Ultrasatyn 2. Elsa Winckler
is skitterwit, haar asem haak agter in haar keel vas en die wêreld spin ’n paar oomblikke om haar. Voordat sy ’n woord uitkry, is hy weer uit by die deur.
Haar bene weier om haar een oomblik langer regop te hou en sy sak neer op die enigste stoel.
“Hartjie?” hoor sy tannnie Lisa se stem voordat haar tante vervaard in die kombuis storm met Ella ’n kortkop agter haar.
“En nou?” vra Ella. “Wat het gebeur? Dit lyk asof iemand jou wind uitgeslaan het!”
Corinne skep ’n diep asemteug. “Dis presies wat gebeur het. Ek weet dis waansin, maar ek het ’n date vanaand. Met Alan Sutherland.”
Alan frons en kyk deur die lysie name. Hy het geen benul wat Corinne se van is nie! Hoe de hel is dit moontlik? Hy blaf ’n lag uit. Dis beslis ’n nuutjie vir hom. Gewoonlik weet hy wie die vroumens is wat hy uitneem, sou hy haar ’n ruk lank ken voordat hy haar uitvra. Die voorletters is ook nie van veel hulp nie, daar is meer as een C. Sy het nooit haar van genoem nie. Hy sou onthou het. Hy onthou alles van dag een af.
Besluiteloos staan hy rond. Hy kan vir Doug bel. As hy reg onthou, het sy broer ’n kaartjie met Corinne se besonderhede geneem. Dis net, as Doug weet hy is hier, weet sy ander broers dit binne minute en vir hul alewige beentrekkery is hy nie lus nie. Hulle sukkel nou al die afgelope paar dae met hom omdat hy nog nie ’n date met Corinne het nie.
Dit was deels hul gekoggel wat hom laat besluit het om weer die girl te probeer uitneem. Dis eintlik heel logies – neem haar uit, gesels met haar, hy kom heel waarskynlik binne die eerste vyf minute agter hulle het niks gemeen nie en dan is hy oor hierdie waansin.
Buitendien, soos selfs sy broers genoem het, sy is glad nie die tipe girl na wie hy gewoonlik kyk nie. Haar los hare en ritse armbande dui klaar op haar vrye gees – haar eie woorde, as hy reg onthou. Nie juis troumateriaal nie. Sy lyk nie soos iemand wat haar sal steur aan konvensies soos die huwelik nie.
Trou? Waar de hel kom die gedagte vandaan? Van skone ontsteltenis stap hy om die gebou tot aan die voorkant van haar winkel. Die vroumens wat by haar werk, is net mooi besig om die deur te sluit. Sy sal weet.
Sy kyk om toe sy voetstappe hoor. “Alan – ek dog …” Sy kyk op haar horlosie.
“Hallo …”
Sy glimlag skeef. “Ella.”
“Ella,” sê hy en beduie na die ingang van die woonstelle. “Die nommer van Corinne se woonstel?”
Ella se een wenkbrou lig. “Sy is Corinne Hansen en woon in woonstel nommer sewe.”
“Dankie … ek …”
“… het nie geweet wat haar van is nie?”
Hy vee verleë oor sy nek.
“Toemaar. Jy’s vergewe, want jy het teruggekom om haar weer uit te vra.” Sy stap tot voor hom. “Wat wys jy is nie stupid nie. Sy is baie spesiaal. As jy nie ernstig is oor haar nie, moenie met haar mors nie, oukei?” beveel sy met ’n vinger onder sy neus voordat sy omdraai en met ’n wuif van haar hand om die hoek verdwyn.
Wel, hel. Ernstig? Niemand het van ernstig gepraat nie. Half geïrriteerd stap hy terug en druk op die nommer sewe. Die hek klik oop. Aan die linkerkant is ’n stel trappe wat na die boonste verdieping lei. Nommer sewe is die laaste woonstel af in die gang.
Hy lig sy hand en klop. Vroumense kan so gou trouklokkies hoor. Dis glad nie wat hy in gedagte het nie, hy het net gedink …
Die deur vlieg oop, die nou reeds bekende klingeldeuntjie van die armbande soos musiek in sy ore, en elke bietjie suurstof verlaat sy lyf. Al sy vooropgestelde planne en idees verdwyn. Sy blik neem alles van haar in – die los sysagte krulle om haar gesig, die kort ligblou romp van lae en lae net wat bokant haar knie eindig, die wit toppie met dun bandjies wat styf om haar bolyf pas en elke kurwe beklemtoon. En, bliksem, iemand help hom tog net, aan haar voete pryk ragfyn ligblou sandale met hemelhoë hakke. Die enkelkettinkie flits tergend vir hom.
Hy is dood. Morsdood. Wie trek sulke klere aan vir ’n gewone ete op ’n weeksaand? Sy lyk soos niemand anders nie. ’n Netjiese langbroek en bloes of ’n rok, dis wat die meeste girls aantrek wanneer hy hulle uitneem. Maar hierdie wese voor hom …
Haar mond beweeg, maar hy hoor nie ’n woord wat sy sê nie, daar is net ’n groot gesuis in sy ore.
4
“Wil jy inkom?” vra Corinne weer.
Alan staar na haar asof sy ’n ekstra oog of iets vreemds aan haar het. Sy het al gegroet, hom ingenooi, maar hy hou verbete vas aan die deurkosyn, so asof hy hom wil keer om in te stap.
“Alan?” probeer sy weer. “Wil jy dalk –”
Voordat sy haar sin kan klaarmaak, het hy haar teen die muur langs die voordeur vasgedruk, en rus sy hande teen die muur langs haar gesig. Sy lippe is sentimeters van hare af, sy asem jaag soos een wat ver gehardloop het en sy oë is donker poele kokende hartstog.
Haar lyf reageer onmiddellik op die begeerte in sy oë. Haar hart bons al die hele dag laf rond, maar nou tol dit freneties in haar binneste en haar bloed verhit tot ver anderkant kookpunt.
“Jy,” sug hy, sy stem hees, “laat my dinge doen wat ek nooit doen nie.” Daar is ’n frons op sy voorkop en hy klink half vies, maar voordat sy verder daaroor kan wonder, kantel hy sy kop en soen haar. Sy mond pas perfek oor hare.
Sterre verskiet, tromme slaan en elke senuweepunt in haar lyf word aangeskakel. Diep binne haar is ’n sug. So, dís hoe dit voel. Sy mond is warm, honger, sy tong dring aan op toegang. Êrens skree ’n stemmetjie half moedeloos vir haar ’n mens soen nie ’n ou op ’n eerste date nie, maar die stemmetjie is baie ver weg en buitendien, sy wil nie daarna luister nie. En hy het haar al gesoen. ’n Uur nadat sy hom ontmoet het.
Suurstof raak ’n probleem en sy snak na asem. Sy tong glip tussen haar tande deur tot in die dieptes van haar mond waar haar tong eers versigtig hallo sê voordat dit skaamteloos met syne begin flerrie.
Sy soek vashouplek en haar hande beland teen sy borskas. Onder haar vingers dawer sy hart. ’n Magtige stroom passie tel haar op en sy word meedoënloos saamgevoer.
Uiteindelik beweeg sy hande teen haar arms af, haar vel gloei waar hy haar aanraak en die kole van passie wat tot nou toe net gesmeul het, vat vlam. Haar lyf buig blatant, uitnodigend vorentoe, na hom toe, op soek na nog liefkosing, nog passie.
Sy hande gly teen haar sye af, swiep terug tot bo teen haar armholtes, haar lyf span styf in afwagting, haar borste beur smagtend na sy aanraking teen haar toppie.
Met ’n swetswoord lig hy sy kop. Hy vee haar hare agter haar ore in, sy hand bewend, sy oë halfmas van begeerte.
Hy draai vinnig weg en stap tot by die voordeur. Sy leun uitasem teen die muur agter haar.
“Die restaurant waar ek plek bespreek het,” sê Alan, sy asem hortend, “is net om die draai van hier. Ons kan stap.” Hy vee oor sy nek voordat hy omkyk na haar toe. “Is jy gereed?”
Die blik in sy oë droog elke druppel spoeg in haar mond op. Haar bene voel soos jellie en Corinne druk haarself huiwerig weg van die muur. Great, sy kan tog regop bly.
“Ek … kry net my handsak,” kry sy uit en vlug in die gang af na haar kamer toe.
Sy druk haar hande teen haar vuurwarm wange en loer skuins na haar beeld in die spieël. Goeiste, is dit sy? Die girl met die blink oë en rooi wange en opgeswelde lippe?
Met ’n kreun gryp sy na haar lipstiffie en smeer dit oor haar lippe terwyl sy uitstap. Netnou besluit hy om te kom kyk waar sy is en … Sy kyk vinnig om na haar bed. Sy sluk wind en storm by die kamerdeur uit. Beelde van ineengestrengelde lywe op die bed is heeltemal te maklik om op te tower. Swart satynlakens en soel nagte. Help!
Alan wag vir haar in die gang buite haar woonstel. Hier waar mense loop, waar hy hom moet gedra, hier word hy gedwing om soos ’n beskaafde mens op