Ena Murray Keur 12. Ena Murray
dat oom Herklaas volkome moet herstel.
Katryntjie doen eers inspeksie voordat sy en Poens dit waag om voor die vreemdeling te verskyn. Sy kan sweer hy is kapabel en hou self inspeksie. Dan trek sy Poens terug badkamer toe. “Jou ore is nog pikswart. Kom hier!”
“Eina, Katryn, man, jy maak my seer! Jy sal ’n gat dwarsdeur my kop boor!”
Katryn sit die lap neer, neem dan op die kant van die bad plaas. Haar oë verteder merkbaar. Ou Poensie! Wat sou sy tog sonder hom gedoen het?
“Poens, daardie man dink ek is nog ’n dogtertjie,” sê sy half verbaas.
Poens lag breed sodat die opening wys waar sy twee belangrike middeltande veronderstel is om te wees. Die sproete op sy neus spring op en af en die blou oë glinster van pret. “Ja. Hy dink jy is nog op skool!”
Sy knik en lag. Sy kan hom seker nie verkwalik nie, want toe sy haarself netnou in die spieël beskou het, moes sy lag. Maar sy lyk nou heelwat anders. ’n Duiweltjie blink in haar oë. Hy het in elk geval nie die reg gehad om hom grootmeneer te kom hou op hul plaas nie. En dit was nie nodig om so neerhalend met hulle te praat nie. Wie is hy? Sy het hom niks gevra nie.
“Poens, kom ons trek hom ’n streep. Ons hou hom onder die indruk ek is nog ’n dogtertjie.”
Poens kyk haar onseker aan. Hy is altyd daarvoor te vinde om mense strepe te trek, maar hy weet nie of hierdie een gaan werk nie. Die onsekerheid in sy oë vertel Katryn dat selfs Poens daaraan twyfel of hulle met hierdie een gaan wegkom.
Sy byt haar onderlip. “Nou dan nie ’n dogtertjie nie, maar ’n tiener.” Sy neem voor die spieël plaas en bekyk haarself. In die kuitbroek wat duidelik beter dae geken het, los bloes en haar skoon hare weer in ’n gemaklike poniestert, kaal voete, haar gesig sonder ’n titsel grimering, sal sy baie maklik vir ’n tiener kan deurgaan. Mense skat haar altyd baie jonger as wat sy is. Met haar fyn liggaamsbou en kinderlike gesiggie het sy al baie probleme ondervind. Sy glimlag. Sy onthou nog goed die dag toe sy by die hospitaalkamer ingestap het om die ou oom reg te kry vir ’n operasie. Hy het byna kaalkoejawel by die hospitaal uitgehardloop. Nie eens die matrone kon hom oortuig dat sy ’n volwaardige verpleegster van twintig is nie. Hy het subiet geweier dat ‘‘ ’n bogkind” hom verpleeg. Ten einde raad, ná vele soortgelyke voorvalle, was sy, voordat sy huis toe gekom het, permanent in die kindersaal – waar sy baie gewild was.
Sy sê nou vir Poens, wat haar met ’n skewe rooikop sit en beskou: “Ek wed jou ek sal hom bluf!”
Poens se oë vernou. Vir weddenskappe is hy ook altyd te vinde, maar hy het al geleer om nie sommer teen Katryn te wed nie. Hy kom meestal die slegste daarvan af.
“Ek dink jy sal. Jy lyk nie soos ’n grootmens nie.”
Katryn glimlag, slaan haar arm om sy skouers. “Nou toe, kom. Maar jy moet dink voor jy praat, Poens. Jy moet my nie verklik nie. Daardie man sal ons sowaar afslag as hy uitvind ons het hom vir die gek gehou.”
Poens se blou oë skitter en dan lag hy hardop. Dis hoekom hy so lief is vir Katryn en hoekom hy elke oomblik wat hy maar kan, hier op Skaars-van-als by haar boer. Hier lag ’n mens. Daar waar hy bly, is geen rede om te lag nie.
Met neergeslane oë staan hulle oomblikke later soos twee soet kinders voor Festus, gereed vir inspeksie.
Hulle staan roerloos terwyl sy blik oor hulle dwaal. Vir die eerste keer kan hy hulle werklik goed bekyk. Hy blik vlugtig na Poens – ’n rooikop wat beslis rooi is, die gesiggie besproet van ’n kant af, seker so elf jaar oud.
Speurend en opsommend kyk hy na die meisie. Dit voel asof sy hart ruk. Sy is glad nie so jonk as wat hy gedink het nie. Noudat sy skoon is, skat hy dat sy seker so sestien moet wees. Nie ’n beeldskone kind nie, maar daar is iets aan die elfagtige gesiggie wat baie aantreklik is. ’n Fynbesnede gesiggie, met effens hoë wangbene, donker wenkbroue en wimpers by die goudblonde hare. In die verslete broek en vormlose bloes lyk haar lyfie nie veel anders as dié van die seuntjie langs haar nie.
Hy kyk na die kaal voete en frons. “Jou toonnaels is nog vuil en jou hakskene is gebars.”
’n Ligte gloed kleur die fyn gesiggie, en net vlugtig flits die parmantige blou oë na hom op. Dan sak die ooglede weer en sy antwoord gedemp. “Dis gevlek. Ek kry dit nie skoner nie. En my hakskene lyk so van al die kaalvoet loop.”
Hy pers sy lippe opmekaar. Miskien sou dit beter gewees het as sy nog ’n klein dogtertjie was en nie ’n opstandige tiener nie. “In watter graad is jy?”
Poens roer hier langs haar, en Katryn se brein werk blitsig. Sy hou nie van leuens nie. “E . . . ek . . . ek gaan nie meer skool nie. Ek is al oud genoeg.”
Dit lyk of die man in die stoel gaan ontplof. Oud genoeg! Wat weet ’n kind van sestien? “Ek sal beslis ’n paar dingetjies hê om met jou pa te bespreek wanneer hy beter is. Ek kan duidelik sien jy het heeltemal handuit geruk.”
’n Geluid langs haar trek sy aandag en hy kyk dreigend na Poens wat hewig met ’n sakdoek doenig raak – of iets wat soos ’n sakdoek lyk.
“Wat is dit met jou? Los jou neus en kyk na my.”
Poens gehoorsaam, maar sê: “Die bleddie ding loop. Jy kan mos sien.”
“Poens! Ek het nou genoeg van jou parmantigheid en lelike taal gehad. Los jou neus, sê ek. Ek is nie jou jy en jou nie. Jy sê vir my meneer of oom, maar nie jy en jou nie. Verstaan? Waar kom jy vandaan en waar bly jy en hoekom is jy nie by jou eie huis nie?”
Katryn reageer ontsteld. “Hy bly alleen by sy ma nie ver hiervandaan nie aan die kant van die dorp. My pa het self gesê hy moet hier bly terwyl hy weg is. Poens bly hier!”
Festus hys hom uit die stoel uit op. “Net ’n oomblik, jonge dame. Ek sal geen ongemanierde parmantigheid van jou duld nie, verstaan? Van nou af sal jy ’n bietjie vasgevat word. Ek sê . . .”
“En ek sê Poens bly hier!” Sy hys haar ook op tot haar volle lengte en het nou skoon vergeet dat sy veronderstel is om sestien te wees. “Waar kom jý vandaan om jou lyf hier te kom rondgooi? Dis mý huis hierdie en hier sal ek maak soos ek wil, en ek sê Poens bly hier. Hy is ’n genooide gas – en dis meer as wat ek van jóú kan sê!”
“O so!” Festus voel die bloed in sy slape klop. Hier lê baie werk vir hom voor – opvoedingswerk. Hier sal opgetree moet word. “Jy is doodgewoon ’n uiters ongeskikte kind wat nog moet leer wat etiket en goeie maniere beteken. Ek is nie ongenooid hier nie. Jou pa het my hierheen gestuur. Hy het my oor jou aangestel tot tyd en wyl hy weer gesond is. Van nou af sal jy dus maak soos ek sê, juffroutjie!”
Die blou oë kyk hom met verbystering aan. “My pa . . . het jóú aangestel om . . . oor mý? Maar dis kaf! Ek . . .”
“Dis beslis nie kaf nie. Dis ’n voldonge feit. En terwyl ek toesig oor jou het, sal jy jou gedra en doen wat ek sê. Jy kan sommer uit die staanspoor ’n paar maniere leer. Jy spreek my ook nie sommer aan soos jy lus het nie. Wat ek vir Poens gesê het, geld vir jou ook.” Hy sug. Hy klink strenger as wat hy bedoel het, maar dis beter dat hulle mekaar uit die staanspoor baie goed verstaan. Dit word vir hom by die minuut duideliker dat hy hom in ’n onbenydenswaardige posisie bevind. Hy voel skielik moeg en sak terug op die stoel. Hy is meer ontsteld as wat hy wil erken. As oom Herklaas nie weer gesond word nie . . . Hy wil liewer nie daaraan dink nie.
“Nou goed, Poens kan voorlopig eers bly. Gaan sit my tas in die kamer, Poens. Is hier ’n bietjie koffie in hierdie huis – of tee?”
“Ek sal gaan haal.” Sy staan en kyk hom ernstig aan. “Ek is jammer ek was ongemanierd. Dit was net ’n skok om te hoor dat my pa . . . Ek sal gou koffie gaan haal en dan sal ek aandete regkry.”
Hy knik, kyk haar agterna. Arme kind. As hy verward en ontstig is, hoe moet sy nie voel nie? Sy is nog ’n blote kind. Hy sug weer, kyk peinsend voor hom. Hy sal môre reëlings moet begin tref dat Katryn by iemand kan bly wanneer hy weer stad toe vertrek. Hier kan sy nie alleen bly nie, al is Poens hier. Hy sal iemand moet kry om