Ena Murray Keur 10. Ena Murray

Ena Murray Keur 10 - Ena Murray


Скачать книгу
vlugtig ’n hand en hardloop dan byna die loopplank op na die dek. Die onrus in haar wil haar mal maak.

      En Pierre Colonne voel hoe die bedenkinge in sy hart tot ’n gevoel van onheil aangroei. Vlugtig dwaal sy blik langs die dekreling af en dan ontmoet sy oë een van die matrose s’n. ’n Hand lig vlugtig en ’n kop knik, en meer gerusgestel draai die prokureur om. Dis nou uit sy hande. Hy kan niks meer vir sy ou vriendin se broerskind doen nie.

      Dis met twee verskillende gesigsuitdrukkings dat Lille en die man langs haar staan en kyk hoe die suidkus van Frankryk voor hulle vervaag. Die lang seereis na die verste suidpunt van ’n toe nog donker en onbekende kontinent het begin. Sodra hulle die Middellandse See by Gibraltar agterlaat, sal daardie agttiende-eeuse seilskip oorgelaat wees aan die genade van die Atlantiese Oseaan en die onvoorspelbare lis van getye en elemente. Minstens vier maande lank … as alles goed gaan en storms hulle nie van hul koers af dryf of hulle dae lank in windstiltes vasgevang word nie … sal hulle op see wees voordat hulle die reeds gevreesde Kaap van Storms bereik. Weliswaar is hierdie suidpunt herdoop en heet dit nou Kaap die Goeie Hoop, maar steeds vind baie seekapteins dat dit maar eintlik Kaap van Storms bly. Menige seevarende reus van daardie tyd het al ’n watergraf in sy seedieptes gevind. Ook die La Rouge is nie verhewe bo die krag van die elemente nie. Almal wat hierdie lang seereis aanpak, weet maar te goed dat hulle hul lewe in eie hande neem en daar geen waarborg is dat hulle ooit veilig anderkant sal aankom nie.

      Weer is Lille Jacquard vas oortuig daarvan dat dit die rede is hoekom haar mede-erfgenaam daarop aangedring het dat sy na hóm toe kom om die bepalings van die testament na te kom. Hy hoop – en dis ’n goeie hoop – dat sy nie Kaap die Goeie Hoop sal bereik nie. As sy alleen hierdie reis moes aanpak, sou geen erfenis van watter omvang ook al haar beweeg het om Frankryk te verlaat nie. Daarom is sy in hierdie oomblik innig dankbaar dat Louis Paquin langs haar by die dekreling staan.

      Maar in die maande wat kom, weet sy nie altyd seker of sy nog so dankbaar is dat hy saam met haar aan boord gegaan het nie.

      Dis lang maande van verveling, want daar is eintlik niks om te doen om die dralende tyd om te kry terwyl die La Rouge se boeg die branders van die Atlantiese Oseaan klief nie. Louis, aan die begin van die seereis taamlik hooghartig en eenkant weg van die ander passasiers en matrose, vind dat die reis hom erg verveel en begin maats maak met die bemanning. Lille sou niks hierop teë gehad het nie, maar sy kom gou agter dat Louis al gretiger raak om met die matrose van diens af te dobbel. Dit ontstel haar, maar sy probeer om dit nie teen hom te hou nie. ’n Mens móét tog iets doen om die tyd om te kry. Nietemin gaan dit nou byna elke aand so, en een aand is daar ook ’n bakleiery.

      Sy het ’n rukkie op die dek uitgestap om na ’n koel luggie te soek, want hulle is besig om oor die ewenaar te vaar en die beknopte kajuitjie is onuithoudbaar bedompig.

      Sy het net die dek betree, toe die geraas haar aandag trek. In die lig van die skeepslantern is Louis duidelik sigbaar. Ook die matroos wat dreigend voor hom staan.

      “Jy het gekul!”

      Louis staan met ’n selfversekerde glimlaggie. “Bewys dit.”

      “Ek kan dit nie bewys nie, en jy weet dit, maar al die ander hier weet ook jy moet beslis gekul het. Jy kan nie elke keer wen nie …”

      Louis lag hom openlik uit, krap die paar munte wat op die dekvloer lê nader.

      “Weet is nie genoeg nie, ou maat. Voordat jy my volgende keer weer van skelmstreke beskuldig, sorg eers dat jy bewyse het.”

      Hy draai om en stap weg, maar die matroos wat hom aangespreek het, spring vorentoe, ’n dolk skielik blitsend in sy hand.

      “Jou vuilgoed! Jy verneuk al van die begin af …”

      “Louis!”

      ’n Hand gryp haar pols vas en sy word teruggehou. “Bly weg daar, mam’selle. Dit kan gevaarlik wees.”

      Die matroos hou haar stewig teë, maar gelukkig het almal haar uitroep gehoor. Die matroos laat die mes sak en Louis Paquin kyk hom ’n oomblik met vernoude oë aan. Dan draai hy na Lille, duidelik ontevrede.

      “Wat soek jy hier?” Sy stem is bars.

      “Ek het kom lug skep, Louis … Asseblief, gee hul geld terug.”

      “Jy is nie reg wys nie. Ek het dit eerlik gewen.”

      “Eerlik!” snork die aggressiewe matroos en die een wat Lille gekeer het, sê vinnig: “Gaan asseblief terug na jul kajuite. Ons wil nie moeilikheid hê nie.”

      Toe hulle alleen kom in die nou gangetjie wat na hul kajuite lei, draai sy weer na hom. “Ek hou nie van die gedagte dat jy met die matrose dobbel en hul geld vat nie, Louis. Jy staak dit nou. Daar gaan moeilikheid kom.”

      Hy kyk haar vererg aan. “Ek hou nie daarvan dat jy aan my wil voorskryf nie. Ek sal doen wat ek wil. Wat moet ek dan doen om die tyd om te kry?”

      Diep ongelukkig kyk sy hom aan. Louis is skielik ’n man van baie fasette, en sy dink nie sy hou van alles wat sy sien nie.

      “Maar hou dan op om vir geld te dobbel.”

      Sy gesig is skielik lelik vertrek. “Ek sal my nie van jou laat voorskryf nie, Lille! Jy los my sake uit! Nag!”

      Dis met diepe onrus dat sy haar kajuitdeur agter haar toedruk. Die ergste van alles is: sy is geneig om te glo wat daardie matroos beweer het. Sy voel skuldig en dislojaal, maar kan die gedagte nie van haar afgeskud kry nie. Louis Paquin se eerlikheid is nie meer vir haar onaantasbaar nie.

      Die diepe kommer en onrus in haar word die volgende oggend vroeg nog meer versterk toe die kaptein van die skip aan etenstafel aankondig: “Ek wil dit net onder al die passasiers se aandag bring dat dobbelary op die skip nie toegelaat word nie, veral nie tussen passasiers en matrose nie.”

      Sy gesig lyk baie streng en sy blik rus openlik op Louis. Laasgenoemde glimlag onbesorg na hom op.

      “Dis tog iets om die tyd mee om te kry. Daar is tog nie kwaad in nie.”

      “Daar is genoeg kwaad in om ’n moord aan boord te veroorsaak, monsieur. Ons het een van my matrose vanoggend met ’n dolk in sy bors gekry. Ek het goeie rede om te glo wat die aanleiding daartoe was.”

      Louis se oë vernou en langs hom word Lille bleek. “Beskuldig jy miskien enigeen van ons hier van moord?”

      “Nee, monsieur. Ongelukkig is die matroos met sy eie dolk doodgesteek. Ek het geen hoop om die moordenaar te kry nie. Maar die man wat weer met my matrose dobbel, gaan ek in hegtenis neem. Is dit duidelik?”

      In die weke wat volg, gedra Louis hom soos ’n kleuter, en eintlik is Lille dankbaar dat hy hom bot eenkant hou. Want weer, nes die matrose aan boord van die La Rouge, wonder sy nie te hard wie daardie dolk ingedryf het nie. Sy skram weg van die gedagte sodra dit by haar opkom, maar die vrees bly.

      Maar op ’n dag, skielik, troon Tafelberg majestueus voor hulle uit die blou see op. Kaap die Goeie Hoop wag hulle in.

      4

      Dis met verskillende uitdrukkings op die gesigte en uiteenlopende gedagtes dat Lille en Louis Paquin langs mekaar by die reling staan en sien hoe die asemrowende toneel voor hulle al verder en verder uitplooi in breedte en skoonheid soos die La Rouge stadig nader seil land toe.

      Dis met vrees en bedenkinge in haar hart vir wat hierdie nuwe land vir haar en haar toekoms gaan inhou, dat Lille se donker oë alles beskou. ’n Intense eensaamheid oorval haar in hierdie oomblikke, want sy het die afgelope maande op see ’n ander Louis Paquin leer ken, een van wie sy nie hou nie en wat sy nie meer vertrou nie. Veral ná daardie dobbelepisode en wat daarna gebeur het, het sy gevind dat sy elke keer instinktief van hom wegskram, en sy weet sy is klaar spyt dat sy nie maar liewer alleen hierdie vreemde avontuur aangepak en na Philippe Bidault kom soek het nie.

      Haar oë kan nou al die samedrommende skare by die kaai uitken. Die aankoms van elke skip hier aan die verre suidpunt bly ’n groot aardigheid vir die inwoners van hierdie klein, beskaafde stukkie aarde. Haar oë soek … Hier êrens


Скачать книгу