Ena Murray Keur 12. Ena Murray
waartydens hy nugter oor sy probleme tuis kan dink en oplossings kan vind, is na die maan. Dis geen rustige naweek wat vir hom voorlê nie, en die probleme waarteen hy hom hier kom vasloop het, dreig om veel groter te word as dié wat hy tuis agtergelaat het . . .
Later neem hulle plaas om die kombuistafel. Die aandete lyk maar power – brood, botter en konfyt. Dan word ’n geurige pastei op die tafel neergesit en hy kyk verras daarna.
“Dit ruik heerlik. Het jý dit tog nie gemaak nie, Katryntjie?” vra hy in ’n poging om die ietwat kil atmosfeer te verlig. Sy knik net en hy sê weer vriendelik: “Maar dis baie oulik van jou. Waar het jy dit geleer doen?”
“Ek het huishoudkunde op skool gehad,” prewel sy.
Weer is daar ’n geluid van Poens se kant af wat vinnig verdoesel word toe hy die agterdogtige oë op hom gewaar. “Sy het die botter ook self gemaak.”
“Dis pragtig. Baie pragtig.” Hy hou Poens opsommend dop. Hy het ál die gevoel die klein rakker wil bars van die lag, maar waaroor kan hy nie dink nie. Hy tel sy vurk op, sien dat die twee hom doodstil sit en aankyk. Hy lig sy wenkbroue, laat sy vurk weer sak. “Iets verkeerd?”
“Jy moet eers die seën vra,” kom dit van Poens.
Hy is duidelik onkant betrap en dis Katryn wat die ongemaklike stilte verbreek. “Jý kan vanaand vir ons die seën vra, Poens.”
Hy sien hulle hande vat en dan strek daar ook twee handjies na sy kant toe uit. Gehoorsaam neem hy hulle en buig sy kop.
Poens bid: “Seën wat ons eet, Here, laat ons u goedheid nooit vergeet nie, amen, oe, Katryn, maar nou is ek honger!”
Alles word in een asem gesê en vir die eerste keer wissel Katryn en haar nuwe voog ’n glimlag. “Val dan maar weg, maat. Hier is baie.”
Katryn kan nie help om geamuseerd op te merk dat die stadsheer, nes klein Poens, ook deeglik wegval nie. Die pastei verdwyn, en die boerbrood en botter en appelkooskonfyt verdwyn net so toweragtig.
Die aandete – wat eers vir hom, gewoond aan eksotiese restaurantdisse en Bes se puik etes, so armoedig vertoon het – word ’n koningsmaal. Hy kan nie onthou wanneer laas hy ’n ete so geniet het nie. Dit laat hom ook terugdink aan sy ouma en oupa aan moederskant wat ook op ’n plaas gewoon het, en hy onthou vanaand weer dat daar altyd varsgebakte brood en plaasbotter op die tafel was en hoe hy as kind net so weggelê het daaraan soos Poens vanaand. Hy strek sy hand weer na die broodbord uit . . .
Toe hy sy glas karringmelk optel, is sy oë peinsend en Katryn kan sien dat sy gedagtes dwaal.
Festus dink ver terug. Dit was die gewoonte by sy oupa en ouma op die plaas, en ook by sy ouerhuis, om altyd eers die seën te vra. Hy glimlag effens weemoedig. Dis byna dieselfde gebed wat Poens vanaand afgerammel het wat sy oupa en vader gebruik het. Dis ’n gewoonte wat by hom uitgesterf het. Net so was dit altyd die gewoonte om mekaar se hande te neem terwyl daar gebid is.
Hy kyk die twee kinders aan weerskante van hom beurtelings aan. Oom Herklaas mag in ander opsigte in gebreke gebly het om sy dogter op te voed en reg groot te maak, maar daar is sekere dinge wat hy nie agterweë gelaat het nie. En miskien is dit juis dié dinge wat die grootste waarde het.
Hy kry effens lag vir homself. Vanwaar die skielike filosofiese gedagtes?
Ná aandete gaan sit hulle op die stoepie en kyk hoe die vlaktes om hulle verdonker. Om hulle lê die stilte soos ’n mantel, en die geskree van die krieke en paddas maak die stilte nog geselliger. Bokant hulle skyn die sterre helder. Hy kyk omhoog. Die stad se sterre lyk anders, dowwer. En dit was laas op sy oupa se plaas dat hy sulke stilte ervaar het. Sy lewe in die stad voel so ver weg . . . en so onwerklik. Hy wens hy kon langer as die naweek hier bly.
Hy luister na die gesprek en geniet dit tot sy verbasing. Dit gaan oor koeie en skape en hoenders en telkens voel hy verbaas oor die wyshede wat Katryn kwytraak. Sy het haar pa se liefde vir die veld en die diere geërf. Sy is ’n natuurkind. Later begin hy uitvra, en hy hoor hoekom hier op Skaars-van-als allesbehalwe ’n skaarste aan allerhande soorte diere is. Dis Poens wat hom vertel dat almal in die omtrek weet hoe goed Katryn met siek diere is en dat die meeste diere siek of beseer hier aangeland het. Katryn het hulle gesond gedokter, en dan het hulle maar sommer hier gebly. Soos Snoefie die meerkat, en Beauty en Pensie die kat, en Loffie die mak duif wat omtrent die hele aand op Katryn se skouer sit en slaap het totdat sy hom netnou in sy hokkie gaan sit het.
Beauty is maer en verhonger in die veld aangetref as ’n klein hondjie. Katryn het hom gedokter met bietjies melk totdat hy gesond was, en toe het hy maar net hier gebly. Snoefie se stert en een heup het in ’n slagyster vasgesit wat gestel was vir jakkalse. Katryn het hom gedokter, en al loop hy vandag nog duidelik mank, het hy gesond geword en gebly. So het Loffie op ’n dag met ’n af vlerk en een af pootjie op die werf neergeval – die werk van kinders met windbukse. Katryn het hom opgetel . . . en vandag volg hy haar waar sy gaan. En Pensie, die groot kat, het op ’n dag net by Skaars-van-als aangeloop gekom . . . afgegooi langs die groot pad deur mense wat haar nie meer wou hê nie.
Festus voel werklik gesteurd toe die bakkie met die blou polisielig bo-op die kap by die werf indraai. Hy kan die verstywing in Katryn se skraal lyfie sien, en hy staan vinnig op, ’n gevoel van onheil in hom. Hier is nie ’n telefoon op Skaars-van-als nie. Dis ’n luukse wat oom Herklaas homself nooit veroorloof het nie.
“Ek sal gaan hoor wat hulle wil hê,” sê hy vinnig toe dit lyk of Katryn hom wil volg. Sy bly gehoorsaam staan en hy is intens bewus van die seun en dogter wat hom stilswyend met die oë volg toe hy nader stap na die jong konstabel wat uitklim.
“Ek is Festus Dumas, oom Herklaas se vriend,” stel hy homself bekend.
“Daar het ’n boodskap uit die stad gekom, meneer. Meneer Klem is vanaand sesuur oorlede.”
Festus wag eers dat die bakkie vertrek voordat hy terugstap. Dan, sonder ’n woord, druk hy die klein gestaltetjie teen hom vas en laat haar huil.
3
’n Ruk lank staan hulle net so: Poens koponderstebo, en hy met die rukkende klein lyfie in sy arms. Hy is magteloos om haar groot smart te temper. Haar pa is al wat sy op aarde gehad het. Nou is sy heeltemal alleen in die wêreld.
Ná ’n rukkie staan sy terug, vee met die agterkant van haar hand oor haar nat gesig waarop die trane duidelik in die maanlig blink.
“Jammer. Ek moes nie myself so verloor het nie. Verskoon tog.” Sy snuif hardop.
’n Teerheid wat hy nog nooit ervaar het nie, neem skielik van hom besit. Hy kry haar skraal pols beet en trek haar terug in sy arms. Die gedagte dat sy haar hart alleen in haar kamer gaan uitsnik, staan hom nie aan nie. Sy een hand streel oor haar kop. Oom Herklaas het gesê sy het al swaar gekry in haar kort lewetjie. Dié dat sy met sulke grootmenswyshede vorendag kom. Katryntjie is ’n kind wat deur armoede en swaarkry gebrei is. Maar sy bly ’n kind, en op hierdie oomblik is sy net ’n eensame dogtertjie, verdwaal in ’n smart wat te groot is vir die klein hartjie.
Hy haal sy sakdoek uit, hou dit teen haar neus en beveel sag: “Snuit.”
Sy gehoorsaam, en toe hy sy sakdoek terugsit in sy sak, kyk hy af op die gesiggie hier digby sy bors. “Katryntjie, ek is so jammer. Maar jy moenie bang of alleen voel nie. Jy is nie alleen nie. Ek sal vir jou sorg.”
Hy sien die blonde koppie skud. “Dankie, maar dis nie moontlik nie. Ek is niks van jou nie.”
Hy glimlag met deernis, en dis skielik seer in hom. So klein – en ook so trots! “Ek het jou pa belowe ek sal na jou omsien as . . . as hy iets moet oorkom.”
Maar sy skud weer haar kop, die oë moedig na hom opgehef. “Ek weet hy het dit goed bedoel, maar hy moes dit nie gedoen het nie. Jy is niks aan ons verskuldig nie. Dis nie reg . . .”
“Asseblief, Katryntjie! Ek wíl dit doen. Glo my, ek wil. Dink jy ek sal jou sommer net hier los . . . alleen?”
Sy kyk onseker na hom op. Die gedagte om