Ultrasatyn 2. Elsa Winckler
het, kry weer lewe. Wat de hel is dit met hom en die girl? Haar oë is donker, tekens van die passie van netnou nog duidelik sigbaar. Woordeloos neem hy die sleutel by haar en sluit die voordeur agter hulle.
Hulle stap teen die stel trappe af. En asof hy dit dikwels doen, neem hy haar hand. ’n Oomblik fladder dit in syne voordat haar vingers ontspan.
Hy maak keel skoon. Iets moet hy sê oor sy gedrag van netnou.
“Wat doen jy en jou broers vir ’n lewe?” vra sy egter doodluiters toe hulle by die gebou uitstap. “Ek het afgelei julle voer iets in of uit?”
“Sagte vrugte,” sê hy, dankbaar vir die verposing. “Ons het op ’n plaas in die Ceresvallei grootgeword, maar nie een van ons wou gaan boer nie. My ouers woon nog op die plaas, maar ons het deesdae ’n bestuurder. My pa het altyd gesukkel met die uitvoerders van ons vrugte en dit was sy idee dat ons dit self doen. Ek en Doug het die onderneming begin nadat ons klaar gestudeer het en die ander drie het later by ons aangesluit.”
“So julle bly in die Paarl?”
“Ja, ons deel ’n huis. Doug trek natuurlik nou uit. Hy en Annabel het ’n huis gekoop. Hier is ons,” voeg hy by toe hulle by die restaurant kom.
“Oe, lekker!” lag Corinne en klap haar hande opgewonde. “Ek is absoluut gaande oor hul nagereg. Hulle maak ’n crème brûlée wat my laat smelt.” Haar oë val ’n oomblik toe in ekstase. Sy vat aan sy arm. “Ek moet jou waarsku – ek het ’n gesonde eetlus. ’n Baie gesonde een.”
En voordat hy ’n woord kan uitkry, trippel sy die trappies op. Haar armbande klingel, die kettinkie om haar enkel glim en hy loop soos een wat gehipnotiseer is agter haar aan.
“Hallo, Corinne!” Die man by ontvangs se groet is gul. Hy stap agter die toonbank uit en gee haar ’n drukkie.
Doelgerig stap Alan tot by haar en neem haar hand weer in syne. “Tafel vir Sutherland,” sê hy kil.
Die man knipoog vir Corinne voordat hy terugstap na die besprekingsboek en vinnig daarin loer. “Jul tafel is buite in die klein binnehof.”
Hulle stap tussen tafels deur agter die man aan. Drie keer word Corinne voorgekeer deur die een of ander javel wat van ’n tafel af opspring en haar druk of soen of albei doen. Teen die tyd dat hulle uiteindelik by hul tafel uitkom, is Alan gereed om yster te breek.
Voordat hy haar stoel kan wegtrek, is ’n kelner by. Hy groet Corinne vrolik en leun glimlaggend oor haar. Alan gryp die wynlys wat op die tafel lê, maar die letters spring gevaarlik op en af.
“Wat drink jy?” Hy moet weer na haar kyk en … bliksem. Hy skuif ongemaklik op die stoel.
Sy glimlag en beduie klingelend na die wynlys. “Ek sal enigiets drink wat jy bestel, maar as ek kan kies – vonkelwyn. Altyd, altyd vonkelwyn. Daar is iets onweerstaanbaars aan borrels op jou tong, dink jy nie so nie?”
“Ons het Corinne se gunsteling op ys.” Die kelner se glimlag is trots.
“Goed, bring dit, asseblief.” Alan weet hy is kortaf, maar hy kan niks daaraan doen nie. Corinne se onskuldige woorde het sy bloeddruk verder opgejaag en as die man nog ’n enkele oomblik leepoog na haar staar, kan hy nie verantwoordelik gehou word vir sy dade nie.
Hy gryp die spyskaart en probeer sin maak van die dansende letters voor hom.
“Hmm,” kreun Corinne en hy kyk vinnig op.
Haar tong glip oor haar bolip terwyl sy na die spyskaart staar.
“Hierdie dis,” sy leun oor en beduie op sy spyskaart waarvan sy praat, “is hemels, absoluut hemels.”
Vir ’n vlietende oomblik is die rondings van haar borste opgedruk deur haar arm. Hy hoor haar woorde oor ’n afstand, maar ’n rooierige waas het voor sy oë ingeskuif. Hy onthou elke oomblik van sy lippe teen hare, van haar sagte kurwes teen sy lyf, van …
“Alan?”
Hy knip sy oë, dwing ’n glimlag om sy mond en maak sy spyskaart toe. Enige besluit is nou onmoontlik. Daar is ’n vuur in sy lyf wat hom geleidelik verteer, ’n vlammedans wat sy brein oorgeneem het.
“Dit klink goed. Bestel jy vir ons.” Hy het geen benul waarna sy gewys het nie.
Die kelner bring die vonkelwyn. Hy skiet die prop met groot fanfare en Corinne lag vrolik. Sy beduie vir hom wat hulle wil eet.
Uiteindelik gee die kelner pad en sy lig haar glas. “Op ’n –”
“Op jou,” val hy haar in die rede en klink haar glas.
Haar oë glimlag vir hom oor die glas se rand voordat sy ’n slukkie neem en behaaglik terugsit. “Perfek. Absoluut perfek,” sug sy en lek oor haar lippe.
Alan neem ’n groot sluk van sy glas vonkelwyn. As hy hierdie aand oorleef sonder om iets onbesonne aan te vang, sal dit ’n wonderwerk wees.
Corinne is oorbewus van die groot man langs haar terwyl hulle terugstap na haar woonstel. Anders as vroeër vanaand, vat hy nie weer haar hand nie. Haar keel is droog gepraat. As hy drie woorde in die loop van die aand gesê het, is dit baie.
Hoekom hy daarop aangedring het om haar uit te neem, sal net hy weet. Die soen van vroeër vanaand het hom heel waarskynlik onder die indruk gelaat dat die aanvanklike vonke tussen hulle vinnig uitgebrand het. Tog snaaks, want sý het tydens die einste soen vuurwerk op vuurwerk beleef.
Hulle is gelukkig amper by die woonstelgebou. Sy het haar toegangskaart in haar hand en gaan vinnig ontsnap. Hy kan seker ook nie wag om hom uit die voete te maak nie. Wel, sy het hom nie gevra nie, hy is die een wat nie nee vir ’n antwoord wou vat nie. Sy het gesels en stories vertel en probeer grappies maak, maar die vent het nie ’n spier vertrek nie, net die een vuil kyk na die ander vir die stomme kelner gegee. Nou is sy moeg en keelvol vir die beneukte Skot.
“Dankie vir ’n heerlike aand, Alan …” begin sy saaklik toe hulle voor die deur kom, maar hy neem die toegangskaart by haar en glip dit deur die gleuf. “Dis nie nodig nie,” keer sy vinnig. Maar hy steur hom nie aan haar nie, vat haar hand en stap tot by die trappe. Sy moet trippel om by te hou en die blou sandale is nie juis gemaak vir trippel nie.
“Alan, wat op aarde …? Ek kan nie so vinnig …”
Die volgende oomblik tel hy haar in sy arms op en klim die laaste paar trappies met lang treë tot bo.
Sy kake is styf opmekaar en ’n spiertjie spring-spring in sy wang. Haar een hand is op sy skouer. Spiere rimpel onder haar vingers en sy staar gefassineer na sy mond. Die einste een wat haar vroeër vanaand gesoen het. En wat haar Maandag gesoen en vir drie slapelose nagte gesorg het.
Hy laat gly haar teen sy lyf af voor haar woonsteldeur en hou sy hand uit. “Jou sleutel.” Sy stem is skor.
Om hulle styg die temperatuur aanvoelbaar en sy sukkel om die sleutel in haar handsak raak te vat. Wat het nou gebeur? Met ’n swetswoord vat hy die handsak by haar en grawe die sleutel uit.
Wat is dit met die man? Sy handbewegings is rukkerig, sy asem jaag.
Met een beweging sluit en maak hy die deur oop, trek haar in die woonstel in en skop die deur agter hom toe. En voordat sy haar asem terughet, is sy weer teen die muur vasgepen.
“Alan, wat …?”
Hy vou sy rukkerige hande om haar gesig. “Jy maak my heeltemal mal!” Hy skep ’n diep teug asem. “Wie de hel is al die mans wat jou groet en druk en soen? Dis ’n wonderwerk ek het nie my vuis in elkeen se gesig geplant nie.”
Verstom staar sy na hom.
Sy hande gly teen haar arms af. “Ek … moenie aan jou raak nie, want soos ek nou voel …” Hy stap mompelend ’n ent weg.
En toe is sy sommer vies. Sy druk haarself weg van die muur. “Ek het jou gesê ek en jy is nie ’n goeie idee nie,” kry sy uit en stap voordeur toe. “Ek het vriende. Ons groet mekaar, ek weet nie wat jou probleem is nie …”