Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
die rondawels sien hulle nog ’n groepie wandelaars, twee meisies en drie mans, en soos hulle nog die hele tyd doen, knik hulle vriendelik en wil verbystap.
“Philip?” sê die een meisie en maak haar los van die groepie. “Is dit jy?”
Hulle bly staan en die meisie kom nader gehardloop. Sy is lank en blond, haar hare los oor haar skouers en af teen haar rug.
“Philip?” roep sy uitgelate. “Dit ís jy! Wat maak jy hier?” Sy werp haarself teen sy lyf, haar arms styf om sy nek en soen hom kruis en dwars oor sy gesig. “Dis die wonderlikste verrassing! Ek sê nou net dis tyd dat ons ’n bekende raakloop. Is die weer nie goor nie? Ons sit al twee dae lank vasgevang in die huis, dis om van mal te word.”
Nicolette staan haar swyend en aankyk. Sy is baie mooi. So, met haar arms opgelig om Philip se nek, trek haar truitjie op en ontbloot ’n plat bruingebrande midrif en rug.
“Kan ek julle voorstel?” vra Philip. “Nicolette, dis Louisa.”
Louisa glimlag vriendelik vir Nicolette, maar haar aandag is by Philip. Die ander lede van die groep kom ook nader en almal word voorgestel. Die een man is Louisa se broer, die ander vriende, en hulle gaan tuis in Louisa se ouers se strandhuis, ’n groot ligblou-en-wit huis teen die effense hoogte bokant die rondawels.
“Julle gaan saam met ons kom braai,” dring Louisa aan. “Ek het gedog die reën hou net nooit op nie en nou het dit en dit gaan ’n lekker aand word. Sê ja, Philip,” pruil sy. “Julle sal kom, sal julle nie? Hoeveel jaar laas het ek jou gesien? Ons het soveel om op te vang.”
Philip het uiteindelik Louisa se arms om sy nek losgekry en hy kyk vraend na Nicolette. “Is dit reg met jou?”
“Natuurlik,” sê sy. “Ons het self gedink ons sal vanaand braai as die weer dit toelaat en ek het die vleis …”
“Bring dit saam,” jubel die meisie. “Hoe meer hoe lekkerder.”
“Dan moet ons die vuur gaan pak,” kondig Louisa se broer aan. “Dis al halfsewe.”
Louisa haak by Philip in toe hulle terugstap. “Julle gaan nie nou draal nie,” sê sy gemaak streng. “Julle moet dadelik kom.”
“Ek moet net verklee,” sê Nicolette en wys na haar nat broekspype.
“Ag, julle kan net so kom. Dis net ons en dis informeel.”
“Ek wil droog aantrek,” sê Nicolette ferm.
Sy sê niks toe hulle later na die rondawel stap en Philip oopsluit nie. Sy staan op die stoepie en slaan die sand uit haar skoene, gaan sit en vee haar voete af. “Ek weet nie presies wat om aan te trek nie,” sê sy vir Philip toe sy instap. “My langbroek van gister is nog klam en baie verkreukel en hierdie een is ook nou nat.”
“Jy’t gehoor wat sy sê, dis nie formeel nie.”
Nicolette trek haar enigste romp en bloes aan, dieselfde trui omdat dit al is wat droog is, maar doen nogal moeite met haar grimering en sit ’n paar goue oorbelle aan. Sy pak hulle vleis in ’n skotteltjie en Philip kry ’n bottel wyn.
“Is sy ’n ou vriendin?” vra sy toe hulle opstap na die blou huis.
“Ons het mekaar hier ontmoet een vakansie,” sê hy. “Ek het jou mos gesê ek was hier saam met my ouers.”
Sy kyk op na hom en knip haar oë onskuldig. “Het jy van haar vergeet of is dit waarom jy hiernatoe gekom het?”
“Ek het eintlik vergeet,” erken hy. “Dit was ’n hele paar jaar gelede.”
“Regtig?” sê sy.
Hy kyk haar ondersoekend aan. “Jy klink ongelukkig. Is jy nie lus hiervoor nie?”
“Nee, nee,” sê sy vinnig. “Dis nie asof ek ander planne het nie. Ek is baie bly om jou onthalwe dat jy ou vriende raakgeloop het.”
Toe sy voor hom die blou huis se ruim woonkamer met sy glasvensters na drie kante instap, taan haar entoesiasme. Louisa kom hulle dartelend tegemoet in ’n uitrusting wat Nicolette se oë laat rek. Sy dra ’n swart leerbroek wat soos ’n tweede vel aan haar sit, ’n stywe swart truitjie wat net-net haar borste toemaak, en dit ook net as sy regop staan met haar skouers agteroor, ’n paar goue hoëhaksandale en omtrent ’n dosyn goue armbande en kettings om haar dun pols. Die lang wit hare is uitgeborsel en kabbel oor haar rug.
“Welkom, welkom!” jubel sy en gooi haar weer teen Philip se bors, so hard dat hy laggend protesteer dat sy moet oppas of hy laat die bottel wyn val.
“Hier is die vleis,” sê Nicolette suur.
“Kom deur,” nooi Louisa en haak besitlik by Philip in. “Onthou jy nog waar die braaiplek is?” Sy stoot hulle voor haar uit na ’n soort binnehof, beskerm teen moontlike wind en baie goed beplan. Langs die vuurmaakplek met sy hoë skoorsteen is ’n ingeboude blad waar borde en bakke rondstaan.
Die ander lede van die groep sit daar rond, behalwe Louisa se broer, Stefaan, wat besig is met die vuur. Almal kry wyn en Nicolette gaan sit langs een van die meisies en knoop ’n gesprek aan. Louisa bly by Philip; selfs toe hy gaan sit, trek sy haar stoel tot teen syne en hang omtrent in sy skoot terwyl sy praat en ou herinneringe oprakel.
“Onthou jy die aand,” proes sy en waai haar hand in die ander se rigting sodat hulle moet saamluister. “Dit was net die snaaksste ding! Ek en Philip sou na ’n sokkie in die gemeenskapsaal gegaan het en dit was net ná die huis gebou is en daar was nog baie probleme met die water sodat net die buitenste stort gewerk het. Julle ken hom, die een daar by die agterdeur, eintlik net bedoel om ons af te spoel as ons van die see af kom. Wel, nood leer bid, sê ek altyd, en ek wou stort. My ma-hulle was uit, dit was net ek in die huis, wie is daar om my te sien?” Sy lag en gooi haar kop agteroor. “Die enigste probleem is dat ek onderstebo na my horlosie gekyk en my misgis het met die tyd, en hier kom Philip aan en hy kan my nêrens kry nie en hy stap om die huis en daar staan ek, poedelnakend!”
Nicolette vou haar arms om haar bors en druk haar lippe styf op mekaar.
“O, ons het ons doodgelag!” skater Louisa. “Ek lag nóú nog as ek daaraan dink.”
Die meisie langs Nicolette staan op. “Ek moet nog die slaai maak.”
“Ek sal kom help,” sê Nicolette en spring ook op. “Ek hou nie van stilsit nie.”
Sy sny die tamaties en komkommers dat die sop spat en die hele tyd hoor sy Louisa se laggende stem deur die oop venster. Toe die mengelslaai klaar is, help sy met die afronding van die ander slaaie en dra dit na buite. Sy is bly om te sien Louisa staan nou by die vuur, maar dit kan net wees omdat Philip daar gaan staan het om met Stefaan te praat. En sy is bly toe die vleis gaar is en almal opstaan en rondbeweeg om in te skep. Sy gaan sit ook doelgerig langs Philip, maar dit keer Louisa nie; sy gaan sit aan sy ander kant.
“Is julle al die hele naweek hier?” vra Louisa. “Hoe is dit dat ek jou nou eers sien?”
“Ons het vanoggend eers gekom. Nicolette was saam met ander vriende weg. Ek het haar gisteraand gaan haal.”
Louisa kyk vir die eerste keer direk na Nicolette. “O, dis lekker. En wanneer ry julle?”Sy wag nie vir ’n antwoord nie, kyk net weer na Philip. “Jy moenie weer so verdwyn nie. Ons moet mekaar regtig sien as ons terug is in die stad.”
Nicolette eet haar kos wat na niks smaak nie. Die tjops is taai en die aartappels het nie lank genoeg gekook nie. Stefaan hou almal se glase vol en Louisa oorheers die geselskap.
“Ek het nie poeding gemaak nie,” sê sy toe almal klaar geëet het.
Netsowel, dink Nicolette, dit sou oneetbaar gewees het.
“Is julle ou vriende?” vra Louisa vir Nicolette toe hulle koffie drink.
“Ons is verloof,” sê sy. “Het jy nie geweet nie?”
Vir die eerste keer lyk die blonde meisie van stryk af. Sy kyk Nicolette ongelowig aan en wend