Ena Murray Keur 10. Ena Murray
hamer darem te veel op hierdie erfenis van haar. Dan voel sy weer skuldig. Hy doen dit net ter wille van haar. Sy draai met ’n sug om en stoot die voordeur oop. Tot dusver het sy ’n kommerlose lewe gelei. Maar skielik het alles verander. Sy kan amper wens daar is nie êrens ’n erfenis wat op haar wag nie. Die lewe sou dan baie minder verwikkeld gewees het. Aan die ander kant weer besef sy maar te goed dat sy nie daarsonder kan klaarkom nie. Maar Louis het tog gesê hy het genoeg vir hulle albei. Haar oë vernou weer. Tog is dit duidelik baie belangrik vir hom dat sy haar regmatige erfporsie moet kry.
“Jy is vroeg terug, my kind,” hoor sy haar tante se stem uit die kamer kom, en sy stap onwillig daarheen. Sy sou liewer nie vanaand met haar oor al hierdie dinge wou gesels nie.
“Ja.”
Die ouer vrou frons en kyk haar ondersoekend aan. “Skort daar iets, Lille?”
Sy skud haar kop, ontwyk die skerp blik. Dit is vir haar baie moeilik om vir haar tante te jok. Maar dis tant Josephine se eie skuld, dink sy opstandig. As sy nie so bevooroordeeld teenoor Louis was nie, sou dit nie nou nodig gewees het om leuens te vertel nie.
“Nee. Dis maar net … ek en Louis het stry gekry en … ons sal mekaar seker nie weer sien nie. Tante sal seker bly wees om dit te hoor, nè?”
Die vreugde en verligting in die ouer vrou kry ’n tikkie kommer by. “Het jy werklik vir daardie man omgegee?”
Lille aarsel. Sy wens sy kon ’n eerlike antwoord op dié vraag gee, maar sy weet self nie. Soms, wanneer hulle so vrolik saam is en soos vroeër vanaand toe hy so bekommerd oor haar geklink het, het sy al gedink dat sy regtig vir hom lief is. Maar net so gou het die oomblikke van vertwyfeling weer gekom, was sy glad nie seker wat sy werklik vir Louis Paquin voel nie.
Sy glimlag nou effens, gaan neem op die voetenent van die bed plaas, en antwoord eerlik: “Ek weet nie, tante. Ek weet regtig nie. Hoe voel jy, wat voel jy as jy werklik vir ’n man omgee?”
Die ouer vrou glimlag verlig, leun gespanne terug teen die kussings agter haar en kyk teer na die jong meisie voor haar. “Jy sal weet wanneer die regte man op die toneel verskyn. As jy nog twyfel, het jy hom nie lief nie. Waaroor was die rusie?”
“O … sommer.” Sy haal haar skouers op en die ouer vrou dring gelukkig nie op verdere besonderhede aan nie. Sy is maar net te dankbaar om te hoor dat Louis Paquin van die toneel af verdwyn het. “Tante …”
“Ja?”
“Wat is die seun se naam, ek bedoel nou die seun van die man op wie tante verlief was?”
“Philippe. Het ek jou nie gesê nie?”
“Dan is hy Philippe wie? Wat is sy van?”
“Bidault. Hy is Philippe Bidault.” Josephine Jacquard hou haar broerskind fyn dop. Dis al vir haar asof die kind ongemaklik is. “Hoekom vra jy?”
Lille lag kortaf. “Hy is die bewaarder van my erfenis, nie waar nie? Ek moet darem seker sy naam ken, of hoe? Veronderstel u kom skielik iets oor, dan ken ek nie eens die man se naam wat my aardse skatte vir my oppas nie!” probeer sy dit ligtelik afmaak, maar die ouer vrou skud haar kop.
“Dit is eintlik so, maar jy is verniet bekommerd. Hy weet beslis van jou en dat jy eendag jou erfenis van hom moet kry. Ek het klaar ’n brief vir hom geskryf.”
“’n Brief aan hom geskryf? Wanneer?”
“’n Rukkie gelede al, en dit toe met een van die skepe wat suidwaarts gaan, saamgestuur.”
“Hoekom?”
“Om hom te nooi om vir ons te kom kuier.”
“O?” Lille kyk haar tante agterdogtig aan. Dit staan soos ’n paal bo water dat haar tante allerhande planne in die mou voer. “Hoekom?”
Josephine Jacquard sug. Miskien moet sy maar liewer heeltemal openlik met Lille wees. Noudat die ding tussen haar en Louis Paquin uit is, moet sy liewer die yster smee solank dit warm is.
“Omdat ek graag wil hê julle twee moet mekaar ontmoet en leer ken, noudat jy ’n vrou word.”
“Tante! Wat voer u in die mou?” vra Lille reguit, maar skielik is haar tante se plan glashelder vir haar, en dit is amper onnodig vir die ouer vrou om effens selfbewus te begin verduidelik.
“Hy is ’n puik jong man. Jy sal nêrens beter kry nie en …”
“Net omdat hy die seun is van die man op wie u destyds verlief was?” sê-vra Lille in ’n stemtoon wat haar tante waarsku, maar die koeël is reeds deur die kerk.
“Nee, omdat hy self ook ’n man is so reg na ’n vrou se hart. Hy was agttien toe hy die dag saam met sy ouers op die skip geklim het om na die Kaap te vaar. Maar toe al was hy ’n besonderse jong man. Nou is hy dit veel meer. Elke jaar nog het ek ’n brief van hom gekry waarin hy verneem hoe dit met ons gaan en my terselfdertyd verseker het dat jou erfenis nog veilig is. Nou het ek hom laat weet dat hy hierheen moet kom, want my gesondheid is aan die ingee. Lille …”
“Nee, tante!”
“Lille, jy sal nie beter kry nie …”
Die donker oë blits verontwaardig. “Tante, ek gaan nie toelaat dat u my aan ’n vreemdeling afsmeer nie …”
“Lille!”
“Dis waar, is dit nie? Ek sien dit nou duidelik. Dis hoekom geen jong man, ook nie Louis nie, goed genoeg in u oë is nie. Dis omdat u al die jare die droom vertroetel het dat ek eendag met die seun van die man wat u liefgehad het, moet trou. Ontken dit?”
Josephine Jacquard se oë vul met erkenning en weemoed. Ja, dis wat sy al die jare gedroom het. Lille is soos ’n eie kind vir haar, en so dikwels hoop ouers dat dit wat hulle nie self tot uitvoer kon bring nie, in hul kinders volbring sal word. So het sy ook gehoop. Sy kon nooit met Corné Bidault trou nie, maar Lille kan met sy seun trou … eendag … en daardeur iets aan haar tante teruggee wat sy jare gelede verloor het.
“Ja, my kind. Ja, dis wat ek nog altyd gehoop het sal gebeur. Jy en Philippe …”
“Maar, tante, verloor u darem nie nou die werklikheid uit die oog nie?” vra Lille met kwalik bedekte ongeduld, maar ook met deernis in haar oë. Arme tant Josephine! Haar hart kleef maar nog vas aan haar jeugliefde en selfs nie die ouderdom kon dit laat verflou nie. Sy moet Corné Bidault verskriklik liefgehad het. “Philippe Bidault is seker nou al … laat ons sien … hy was agttien met die uitbreek van die rewolusie … dan is hy nou al agt en twintig. Hy is seker jare gelede al getroud en …”
“Hy is nie.”
Lille frons ongelowig. “Hoe weet u?”
“Ek het jou gesê ons het kontak met mekaar behou. Hy is nog nie getroud nie.”
“Dan moet daar ook maar iets met hom skeel. ’n Man van agt en twintig wat nog nie getroud is nie …”
Haar tante glimlag breed. “Soveel as wat daar met jou skeel. Agttien is deesdae ’n hoë ouderdom vir ’n meisie om ongetroud te wees.”
“Daar skort niks met my nie! Ek het net nie lus om my nou al te laat bind aan een man nie …”
“Presies dieselfde met Philippe. Hy is ’n avontuursoeker soos sy vader. Ook hy het nie lus om hom nou al te laat bind nie.”
Lille frons ergerlik. Regtig, tant Josephine kan soms moedswillig hardkoppig wees! “Dan nog bly dit vergesog,” hou sy vol. “Ons ken mekaar glad nie …”
“Daarom het ek hom genooi om te kom kuier sodat julle mekaar kan leer ken.”
“Nie dat dit eintlik enigiets beteken nie, nè? U het reeds in u hart besluit dat ons twee moet trou,” beskuldig sy reguit, maar die ouer vrou kyk kalm in die opstandige oë terug.
“Ek ken geen ander man aan wie ek jou met groter vrymoedigheid sal gee, jou en jou erfenis, as Philippe Bidault nie.”
Lille