugdwing nie?”
“Nee.”
Sy drink nog ’n sluk. “Ek is nog glad nie uitgeslaap nie.”
“Ek is self nogal moeg,” sê hy. “Ek het gisternag ook nie eintlik geslaap nie.”
“Foeitog,” sê sy simpatiek. “Wat het jou wakker gehou?”
Sy lippe trek net effens. “Ek weet nie, ek kon net nie slaap nie.”
“Sal jy vanaand slaap?”
“Ek reken so, ja.”
Sy drink die Milo klaar, sit die beker neer en kyk af na die bank. “Wat hy netnou gesê het,” sê sy ongemaklik. “Hoeveel slaapkamers is daar hier? Ek het baie lekker geslaap op die bank en ek kan weer hier slaap.”
“Nicolette,” sê hy. “Watse soort man dink jy is ek? Hier is twee slaapkamers en as daar net een was, het ék vanaand op die bank geslaap.”
Sy word rooi. “Dis nie wat ek bedoel … ek weet mos jy sal nie … ek meen, jy het sulke wonderlike maniere en …”
Hy lag en staan op. “Vat die slaapkamer aan die linkerkant. My goed is in die ander een.” Hy sluit die voordeur en draai die knop om seker te maak dis toe. Sy het intussen opgestaan, die kombers slepend om haar en voor hy die lig afskakel, kyk hy deur die groot ruit af na die baai, ver onder. “Ek kan net noem dat hulle nog altyd besig is om partytjie te hou,” sê hy. “Ek sien hulle nog daar onder die afdak.” Hy skud sy kop en toets of die venster stewig toe is. “En dis nou ’n orkaan wat waai.”
“Ek dink ons moet môre huis toe gaan,” stel sy voor. “Ek het glad nie krag vir verdere rusies en onplesierigheid nie.”
“Rusies?” vra hy en sy een wenkbrou lig. “Ek maak met niemand rusie nie.”
“Ja, maar Jack …” Sy bly stil. “Jy het hom wonderlik hanteer, moet ek sê. Hy was lus vir baklei, maar as jy so kalm bly, kan niemand … wel, jy haal soort van die wind uit sy seile.”
“Ek is regtig nie bang vir Jack nie,” sê hy. “Maar ek dink self ons kan vroeg ry. Ek wil jou nie verder blootstel aan sulke onplesierige gedrag nie.”
“Ek wil net weer dankie sê,” sê sy en bly staan. “Jy was soos ’n … ek weet nie wat nie. ’n Engel uit die hemel. Teen die tyd dat jy uit die niet verskyn het, het ek begin dink ek is vasgevang in ’n nat, koue nagmerrie waaruit ek nooit gaan wakker word nie. Ek weet nie wanneer ek laas so dankbaar was om gered te word nie. Ek dink dit was toe ek omtrent vyf was en te hoog in die moerbeiboom geklim het, en niemand by die huis was nie en ek doodseker was ek gaan vir die res van my dae daar bly sit en toe kom my sussie vroeg van atletiek af en sy help my af.”
“Het jy bome geklim?” vra hy geamuseerd.
“Altyd. Maar dankie, Philip. Regtig. In my wildste drome het ek nooit gedink dat jy …”
“Dis waarvoor verloofdes daar is,” sê hy.
Sy antwoord liewer nie hierop nie, wens hom ’n goeie nagrus toe en klim in die bed. Dit was lekker om op die bank te slaap, maar dis beter op ’n sagte matras en dit duur nie lank voor sy weer vas slaap nie. En toe sy Sondagoggend wakker word, voel sy soos ’n nuwe mens. Dis al agtuur, maar die huisie is nog doodstil en sy trek die gordyne eenkant toe en kyk uit.
Dit reën nie meer nie; alhoewel daar nog wolke is, dryf hulle los verby op die fris wind en skyn die son in kolle op die see en baai. Onwillekeurig kyk sy af na die braaigedeelte, maar ook daar is dit verlate en stil. Sommerso in haar pajamas en op kaal voete loop sy na die kombuis en bly verras staan toe sy Philip sien. Hy dra ’n geruite kortbroek en wit T-hemp en staan gebuig oor die stoof. Hy het nogal mooi bene, sien sy voor sy nader staan.
“Môre,” sê sy vrolik. “Wat maak jy so intens?”
Hy skrik regop. “Môre. Ek e … ek wou vir jou ontbyt in die bed bring, maar …”
Sy staan nog nader en loer verby sy skouer. Op die stoof is ’n vinnig kokende kastrol water waarin slierte stollende eierwit die interessantste patrone maak. “Ek is op,” sê sy onnodig. “Wat is dit dié?”
Hy lyk baie verleë. “Ek wou vir ons geposjeerde eiers maak en hier is nie ’n posjeerpan nie, maar ek onthou toe iets wat my ma gesê het. Van hoe mens die eier net so in die kokende water gooi. Die ding is net, daar is glo ’n sisteem. Dit moet in dieselfde rigting as die bewegende water gaan of juis teen die stroom … by wyse van spreke. Ek kon nie onthou wat nie en soos jy kan sien …”
“Ja,” sê sy, haar oë vol lag. “Ek het ook so iets gehoor. Kloksgewys of nie.”
Hy wys na die malende bondel geel en wit slierte. “Dis ’n gemors,” sê hy somber.
Sy raak liggies aan sy skouer. “Los dit vir my. Ek het nie ’n besondere voorkeur vir geposjeerde eiers nie. Ek sal ontbyt maak.” Hy lyk verlig en staan weg.
“Maar is jy nie …?”
“Nee. Gisteraand was ek bedroef en bedroë, maar vanoggend is ek my ou self. Jy hoef my nie langer te bedien nie.”
Hy bekyk haar in haar strepiespajamas, besef dan dat hy self nog nie aangetrek is nie en lyk nog meer verleë. “Ek sal gaan aantrek.”
“Doen dit, ja. Ek wil net koffie kry dan trek ek ook aan.”
Hulle eet ontbyt voor die venster wat afkyk op die baai wat nou weer groen is en nie die nare grys-swart van die vorige dag nie. Sy tuur na Jack-hulle se chalets, maar daar is nog geen beweging daar nie. Geen wonder nie, dink sy suur, maar sy bly op haar hoede. Noudat dit nie meer reën nie, gaan Jack haar kom haal.
Asof hy haar gedagtes kan lees, kyk Philip op van sy roosterbrood. “Ek het gedink ons kan ry, as jy wil. Daar is ander plekke langs die kus waar ons kan … Of as jy liewer huis toe wil gaan, maar aangesien dit tog ’n langnaweek is en ons eers môre …”
“Ja,” sê sy dankbaar. “Ek … die plek is half bederf en ek is nie lus om my weer vas te loop in die ander nie. Veral omdat dit nie meer reën nie. Hulle gaan nou-nou opstaan en …”
“Ons eet klaar en ons ry,” sê hy.
Sy kyk na hom en soek die regte woorde. “Dankie, Philip,” is al waaraan sy kan dink.
Hoofstuk 9
Nicolette sê niks toe hulle ry nie, maar sy ontspan merkbaar toe hulle op die teerpad kom en die chalets nie meer sigbaar is nie. Sy blaas haar asem saggies uit en sit terug teen die sitplek.
“Was jy bang?” vra Philip.
“Nee,” jok sy. “Vir wie sal ek nou bang wees? Ek is net bly ons is weg. Gister se storm was net te traumaties en ek …”
Philip hou die stuurwiel styf vas. “Ek dink nie die storm is verby nie, hoor. Voel hoe ruk die wind aan die motor en die wolke word klaar dikker.”
“Maar ek hoef nie meer onder die afdak te sit nie,” ril sy.
Hy