Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux

Christine le Roux Omnibus 8 - Christine le Roux


Скачать книгу
“Ek reken hy sal dit glo, want hy weet ek is nie altyd lus vir … vir sy woelige lewe nie.”

      Hy kyk op van die rooster waarop die tjops nou lê en sis. “Hoe goed weet hy wat jy doen as hy nie by is nie?” vra hy.

      “Wat bedoel jy? Ons doen omtrent alles saam.” Dis ’n outomatiese reaksie en die oomblik toe sy dit sê, weet sy dis nie waar nie. “Nee, jy’s reg,” sug sy. “Ek is nie by as hy hardloop en fietsry en al sy honderde dinge doen nie. Hy kan onmoontlik weet waar of by wie ek is.”

      “Nouja, dan is dit maklik. Sê vir hom gedurende daardie tye het ek en jy dinge saamgedoen en jy het net tot die besef gekom dat ons eintlik beter by mekaar pas.”

      “Dit klink agterbaks,” protesteer sy. “Asof ek agter sy rug rondgelol het.”

      “Dit hoef nie. Hy was daardie keer ná die troue baie dankbaar dat ek my oor jou ontferm het. Hy het spesiaal kom dankie sê.”

      Sy stem word droër. “Hy kon dit bekostig omdat hy my glad nie as ’n gevaar beskou nie. Selfs al het jy regtig al hierdie maande saam met my uitgegaan of dinge gedoen as hy weg was, sou dit hom nie gepla het nie.”

      Dis waar, maar sy sê liewer niks nie. Dit kan hom kwets. “Ek wil nie hê hy moet jou byloop nie.”

      “Ek is nie bang vir Jack nie,” sê hy in ’n nog droër stem.

      “Dis nie wat ek sê nie, maar dis mý plan hierdie en ek wil nie hê daar moet e … onmin kom tussen jou en hom nie.”

      “Dis ’n moeilike opdrag. Mans is besitlik.” Hy lig een stuk vleis, kyk daarna en besluit om dit tog nie om te draai nie. “Is jou doel om hom te dwing om tot trou te kom?”

      “Ek weet nie,” sê sy eerlik. “Dis nie asof ek brand om getroud te kom nie, dis meer dat ek … ag, jy weet, ek wil hê hy moet besef ’n verhouding vereis toegewings van beide kante. Ek is die een wat inpas by sy lewenstyl, hy doen wat hy wil. Soos hierdie naweek bewys. En dit steek my kruis en dwars in die krop dat hy so dink. Maak nie saak hoe hy my in die steek laat nie, volgende keer is ek maar weer aan sy sy.”

      “Dit moet end kry,” stem hy saam.

      “Maar gestel nou ek sê vir hom ek en jy het besluit ons is vir mekaar gemaak en ons is verloof … hoe doen ek dit?”

      “Wanneer hy jou bel of jou kom sien ná die naweek, sê jy net jy is jammer, jy is nou verloof en julle kan mekaar nie meer sien nie. Ek weet nie, Nicolette, jy sal dit maar moet speel soos dit vir jou reg klink.”

      Sy drink haar wyn klaar. “Ja. Kom ons vergeet nou hiervan. Jou vleis ruik baie lekker.”

      Ná hulle klaar geëet het, bly hulle buite sit. Hy bring vir hulle die reisdekens wat oor die banke in die sitkamertjie was en hulle wikkel hulle daarin toe en leun terug in hulle stoele om na die ongelooflike sterrekoepel bokant hulle koppe te kyk. Hy wys vir haar die sterrebeelde uit en hulle amuseer hulle vir ’n hele ruk deur ander patrone vir mekaar uit te wys; gesigte en diere wat geen sterrekundige nog ooit raakgesien het nie.

      “Vertel my van jouself,” sê sy luierig toe hulle hiervoor moeg word.“Hoekom is jy nog nie getroud nie?”

      “Lyk ek vir jou na die soort man met genoeg selfvertroue daarvoor?”

      “Ek sien nie hoekom nie,” sê sy lojaal.

      Hy gee ’n droë laggie. “Nee wat. Buitendien het ek lankal my hart verloor. ’n Doodloopstraat van die begin af.”

      “Haai, Philip,” sê sy en sit regop. “Vertel my daarvan. Ek sal jou help. Wie is sy?”

      Hy skud net sy kop. “Ek het van die begin af geweet daar kan niks van kom nie, maar ongelukkig is ek die soort mens wat een keer so voel en nie weer nie. Ander meisies kan net nooit hê wat sy het nie.”

      “Het jy ooit vir haar gesê hoe jy voel?”

      “Nee.”

      Sy kyk hom verontwaardig aan. “Dis tipies van julle mans! Hoe kon sy weet hoe jy voel as jy dit nie gesê het nie?”

      “Sy het nie belang gestel nie.”

      “Sien jy haar nog?”

      “Soms,” erken hy. “Dit maak net … seer.”

      “Haai,” sê sy weer. Sy draai na hom. “Wel, dit belowe ek jou nou, as jy my uit hierdie verknorsing help, sal ek jou ook help.”

      “Hoe?”

      “O, ek kan ’n plan maak,” sê sy selfversekerd. “Ek en Jack kan vir jou en haar saamnooi of ek kan etes reël of ons kan saam gaan fliek of wat ook al. Ek nooi haar en Jack nooi vir jou. As sy jou dikwels genoeg sien, gaan sy mos agterkom watse goeie man jy is.”

      “Ons sal sien,” sê hy. “Jy vergeet dat Jack na dese heel moontlik nie meer in my geselskap sal wil wees nie.”

      “Ag, as alles reggekom het, sal ons mos vir hom vertel dit was net ’n grap, ’n set om hom tot sy sinne te bring. Jy weet hy het ’n sin vir humor, hy sal dadelik die snaakse raaksien. Hy kan selfs dankbaar wees, mens weet nooit nie.”

      Hy lewer nie kommentaar nie, maar sy is nou baie entoesiasties.

      “Dit kan na beide kante toe werk,” verseker sy hom. “Jack word jaloers en sy ook. Miskien dink sy jy is altyd beskikbaar en as sy eendag besef sy is tog lief vir jou, is jy nog altyd daar. As sy jou saam met my sien, of hoor ons is verloof, skrik sy dalk. Dink jy nie dis moontlik nie?” Iets tref haar. “Of is sy klaar getroud?”

      “Nee, nog nie, maar sy het baie bewonderaars.”

      “Wel,” sê sy in haar skik. “Ons gaan háár ook tot haar sinne bring. Ek voel nou sommer beter, want ek voel al die hele tyd skuldig dat ek jou onwetend in my sake ingesleep het. As ek jou ook kan help, is dit wonderlik. Dit is soos die lewe is, mens waardeer iets eers as dit buite jou bereik is.”

      Hy onderdruk ’n gaap en kort hierna staan hulle op, was die skottelgoed en klim vroeg in die bed. Selfs iets so onbenullig soos om saam op te ruim na ’n ete is vir haar ’n nuutjie. Jack sal nooit in sy lewe met so iets help nie. Hy sou sê as hy gevra word dat hy ’n moderne man is, maar hy is nie. Enigiets met ’n huishouding te doen, is vir hom uit die bose en ’n vrou se werk. Sy het eenkeer vir hom gevra om te help wasgoed opvou – en die meeste daarvan nogal syne – en hy wou die stuipe kry. Hy maak nie tee of koffie nie en sal seer sekerlik nooit ’n tafel afdek nie. Sy het al hoeveel keer vir hom gesê hy is ’n prehistoriese man, die soort wat sy vrou aan haar hare na die grot sal sleep. Wat heeldag roofdiere jag terwyl sy vrou die huis en kinders versorg. Hy stem onbeskaamd hiermee saam en omdat hy so ’n aantreklike persoonlikheid het, kom mense nie agter hoe selfsugtig hy eintlik is nie. Sy self maak aanmekaar verskonings vir hom en haar ma val oor haar voete om Jack te bedien as hulle daar kuier. Hy het net daardie uitwerking op mense, veral vroue.

      Sy slaap soos ’n klip en blykbaar Philip ook, want vroeg Sondagoggend is hulle albei op. Hy maak vir hulle koffie en voor ontbyt gaan stap hulle eers ’n ent en neem hy weer ’n klomp foto’s. Terwyl hulle stap en toe hulle later ’n piekniekmandjie pak en teruggaan na die waterval, vertel hy vir haar waar hy vandaan kom.

      “Ek moet darem iets van jou weet,” sê sy. “As ons verloof wil wees, moet ek jou agtergrond ken.”

      Hy is die oudste van drie broers en sy pa is dokter op ’n klein dorpie in die Vrystaat. Beide sy jonger broers is getroud en het tussen hulle al drie kinders.

      “Dan neul jou ma seker ook aan jou om getroud te kom?” vra sy.

      “Elke keer dat sy my sien.”

      “My ma ook,” sug sy. “Sy is dol op Jack omdat dit net ek en my suster is en hy draai haar natuurlik om sy pinkie. Sy kan nie wag dat hy haar skoonseun word nie.”

      “Ek kan dit glo,” sê hy in sy droë stem.

      “Ja, maar sy hou haar blind,” sê sy. “Aan die een kant


Скачать книгу