Ena Murray Keur 10. Ena Murray
moontlik reëlings tref vir jou om na Kaap die Goeie Hoop te gaan.”
“Na … Kaap die Goeie Hoop! Monsieur, ek gee nie ’n tree uit Frankryk pad nie, verstaan? As daardie danige meneer dan met my wil trou, kan hy hierheen kom en …”
“Lille, ek is bevrees jy het nie ’n keuse nie. Philippe Bidault het klaar laat weet dat hy bereid is om met jou te trou, maar dat jy na Kaap die Goeie Hoop toe moet kom daarvoor. Indien jy weier om daarheen te gaan, sal dit beteken dat jy weier om met hom te trou … en dan verbeur jy jou deel van die erfporsie.”
“Wat de duiwel …?” Sy spring op en nou probeer sy nie langer haar woede en verontwaardiging wegsteek nie. “Nie alleen word ek tot in die grond verneder deur hierdie … hierdie kranksinnige testament nie, maar ek moet nog agter hom aanloop ook! Ek weier! Verstaan u, monsieur Colonne? Ek weier!”
“Mam’selle, probeer kalm bly. Jou hele toekoms is op die spel. Ek sal jou sê … Ek gee jou ’n week tyd om oor alles na te dink en dan sal ek weer kom hoor wat jou finale antwoord is. Maar ek wil jou vra om asseblief goed na te dink voordat jy sommer net weier. Jy is ’n jong meisie, alleen in Frankryk en sonder enige bloedverwant. Sonder ’n enkele frank behalwe die bietjie wat jou tante hier gehad het, en dis nie baie nie. Dit gaan jou nie ver bring nie.”
Sy stem is dringend. “As ek jou raad kan gee, sal ek jou aanraai om na Kaap die Goeie Hoop te gaan, met die man te gaan praat. Miskien is hy ’n baie redelike mens. Miskien kan julle nog die saak uitpraat en die erfenis gelykop deel sonder ’n trouery. Indien julle albei besluit om nie te trou nie, kan elkeen net sy deel neem. Dis sake wat jy reguit met hom kan bespreek. Miskien wil hy net so min met jou trou as jy met hom. Maar miskien het hy ook die geld nodig, nes jy. Julle kan nog tot ’n ooreenkoms kom. Maar dan sal jy na Kaap die Goeie Hoop moet gaan.”
’n Wanhoop oorval haar, terwyl die woede in haar taan. Die prokureur se voorstel klink op die oomblik die beste.
“Nou goed, monsieur Colonne. Kom spreek my weer oor ’n week. Dan sal ek u my finale antwoord gee.”
By die deur loop die prokureur hom vas teen Louis Paquin wat pas aangekom het. Hy groet styf en Louis kyk hom met ’n frons agterna. Dan trek hy sy skouers traak-my-nieagtig op. Wat Pierre Colonne van hom dink, skeel hom min. Noudat die ou vrou dood is, lê hy openlik besoek hier af, en as dit die prokureur se goedkeuring nie wegdra nie, kan dit hom regtig nie skeel nie.
Maar hy voel minder tevrede met die toedrag van sake toe hy die sitkamertjie binnestap en Lille met haar kop mismoedig op haar arms aantref. Sy kyk op toe hy binnekom, en sy oë vernou dadelik. Hier is moeilikheid, besef hy.
“Wat het hy hier kom maak?” wil hy weet, en haar stemtoon vertel hom dat sy vermoedens juis is.
“Hy het my kom vertel wat in my tante se testament staan.”
“En?” Sy oë is kliphard terwyl sy blik op haar rus, maar sy is te ontsteld om dit raak te sien.
“Sy het dit gedoen. Sy het gedoen wat sy gedreig het om te doen.”
“Jou onterf?” Sy stem klap soos ’n sweep, maar steeds is haar kommer te groot om enigiets agter te kom.
“Nee. Ek wens sy het liewer.”
“Lille! Watter onsin … Wat staan in die testament?”
“Ek en daardie … daardie seun van haar vroeëre beminde erf gelykop.”
“Wat? Maar was die ou vrou …?” Hy sluk net betyds die woord. “Liewe land! Hoe durf sy sommer jou erfenis aan ander mense weggee? Ons moet dit bestry!”
Lille skud haar kop. “Dit sal nie help nie, Louis. Die dag toe my tante met my uit Parys gevlug het, het Vader volmag aan haar gegee. Daar is niks wat ek kan doen aan daardie testament nie. Dis so wettig soos enige ander.”
“Maar om die helfte weg te gee …”
“Dis nie al nie! Jy het die helfte nog nie gehoor nie!” sê sy wrang. “Ek en Philippe Bidault erf alleen gelykop ás ek met hom trou. As ek nié met hom trou nie, weier met ander woorde, erf ek niks nie en hý kry alles.”
Lille sien dat hy verstrak, maar natuurlik is dit van ontsteltenis oor haar, maak sy haarself wys.
“Om die helfte van my erfenis in die hande te kry, is ek dus verplig om met hom te trou, want daardie meneer het reeds die prokureur in kennis gestel dat hy heeltemal bereid is om met my te trou. Natuurlik! Hoe sal hy dan ook weier? Met ander woorde, my liewe Louis, is dit nou nog net vir my om te besluit of ek die helfte van my erfenis wil hê en of ek dit ook maar maan toe sal laat vlieg … waarvoor ek baie lus voel.”
“Moenie kaf praat nie.” Sy stem is kortaf, kwaai. “Daar is nie sprake van so iets nie.”
Haar oë vernou ook nou effens. “Jy gee dus nie om dat ek met ’n ander man gaan trou nie?”
Hy stap vinnig na haar toe, plaas sy arm om haar. “My liefste Lille, net die gedagte maak my rasend mal, maar … om daardie skurk te laat wegkom met jou hele erfenis! Daar moet ’n plan wees! Laat my net ’n bietjie dink …”
Sy sluit haar oë en leun moeg teen hom aan. Sy durf nie nou haar vertroue in Louis verloor nie. Sy durf nie nou toelaat dat sy hom wantrou nie! Hy is die enigste een op wie sy nou kan steun, wat haar moontlik sal kan help. Sy moet glo dat sy ontsteltenis suiwer uit besorgdheid oor haar is.
“Monsieur Colonne het ’n plan aan die hand gedoen …”
“Hý! Hy is kop in een mus met hierdie vent! Maar goed, laat ek hoor.”
“Hy sê ek moet na Kaap die Goeie Hoop gaan en met die man gaan praat. Dalk kan ons tot ’n vergelyk kom.”
“Hy is van sy verstand af! Hoekom moet jy agter hom aanloop? Hy moet in elk geval Frankryk toe kom vir die troue as hy wil trou en dan …”
“Dis juis nog ’n vangplek waarvan ek jou nog nie vertel het nie. Monsieur Bidault is baie gewillig om met my te trou, maar dan moet ek na Kaap die Goeie Hoop gaan, agter hóm aan.”
“Maar dis verregaande vermetelheid!” bars Louis los.
“Ek het ook so gedink, maar dis soos sake staan, Louis. Monsieur Colonne sê as ek weier om te gaan, sal dit so goed wees ek weier om te trou en dan val die hele erfenis na sy kant toe.”
“Colonne is net so ’n skurk soos daardie Bidault-vent!”
Lille is ’n oomblik stil. Dit wil amper so voorkom, en tog was hy ’n hoogs gewaardeerde vriend van haar tante. Sou die ou dame haar werklik só misgis het wat Pierre Colonne betref? Dit rym ook nie.
“Dit lyk dus asof dit die enigste uitweg is wat oorbly … om na Kaap die Goeie Hoop te gaan en my op die onbekende Philippe Bidault se integriteit en selfrespek te beroep … as hy so iets het.”
Louis se oë verdonker net, ’n ontevrede frons keep tussen sy wenkbroue.
Lille se oë vernou skielik en sy druk hom effens weg. “Wag ’n bietjie … Ek dink mos nou eers daaraan. Daar is nog iets. Indien ek of Philippe iets oorkom voordat ons getroud is, val daardie een se deel onvoorwaardelik terug na die ander. Dís natuurlik hoekom hy nie hierheen wil kom nie. Nou sien ek dit baie duidelik. ’n Seereis beteken maande lange gevaar vir my. Hy hoop natuurlik dat ek op die reis iets sal oorkom … dat die skip vergaan of dat ek skeurbuik sal kry of oorboord val. Dan erf hy mos alles! Louis, dis nooit anders nie! Hy hoop ek sal sterf voordat dit vir hom nodig sal wees om met my te trou!”
“Is daardie bepaling ook in die testament?” wil hy streng weet.
“Ja. Ek het amper vergeet daarvan. Monsieur Colonne het dit uitdruklik genoem … as ek of hy te sterwe kom voordat ons huwelik voltrek is, erf die ander een alles.”
Louis vee vlugtig met ’n bewende hand oor sy bleek gesig.
“Jy is reg, my meisie. Dis so helder soos daglig. Hy hoop jy kom iets op die bootreis oor. Dit sal hom uitstekend pas as jy Kaap die Goeie Hoop nooit bereik