Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
pop, my liewe pop,” sê hy toe hy tot bedaring gekom het. “O, jou klein onnut. Ja, ek sien. Ek verstaan. Jy en Philip is verloof.”
“Presies,” sê sy onseker, haar oë soekend oor sy gesig na die oorsaak van sy gelag.
“Mag ek dan die eerste wees om jou geluk te wens?”
“Dankie.”
Hy buk af en soen haar kuis op die wang. “Ek hoop julle sal baie gelukkig wees.”
“E … dankie.”
Hy tel haar hand op en kyk na die ring. “Tot ’n ring ook,” sê hy, sy oë vol dansende liggies. “Die man is inderdaad paraat. Ek sal spesiaal môre ’n draai by hom gaan maak om hom geluk te wens. Is die troudatum al vasgestel?”
“Nee, natuurlik nie.”
“Julle is seker nie haastig nie,” sê hy.
“E … nee.”
“Natuurlik nie.” Hy soen sy vingerpunt en waai dit in haar rigting. “Lekker slaap, pop.”
Sy kyk hom fronsend agterna toe die deur toegaan. Die gesprek het glad nie verloop soos sy dit voorsien het nie. Hy lyk allesbehalwe ontsteld. Hy lyk, om die waarheid te sê, dik van die lag.
Elizma loer uit haar oop kamerdeur en kom nader. “As jou beste vriendin het ek die reg om saam te luister,” sê sy. “Daar was geen manier wat ek my hare sou blaas terwyl jy vir Jack vertel nie.”
Nicolette draai om en kyk haar vraend aan. “Het jy gesien hoe vrolik is hy hier weg?”
Elizma knik. “Wel, ek kon hom nie sien nie, maar ek het hom gehoor. Aan die begin wou ek net onder my matras induik, want ek het gevoel hier kom ’n groot rusie, maar toe …”
“Toe kry hy so ’n duiwelse lag in sy oë,” sê Nicolette in ’n plat stem. “Hy sien dwarsdeur my plan, die ring ten spyt.”
“En nou?” vra haar vriendin.
“Ek is nou moeg,” sê Nicolette kwaad. “Ek gaan nou in die bed klim en my boek lees. Ek is moeg vir mans.”
Sy droom die hele nag deurmekaar stories waarin sy en Philip en Jack saam met ’n skare jillende jongmense op ’n boot is. Sy wil afklim, want die see is stormagtig, maar Jack keer haar en dit raak net deurmekaarder, met mense wat eet en drink en dan meteens almal in die berghut sit. Sy is bly toe dit oggend is en sy kan opstaan.
By die werk speel Herman ’n CD wat klink soos ’n drukboor wat oor ’n stamperige pad loop.
“Draai dit sagter,” sê sy. “Jinne, Herman, so vroeg op ’n Maandagoggend is dit bietjie kwaai.”
“Verkeerde voet uit die bed geklim?” vra hy simpatiek, maar draai dit tog af. “Horrible naweek gewees?”
“Nee, baie lekker naweek, dankie. Ek het net ’n effense hoofpyn.” Sy skakel haar rekenaar aan en begin werk. Werk is ’n goeie ding, dit dwing haar kop weg van die verkeerde soort gedagtes.
Maar sy voel sy moet met Philip praat en gou ook, voor Jack by hom kom. Daar is ’n telefoon op haar lessenaar en dat Herman gaan saamluister, is buite die kwessie. Sy staan op en dié keer draf sy sommer met die trappe na die agtste verdieping. Sy waai net vir die ontvangsdame en haas haar die gang af na Philip se kantoor. Daar bly sy vinnig staan, want hy het iemand by hom.
“Nicolette,” sê hy toe hy haar sien en staan op.
“Jammer,” fluister sy. “Wou jou net ’n oomblik spreek. Sal later terugkom.”
Hy kom agter sy lessenaar uit. “Net ’n oomblik,” sê hy vir die man wat oorkant hom sit. “Verskoon my. Is iets verkeerd?” vra hy toe hy in die gang voor Nicolette staan. “Jy lyk oorstuur.”
“Nee, nee,” fluister sy en kyk om haar rond of iemand luister. “Maar ons moet praat. Jack het gisteraand daar aangekom en hy … hy gaan jou vandag kom gelukwens. Hy’t so gesê.”
“Ja,” sê hy op sy kalm manier. “Dis in orde. Ek is hier.”
“Jy verstaan nie,” sê sy dringend. “Eers het hy kwaad geword en toe’t hy begin lag. Ek dink nie hy glo my nie. Ons sal ons plan … of ons sal iets anders of …” Sy vee oor haar voorkop. “Ek het sleg geslaap gisternag.”
“Daar is regtig niks om jou oor te kwel nie,” sê hy. “Ek kan ongelukkig nie nou praat nie, ek het nogal ’n besige dag voor my. Doen jy vanaand iets?”
“Nee.”
“Waarom kom eet jy nie by my nie?”
“By jou?” vra sy dom.
“In my woonstel, ja. Dis in die wesvleuel, soos ek gesê het. Die nommer is 12A. So sewe-uur? Of moet ek jou kom haal?”
“Nee,” sê sy. “Nee, dis nie nodig nie, ek sal dit kry, maar wat van Jack en wat sal hy …”
“Jack is glad nie meer jou bekommernis nie,” sê hy. “Laat dit aan my oor. Sewe-uur vanaand?”
Sy knik en loop half oorbluf terug na haar kantoor. Hy ken nie vir Jack soos sy hom ken nie. As hy besluit om snaaks én sarkasties te wees, sal hy die arme Philip vermorsel. Sy skud haar kop en wonder hoekom sy nog altyd aan hom dink as arme Philip. Sy is die een wat hier rondfladder, nie hy nie. Hy het totaal ongestoord gelyk.
“Jack was hier rond,” sê Herman vir haar toe sy weer sit. “Ek het gevra of hy na jou soek en hy het nee gesê. Het julle baklei, of wat?”
“Nee,” sê sy gemaak lig. “Ons is nie meer …” Sy haal diep asem en besluit sy kan netsowel begin jok. Hoe gouer hoe beter. “Ek het die naweek verloof geraak.”
Hy swaai so vinnig om dat sy stoeltjie zoem. “Verloof? Aan wie?”
“Ek dink nie jy ken hom nie. Philip de Waal.”
“Slaan my dood,” sê hy verstom. “Maar wat van Jack? Hy het nie eintlik ontsteld gelyk nie.”
“Waarom sal hy? Ons het saam besluit dat ons nie regtig by mekaar pas nie. Dis nie asof ons mekaar nou haat nie.”
“Wel,” sê hy. “Wel. En hier kwel ek my omdat jy al die jare so gedienstig doen wat hy wil en sê wat hy wil en …”
“Ag, skei uit,” sê sy suur.
Hy kyk na haar en rol sy stoel terug na waar dit was. “Gaan jy vir ons koek koop om dit te vier?”
“Nee.”
“’n Hamburger vir middagete?” vra hy hoopvol.
Sy moet lag. “Ja, ek sal vir ons middagete koop. Toe, werk nou. My liefdeslewe is regtig nie so interessant nie.”
Toe sy teen halfsewe die aand aantrek, wonder sy wat op aarde mens aantrek as jy gaan eet by jou verloofde wat nie eintlik jou verloofde is nie. Formeel of informeel? Op die ou end borsel sy net haar hare tot dit blink, trek ’n swart fluweellangbroek en wit bloes aan en groet vir Elizma wat haar gefassineerd bekyk.
“Kan hy kook?” wil sy weet.
“Hoe moet ek weet?” sê Nicolette. “Dis nie asof ek hom ken nie, is dit? Ek voel ons moet praat, dis al. ’n Sterker strategie uitwerk.”
“Soos?”
“Ek weet nie. Sien jou later.” Sy tel haar handsak op en stap die gang af na die hysbakke wat in die sentrale gedeelte is.
Die drie vleuels loop soos die speke van ’n wawiel uit die middelste as en sy neem die hysbak wat na die wesvleuel lei. Toe sy op die twaalfde verdieping uitklim, lyk dit vir haar nes die gang voor haar en Elizma se deur behalwe dat die nommers glad nie klop nie. Dit begin by 120 en loop tot by 126, wat ook min of meer is soos sy dit ken, aangesien daar ses woonstelle op elke verdieping is, maar waar hy aan die 12A kom, begryp sy nie. Dis eers toe sy half moedeloos aan die einde van die gang bly staan dat sy die trappe sien en ’n bordjie met