Ultrasatyn 2. Elsa Winckler
probleem, Corinne Hansen, is jy.” Hy stap tot reg voor haar. “Jy is glad nie die tipe girl wat ek normaalweg uitneem nie. Maar,” asof onwillig vou sy hande om haar boarms, “ek loop nou al dae lank rond met jou op my brein, in my lyf, in my bloed en ek …” Hy buk af en soen haar. “Ek kan nie meer daarteen baklei nie.”
Sy lig haar arms, met die o so bekende klingeldeuntjie, en hy kreun teen haar nek. “En jou armbande …”
Sy woorde bons teen die dak. Iets wat hy gesê het, pla haar, maar hy trek die een bandjie van haar toppie af, druk sy lippe teen haar kaal skouer en toe maak niks meer saak nie.
Haar asem slaan agter in haar keel vas, haar kop val willoos agteroor. Sy ander hand glip onder haar kort rompie in, gly op teen haar been. Klein vuurtjies vat vlam onder haar vel. Hy lig haar been op langs sy lyf. Sy begeerte klop teen haar.
Alles rondom hulle het vervaag. Al wat hy inasem, al waarvan elke sel in sy lyf bewus is, is die vrou voor hom. Sy lippe beweeg af teen haar hals, soek en ontdek elke sentimeter van haar lyf. Uiteindelik gly sy tong oor die boonste rondings van haar vol borste terwyl sy vingers onder haar romp gekeer word deur kant en satyn. Die hitte van haar kern nooi hom uit, terg hom. Sy bene is lam, sy hart klop teen ’n frenetiese spoed.
Met haar lang, lenige ledemate, vroulike kurwes, sysagte vel, vrygewige mond, is sy elke man se fantasie. Sý fantasie. Sy is suiwer lyflike plesier en soos een wat reeds verslaaf is, kry hy nie genoeg van haar nie.
“Corinne.” Haar naam glip uit terwyl sy mond opgly teen haar nek. Tot waar haar pols onder sy lippe hamer. Haar vel word warm totdat haar geur deel word van elke asemteug. Om haar te proe, aan haar te raak, is ’n sensoriese belewenis, een wat elke sintuig oorstimuleer.
Sy lippe soek weer na hare sodat hy hom kan verloor in haar wese. Sy ander hand glip voor by haar toppie in, vou oor haar bors. Die skerp puntjie terg sy hand en hy moet troetel en liefkoos. Die diep kreun uit sy binneste is onwillekeurig.
Iewers kry rede tog ’n gaping. Sy mond beweeg tot by haar oor. “Ek kan nou nog wegstap as jy nee sê …”
Passie bruis deur haar lyf, sny alle waarskuwende boodskappe van haar brein summier af totdat sy net voel. Die een duidelike boodskap van haar lyf? Moenie ophou nie. Asseblief.
“Corinne.” Sy stem is hees in haar oor.
“Hmm,” is al wat sy uitkry terwyl haar hande jubelend sy breë skouers verken.
“Ja of nee?”
Uiteindelik dring die gillende stemmetjie van netnou tot haar deur. Die een wat haar wil herinner aan iets wat Alan gesê het. En toe onthou sy sy woorde.
Sy sluk verstom. Het hy dit regtig gesê? Sy lig die bandjie van haar toppie in plek en druk teen sy borskas. Hy retireer effens.
“Jy sê ek is nie jou tipe nie. Wat presies beteken dit?”
Hy glimlag skeef. “Jy’s beautiful. Wanneer ek by jou is, werk my brein nie. Al waaraan ek kan dink, is om jou uit jou klere te kry.”
O, so sy is nie sy tipe nie, maar … Sy probeer kalm bly en hou ’n glimlag op haar gesig. “Oukei. Laat ek kyk of ek jou reg verstaan. Jy,” en sy beduie met haar hande, “wil by my wees, wil my soen, wil my, hoe het jy dit gestel? O ja, uit my klere kry, maar ek is nie die ‘tipe’ meisie oor wie jy wil ernstig raak nie?” Sy boots die aanhalingstekens met haar vingers na. “Het ek jou reg verstaan?”
“Ek probeer eerlik wees. Ek kan nie ernstig raak oor iemand wat …”
Haar oë vernou.
“Die punt is, ons werk met vooraanstaande kliënte en wanneer ek eendag vrou vat, moet dit iemand wees wat, wel, ek weet nie, stemmig is. Nie … ek bedoel, jy’s anders.” Hy beduie vaag na haar romp. “Wie trek so iets aan?”
Sy is seker daarvan sy het nie mooi gehoor nie.
“Jy bedoel –”
“Dis duidelik jy stel ook nie belang in ’n langtermyn-verhouding nie en –” val hy haar in die rede.
“O, en hoekom sê jy so?”
“Kyk net al die mans wat jou vanaand voorgekeer het!” roep hy half gefrustreer uit. “Ek het jou uitgeneem, maar ’n klomp ander javels reken hulle het die reg om aan jou te vat!”
Haar mond val oop en sy draai haar rug op hom sodat hy nie haar reaksie kan sien nie. So, dis hoekom hy die hele aand so stil was. Iewers in sy kop het hy hom wysgemaak die mans wat haar gegroet het, is meer as net vriende. En hy is vies daaroor, want hy het die rekening betaal. Wow.
“Die punt is …” begin hy weer, maar sy weet presies wat hy wil sê.
Sy lig haar op haar tone en draai in die rondte sodat haar romp wyd om haar lyf uitklok. Uitasem kom sy voor hom tot stilstand.
“…’n tulleromp-girl wat blomme doen, is nie die ‘tipe’ vrou wat jy in gedagte het om jou kliënte te onthaal nie?”
Verlig knik Alan en gryp haar hande. “Maar daar is niks wat sê ons kan nie tyd saam deurbring nie. Ek moet hierdie … ding tussen ons uit my sisteem kry. Ek kry nie gewerk nie, ek slaap nie, ek kan nie eet nie!”
Corinne kners op haar tande, maar hou haar glimlag stewig in plek. Sy is eintlik lus en keer ’n emmer baie taai stroop oor sy kop om, maar dis tyd dat iemand hierdie arrogante Skot op sy plek sit. Ha, sy is juis nie “stemmig” nie – dus presies die “tipe” girl wat hom ’n les sal kan leer.
Sy laat glip weer die een bandjie van haar top van haar skouer af en toe sy oë op haar skouer vashaak, lig sy haar op haar tone en vou haar hande om sy nek.
“So, hoe lank?”
Sy kop het al begin afsak, maar hy stop. “Hoe lank wat?”
“Hoe lank gaan dit jou neem om my uit jou sisteem te kry?” vra sy en begin druk soentjies op sy gesig.
“Ek … ek … weet nie,” stamel hy en probeer haar mond met syne vang.
“Ek moet weet vir hoe lank. Jy verstaan mos. My tipe girl se dagboek is vol.” Sy laat gly haar tong oor sy onderlip.
“Ek … oukei, tot Doug se troue?” kreun hy uit en gryp haar kop in albei hande vas.
Sy glimlag. “Deal,” sê sy en soen hom met al die ingehoue woede en ontsteltenis in haar binneste. Haar tong glip blitsig in sy mond. Sy lig haar been teen sy heup en druk vir ’n oomblik haar onderlyf styf teen syne.
’n Snak glip deur sy lippe, maar voordat hy kan asemskep, maak sy die voordeur oop en druk hom by die deur uit. “Maar nou moet ek my slaap inkry. Saterdagaand sewe-uur?”
Terwyl hy hygend na haar staar, gee sy ’n tree tot teenaan hom en laat gly haar hand stadig voor teen sy hemp af, vanaf die holte in sy nek tot net-net onderkant die gespe van sy gordel.
Sy oë word donker en hy gryp na haar hand, maar sy dans weg. “Mooi ry!” roep sy vrolik en druk die deur toe. Toe leun sy verontwaardig teen die deur totdat sy sy voetstappe hoor wegstap.
Nie sy “tipe” nie! En dit omdat sy ’n tulleromp dra. Vies begin stap sy heen en weer. Wie dink hy is hy? Wel, een ding is seker. Hy gaan nie weet wat hom getref het nie.
5
Die klokkie by die blommewinkel se deur klingel. “Vertel, vertel, vertel!” Ella se opgewonde stem bereik Corinne nog voordat sy haar sien. “Hoe was jou date met die sexy Alan Sutherland? Ek kan nie wag om alles te hoor nie!”
Corninne glimlag terwyl sy fokus op die rangskikking voor haar. “Dit was … interessant.”
Ella kom voor haar tot stilstand. “Interessant? Ag, toe nou. Jy het niks gedoen gekry gister nadat die man hier uit is nie.”
Corinne gooi haar hare agteroor, haar armbande rinkel. “Het jy geweet,” sê sy en druk ’n steel magrietjies in die rangskikking, “ek is skynbaar nie die tipe girl