Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman

Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman


Скачать книгу
weg.

      “Jy het dus geweet ek is op die Hongkong-vlug?” vra sy.

      “Ja. Ons kry vooraf die bemanningslys, en Arabel is ’n seldsame naam. En jy het mos laat weet jy is weer Coetzee.”

      “O, het jy darem my brief gekry?”

      “Ja.”

      “Jy het nie geantwoord nie?”

      “Nee.”

      Sy laat dit daar. “Het jy my in die kafeteria herken?”

      Henning is verbaas. “Natuurlik. Dink jy ek is blind?”

      “My rug en my agterkop, met ’n nuwe haarstyl en ’n pet op?” vra sy skepties.

      “Ek het nie net na jou rug gekyk nie. Ek is ’n man en mans kyk. Julle uniformrompe maak nie alles toe nie, en daar het genoeg been uitgesteek dat ek joune dadelik herken het.”

      Dít het Arabel nie verwag nie. “My béne?”

      “Liewe land, Arabel, ons was bykans ’n jaar getroud en jy het soms ook maar die minimum aangehad. Dink jy ’n man kyk nie na sy vrou se lyf nie? Ek weet ek het meesal met my neus in die boeke gesit, maar ek was nie siek nie. Ek sou jou bene tussen duisende ander herken het. Jou sitvlak ook. Jy het gebuk om Jaco se broek af te vryf en jou romp het styf gespan. Dit is nog net so goed gerond soos vroeër.”

      Haar wange word warm. “Dis nie nodig om persoonlik te raak nie.”

      “Ek het dit as ’n kompliment bedoel.”

      “Is ek veronderstel om dankie te sê?”

      “Nee.”

      Sy hare is ligter as wat sy dit onthou. Hy is skraler en bruingebrand, met fyn waaierplooitjies om sy oë, merk sy toe sy skrams na hom kyk. En hy klink rustiger. Ernstiger. Nog net so uitgesproke, maar op ’n manier meer besadig. Sy kyk selfbewus weg toe sy oë hare ’n oomblik lank vasvang.

      “Dit was nie soos dit … so érg soos dit gelyk het nie,” verduidelik sy. “Dit was koffie wat ek oor Jaco se broek gemors het.”

      “Wie het gesê dit het erg gelyk? Dit maak in elk geval nie saak nie. Jaco is ’n aangename kêrel en julle is blykbaar op goeie voet.” Hy glimlag skeefweg. “Hoekom is jy heeltyd op die verdediging? Ek het nie gekom om jou te oordeel nie, Arabel.”

      Hoekom hét hy gekom? Sy wens sy het geweet, dan het sy beter geweet hoe om hom te hanteer. “Jakaranda-lugdiens het reëls en regulasies, wat jy seker ook al onder oë gehad het. Ek was in uniform en ek dag … in jou hoedanigheid as bevelvoerder … het jy dalk besluit ek en Jaco skep ’n verkeerde indruk.”

      Henning skud sy kop. “Glad nie. Jy kan maak soos jy wil. Ek is nie jou baas nie.”

      So sê hy nou, dink sy. Op die grond, ja, maar wat as hulle op die vliegtuig is? Hy is so perfeksionisties, sy weet uit ondervinding hy kan jou deur die dak dryf. Hy is heeltemal in staat en meld die voorval in sy vlugverslag. Of dat haar aankondigings nie op peil was nie.

      “En as ek nog enigsins oor die bene en sitvlak getwyfel het,” voeg hy by, “het jou parfuum dit bevestig. Jy gebruik steeds dieselfde parfuum as destyds. Ek het hoeveel bottels vir jou gekoop … Snow & Glow. Ek het altyd gedink die naam is nogal toepaslik.”

      “Henning,” waarsku sy, “moenie moeilikheid soek waar daar nie moeilikheid is nie.”

      Hy keer met sy hande. “Ek soek niks nie. Nie skoor óf moeilikheid nie. Ek noem dit net, interessantheidshalwe …”

      Glad nie so onskuldig soos hy voorgee nie … “Hoe lank gaan jy in Suid-Afrika bly?” wil sy weet.

      “Dit hang af.”

      “Waarvan?”

      “Verskeie faktore …”

      As hy geheimsinnig wil wees, gaan sy nie saamspeel deur uit te vra nie. Sy staan op en skud die sand van haar broek af. “Dit lyk na reën. Ek gaan terug hotel toe.”

      Hy kyk takserend in die lug op. “Die wolke hang en die wind het suid gedraai. Die reën is te naby, ons sal nie die hotel betyds haal nie. Maritieme storms hou gelukkig nie lank nie. Dit sal beter wees om hier in die skuiling te wag tot die bui verby is.”

      Arabel is nie in ’n luim om na raad te luister nie. Hy kan maar hier sit en sopnat reën. Dit kan hom net goed doen – al sy sondes afwas. Sy wil gaan pak, hare was en haar uniform stryk.

      Vannag is ’n lang trek Hongkong toe. Agtduisend kilometer. Oftewel 7 865 kilometer, soos kaptein Reynecke gou sal wees om haar te korrigeer. Meer as agt uur se vlieg, met tropiese storms en moesonwinde oor die onvoorspelbare Indiese Oseaan, en aan die einde ’n landing op die riskante Kai Pak-lughawe, wat in die see uitgebou is en berug is as die kortste aanloopbaan op vlugroetes. Almal is versigtig vir Kai Pak. Al hou sy nie van Henning nie, is sy bly dit sal hy wees agter die stuur wanneer hulle môreoggend land. Hoewel sy nie vertroue het in sy vermoëns as eggenoot nie, het sy nog nooit sy vliegtalent betwyfel nie. Hy kan met ’n stuurstang, ’n trim en ’n rolroer toor.

      “Maak soos jy wil, dis ’n vrye wêreld.” Sy trek haar sandale aan en stap weg. ’n Paar tree verder bly sy staan en kyk om. “Ek het nie netnou hallo gesê nie, want tot siens is eintlik beter. Ek is seker ons albei verkies dit.”

      5

      Henning kyk Arabel agterna, die uitdrukking op sy gesig ’n mengsel van ergernis en ongeduld, maar ook ’n tikkie humor. Hy waag dit egter nie om te laat blyk hoe geamuseer hy is nie, wel wetend wat haar reaksie sal wees. Toe sy aanhou loop, staan hy op en volg haar, hande in die broeksakke.

      Arabel kyk oor haar skouer. “Is jy nie bang jy reën nat nie?”

      “Ek is nie bang vir water nie.”

      Nee, moet sy toegee, dit het hy in die verlede deeglik bewys. “Hoekom het jy dan nie gaan snorkel nie?”

      “Omdat ek liewer na jou wou gaan soek.”

      “Wat van Tess en Madeleen en die ander meisies?” Toe die woorde uit is, verwens sy haarself. Netnou dink hy sy gee om.

      Hy haal haar in en kom loop langs haar. “Jy is mooier as almal van hulle saam.”

      Arabel kyk onderlangs na hom. Sedig en vroom, maar met ’n vonkel in sy oë. Hy ken haar te goed en weet hoekom sy dit gevra het. Lank gelede sou sy gelag en erken het sy is jaloers – natuurlik, want sy het hom lief en hy is haar man en hy moenie saam met ander meisies gaan swem nie.

      Maar nou is dit anders. Hulle is deur ’n baie seer egskeiding en kan nie net voortgaan waar hulle ses jaar gelede opgehou het nie. Die meeste egpare is bittere vyande ná hulle uitmekaar is, wrokkig en vol haat. Sy het gesweer sy wil hom nooit weer sien nie, en hy het ook daardie boek in sy lewe toegemaak, haar uit sy lewe gesny asof sy nooit bestaan het nie.

      En nou is hy onverwags terug … Ewe vriendelik, asof niks gebeur het nie en hulle vriende is! Sy ken hom goed genoeg om te weet hy doen niks wat ongemotiveerd is nie. Hy het sy eie agenda, en sy wil nie deel wees daarvan nie.

      Sy ignoreer hom en stryk aan, een oog op die dreigende wolke wat laag bokant hulle hang. Sy kyk nie voor haar nie en struikel oor ’n stuk dryfhout.

      “Nie vir water, natreën of donderweer nie,” borduur hy voort. “Maar waarvoor ek wél bang is, is dat jy gaan seerkry met daardie verspotte skoene.”

      “Sandale,” korrigeer sy. “Hulle is nie verspot nie, hulle is hoogmode.”

      “As jy van daardie platforms afval, breek jy jou enkel. Of jou nek.” Hy hou sy hand uit. “Trek hulle uit. Gee, ek sal hulle dra.”

      “Dis nie nodig dat jy my skoene dra nie,” protesteer sy.

      “Sandale. Ek gee nie om nie. Ek het dit hoeveel keer in die verlede gedoen. Gee!”

      Arabel onthou ook. By die strandmeer op Langebaan,


Скачать книгу