Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman

Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman


Скачать книгу
gee die hunks ’n kans. Jy sal vind dis lekkerder as boeklees.”

      “Dalk doen ek dit.”

      “Saam met wie?”

      Arabel kyk fronsend na haar. “Wat bedoel jy?”

      “Ek bedoel saam met watter hunk wil jy uit jou dop klim?” Sy aarsel en hou Arabel onderlangs dop. “Dalk ons … kaptein?”

      Arabel snork verontwaardig. “Seblief …! Ek het mos gesê ek sal nie met ’n tang aan hom raak nie.”

      “Wou maar net dubbel seker maak … Die man gee my hartkloppings, maar ek wil nie in jou slaai krap nie.”

      “Al wat hy in my slaai is, is die wurm op die komkommer.”

      By die lughawe swaai Tess haar handsak oor haar skouer, neem haar kajuitsak en stap saam met Arabel deur doeane. Sy kyk nadenkend op. “Jy het Henning Reynecke voorheen geken.”

      Dis nie ’n vraag nie, eerder ’n stelling. “Ja,” erken Arabel.

      “Dis hoe jy geweet het hy kom van Stellenbosch af en is allergies vir jasmyn.”

      “Dom van my gewees …”

      “Was daar iets tussen julle?”

      Dit help nie sy ontken dit nie. Arabel knik kortaf en bekyk die passasierslys: 304, onder meer ’n jeugkoor, ’n Japanse afvaardiging, drie vegetariërs wat spesiale kos bestel het en ’n draagbaargeval. Niks buitengewoons nie.

      “’n Verhouding wat gesink het?” raai Tess.

      “Soos ’n stuk lood.”

      “Daarom dat jy hom al sedert Johannesburg vermy?”

      “Ek probeer. As jy slim is, sal jy dieselfde doen. Hy is ’n losbol, Tess. ’n Hartebreker en ’n kansvatter. Hy speel met meisies se gevoelens, en ek wil nie hê jy moet seerkry nie.”

      “Soos jy?”

      Arabel antwoord nie.

      “Hoe lank het julle verhouding gehou?”

      Arabel wens Tess wil ophou uitvra. Sy bestudeer haar kroegstate sodat sy ’n verskoning het om haar nie in die oë te kyk nie. “Dis so lank terug, ek kan nie eens meer onthou nie.”

      “Kán nie onthou nie of wíl nie onthou nie?”

      “Wil nie,” antwoord Arabel kortaf. “En hou hierdie inligting asseblief vir jouself.”

      “Natuurlik.” Tess knik nadenkend. “Het hy die snorkelduik gelos om jou te gaan soek?”

      “Ek weet nie. Ek het hom net op die strand gekry, ek weet nie of hy my spesiaal gaan soek het nie.”

      “En toe hy jou gekry het, was julle ure lank weg.”

      “Jy’s nes ’n foksterriër, Tessie. Ek erken ek het eens op ’n tyd ’n gevoel vir Henning Reynecke gehad. Erger as net hartkloppings. Ek het gedink die son skyn uit hom, en toe uitgevind daar’s meer donderweer as sonskyn. Dit was seer, maar ek het dit afgeskryf as skoolgeld wat ek betaal het. Ek sal nie weer vir sy sjarme val nie. Tevrede?”

      “Oor en verby?”

      “Hoeveel keer moet ek dit nog sê? Jy het die groen lig: skiet hom vir brekfis, skiet sjampanjeproppe of skiet hom met ’n haelgeweer. Doen met hom wat jy wil – vry hom van sy voete af, uit sy sokkies uit, ek gee nie om nie.”

      “Is hy nie getroud nie?”

      “Ek glo nie.”

      “Ek het ook na sy ringvinger gekyk en dit lyk nie so nie. Hoe is dit moontlik dat so ’n vangs nog los rondloop?”

      “Vergeet hom nou. Hou op klets en gaan werk!”

      Die vlieëniers en ingenieur kom aan boord terwyl Arabel besig is om southappies op ’n skinkbord uit te pak.

      “Alles reg hier, Arabel?” verneem Henning.

      “Alles in orde, kaptein,” rapporteer Arabel.

      “Dis goed. Passasiers?”

      “Daar’s 22 eersteklas, 50 besigheidsklas, 232 toeristeklas, 304 in totaal. Draagbaargeval, vergesel deur ’n gekwalifiseerde verpleegster. Addisionele suurstof op bystand.”

      “Dankie. Goed om so ’n bekwame waardin aan boord te hê.”

      “Plesier, kaptein,” antwoord sy saaklik.

      Jaco knipoog onderlangs vir Arabel, maar druk verby sonder ’n woord, en Phil Davies volg sy voorbeeld, albei blykbaar in hul pasoppens vir die nuwe bevelvoerder. Henning, egter, bly staan. Hy verstel ’n ventileerder bokant een van die sitplekke en toets of die lugvloei sterk genoeg deurkom, skakel die leesliggie aan en af, en stel die musiek se volumekontrole. Dan buk hy en tel ’n rafel van die pers mat af op.

      Arabel staan roerloos. Kontroleer hy haar werk of peuter hy sommer ingedagte? Of die woorde waarvoor hy so lief is: uit gewoonte?

      “Nog iets, kaptein?” verneem sy.

      Hy lyk verleë. “Jy hoef my nie kaptein te noem nie.”

      Arabel is gespanne en dit maak haar reaksie skerper as wat dit teenoor ’n ander bevelvoerder sou wees. “Wat sou jy verkies? Jawohl, Herr Kommandant?”

      “Moenie laf wees nie.”

      “En moet ek op aandag spring en salueer?”

      “Dis nie nodig om sarkasties te wees nie. Ek het in vrede gekom, gehoop ons kan vriende wees.”

      “Jy was nie eintlik wat ek sou noem … vriendskáplik vanmiddag op die strand nie,” verwyt sy hom. “Of is dit hoe jy normaalweg optree teenoor jou dosyne ‘vriendinne’?”

      Hy het genoeg ordentlikheid om skaam te kry. “Nee. Natuurlik nie. En ek het nie dosyne vriendinne nie.”

      “Net so ’n tiental?”

      “Nee.”

      “Net een spesiale een?”

      “Dis nie nou ter sprake nie.”

      ’n Onverwagte antwoord. ’n Ondertoon in sy stem laat haar ondersoekend opkyk, maar sy gesig verraai niks. Sy smoor die skielike beklemming in haar binneste. Wat het sy verwag? Dat hy ses jaar lank soos ’n monnik sou leef? Uit eie ervaring weet sy Henning is ’n warmbloedige man wat nie lank sonder ’n vrou in sy lewe kan klaarkom nie. En die afwesigheid van ’n ring beteken niks. Wie sê hy is nie dalk getroud nie?

      Arabel draai weg, bang haar gesigsuitdrukking verklap meer as syne. Sy tel nog ’n stukkie rafel op die mat op, voor hy dit sien en reken die kajuit is nie behoorlik skoongemaak nie. Sy frommel die rafeltjie tussen haar vingers en kyk hom waterpas aan. “Wat wou jy vanmiddag op die strand bewys, Henning?”

      Hy lyk uit die veld geslaan. “Bewýs? Niks nie. Hoekom sou ek iets wou bewys? Ek wou jou graag sien, met jou gesels en hoor hoe dit gaan, dis al.”

      “Al die pad tot amper op Curepipe net om te hoor hoe dit gaan?” Haar wenkbroue lig ongelowig.

      “Nee, miskien nie,” erken hy eerlik. “Ek het jou gaan soek omdat ek gereken het dis nodig.”

      Sy verstyf. “Hoekom?”

      “As ons ’n week lank in noue kontak moet saamwerk, kan ons mekaar nie die hele tyd vermy nie. Een of ander tyd moes ek en jy by mekaar uitkom, die ys breek en die lug suiwer.” Hy peuter weer met die leesliggie, skakel dit aan en af. Dan kyk hy om na haar. “Om jou weer te sien, was amper soos die ou dae. Jy is selfs mooier as wat ek jou onthou het. Dit het gemaak dat … ek onvoorbereid was op die impak van die verlede. Ek wou niks bewys nie, my emosies het doodeenvoudig handuit geruk. Dit het net gebeur, sonder dat ek kon keer. Ek het reeds om verskoning gevra. Wil jy ’n skriftelike apologie hê?”

      As hy só na haar kyk, is sy ook nie verantwoordelik vir haar emosies nie.


Скачать книгу