Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
so onaangenaam nie?”
“O nee,” verseker sy hom. “Jinne, ek sal nie so mal wees oor hom as dit …” Sy byt haar lip. Moontlik ’n ontaktvolle opmerking. “Wat ek bedoel, is ek sou nie by hom gebly het as dit altyd so gegaan het nie. Nee, hy hou daarvan om saam met ’n groep vriende te kuier, maar dit was in die verlede onder beheer. Ek het mý ding gedoen terwyl hy geduik het. Jy weet, gelees of gaan stap of so iets. Gister het ek vasgevang gevoel.”
“Hoekom het jy nie vroeg al teruggegaan na die chalet nie?” Sy druk haar lippe op mekaar. “Omdat ek paartjies sien wegglip het en ek is seker hulle … jy weet.”
Hy lyk geamuseerd, maar sê niks nie.
“Nie dat ek bekrompe is nie. Allermins,” verseker sy hom. “Ek is ’n moderne vrou en wat mense doen, is regtig hulle eie saak. Ek wou net nie daar instap terwyl hulle … En ná ’n ruk was ek so miserabel dat ek glad nie meer gedink het nie.”
Hy sê vir ’n hele ruk niks nie, moontlik omdat hy so hard moet konsentreer om die motor op die pad te hou, want die wind is nou byna soos ’n orkaan. Dit gaan lê vir ’n minuut of twee en as dit weer begin, is dit met ’n ruk wat die motor van die pad wil gooi. “Het jy en Jack ooit alleen weggegaan?” vra hy toe. “Net julle twee?”
Sy dink terug. “Nee,” erken sy. “Jack sou dit vervelig vind.”
“Vind hy jou vervelig?” vra hy.
“Nee, dis nie wat ek bedoel nie,” tree sy dadelik weer vir Jack in die bresse. “Hy is mal oor my. Jy weet mos. Hy is net nie die soort mens wat iets op sy eie wil doen nie. Hy wil vriende om hom hê.”
“Ek sien.” Hy skakel die reënveërs aan, want saam met die rukwind het die reën skielik in ’n vlaag afgeswiep. “En voel jy jy het iets met die naweek bewys?”
“Bewys?” vra sy gesteurd.
“Jy wou die naweek saamgaan omdat jy iets wou bewys of iets wou sien. Dink jy jy het geslaag?”
“Ek weet nie.” Sy voel ongemaklik oor die vrae. “Ek weet jy dink hy het hom gister sleg gedra en hopeloos te veel gedrink, maar hy is nie gewoonlik so nie. Regtig. Hy hou van drink, maar ek het nog nooit onveilig gevoel by hom nie. Dat hy buite beheer is of so. Nooit.”
“Ek is bly om dit te hoor,” sê hy droog.
“Dis waar,” sê sy. “Ek dink die hele situasie – van hom en my en die verlowing – het hom onderstebo gegooi. Hy sal dit nooit erken nie, maar dis waarom hy so … uitspattig was.”
“Seker begryplik.”
Sy kyk na hom, maar hy is nie sarkasties nie. “Ek dink ons moet nou daarvan vergeet,” stel sy voor. “Dis jammer dat jy daarby betrek moes word.” Sy besef dit klink baie hooghartig. “Ek is baie bly jy het ingegryp, maar … jammer dat dit nodig was.”
“Ons los dit,” stem hy saam. “En jy ken hom beter as ek. Was jou vorige mansvriende ook soos hy?”
“In watter opsig?”
“So aantreklik en dinamies en ekstrovert.”
Sy dink hieroor na. “Ja,” moet sy toegee. “Die eerste keer dat ek ernstig verlief was, was toe ek so sewentien was en in matriek. Hy was die hoofseun en kaptein van die rugbyspan. En later … ja, hulle was maar almal eintlik so. Ek het dit nie vantevore raakgesien nie. Dink jy daar is iets verkeerd met my?”
Hy lag. “Glad nie. Dis omdat jý so mooi en dinamies is. Soort soek soort.”
“Ek is nie mooi en dinamies nie.”
“Nie?”
“Nee,” sê sy beslis. “Ek is baie ordinêr.”
Hy tuur deur die voorste ruit, sien ’n naambord in die grys reën en draai af. “Jong, ek weet nie,” sê hy. “Ek was eenkeer hier saam met my ouers. Daar was sulke grasdakhutte wat baie lekker was, maar in hierdie reën …”
Sy begin ook wonder of hulle nie liewer huis toe moet gaan nie. Aan die ander kant is hy seker geregtig op ’n bietjie vakansie weg van haar veeleisende vriende, dus bly sy stil. Die slegte weer het hier ook vakatures gelaat en hulle kry maklik ’n eenheid. Die enigste nadeel is dat daar ’n sentrale parkeerruimte is van waar hulle na die rondawel moet hardloop met hulle bagasie. Toe hulle eers binne is, is sy aangenaam verras deur die ruimte en hy deur die feit dat daar televisie is. Hy het skaars hulle tasse neergesit toe skakel hy al aan.
“Nou toe nou,” sê sy verbaas. “Ek het jou nie opgesom as ’n televisiekyker nie.”
Hy kyk skuldig oor sy skouer. “Dis rugby later vanmiddag. Wil jy nie hê ek moet kyk nie?”
“Jy mag doen wat jy wil, Philip,” sê sy. “Ek is selfs bereid om saam met jou te kyk mits jy dit vir my verduidelik. Ek het nie broers nie, sien. Ek verstaan die telling, maar nie veel van die fyner nuanses nie.”
“Het die rugbykaptein dit nie vir jou verduidelik nie?”
Sy grinnik. “Sy aandag was meer by hoe hy my gesoen kan kry.”
Hy draai om. “Was dit so moeilik?”
“Ja,” sê sy vererg. “Ek laat nie sommer aan my soen nie!”
“Dis nie wat ek wou impliseer nie.”
Hy lyk so verskonend dat sy onmoontlik kwaad kan bly. “Ek dink ons moet my kêrels uit die gesprek laat. Ek gaan nou kyk wat jy alles in die koslyn ingepak het sodat ek kan beplan wat ons gaan eet.”
“Daar’s iets van alles en daar is ’n winkel vir die kampeerders.”
“Wat nie noodwendig heeldag gaan oopbly nie,” sê sy en stap na die klein kombuisie. “Dis nogal interessant,” sê sy vir hom oor die oop toonbank. “Ons, ek en jy, leer mekaar ken in gehuurde hutte en chalets en rondawels. Dis ongewoon, dink jy nie?”
“Nee,” sê hy, sy oë op die skerm waar nou ’n sokkerwedstryd aan die gang is.
“Het jy al jou vorige meisies ook naweke na oorde geneem?”
Hy kyk op. “Watse vorige meisies?”
“Was daar behalwe Amelia niemand anders nie?”
“’n Paar,” gee hy toe. “Toe ek jonk was. En nee, ek het hulle net uitgeneem vir etes of fliek.”
“Ons situasie is dus vir jou ook ’n nuutjie?”
“Oorweldigend nuut,” sê hy. “Maar jy moet begryp, ek was nog nie vantevore verloof nie. Miskien neem ek my verantwoordelikhede te ernstig op.”
“Soos gister? Ek is baie bly jy het. Baie bly. En dis goeie oefening vir die dag as jy en Amelia bymekaar is. As sy vir ’n naweek weggaan saam met mense wat haar in die steek laat, gaan jy weet net wat om te doen.”
Hy gee haar ’n lang kyk voor hy hom na die rugby wend. “Ek sal nou stilbly,” belowe sy. “Net tee maak en jou nie verder irriteer nie.”
Die wind gaan lê later en die wolke trek oop. Die plek waar hulle nou is, bestaan ook nie net uit ’n klein baaitjie omring van groot rotse nie, maar het aan die linkerkant ’n lang wit strand, en ná die rugby verby is, trek hulle baadjies aan en gaan stap. Dis vir Nicolette baie lekker; dis duidelik dat Philip ook van stap hou en veral stilstaan as daar ’n interessante skulp te sien is of hulle eers wil kyk na die plaat seemeeue wat in ’n sonkol staan en bak.
“Is dit nie lekker nie?” vra sy vir hom. “Ek gaan my skoene uittrek. Ek wil die sand tussen my tone voel.” Sy doen dit dadelik, druk haar sokkies in haar baadjiesak en bind die veters aanmekaar vas sodat sy haar skoene om haar nek kan dra.
“Jy lyk nou na ’n boemelaar,” sê Philip.
Sy huppel deur die sand en in die vlak water al gil sy oor die koue water. Ander mense, dankbaar dat die reën opgehou het, kom uit hulle huise en stap langs die see, sommiges met baljarende honde