Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
self, my ma is al om die hawerklap hier by my, sy sal dadelik die ring raaksien. Nee, ons sal maar moet jok. Dis jammer, maar nodig. ’n Verlowing is tog nie bindend nie, nes Jack besef wat hy verloor het, verbreek ons die verlowing. My ma sal nie omgee nie, jy weet hoe erg is sy oor Jack.”
Elizma staan op. “Wanneer gaan jy vir Jack vertel?” Sy dink aan iets. “En wat laat julle dink hy gaan dit glo? Jy ken skaars vir Philip en meteens is julle verloof.”
“Dis maklik. Philip het my daarop gewys dat Jack nie eintlik weet wat ek doen, of saam met wie ek is, as ek nie by hom is nie. Ons sal net sê ons is al lankal vriende en het nou besef ons is vir mekaar gemaak.”
“Ek gaan nou bad,” sê Elizma beslis. “Jy laat my kop draai en dis môre skool.”
“Ek gaan ook vroeg inkruip,” stem Nicolette saam. “Wat van bietjie rooibostee?”
“Dit sal lekker wees.”
Nadat Elizma gebad het, help Nicolette haar om haar hare in te draai en sy sit agter haar met die haardroër toe die deurklokkie lui.
“Wie’s dit dié tyd van die aand?” vra Elizma vies.
Nicolette giggel. “Ek hoop nie dis weer Philip met nog verlowingsgeskenke nie.”
“Maak oop,” sis haar vriendin. “En ek is nie hier nie. Ek sal my hare verder in die kamer gaan blaas.”
Nicolette stap na die voordeur en maak oop.
“Pop!” sê Jack en lig haar van haar voete af.
Sy is glad nie voorbereid om hom nou al te sien nie en sy laat amper toe dat hy haar soen voor sy wegruk.
“En nou?” vra hy, glad nie afgesit nie. “Ek het spesiaal vroeg teruggekom sodat ek hier kan inloer. Jis, maar ons het ’n lekker twee dae gehad. Sien jy hoe ek verbrand het? Die son was skerper as wat ek verwag het en …” Hy hou nog sy arm om haar lyf. “Ons het klaar afgespreek om dit oor ’n paar weke weer te doen. Ek weet jy hou nie van so ’n groot klomp mense nie, maar jy kan nie dink hoeveel pret ons gehad het nie. Mauritz het net twee van die chalets bespreek en daar is ons toe so ’n klomp dat ons omtrent in die baddens moes slaap.”
Sy trek ’n gesig.
“Baie ordentlik, pop,” verseker hy haar. Sy gesig is inderdaad rooierig, maar hy is van nature so bruingebrand dat dit nie maklik sigbaar is nie. Sy oë lyk net blouer en sy tande witter. Sy swart hare val souterig oor sy voorkop en sy onderdruk die begeerte om dit terug te vee. “Ons het een chalet vir die vroumense en een vir die mans gemaak. Jy hoef nie bekommerd te wees nie en glo my, volgende keer gaan jy saam. In die middel van die nag het die vroue besluit om ons ’n poets te bak en emmers water deur ons vensters te gooi en …”
Nicolette maak haar oë toe. Sy word moeg net om na hom te luister. “Dis nie my soort van ding nie,” sê sy. “Jy weet dit.”
“Maar dit was soveel pret! Natuurlik is alles toe nat en jy kan dink die meeste van ons het toe al bietjie te veel bier gehad, maar na ons alles opgedroog het, hou ons toe ’n middernagfees op die sand.” Hy lag uitgelate by die herinnering. “Ek het nie veel geslaap nie, dit kan ek jou verseker. En ek gaan nie weer sonder jou nie. Ons het op die kalender gekyk en oor drie weke is mos ’n langnaweek. Ons het sommer klaar weer die chalets bespreek en jy gaan saam.”
“Jack,” probeer sy keer. “Jy weet ek is nie ’n ou vir ’n boot nie.”
“Jy hoef nie op die boot te gaan nie. As ons uitgaan, kan jy swem of op die strand lê. Dis die lieflikste baai, ek weet nie hoekom ons nog nie vantevore daar was nie. Behalwe die chalets is daar net ’n paar huise. Stil plek, jy sal daarvan hou.”
Die naweek klink vir Nicolette allesbehalwe stil, maar sy sê dit nie, sy wag net dat Jack ophou vertel. “Dit word nou koud vir op die strand lê.”
“Nee wat,” sê hy. “Ek het die koue nooit gevoel nie. Ons het natuurlik duikpakke aangehad.” Hy kyk af na haar asof hy haar nou vir die eerste keer raaksien. “Gaan jy my nie binnenooi nie?”
“Dis laat.”
“Ek sal nie nee sê vir ’n glas wyn nie.”
“Ek dink nie so nie,” sê sy en soek na die regte woorde om haar nuwe rol mee te speel.
“Iets is verkeerd,” sê hy en vou sy hand onder haar ken. “Wat is dit, pop?”
Sy druk sy hand vies weg. “Gaan jy my nie vra hoe mý naweek was nie?”
Hy klik sy tong. “Jammer, diertjie. Hoe was dit toe?”
“Wil jy nie weet wie ek saamgevat het nie?”
Dit dring uiteindelik tot hom deur dat sy nie reageer soos normaalweg nie en hy plooi sy gesig dadelik om belangstellend te probeer lyk. “Vertel my van jou naweek,” nooi hy. “Maar kan ek nie eers ’n glas wyn kry nie?”
Sy bly staan waar sy is. “Nee. Ek het vir Philip saamgenooi.” Die lag verdwyn nie dadelik uit sy gesig nie.
“Philip,” sê hy. “Philip wie?”
“Moenie jou dom hou nie, Jack,” sê sy ongeduldig. “Philip de Waal.”
Hy staar na haar. “Hoekom wou jy dit doen?”
“Ek moes iemand saamneem. Jy’t self so gesê en Philip is my … my beste vriend.”
“Is dit so?” vra hy en sy oë vernou. “Van wanneer af?”
“O, van lankal af. Ons deel soveel … e … soveel belangstellings.”
Hy staan lank na haar en kyk, so skerp dat sy verleë raak en wegkyk. “Jy en Philip, nè?”
Sy lig haar linkerhand. “En hierdie naweek het ons vir die eerste keer besef hoe … e … hoe …” Sy maak hard keel skoon. “Hoe lief ons vir mekaar is en nou is ons verloof.” Sy lig haar hand hoër sodat hy noodgedwonge na die ring moet kyk.
“Verloof?”
“Ja,” sê sy. “Ons is verloof.”
Hoofstuk 6
Jack se gesig verdonker. Hy staan ’n tree terug, vee sy hare van sy voorkop af en bly kyk na haar. Vir ’n lang ruk sê hy niks nie. “Jy en Philip,” sê hy.
Sy voel dronkerig in haar kop. “Ja.”
“En dit gaan al lank aan.”
“Ons was nog altyd goeie vriende,” sê sy en wens Elizma wil uit die kamer kom en haar red. “Dis eers dié naweek dat ons besef het ons gevoel is …”
“Strooi,” sê Jack.
“Ek is baie jammer,” sê sy vals. “Maar ek het ook agtergekom jy het jou eie lewe en jou eie aktiwiteite en ek is nie eintlik deel daarvan nie. Ek meen, dis nie asof ek en jy sou trou of so iets nie. Ons is nie verloof nie en mens se hart …”
“Nonsens.”
“Dis waar, Jack,” sê sy, haar stem nou sterker. “Jy doen wat jy wil en ek val in as dit kan, maar ek en jy …”
“Jy is mal oor my.”
“Nie meer nie. Ek is nou verloof aan iemand anders.”
“Aan Philip!” sê hy veragtend.
Dit maak haar kwaad. Philip is ’n goeie mens en sy is ’n mate van lojaliteit aan hom verskuldig. “Ja, aan Philip. En ek sal dit op prys stel as jy niks beledigends van hom sê nie.”
“En dit net omdat ek nie die naweek alleen op ’n bergpiek wou loop sit nie.”
“Dit was bloot die laaste strooi,” sê sy. “Dit het my oë oopgemaak.”
Hy staar nog al die tyd tastend oor haar gesig en stadig verander die donker uitdrukking in sy oë. “Ek sien,” sê hy kalmer. “Ja, ek dink ek verstaan.”