Ena Murray Keur 12. Ena Murray
jy nie net gaan kyk hoe dit met haar gaan nie?”
Hy knik. “Oom sê sy is op die plaas? Alleen?”
“Klein Poens gaan slaap snags by haar . . .”
“Ek sal gaan, oom. Is oom seker ek moet haar nie saambring nie?”
“Nee. Ek wil nie die kind ontstel nie. Sy het ook al swaar gehad in haar kort lewetjie. Nee, gaan kyk net of alles nog wel is daar.”
“Goed. Ek belowe. Wat moet ek vir haar sê? Enige boodskap?”
“Sê net dit gaan goed. Moenie vir haar sê ek . . . lyk só nie. Sê dit gaan goed en dat ek een van die dae weer terug sal wees. Maar as . . .” Weer lig die kommervolle ou oë omhoog. “Maar as dit nie gebeur nie, sal jy . . . sal jy na my dogtertjie omsien?”
“Ek sal, oom. Ek sal ’n plan maak. Moenie bekommerd wees nie. Ek sal nou moet gaan, want suster het my gewaarsku om nie te lank te bly nie.” Hy neem weer die ou hande in syne. “As ek my dinge so gereël kan kry, sal ek nog sommer vanmiddag vertrek en gaan kyk hoe dit gaan. Gee my net die adres en beduie my die pad plaas toe.”
Op pad na oom Herklaas se plasie is Festus se gedagtes met verskillende dinge besig terwyl die kilometers onder sy motor se bande deurgly.
Eers dink hy aan oom Herklaas en die belofte wat hy gemaak het. Hy weet hy was oorhaastig, maar hoe weier ’n mens ’n sterwende se laaste versoek? Dit was veral die gedagte aan sy ouers en hoe hulle in hierdie omstandighede sou optree, wat hom so vinnig dinge laat sê het wat hom later miskien duur te staan kan kom. Maar weer . . . Die ou man was so pateties, sy oë so smekend; die tenger, uitgeteerde gestalte in die wit hospitaalbed so ontredderd en weerloos, so afhanklik van hom. Hoe kon hy weier?
Fronsend staar hy na die pad voor hom. Miskien kom oom Herklaas weer reg, herstel heeltemal. Dan het hy hom nou verniet sit en verknies. Miskien . . . Maar diep in sy hart weet hy oom Herklaas sal nie weer daar opstaan nie. Die belofte wat hy gemaak het, sal hy moet nakom.
Hy sug diep. Asof hy nie genoeg probleme in die vorm van twee beeldskone vroue het nie! Hoe kon hy, ’n vrygesel, belowe dat hy na oom Herklaas se dogtertjie sal omsien? Nee, daar sal ’n ander plan gemaak moet word as die toekoms bewys dat hy tog oor die wel en wee van oom Herklaas se kind moet besluit. ’n Weeshuis?
Hy voel diep bekommerd. Hy weet oom Herklaas sal nie van hierdie gedagte hou nie. Dis juis hoekom hy hom gevra het om na sy kind om te sien. Maar wat kan hy anders doen? Hy kan tog onmoontlik self vir die kind sorg!
Hy sug. Die beste is om liewer nie probleme vooruit te loop nie. Hy het op die oomblik genoeg probleme sonder dat hy dié in die toekoms ook nog moet byhaal. Die gedagte dat die kind alleen by die onbekende Poens slaap, staan hom reeds nie aan nie. Hy sal iets moet bedink, die kind by bure plaas tot tyd en wyl hy ’n ander plan kan maak.
Maar op die oomblik is oom Herklaas se dogtertjie die geringste van sy probleme. Zelda was woedend omdat hul afspraak vir vanaand gekanselleer is. Die storie van oom Herklaas se dogtertjie het sy duidelik nie geglo nie. Om heeltemal regverdig te wees, hy kon haar ook nie kwalik neem nie. Dit het vir homself, in sy eie ore, na ’n leuen geklink. Dat hy, Festus, skielik gaande is oor die kind van die man wat jare gelede in sy oorlede pa se tuin gewerk het, kan hy self amper nie glo nie.
Hy besef nou dat hy hierdie geleentheid aangegryp het om ’n bietjie weg te kom van die twee veeleisende vroue. Dit is net die geleentheid waarna hy gesoek het om ’n slag weg te kom. Weg van die stad, buite in die vrye natuur met oop ruimtes om hom, sal hy weer helder kan dink – dit is wat hy wil hê.
Hy draai by ’n hek in, hou stil. Dis laatmiddag en die armsalige huisie is geen vreugde vir sy argiteksoog nie. Dit is darem netjies gewit en uit die skoorsteen trek ’n rokie. Hy klim uit, kyk om hom rond en is halfpad op pad voordeur toe toe ’n gedierte om die hoek kom en op hom afstorm. Hy verstyf in sy spore. Hy is ’n liefhebber van honde, maar die ding wat hier na hom toe aankom, is nóg vis nóg vlees. Dis ’n groot hond – as dit ’n hond is – met slordige lang hare. Om die waarheid te sê, hy kan nie sweer die dier kom nie agterstevoor na hom toe aan nie. Die voor- en agterkant is ewe behaar en bebos en gekoek met klitsgras. Dis eers toe die dier met twee modderpote teen hom opspring en hom waterpas in die oë kyk, ten minste waar hy dink die oë tussen die hare moet sit, dat hy seker is watter kant is voor en watter agter.
“Siejy! Voert!”
Maar die gedrog met die honderd en twaalf verskillende soorte bloed in sy are, behou sy druk met die groot, harige pote op die netjiese hemp en ’n rooierige tong gee ’n nat sleepsoen dwarsoor die gesig voor hom.
“Siejy . . . jou vloekskater!”
Die twee paar oë wat hom verwonderd aanstaar, rek en dan glimlag die kortste van die twee wesentjies.
“Mag! Dis ’n mooie daardie! Ek moet hom onthou!”
“Poens! Jy het belowe jy sal nie weer lelik praat nie.”
“Ja, maar . . .”
“Voertsek, jou maaifoerie!” roep Festus uit.
“Oho! Die oom ken ’n paar goeies!” ’n Breë, bewonderende glimlag breek deur die swart strepe op die gesiggie.
Katryntjie stap vorentoe, kry die hond aan die nekband beet en begin trek. “Beauty! Af! Beauty!”
Skielik is Festus bevry van die onding, en hy kyk af op die ongelooflikste vuil mensie wat hy seker nog gesien het.
2
Hy kan sy oë nie glo terwyl hy na die toneel voor hom kyk nie. Dis net die seuntjie se rooi hare en ’n skynsel van blond in die dogtertjie se dik poniestert wat nié swart besmeer is nie. En die twee paar blou oë wat onnatuurlik lyk in die pikswart gesiggies.
Sy frons verdiep en hy trap ongemaklik rond. Die twee paar oë kyk stokstyf na hom op, soos wat net ’n kind kan doen wanneer hy besig is om ’n onbekende faktor op te som . . . sonder ’n enkele oogknip, sonder enige uitdrukking daarin. Die seuntjie se hande is agter sy rug gevou. Die dogtertjie het ’n kalmerende hand op die groot hond se kop waar hy gehoorsaam langs haar kom sit het. En ook tussen die lang hare blik nog ’n paar oë hom toe, maar darem vriendelik, besef hy toe hy die kwispelende stert gewaar.
Dan keer sy blik terug na die twee wesentjies voor hom. Hoe, sal hy baie graag wil weet, het hulle dit reggekry om só vuil te word? Tot die kaal voete is pikswart en dit lyk behoorlik asof swart pik met geweld onder die toonnaels ingedruk is. En daar is ’n reuk . . . Hy staan ’n tree terug. ’n Reuk . . .
Dis die dogtertjie wat eerste praat. “Ek is jammer Beauty het u besmeer, meneer.”
“Beauty! Noem jy daardie . . . e . . . gedrog Beauty?” Skielik is die hele toneel en alles wat daarmee gepaardgaan, net te snaaks en hy gooi sy kop agteroor en lag hartlik. Hy vergeet van die twee modderstrepe op sy modieuse hemp. “Beauty!”
Sy lag verstil toe hy in die ysige oë vaskyk. Hy trek sy wenkbroue omhoog. Ook die rooikop se oë blits na hom op.
“Beauty is g’n gedrog nie! Beauty is pragtig!” Dit lyk of die vuil rooi hare van die seuntjie dreig om orent te staan van verontwaardiging. “Waar kom jy vandaan om Beauty hier te kom staan en beledig, jou uitvaagsel van ’n maaifoerie!”
“Poens!”
“Ja, maar . . .”
“Dis genoeg, Poens!” Die dogtertjie se stem klink kompleet soos dié van ’n streng oumatjie.
Toe Festus hom weer kom kry, lag hy weer hardop. As sy haarself net kon sien! Dis al vir hom of haar poniestert ook stywer van haar kop af wegstaan, en die blou oë wat onverskrokke in syne vaspen, vertel hom dat sy presies nes Poens hier langs haar voel.
“Is daar iets wat ons vir u kan doen, meneer?” vra sy kamma uit die hoogte.
Festus dwing sy gesig in ernstige plooie. “Ja, dankie. Ek soek na Skaars-van-als, oom Herklaas Klem se plaas . . .”
“U