Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman
ja?”
“O ja!” herhaal Arabel met vertroue. “Hy kan nie ’n eier bak om sy lewe te red nie en kan nie sy skoenrieme in netjiese strikkies knoop nie, maar hy kan ’n volgelaaide makrostraler van 500 000 kilogram op ’n tiekie neersit.”
Die diva in die ry voor hulle kyk om. “Goed om dít te hoor,” glimlag sy.
Arabel bloos. As sy op haar senuwees is, praat sy altyd te veel, en sy het seker Henning se deugde té entoesiasties besing. Maar op hierdie oomblik, êrens tussen die duiwel en die diepblou see, weet sy onwrikbaar dit wat sy lankal vermoed, probeer ontken en tevergeefs van weggeskram het: Henning Reynecke het van haar geskei, anderkant die aardbol gaan woon, haar vergeet en hy’t waarskynlik ’n ander vrou, maar sy het hom nog net so lief soos daardie eerste dag toe hy haar uit die see gevis het en gesê het sy is stiksiende.
Hy was reg: sy was blind om ’n diamant vir ’n klip aan te sien … Arabel vee oor haar gesig in ’n smeersel van bloed en trane. Spyt kom te laat, en dit help nie om nou te huil nie. Sy het hom weggegooi toe sy hom in haar arms moes vasgehou het. Sy het hom nie waardeer nie, nooit gesê hoe verskriklik lief sy hom het en hoe wonderlik hy is nie.
Die trane loop onkeerbaar. Tant Lily gee snesies aan en probeer haar paai. “Pyn die sny aan jou kop, poplap? Toemaar … Die blitse is oor. Kyk!” ’n Krom vinger beduie deur die venster. “Dis nie meer Guy Fawkes daar buite nie. Jy was reg: jou fraai kapteintjie het ons uit die storm uit gevlieg.”
In plaas van troos, laat dit Arabel harder huil. Sy skaam haar voor die ander passasiers. Sy wat veronderstel is om die lugwaardin te wees – kalm en professioneel … Laat hulle maar dink dis die stamp teen haar kop. Sy kruip weg as iemand moet weet waaroor dié tranedal eintlik is.
“Sien jy, die liggies is dood?” wys tant Lily.
Arabel kyk op. Tant Lily is reg: die gordelligte is afgeskakel.
Dion kom in die paadjie verby met ’n vullissak. “Daar het soveel bottels gebreek, die toilette ruik soos ’n apteek en die sitkamer soos ’n drankwinkel.” Terug na normaal … Arabel staan op en soen haar buurvrou se wang.
“Vir wat?” vra tant Lily.
“Omdat tante my oë laat oopgaan het,” antwoord sy met ’n waterige glimlag.
In die kleedkamer tel sy die blik deodorant op en bekyk haarself in die spieël. Dit lyk asof sy in ’n oorlog was. Sy was haar gesig en plak ’n pleister op die sny. Dan trek sy ’n skoon bloes aan en gaan druk ’n skyf in die DVD-speler.
’n Bleekgeskrikte Tess loer in. “Hengse storm! Hierdie roete gee my die horries.”
“Nie al die storms is so erg soos dié een nie.” Arabel gooi gebreekte glase in die vullishouer en maak vir hulle koffie.
Tess maak haar tuis op die wasbak. “Ek sien julle het vir Liza Whittaker in die eersteklas. Gooi sy kort-kort ’n vloermoer, soos ’n prima donna?”
“Nee wat, stil en stemmig. Kla oor niks, solank haar wynglas vol bly.”
“Gee vir haar die mikrofoon en vra sy moet ‘Nessun Dorma’ vir ons sing. Ek is seker sy sal nie omgee nie.”
“Nee, maar jou kaptein sal. Hy sal elke veiligheidsreël in die blou boek teen jou kop gooi.”
“Jy maak of hy ’n monster is.” Tess teug dankbaar aan die koffie. “Hoe lank gelede was julle verhouding?”
Arabel verstyf. “Eeue gelede,” skerm sy.
“Iets soos ses jaar?”
Dit help nie om dit te ontken nie. Arabel kyk anderpad en knik.
“Is hy die bus? Die wiel wat afgeval het?”
“Ek moes jou nooit daardie simpel storie vertel het nie.”
“Het jy toe sy foto teen ’n boom vasgespyker en vol gate gegooi?”
“Ja,” jok Arabel.
“Het dit jou beter laat voel?”
“Strate beter. Hy is uit my gestel en ek is permanent genees van hom.”
“Dis goed die sweer is oopgemaak, nou sal dit gesond word.”
“Ja.” Arabel dwing ’n vrolike klank in haar stem. “Dis nogal ’n verligting. Ek het te lank aan die verlede vasgeklou.”
“Snaaks hoe ’n sameloop van omstandighede as ’n katalisator dien om ’n ou uit ’n groef te kry. As jy Henning nie weer raakgeloop het nie, het jy nou nog morbied agter jou muur weggekruip.”
“Was ek só erg?”
“Jy was soos Rip van Winkel – vas aan die slaap terwyl die lewe by jou verbygaan. Ek is bly jy het wakker geword en besef daar ís lewe ná die busterminus.”
Watse lewe? dink Arabel. Sy het wakker geword en agtergekom haar lewe is leeg, want die een mens wat vir haar bo alles saak maak, is nie meer hare nie. Wat doen sy nou? Klim terug oor die muur en slaap nóg honderd jaar?
Tess skep vir hulle kos in. “As jy seker is Henning Reynecke is uit jou gestel, sal ek hom graag erf. Dis meer as net voorkoms. Hy is ook binne-in ’n warm ou, iemand wat nie homself eerste stel nie – wat gee eerder as om te neem. Ek weet jy dink ek is ligsinnig. Maar ek sien kwaliteite in hom wat jy dalk misgekyk het.”
Die sampioenhoender proe na saagsels en Arabel sit haar bord neer. “Jy kan sommer nou al begin oefen … Wil jy vir jou geliefde en sy kollegas aandete neem?”
Tess laat haar nie twee maal nooi nie. “Graag!”
Brad Pitt se aantrekkingskrag het nie lank gehou nie. Nog voor Achilles die stad Troje binneval, is tant Lily in droomland. Arabel gooi ’n kombers oor haar en Liza Whittaker, wat snoesig teen die Amerikaner se skouer slaap, en skink vir Bleekdas nog ’n vodka. Sy laaste, hopelik, anders gaan hy môre die moeder van alle kopsere hê.
Sy doof die dakligte uit, maak vir haar nog koffie en gaan sit in die bemanningskompartement. Die waardinne roteer en dis haar rusperiode van eenuur tot drie-uur, maar Arabel weet sy sal nie slaap nie. Daar is te veel om oor te dink, te veel herinneringe en prentjies uit die verlede.
Henning in sy troupak en valletjieshemp, toe sy wou breek van trots om te besef hy is van nou af haar mán. In sy grysblou lugmaguniform in die kajuit van ’n Impala. Die aand by die strandmeer toe hulle galjoen gebraai het en die Suidoos opgekom het en hulle knus teen mekaar in ’n slaapsak langs die melkhoutvuur opgekrul het. Soos hy die laaste keer gelyk het in die MG se truspieëltjie. En in sy nat T-hemp onder die visserskuit by Curepipe …
Haar hart krimp inmekaar en ’n strofe uit ’n gedig van Elisabeth Eybers wat hulle in matriek behandel het, maal deur haar gedagtes:
Hoe kan ek hierdie hete hart betig,
Dat hy jou voortaan minder lief moet hê …
8
In Hongkong, in die bemanningsbus op pad na die Edward Hotel, gaan sit Arabel heel agter by Vince, wat stil en skaam is en nie vrae vra nie. Iemand stuur ’n pet om vir bydraes en toe Henning inklim, staan sy bemanning op en klap spontaan vir hom hande. Hy is beskeie en beduie na sy eerste-offisier en ingenieur, dat hulle ’n ewe groot aandeel in die veilige landing op Kai Tak gehad het.
Jaco skud sy kop. “Al wat ék gedoen het, was om my oë toe te knyp. En Phil het darem help bid.” Hy strek om die magnumbottel sjampanje by die senior kelner te neem en aan hul bevelvoerder te oorhandig. “Om dankie te sê, kaptein, ook vir die navigasie deur die megastorm, en om u welkom te heet by Jakaranda-lugdiens.”
“Baie dankie.”
Arabel, wat hom goed ken, kan sien Henning is geraak. Nie heeltemal so hardgebak soos sy geglo het nie … Dalk ook soms êrens in die donker alleen op ’n trap gesit? wonder sy. Of is dit wensdenkery?
“En