Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
“Ek het gedog ek het verdwaal en …”
“Kom binne,” sê hy. “Naand, Nicolette. Ek moes jou gesê het dis die dakwoonstel.”
Hy lei haar na binne en vir die volgende tien minute sê sy nie ’n dooie woord nie. As sy oor die saak gedink het, sou sy gereken het Philip bly in ’n woonstel nes hare of miskien kleiner. Daar is op elke verdieping drie eenslaapkamerwoonstelle en dieselfde hoeveelheid met twee slaapkamers, soos hare. En dis glad nie wat hy het nie. Hy bewoon wat vir haar lyk na ’n huis bo-op die gebou.
Dit strek in alle rigtings uit, met glasdeure na alle kante. Die woonkamer loop uit op ’n tuin. ’n Regte tuin met groterige bome, tuinmeubels en bakke en potte vol plante met blomme. Die huis – sover sy kan sien – is karig gemeubileer in die sin dat daar min meubels is, maar wat daar is, lyk vir haar van hoë gehalte. Groot roomkleurige rusbanke en leunstoele, ’n mooi kas of twee, ’n glaskoffietafel.
“Ek het maar gekoop wat ek nodig gehad het,” verduidelik hy. “’n Sin vir binnenshuise versiering het ek nie.” Maar oor die tuin is hy meer entoesiasties.Hy wys vir haar wat daar was toe hy die plek gekoop het en wat hy alles bygevoeg het.
“Dis baie mooi,” sê sy flouerig. “Ek het nie eens geweet daar bestaan so ’n plek nie. Ek dog al die woonstelle lyk maar … wel, dieselfde.”
“Ek hou van ruimte,” sê hy. “Seker omdat ek grootgeword het met die Vrystaat se uitgestrekte vlaktes om my. Ek hou nie daarvan om ingehok te voel nie en hier kan ek my verbeel alles is oop en wyd.”
“Dit is.” Sy leun oor die relings om die daktuin en kyk af op die stad. As sy haar kop skuins draai en effens oorbuig, verbeel sy haar sy kan die agterkant van haar woonstel sien.
“Ek het vir ons pasta gekry by die Italiaanse delicatessen,” sê hy toe hulle later aansit. “Van basiese kosmaak weet ek, maar nie van deftige kos nie.”
“Jy hoef nie soveel moeite te gedoen het nie.”
“Dis nie moeite nie. Ek het net gedink ons sal hier meer privaat wees om te praat as in ’n restaurant en jy het gelyk asof jy iets op die hart het.”
Sy lig haar glas. “Het Jack jou toe kom gelukwens?”
Hy knik net en gee die slaaibak aan.
“En?” vra sy toe hy niks verder sê nie. “Hoe was hy? Wat het hy alles gesê?”
“Niks buitengewoons nie. Hy het my net gelukgewens.”
“Was hy nie onplesierig of … so iets nie?”
“Nee.”
Sy sit terug in haar stoel, ’n bitter blik in haar oë. “Hy speel een of ander duistere speletjie. Toe ek hom gisteraand vertel, was hy eers kwaad. Soort van. Ontsteld, in elk geval, en toe slaan hy net so om en wens my geluk, maar ek kon sien hy is dik van die lag.”
“Lag?”
“Ja. Asof hy weet ek speel net ’n speletjie en dis in orde, hy sal saamspeel.”
Philip sit net na haar en kyk. Hy draai sy wynglas stadig in die rondte tussen sy vingers en sy sien vir die eerste keer dat hy baie mooi hande het. Skraal vingers. Hy sug effens voor hy weer praat. “Hy het wel vir my gevra of ek beswaar het as jy oor drie weke vir die naweek saam met hom en ’n groep vriende weggaan. Hy sê dis lankal gereël.”
“Hy jok,” sê sy kortaf. “Dis waar hy die afgelope naweek was en volgens hom was dit groot pret. Middernagfeeste op die strand en die meisies wat die mans in die nag met water gooi.”
“Hoekom wil hy hê jy moet saamgaan?”
“Hy dink ek sal dit geniet.”
“En sal jy?”
“Natuurlik nie.” Sy raak ingedagte en sit haar slaai afgetrokke en eet. “Tensy hy iets wil bewys.”
“Hy het geklink asof hy iets in die mou voer,” sê Philip. “Dis miskien te sterk gestel. Hy het my baie mooi gevra. Belowe hy sal jou goed oppas, my verseker dis alles baie ordentlik, die meisies slaap in die een chalet en die mans in die ander.”
Sy kyk op. “En wat het jy gesê?”
“Dat dit vir jou is om te besluit. Ek is nie ’n tronkbewaarder nie.”
Sy leun terug in haar stoel. “Ek wonder … Hy weet ek hou nie van sulke wilde, deurmekaar naweke nie. Dink jy hy gaan probeer om … om alles beter te organiseer sodat hy my kan wys sulke uitstappies kan tog vir my lekker wees? Dink jy dis dalk sy eerste poging om my terug te wen?”
“Ek weet regtig nie.”
“Miskien moet ek gaan,” sê sy. “Kyk of dit so is. Hom ’n kans gee om te bewys dat hy iets kan organiseer wat ander mense se welsyn ook in ag neem.”
“Doen hy dit nie normaalweg nie?”
Sy skud haar kop en lag. “Sy matelose entoesiasme sleep gewoonlik die wa deur die drif, maar nee, prakties is Jack nie.
Hy sal nie een onderdeel van sy duiktoerusting vergeet nie, maar hy sal nie daaraan dink dat mens ook moet eet of drink of slaap nie.”
“Wel,” sê Philip in ’n neutrale stem. “Dis vir jou om te besluit. Soos ek gesê het, ek is nie jou oppasser nie.”
Sy knik. “Ek sal sien hoe ek voel. En ek sal in my eie motor gaan sodat ek kan ry as ek wil.”
“Dis altyd ’n goeie riglyn.” Hy skink haar glas weer vol en stel voor hulle drink koffie op die terras aangesien die wind nie waai nie.
Dit is tog koeler as wat sy voorsien het en toe hy vra of sy nie liewer binne wil sit nie, skud sy haar kop. “Nee, dis so lieflik hier met die hele stad aan ons voete.”
Hy verdwyn in die huis in en kom terug met ’n dik oopknooptrui wat hy oor haar skouers hang. “’n Goeie tante van my het die trui vir my gebrei en ek het dit nog nooit gedra nie.”
“Dankie,” sê sy en glip haar arms in die moue. Die dun bloes wat sy aanhet, is heeltemal ontoereikend. Sy moet die moue ’n hele paar keer oprol voor haar hande weer uitsteek en soos sy al heeldag elke vyf minute doen, kyk sy eers weer na die mooi ring. “Dis regtig die mooiste ring,” sê sy. “Ek sal dit soos goud oppas.”
Hy glimlag net vir haar. “Het jy nog iets op die hart gehad?” vra hy na hy hulle koffie geskink het. “Jy het vanoggend so ongelukkig gelyk.”
“Nee,” sê sy verleë. “Behalwe miskien dat hy … Wel, toe hy gisteraand so geamuseerd lyk toe ek hom vertel, het ek kwaad geword en gedink ons sal hom … jy weet?”
“Nee, ek weet nie. Wat moet ons doen?”
Sy trek die dik trui stywer om haar bors. “Saam gesien word of so iets. Hy moenie dink dis net ’n grap nie.”
“Ons kan dit doen, ja. Het jy iets in gedagte?”
Sy voel baie ongemaklik. “Nee, ek weet nie. Uitgaan of so.”
“Ons kan saamry werk toe,” stel hy voor. “Sal dit nie help as ek jou in die middae by die kantoor kom haal nie?”
“Ja, dit sal seker, maar ek wil jou ook nie verontrief nie. As jy dalk iets anders wil doen of ná werk êrens heen moet gaan …”
“Dan spreek ons so af. Daar is seker dae dat jy ook ná werk ander draaie wil ry, maar as dit nie die geval is nie, ry ons saam. En ek kan jou kom haal vir middagete.”
“Ag, ek eet sommer ’n broodjie.”
“Ek ook. Ons kan dit saam doen.”
“Dankie,” sê sy en kyk hom streng aan. “Maar die laaste ding wat ek wil doen, is om jou geld te kos. Ons betaal elkeen vir sy of haar eie kos.”
“As dit jou gelukkig sal maak.”
“Ja,” sê sy ferm. “Ek het hierdie ding aan jou opgedring. Dit mag nie