Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
woonkamer en hy speel vir haar snitte wat sy wil hoor. Toe hy haar later by die hysbak groet, dink sy daaraan dat sy jare laas so ’n vreedsame, gesellige aand deurgebring het.
Elizma is nog wakker toe sy instap. Sy staan haar tande en borsel toe Nicolette inkom en kyk vraend om. “Lekker aand gehad?”
“Verbasend lekker.” Sy beskryf eers die dakwoonstel, die kos en toe die musiek. “Ek het nie geweet ons gebou het sulke woonstelle nie,” sê sy en sit op die rand van die bad om haar grimering te begin afhaal.
“Ek het nogal gewonder wat daar aangaan,” sê Elizma. “Mens kan die bome van die straat af sien.”
“Ek het dit nog nooit opgelet nie.”
Elizma droog haar gesig af en bekyk haar vriendin. Nicolette dra nog die dik trui en lyk soos ’n dogtertjie wat in ’n kombers toegerol is. Sy skud haar kop effens. “Jy was nog nooit baie oplettend nie, Nico,” sê sy.
“Ek is!”
“Nee, jy is nie. Jy sien net wat jy wil raaksien. Vir die mees ooglopende goed het jy ’n blinde kol.”
Hoofstuk 7
In die volgende paar weke tree hulle op soos hulle afgespreek het. Philip kom haal Nicolette smiddae by haar kantoor as nie een van hulle laat werk nie en dit gebeur nogal dikwels dat hulle dan vir Jack raakloop. Hy is altyd die vriendelikheid self. Groet hulle, bly altyd ’n ruk staan om eers te gesels en waai hulle agterna asof hulle doen en late nie die minste uitwerking op hom het nie. As hulle middagete eet by die plekkie net om die hoek van hulle gebou, is Jack ook gereeld daar. Dis nie ongewoon nie, hy en Nicolette het altyd daar geëet. Sy het eers gedink sy en Philip moet miskien ’n ander plek soek, maar dit sal juis haar plan verydel. Hy moet haar saam met Philip sien. Wat vir haar meer onrusbarend is, is dat hy ’n hele paar keer daar sit en eet met ’n donkerkopmeisie wat vir haar na ’n ballerina lyk. Lank, baie maer, streng teruggekamde swart hare en ’n klassieke gesig. Dis ’n nuwe meisie, nie deel van hulle ou vriendekring nie.
“Hoe kan ek hom jaloers maak as hy ’n ander meisie sit en aangaap?” vra sy daardie aand moedeloos vir Elizma.
“Dis duidelik dat hy jou ook jaloers wil maak. Dis ’n spel wat albei kan speel.”
“Dit maak my nie jaloers nie,” sê Nicolette kwaad.
“As jy so sê.”
“Ek steur my nie aan hulle nie, ek sit met Philip en gesels.”
“Dis goed. Hou so aan. Die blote feit dat Jack dit probeer, wys hy is bekommerd.”
Nicolette wens sy kan dit glo, maar sy ken Jack te goed. Hy is nie ’n alleenloper nie, hy wil altyd tussen en by mense wees. Hy is veral nie ’n man wat sonder ’n meisie aan sy sy wil wees nie. Sy gaan bedroë daarvan afkom as hy nou op iemand anders verlief raak. Waar sy dus klaar besluit het om nie die langnaweek saam met Jack weg te gaan nie, verander sy nou van plan.
“Ek dink ek sal maar gaan,” sê sy vir Philip. “Ek moet hom seker ’n laaste kans gee. Ons kan nie net mekaar vermaak met ander mans en meisies nie.”
“Soos ek gesê het, dis jou keuse. As jy seker is dit is wat jy wil doen, moet jy dit doen.”
Sy voel tog half sleg hieroor al weet sy nie hoekom nie. “Wat doen jy vir die langnaweek?” vra sy.
“Ek het nie planne gemaak nie.”
“Jy gaan tog seker nie net hier sit nie?”
Hy glimlag skewerig. “Ek het dit al baie naweke gedoen. Ek is een van daardie soort mense wat nie voel elke langnaweek moet tot op die droesem geledig word nie. Om by die huis te bly en in my tuin te vroetel en te lees, is vir my baie lekker.”
Dit klink vir haar ook lekker, maar sy sê dit nie. Twee jaar aan Jack se sy het haar al gewoond gemaak aan ’n lewe waarin daar altyd opgehoopte werk is, take wat nie lewensbelangrik is nie, maar wat net van week tot week verder teruggeskuif word omdat elke naweek of vakansiedag vir iets gebruik word. Some wat losgerafel het en nie ingesit word nie, wasgoed wat ophoop, klein goedjies. Naweke is nie om te rus nie, dit moet gebruik word om uit te gaan en dinge te doen.
’n Ander komplikasie is haar ma. Sy het een middag ná werk by die woonstel aangekom net nadat Philip vir Nicolette afgelaai het en sy het binne sekondes die ring aan Nicolette se vinger gesien. Sedert Nicolette se pa vyf jaar gelede oorlede is, is mevrou Meiring baie bedrywig. Sy dien op allerlei rade, sy ondersteun al die kunste en het kort-kort ’n ander man aan haar sy, al het sy haar dogters verseker sy sal nie weer trou nie. Hulle wens eintlik sy wil, want sy bly nog in die huis waarin hulle grootgeword het en hulle bekommer hulle dat sy alleen is. Aan die begin wou sy hê Nicolette moet in die huis aanbly, maar sy het nooit daarop aangedring toe sy sien dis belangrik vir haar om onafhanklik te wees nie.
“Wat is daardie ring aan jou vinger?” vra sy toe sy dit raaksien, “Wys, dat ek sien.”
Nicolette hou haar hand gedweë uit. “Is dit nie mooi nie?”
“Lieflik,” sê haar ma en haar oë flonker. “En jy dra dit aan jou trouvinger. Het Jack uiteindelik op sy knieë gegaan?”
“Nee, Ma, ek is verloof aan Philip.” Toe sy sien hoe haar ma se oë rek, praat sy vinniger. “Ek is nog van plan om hom aan Ma te kom voorstel.”
“Wie’s Philip?” kryt haar ma. “Waar is Jack?”
Nicolette val weg met haar verduideliking oor waarom sy en Jack besluit het hulle pas nie regtig by mekaar nie en sy en Philip wel.
“Hoe kon dit so skielik gebeur het?” vra mevrou Meiring.
“Ek ken Philip al lank.”
“Ek het nog nooit van hom gehoor nie. Waar is Jack?”
“Waar hy nog altyd is. Ons sien mekaar by die werk. Ons is nie kwaaivriende uitmekaar nie.”
Haar ma lyk of sy nie ’n woord hiervan glo nie. “Ek moet met hom praat,” sê sy. “Wat gaan met hom aan? Julle twee is al hoe lank saam en ek dog jy is so lief vir hom en …”
“Ma gaan nie met hom praat nie,” sê Nicolette streng. “Dis tussen ons en dis verby.”
“Dis seker nie onwaarskynlik nie,” gee haar ma toe. “Ek weet ek het partykeer gedink julle pas nie regtig bymekaar nie, want hy is lief vir jol en jy nie, maar waar kom hierdie Philip so skielik vandaan? Dis mos nie logies nie? Ek sien jou vir twee weke nie en skielik is daar ’n ander man op die toneel.”
’n Paar dae later kom haar ma weer daar aan, op pad na die opera en hierdie keer is Philip daar. Hy het vir Nicolette ’n CD gebring en hulle staan nog daaroor en gesels toe mevrou Meiring op haar gewone flambojante wyse ingewaai kom.
As mense vir haar sê sy lyk meer na haar dogters se suster as hulle ma is hulle amper reg. Toe haar ligbruin hare begin grys word, het sy dit rooi gekleur. Sy lyk nie net jonk nie, sy trek ook so aan.
“As ek sewentig is, mag julle my middeljarig noem,” het sy aangekondig. “Nie ’n dag vroeër nie.”
Philip kyk op toe sy inkom en herken die familietrek. Nicolette het mevrou Meiring se oë en hartvormige gesig. Nicolette lyk verskrik, maar stel hulle gou aan mekaar voor.
“Aangename kennis,” sê mevrou Meiring sjarmant en bekyk hom van kop tot tone. Wat sy sien, stel haar nie teleur nie. Hy is nie naastenby so aantreklik soos Jack nie, maar hy is nie ’n onaansienlike man nie. Sy gesig is reëlmatig; ’n mooi reguit neus, sterk ken en ferm mond en sy grys oë kyk haar sonder skroom aan. ’n Volwasse man, is haar eerste indruk. Selfs sy wat dol is op Jack sal die eerste een wees om te erken Jack is nie volwasse nie. “Jy is vir my ’n groot verrassing,” sê sy. “Hoe is dit dat ek nie van jou geweet het nie?”
“Ons was self verras,” sê hy.
Nicolette red hom deur haar ma uit te vra oor die opera en saam met wie sy gaan. Haar ma antwoord geredelik genoeg, maar haar oë bly dwaal