Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
heen en weer. Sy wip toe sy die voordeur hoor oopgaan en stemme in die woonkamer praat. Dis Elizma en Heinz wat teruggekom het en hy bly blykbaar nie, want ná ’n paar minute hoor sy Elizma groet en klap die voordeur weer.
“Hallo!” roep Elizma. “Is jy hier?”
“In die bad,” roep Nicolette terug. “Ek is nou daar.” Sy was haar gou en na vyf minute kom sy uit, weer in haar kamerjas en met ’n handdoek om haar kop.
“Lekker naweek gehad?” vra Nicolette.
“Baie lekker, dankie, en jy?”
Nicolette trek die handdoek af, buig haar kop vorentoe en begin haar hare droogvryf. “Heerlik,” mompel sy tussen die nat hare deur.
“Jy en Philip goed klaargekom?”
“Mm,” sê Nicolette en vryf verwoed.
“Ek kan nie met jou praat solank jy onderstebo hang nie,” sê Elizma. “Ons het vanmiddag groot geëet, jy kan dink, skoonma het haar lekkerste kos gemaak, maar is jy honger?”
“Nee, glad nie. Sal ’n bietjie vrugte eet.” Nicolette kan nie langer onder haar hare wegkruip nie, sy skud dit agteroor en kam dit glad.
“Vertel nou eers,” neul Elizma en gaan sit op die armleuning van die bank. “Hoe het dit toe verloop? Het jy en Philip goed klaargekom? Wat dink hy van jou plan? Voel hy nie beledig dat jy hom so gebruik nie? Wat sê ek beledig, gekrenk is die regte woord. Voel hy nie ge- …”
Nicolette hou haar linkerhand voor Elizma se neus op. “Verloof,” sê sy.
Elizma staar na die hand, buig vooroor en bestudeer die mooi ring in stomme ongeloof. “Nico,” sê sy en druk al twee hande oor haar mond. “O wee. Nee, ek glo dit nie.” Sy begin lag tot haar oë traan. “Ek trek alles terug wat ek gesê het. Jy weet beter as ek. Ek was doodseker die hele spul gaan uitloop op ’n gemors en komplikasies wat geen regdenkende mens kan soek nie. Ek het vir Heinz vertel en hy het net sy kop geskud en gesê vir hom klink dit na sotterny en jy gaan …”
“Hoekom het jy vir Heinz vertel?” onderbreek Nicolette haar.
“Hy sal tjoepstil bly, jy ken hom. Ek het hom met sy hand op sy hart laat sweer dat hy deel is van die komplot of anders is jy nie meer sy tweede beste vriendin nie.” Sy begin weer lag. “En nou is dit nie eens meer nodig nie. Ek haal my hoed vir jou af, nie net het ek nie geglo jou plan gaan werk nie; in my wildste drome het ek nie gedink dit gaan so vinnig werk nie!”
“Waarvan praat jy?”
“Jy sê julle is verloof, dan nie? Is hierdie pragtige ring ’n verloofring, of wat?”
“Ja, maar …”
“Wag,” keer Elizma. “Ek weet wat gebeur het. Jack het te hore gekom van jou plan en vir Mauritz net so gelos en hiernatoe gejaag met die ring.”
“Nee,” sê Nicolette. “Ons het eers omtrent ’n halfuur gelede teruggekom.”
Elizma se lag droog op. “O, goeiste. Was dit onplesierig? Het Jack sowaar berge toe gery en julle daar loop konfronteer? Hoe aaklig moes dit nie vir die arme Philip gewees het nie. Sies, Nico, dis nie regverdig teenoor hom nie. Dis jy wat hom in so ’n haglike posisie geplaas het. Was Jack baie kwaad? Ek hoop hy was vir jou kwaad en nie vir die arme Philip nie. Maar dis die mooiste ring wat ek nog gesien het, hoor. Dit lyk antiek. Ek het nie geweet Jack het sulke goeie smaak nie.” Sy hou haar hand in die lug.“Jammer , ek wil die man nie in die gesig vat nie, maar jy moet saamstem daardie dasse wat hy dra, om nie te praat van …”
“Is jy klaar?” vra Nicolette. “Kan ek dalk praat?”
“Absoluut,” verseker Elizma haar. “Ek kan nie wag om alles te hoor nie. Begin van die begin af.”
“Ons het die twee dae baie geniet,” sê Nicolette en gaan sit oorkant Elizma. Sy trek haar vingers deur haar klam hare en skud hulle droog op ’n manier wat weer vir Elizma jaloers maak.
“Philip was ’n baie gawe metgesel en het die rustigheid net soveel soos ek geniet.”
“Tot Jack opgedaag het.”
“Ek dog jy het gesê jy gaan nou luister?”
Elizma druk ’n vinger teen haar lippe. “Ek swyg. Vertel.”
“Ons het gestap en by die waterval gesit en vleis gebraai en geslaap. Philip het glad nie gedink my plan is so vergesog nie en hy het nie beledig gelyk nie. Hy het net een voorstel gemaak.”
“Dat hy ’n koeëlvaste baadjie koop?”
“Nee! Dat ons verloof raak. Dat ons vir mense sê ons is verloof. Wel, vir Jack hoofsaaklik.”
Elizma se gesig is ’n prentjie. Die onheilige lag verdwyn uit haar oë en haar mond val letterlik oop. Vir ’n volle minuut staar sy net na Nicolette. “Ekskuus?” vra sy flou. “Sê weer?”
“Dis logies,” sê Nicolette. “Ek wou ook eers lag, maar ek dink hy het ’n punt. Hy sê Jack beskou hom as so skadeloos dat hy nie jaloers sal wees as hy hoor ek en Philip was die naweek in die berge nie. Hy sal reken dis soort van asof ek en my broer weggegaan het. Nie dat ek ’n broer het nie, maar jy weet wat ek bedoel.”
“Ja?” vra Elizma in ’n piepstem.
“Ja. My eerste reaksie was ook dat dit verregaande is, maar ek moes besef hy is reg. As die plan is om Jack te laat skrik, moet hy ordentlik skrik. Ek het toe ingestem en ons het huis toe gekom.”
“En het hy die ring die hele naweek met hom saamgedra?”
“Moenie laf wees nie. Hy het dit nou-nou hier aangebring. Ek het jou mos vertel hy bly al die tyd in daardie ander vleuel. Ek was net van plan om in die bad te klim toe hy hier aanklop met die ring.” Nicolette bekyk die ring opnuut. “Ek wou dit nie vat nie, dis te waardevol. Te uniek, sou ek sê. Was sy ouma s’n, vertel hy. Hy’t sy oupa se name.”
“Dit mag wel wees,” sê Elizma. “Maar mens dra nie so ’n waardevolle ring sommer vir die grap nie.”
“Ek voel ook so.”
“Maar jy dra dit dan.”
“Hy het aangedring.”
Elizma se wenkbroue lig. “Is Philip die soort man wat aandring?”
Nicolette draai ’n string hare op haar vinger, haar oë in die verte. “Weet jy, ek het agtergekom ek weet glad nie watse soort man hy is nie. Ek ken hom as iemand wat nooit sy mond oopmaak nie, wat oor sy voete val as mens hom gaan sien in sy kantoor. Jy weet? Soort van lomp en onbeholpe en skaam.”
“Ek weet nie van die onbeholpe nie,” sê Elizma. “Maar ja, hy is stil en inkennig en allesbehalwe opdringerig.”
“Ja,” gee Nicolette toe. “Ek dink nog altyd hy is nie opdringerig nie, maar hy … ek weet nie. Hy weet wat om te doen en hy val nie regtig oor sy voete nie. Hy is … hy is prakties en so.” Sy skud haar kop. “Maar ek weet nie. Ek het gedink ek het hom klaar opgesom en ek het nie.”
“En hy is gewillig om deel te wees van so ’n klug – om jou selfs hierdie mooi ring te laat dra?”
Nicolette lyk ’n oomblik lank weer skuldig en helder dan op. “Ja, maar dis ’n klug waarby hy ook kan baat, sien.”
Elizma kyk haar onbegrypend aan. “Hoe?”
“Daar’s ’n meisie op wie hy al jare sy oog het. Nee, dis ernstiger as dit. Hy sê sy is die enigste meisie vir hom, dis hoekom hy nog nie getroud is nie. Hy is al sewe en dertig, weet jy?”
“Watse meisie?”
“Ek ken haar nie, maar haar naam is Amelia en ek het onderneem om my bes te doen om hulle bymekaar te bring. Hopelik skrik sy ook as sy besef hy het nou iemand anders.”
Elizma lyk baie skepties. “Jong, ek hoop julle weet wat julle doen. Vir wie gaan julle nou almal vertel