Ultrasatyn 2. Elsa Winckler
bekyk sy die rangskikking. Haar hand huiwer bokant die delphinium, maar sy kan dit nie regkry om dit uit die ruiker te haal nie. Dit hoort daar. Net soos die anemone.
Sy draai weg en gryp die groot dagboek wat op die toonbank lê.
“Die afspraak met Doug Sutherland se bruid, Annabel, is Vrydagoggend as ek dit nie mis het nie, Ella. Tannie Lisa, is jy seker jy kan ons die Vrydagaand help?” vra sy en probeer haar gedagtes terug by haar werk kry, maar hier duik die Sutherland-van al weer op.
Tant Lisa neem uitasem plaas op die hoë stoel aan die ander kant van die toonbank. “Natuurlik, hartjie, maar ek kan die Saterdag ook vir julle help,” beduie sy opgewonde. “’n Skotse troue! Mans in kort rompies. Ek wonder nog altyd wat hulle onderaan aantrek!”
“Tannie Lisa!” lag Corinne en voel hoe ’n blos teen haar nek opstoot.
Dis presies waaroor sy ook die afgelope paar dae wonder en waaroor sy die een stomender droom as die ander het. Sy het nog altyd gedink sy is maar net nie ’n vreeslik passievolle vrou nie. Die een keer wat sy as student besluit het om vas te stel waaroor al die bohaai nou eintlik is, het haar leeg en hartseer laat wegstap. Van tromme en verskietende sterre was daar nie sprake nie; dit was ’n vroetelende, swetende, vernederende ondervinding. Maar die eksplisiete drome en onnoembare fantasieë van die afgelope paar dae laat haar opnuut wonder oor tromme wat slaan en sterre wat verskiet.
Sy wil mal word – sy kan nie ophou dink aan Alan Sutherland nie. Genade tog, sy het die man seker altesaam tien minute gesien, maar dis asof elke sekonde van daardie paar minute vir ewig in haar brein vasgesement is. Sy onthou alles van hom, maar dis veral sy geur wat haar agtervolg, wat haar op die onmoontlikste tye in die verte laat staan en tuur, en haar gewone rustige bestaan totaal omverwerp.
“Ek is oud, my kind, maar ek waardeer nog ’n mooi man. En ’n mooi man in ’n kort …”
Ella se histeriese lagbui laat tant Lisa genadiglik ophou praat, want sy begin ook giggel.
“Tannie Lisa, hoekom is jy nooit getroud nie?” vra Ella en gee haar ’n drukkie. “Jy sal enige man gelukkig kan maak!”
’n Oomblik kruip die bekende hartseer trek in tant Lisa se oë wanneer iemand haar dié vraag vra, maar toe glimlag sy.
“Daar was iemand, lank, lank gelede. Maar ag, kind, ek was jonk en dom, my voete het gejeuk. Ek wou die wêreld sien. En nou ja, ek het nie geweet hy sal die laaste man wees wat my vra om te trou nie. Wat my terugbring by jou, Corinne.”
Daar is ’n dringendheid in haar oë. Sy gryp Corinne se hande vas. “’n Mens dink daar is tyd, maar as jy gelukkig is om ’n man raak te loop wat jou hartklop opjaag, jou oë laat blink – hou styf aan hom vas, hartjie, dit gebeur net een keer in ’n leeftyd.”
Corinne rol haar oë. “Het jy al vir my ma gesê? Sy is al deur ses mans en elke keer sweer sy dis ‘die een’,” beduie sy en krom die aanhalingstekens met haar vingers.
“Het jy al ooit jou ma gevra hoekom sy kort-kort ’n ander man soek?”
“Dis tog duidelik, is dit nie? Sy wil nie alleen wees nie en is verslaaf aan mans se bewondering. En sy hou daarvan om haarself vir elkeen te re-invent, dit maak my so moedeloos!”
Tannie Lisa skud haar kop. “Jou pa was haar soulmate, kind, en sy soek elke keer na wat sy by hom gehad het.”
“Pa was skaars in sy graf, toe trou sy met die volgende man!” roep Corinne uit.
“Ek weet, maar elke mens hanteer hartseer op ’n ander manier, hartjie, en my suster se manier is om seker te maak sy is nooit alleen nie.”
“Jy is seker reg,” sug Corinne. “Ek is baie lief vir my ma, maar ai, sy hol agter al wat man is aan! Noudat ek groot is, verstaan ek hoekom sy dit doen, maar as kind …” Sy skud haar kop. “Ek het gelukkig altyd vir jou en ouma gehad.”
“Óns was die gelukkiges omdat ons vir jou gehad het,” glimlag tannie Lisa. “Maar vertel my nou van die man wat jou oë so laat blink het – dis die eerste keer dat ek hoor ’n man lok enige reaksie by jou uit. Gewoonlik is jy net jammer vir hulle.”
Corinne sug. “Ek het hom net ’n paar minute gesien, tant Lisa. En daar was vyf van hulle – enige vrou se bloeddruk sou opgejaag word. Selfs Ella was ook ’n paar minute lank sonder woorde en dit gebeur nie sommer nie.”
Tannie Lisa kantel haar kop en pen Corinne vas met haar skerp blik. “Hm, maar …”
Die splinternuwe klokkie by die deur klingel en Corinne kyk op. Haar asem raak weg. In die deur, groot en sexy, staan niemand anders nie as die man wat haar oë skynbaar so laat blink.
Hy stap doelgerig nader deur die rye rakke. Tannie Lisa draai haar kop en snak hoorbaar na haar asem.
“Is dit hy?” fluister sy met ontsag.
“Jip,” giggel Ella.
“Alan,” sê Corinne toe sy haar stem terugkry.
“Corinne.”
“Uhm … dit is my tante, Lisa Greeff. Sy gaan ook help met die blomme by jou broer se troue. Tannie Lisa, Alan Sutherland. Dis sy broer wat die Skotse troue gaan hê.”
Hy glimlag vir tant Lisa en steek sy hand uit om haar te groet. Haar een hand fladder op tot teen haar ken voordat sy sy hand neem.
“Aangenaam, Alan. Kom sit hier by my.”
“Ek is seker daarvan Alan is haastig,” keer Corinne, maar Alan gaan sit ewe bedees langs tant Lisa.
“Van watter Sutherlands is jy?” Dis tannie Lisa se gunstelingvraag. Corinne sluk haar lag.
Sy weet nie wat Alan hier soek nie, maar die stomme man het geen benul waarvoor hy hom inlaat nie. Haar foon lui en sy moet haar aandag aan die kliënt gee. Sy hoor darem hoe Alan geduldig haar gunstelingtante se vrae beantwoord. Hy’s nice! Dit sou soveel makliker gewees het om hom te ignoreer as hy geïrriteerd was met tannie Lisa. Toe sy die foon neersit, skuif Alan sy stoel met ’n glimlag agteruit.
“Tannie Lisa, ek hoop ons sien mekaar weer.” Hy staan op en kyk na Corinne. “Kan ons iewers gesels?”
Corinne is nie in staat om een woord uit te kry nie. Sy kan net in die rigting van die kombuis beduie. Oorbewus van tannie Lisa en Ella se oë vol vraagtekens op haar en Alan, stap sy vinnig die kort gangetjie af tot in die kombuis. Toe sy omdraai, druk Alan die deur agter hom toe.
“Wat …?” begin sy, maar hy raak vlugtig aan haar gesig met sy vingerpunte en haar woorde raak weg.
“Jy’s verkeerd,” sê hy en die kuiltjie in sy wang flits en verdwyn.
Sy hoor sy woorde asof dit oor ’n afstand na haar toe aankom, maar haar oë is vasgenael op daardie kuiltjie.
“Corinne?” En asof sy stem nie genoeg is om heerlike rillings langs haar ruggraat te laat afgly nie, vou sy hand ’n oomblik oor haar boarm.
Sy registreer uiteindelik wat hy netnou gesê het. “Verkeerd? Waaroor?”
“Oor ons.” Hy stap ’n entjie weg, raak aan die bekers wat op die wasbak staan voor hy weer na haar toe draai. Hy kruis sy arms en frons. “Goed, ek stem saam wat tussen ons is, het vinnig gebeur, en ja, dis vreemd, selfs bisar, maar ek probeer van Maandag af om van jou te vergeet en ek kry dit nie reg nie!” eindig hy half vieserig.
Sy kan die glimlag om haar mond met die beste wil ter wêreld nie keer nie. Haar hart slaan bollemakiesie.
Die frons verdwyn tussen sy oë en hy gee ’n paar treë sodat hy weer teenaan haar staan. Sy blou oë is donker van begeerte. Hy raak nie aan haar nie, maar sy geur sypel by die porieë van haar vel in en elke liewe sel in haar lyf reageer op sy nabyheid. O. Liewe. Aarde.
“Ek wil jou graag sien,” sê hy. “Vanaand, sewe-uur? Ons gaan eet iewers.”
Sy knik. Praat is heeltemal buite die kwessie.
“Adres?”