Christine le Roux Omnibus 8. Christine le Roux
“Goeiste, mevrou, ek het net per ongeluk teen u vasgeloop en …”
“My beursie is weg! Dis wat julle sakkerollers doen. Julle stamp kastig teen ’n mens en al die tyd …”
Teen dié tyd het die man vir Nicolette aan die arm beet en hy hou haar so hard vas dat sy uitroep in pyn.
“Wag nou,” probeer die kassier keer. “Ek het gesien wat gebeur het, mevrou, en dié dametjie het …”
Op daardie oomblik swaai die glasdeur oop en Philip kom binne. Hy knip sy oë in die skielike helder lig en kyk Nicolette verbaas aan.
“Philip!” roep sy en sou vorentoe in sy arms geval het as die man haar nie so knellend vasgehou het nie. “Hierdie mense dink …”
Almal praat gelyk. Die man ruk Nicolette aan die arm rond asof sy ’n ongeleerde hond is, die vrou beskuldig haar in ’n hoë, skerp stem en die kassier probeer paai.
“Dis totale onsin,” sê Philip. Sy koel stem val soos reën op die opvlammende humeure en het die oombliklike effek dat almal gelyktydig stilbly.
“Maar my beursie …” mompel die vrou.
Philip stap verby hulle, buk en tel iets op wat half onder die naaste rak lê. “Is dit u beursie?”
“Ja,” sê die vrou.
Philip kyk na die man. “Sal u asseblief u hande van my verloofde verwyder?”
Die man los Nicolette se arm asof dit hom brand. Sy vryf die arm en die vrou begin verduidelik. ’n Paar weke gelede is haar handsak op straat gegryp in ’n identiese insident. Die man het teen haar gestamp, verskoning gevra en weggestap; toe sy weer kyk, was haar handsak ook weg.
“Ek het simpatie daarmee,” sê Philip. “Dit gee u egter nie die reg om links en regs beskuldigings rond te slinger nie.”
“Betaal tog dat ons kan wegkom,” sê die man vir sy vrou en stoot haar vorentoe.
Nicolette bly staan waar sy is tot die glasdeur agter hulle toegaan. Die kassier vra ook om verskoning en Philip vat haar mandjie en pak dit uit.
“Middernagfees?” vra hy en wys na al die snoepgoed.
Sy begin histeries lag en moet haar hand oor haar mond druk om tot bedaring te kom. “Wag,” sê sy en stoot verby Philip met haar beursie. “Jy gaan nie betaal nie.”
Hy ignoreer haar, tel die winkelsak op en maak die deur vir haar oop.
“Dankie,” sê sy. “Weer eens.”
Hy stap langs haar terug. “Ek wil jou nie ook berispe nie, maar wat doen jy uit op straat as dit al donker is?”
“Dis nie ver nie.”
“Maar dis al donker en dis gevaarlik op jou eie.”
“Asof jý omgee,” sê sy.
Hy sê nie ’n verdere woord tot sy haar voordeur oopgesluit het en hy die sak neergesit het nie. “En wat is dit veronderstel om te beteken?”
“Ek het jou ’n week laas gesien,” sê sy. “Jy gee nie om wat van my word nie. Elizma was gisteraand uit en vanaand weer en ek sit hier stoksielalleen en jy gee nie om nie. Die hele week al.”
“Jy’t gesê jy is hierdie week baie besig. Het baie goed om te doen ná werk, dis waarom jy jou motor nodig het.”
“Nie in die aand nie!”
“Hoe moet ek dit weet? En jy moet begryp, dit sal vir my nogal onaangenaam wees om hier aan te klop en jy en Jack …”
“Jack is nie hier nie!”
“Ék weet dit nie,” sê hy redelik. “Ek was onder die indruk ná die bombardement blomme is julle nou besig om julle verhouding te … te herstel.”
Sy trek haar jas uit, rol haar hempsmoue op en kyk na haar arm. “Kyk net! Dis klaar blou gekneus. Daardie nare man.”
“As jy alleen in die nag uitgaan, stel jy jou bloot aan so iets.”
Sy kyk hom oorstelp aan, geskok deur sy gebrek aan simpatie. “Jy …” sê sy en haar oë word vol trane. “Jy is gemeen!”
Hy skud sy kop. “Sit,” sê hy en druk haar in die leunstoel neer. Hy loop na die kombuis, kom terug met ’n blou yspak wat Elizma normaalweg in hulle koelsak sit en druk dit teen haar arm. “Dit sal help.”
Sy gee hom ’n verwytende kyk.
“Jy kan nie vir mý kwaad wees nie,” sê hy. “Jy het dit duidelik gemaak dat jy besig is en my nie nodig het nie, jy het alleen in die aand rondgeloop en ons is nie regtig verloof nie. Ek het geen aanspraak op jou nie.”
“Jy het my nietemin weer gered.”
“Blote geluk dat ek daar was.”
“Ek het nie geweet jy kan so hardvogtig wees nie,” sê sy in ’n klein stemmetjie. “Ek het gedog jy … gee tog bietjie om.”
Hy antwoord nie dadelik nie. “As jy dit so verkies,” sê hy, “kan ons die … e … magte van hierdie verlowing bietjie uitbrei. Ek kan jou dan verbied om saans op jou eie uit te gaan.”
“Ek was lus vir roomys,” sê sy.
“Dan moet jy bel en my vra om saam te gaan of die roomys vir jou te loop koop. En as ons dit meer soos ’n regte verlowing wil laat lyk, verbied ek jou om verdere ruikers van Jack te ontvang of om hom te sien.”
Sy knip haar oë verbaas en lig die yspak van haar arm wat begin doodgaan. “Wat moet ek met die ruikers doen?”
“Gooi hulle weg.”
“En as ek Jack nie meer mag sien nie, hoe gaan ek ooit weet of ons plan …”
“Jóú plan,” sê hy.
“Die verlowing was jou idee!”
“Dis waar.” Hy glimlag en staan op. “Ons hou alles maar soos dit was en jou roomys is seker besig om te smelt. Sal ek vir jou ’n bakkie inskep?”
“Ja dankie.”
Hy bring vir hom ook ’n bakkie en hulle sit dit in stilte en eet. Nou en dan kyk sy hom ondersoekend aan, maar nes sy sy oog vang, kyk sy vinnig weg.
“Wil jy nog môre saamgaan na my ma?” vra sy.
“Met graagte, waarom sou ek nie?”
“Jy’s dan nou kwaad.”
Hy vat haar leë bakkie. “Ek is nie kwaad nie, Nicolette. Hoogstens ’n bietjie … onseker.”
Die uitdrukking in sy oë ontstem haar. “My ma weet dis net ’n speel-speel verlowing,” verander sy die onderwerp. “Mens kan nie iets vir my ma wegsteek nie. Sy het dit dadelik raakgesien.”
“En?” vra hy. “Sal ons dit so hou of probeer ons haar oorreed om dit anders te sien?”
“Wat bedoel jy?”
“Dit was net ’n vraag,” sê hy. “Besef jy ek het nooit die melk gekoop wat die rede was waarom ek na die winkel gestap het nie?”
Hoofstuk 11
Die Sondagkuier by haar ma verloop beter as wat Nicolette in haar wildste drome kon raai en sy sou dit sonder voorbehoud geniet het as sy haarself net kon dwing om op te hou vergelykings tref. Om mee te begin, deel Philip haar ma se liefde vir tuinmaak, iets wat sy eintlik weet, dis net die omvang wat haar verbaas.
Vandat hulle uit Philip se motor klim en haar ma hulle tegemoetkom, duur dit ’n goeie halfuur om by die voordeur te kom soos die twee elke plant bespreek. Philip het ’n bondel steggies in een hand en in die ander ’n hand vol saad waarvoor haar ma gou plastieksakkies moet gaan soek as sy wil hê Philip moet sy tee drink. Nicolette wat lief is vir ’n mooi tuin en haar ma s’n nog altyd