Ena Murray Keur 10. Ena Murray
jou na Kaap die Goeie Hoop gaan. Het jy dan gedink ek sal jou alleen die gevaar instuur, my skat?”
“O, Louis!” Sy werp haar teen hom en klou hom vas terwyl die trane nou vrylik loop. Op hierdie oomblik kan sy sweer sy het Louis Paquin lief. Hy is die enigste wat vir haar omgee, begaan is oor haar, dermate dat hy bereid is om saam met haar op ’n gevaarlike seereis na ’n onbekende, woeste land te gaan. O, hoe kon sy ooit getwyfel het dat hy haar regtig liefhet? “O, Louis, dankie!”
Hy hou haar styf vas, maar sy gesig bly strak en vasberade bokant haar kop. Só maklik gaan hy hom nie van ’n fortuin laat beroof nie. Daardie Bidault ken nog nie vir Louis Paquin nie. ’n Verskriklike oomblik lank het hy gedink hierdie erfenis is neusie verby, totdat hy gehoor het van die laaste bepaling. Hy kners op sy tande. Bidault hoop dalk dat sy mede-erfgename nie lank genoeg sal leef om die erfenis met hom te deel nie. Maar aan die ander kant kan Lille dieselfde hoop koester, nie waar nie? Net … Lille sal nooit droom van so iets nie. Maar daarvoor is hý mos daar. Hý sal na daardie sakie omsien. Kaap die Goeie Hoop is juis maar nog ’n ongetemde land vol gevare. Dit sal daar amper makliker wees om van iemand ontslae te raak as hier.
Dan glimlag Louis Paquin fyn. Hoe meer hy oor die saak dink, hoe meer tevrede begin hy voel. Alles is nie verlore nie. Inteendeel. Alles pas nog pragtig by sy planne in. Om die waarheid te sê, kon hy dit nie self beter uitgewerk het nie! Skielik lag hy hartlik en Lille ruk in sy omhelsing, kyk amper geskok na hom op. Dis hierdie soms amper verwronge humorsin wat hy openbaar wat haar so laat twyfel aan hom. Dit is beslis nie die oomblik vir hartlik lag nie!
Hy sien die skok in haar oë, en hy ruk hom vinnig reg, glimlag breed op haar af. “My skat, verskoon my, maar ek kry eintlik lekker as ek dink hoe ons daardie meneer Bidault ’n les gaan leer. Ek sal jou beskerm, my skatjie. Jy hoef vir niks bang te wees nie. Ek sal jou nooit verlaat nie!”
Maar hy oortuig haar nie heeltemal nie, en sy kyk pleitend op. “Ag, Louis, kan ons nie maar alles net so laat nie? Is dit regtig die moeite en gevaar werd om nou na Kaap die Goeie Hoop te gaan om met ’n man te gaan praat wat ek vooraf weet nie vir ’n ooreenkoms te vinde sal wees nie?”
“En jou hele erfporsie net so vir hom gee?”
“Maar ons het mos genoeg om van te lewe. Jy het dan self gesê … O, Louis, ek wil net gelukkig wees en ek het ’n gevoel hierdie erfenis gaan my geen geluk bring nie. Laat dit bly. Laat hy dit neem. Ek is al die jare gewoond om met min klaar te kom. Ek is nie ’n spandabelrige mens nie.”
“Lille, staak dit! Jy weet nie waarvan jy praat nie! Ek sal nie toelaat dat daardie man wegkom met dit wat jou toekom nie. Verstaan jy dan nie, my skat? Dis ’n saak van eer by my! Ek is al een wat nou na jou omsien. Dis my plig …”
“Maar ek wil dit nie meer hê nie!”
“En ek sê jy is van jou verstand af!” Hy ruk hom byna onmiddellik reg, druk haar weer teer teen hom vas. “Toe nou, my skatjie. Moenie huil nie. Jy sal sien, alles gaan nog pragtig uitwerk.”
“Maar hoe? Ek weet nie wat ek aan Kaap die Goeie Hoop moet gaan maak nie! Hy sal nie na my luister nie en ek sal nie met hom trou nie, nie noudat ek weet hy hoop eintlik dat ek sal sterf nie!”
Louis Paquin se stem is sag, maar daar is meteens ’n noot in wat haar die eerste keer werklik bang vir hom laat voel.
“Lille, ek praat nie weer nie! Dis klaar besluit. Ek sal môre begin om reëlings te tref vir ons reis na die Kaap. Kry jy solank jou goedjies reg. Of nee, ek dink ek begin sommer dadelik. Hoe gouer ons aan Kaap die Goeie Hoop kom, hoe beter. Jy stel Colonne in kennis dat jy bereid is om te gaan en met Philippe Bidault in die huwelik te tree … en los die res vir my.”
“Maar …”
“Ek beloof jou jy sal nie nodig hê om met Bidault te trou nie. Ek sal daarvoor sorg. Sorg jy net …”
“Louis …” Haar vreesgevoel neem toe en haar stem klink onrustig. “Louis, wat voer jy in die mou? Jy dink tog nie daaraan om … om hom … te …”
Hy lag kortaf, maar dit bereik nie sy oë nie. “Ek is nie ’n moordenaar nie! Werklik, Lille, wat dink jy van my? Nee, ek sê maar net, want ek is oortuig daarvan dat ek hom tot ander insigte sal bring.”
“Maar hoe?”
“Laat dit aan my oor. Ons het maande op die skip om ons planne agtermekaar te kry. Maar nou moet ons dadelik begin om reëlings te tref. Gaan spreek jy Colonne onmiddellik en vertel hom van jou voornemens. En, terloops, Lille, miskien moet jy dit maar stilhou dat ek saamgaan.”
Pierre Colonne kyk die jong meisie bekommerd aan toe hy ’n ruk later sy voordeur oopmaak en sy voor hom staan.
“Mag ek u ’n oomblik spreek?”
“Sekerlik. Kom binne.”
Toe hulle albei sit, sê sy vinnig, haar oë ontwykend: “Ek … ek het net kom sê dat ek besluit het om na Kaap die Goeie Hoop te gaan en met Philippe Bidault in die huwelik te tree.”
Hy frons kwaai, kyk haar ondersoekend aan. “Het jy goed nagedink? Ek het jou ’n week tyd gegee. Ek dink jy moet eers weer goed gaan dink. Dis jou hele toekoms wat op die spel is.”
“Ek het klaar gedink. Sodra ek kan, vertrek ek.” Sy staan op, maar die prokureur se stem keer haar.
“Ek sal vir jou die nodige reëlings tref …”
“Nee, dankie. Ek sal dit self doen.”
“Gaan jy alleen? Miskien moet jy vir Marie saamneem. Dit kan gevaarlik wees om alleen sonder ’n chaperone op ’n skip vol matrose te wees. Ek kan vir jou geld voorskiet as jy nie genoeg …”
“Nee, dankie. Ek het genoeg. Ek … e … neem ’n chaperone saam. Tot siens, monsieur Colonne.”
Hy staar haar met bedenkinge in sy hart agterna. Dis darem ’n skielike ommeswaai. Dan wink hy na ’n man wat om die hoek van die huis verskyn het.
“Dis sy daardie … mam’selle Lille Jacquard. Sy het ingestem om na Kaap die Goeie Hoop te gaan en met Philippe Bidault te trou. Sy wil nie hê ek moet die reëlings vir haar tref nie. Jy moet dus vasstel met watter skip sy gaan vertrek en jy moet liewer sorg dat jy ook op daardie skip is. Ek vertrou nie die vrede nie. Hier is êrens ’n slang in die gras.”
Toe Lille en Louis vier dae later gereed is om die La Rouge te bestyg, die Franse skip wat gereed lê in die hawe van Marseilles, op sy lang vaart na die Ooste om die suidpunt van Afrika, trek Lille se maag saam toe sy skielik ’n bekende, kort gestalte aangestap sien kom. ’n Oomblik ontvlam daar weer ’n vonkie hoop in haar hart. As sy nou vir monsieur Colonne sê sy sien nie meer kans nie …
Maar dis of die man langs haar haar gedagtes kan lees, want sy hand gryp hare pynlik vas en hy fluister: “Hier kom Colonne aan. Waar de duiwel kom hy vandaan?”
Die prokureur kom voor hulle tot stilstand, skynbaar baie verbaas om hulle daar te sien. “A, mam’selle Lille!” Minder spontaan: “M’sieur Paquin! Is jy op reis, Lille? Ek het iemand hier kom soek en nie verwag om jou hier aan te tref nie. Is jy dan al reisvaardig?”
“Ja, monsieur Colonne. Ek vertrek met die La Rouge.”
Hy frons, kyk stip in haar oë. “Ek het darem gedink jy sal kom groet voordat …”
Louis druk haar ’n entjie aan. “U moet ons nou verskoon, monsieur Colonne. Ons moet aan boord gaan. Tot siens.”
“Gaan u dan saam, m’sieur Paquin?”
Louis draai weer halfpad terug en sy glimlag is vermakerig. “Ja, Colonne. Wat het jy dan gedink?”
Pierre Colonne frons skerp, probeer Lille se aandag trek. “Lille het niks gesê nie … Hoekom sou u saamgaan, m’sieur Paquin? Lille gaan na Kaap die Goeie Hoop om met ’n ander man te trou.”
Louis lag hom openlik uit. “So is die veronderstelling, Colonne. Maar daar is baie water in die see tussen Marseilles en Kaap die Goeie Hoop. Ons